1JOHANNES 3:1a

DIS SEKERLIK BETEKENISVOL DAT DIE VADER TYDENS JESUS SE DOOP VERKLAAR, “DIT IS MY GELIEFDE SEUN. Oor Hom verheug Ek My” (Mt 3:17; Mk 1:11; Lk 3:22), en dat dit geskied as die Gees soos ‘n duif op Hom neerdaal. Die Gees het Jesus as ‘t ware gemerk as die Messiaanse Seun van God.

Die Here Jesus is dan ook die heel eerste om die benaming, “Abba”, vir die Vader te gebruik (Mk 14:36). Nêrens in enige voor-Christelike literatuur is daar sprake van so ‘n intieme aanspreekvorm vir God nie. Dis ‘n gesinswoord: Pappa. Maar Jesus, deur die Vader en die Gees uitgewys as die Seun van God en God die Seun, durf God so aanspreek.

Aangrypend is dit om te dink dat Jesus Sy Vader só aanspreek tydens Sy worsteling in die tuin van Getsemane  –  Sy oomblik van grootste nood.

Laat ons dus altyd onthou dat die Here Jesus  se seunskap uniek is. In die volste, diepste en ewige sin van die woord kan net Hý God Sy Vader noem.

Hiervan was Hy goed bewus. Hy praat byvoorbeeld dikwels van “My Vader” en “die Vader”, maar nooit van “ons Vader” nie  –  behalwe natuurlik as Hy Sy dissipels leer bid, maar dan het die “ons” op húlle as groep betrekking. En een keer praat Hy van “My Vader en julle Vader” (Jh 20:17).

Ook die apostels onderstreep doelbewus die onderskeid tussen die Here Jesus Christus se Seunskap en ons kindskap.

Eerstens noem Johannes Hom die enigste Seun (Gr. monogenes) (Jh 1:14, 18; 3:16, 18; 1Jh 4:9), en die res van die Nuwe Testament die eerste Seun (Gr. prototokos) (Rm 8:29; Kol 1:15, 18; Hb 1:6; Op 1:5). Hierdie eerste wil nie op kronologie wys nie, maar op rangorde.

Tweedens het Johannes en Paulus elkeen sy eie manier om die onderskeid te onderstreep. Johannes verwys konsekwent na Jesus as God se Seun (Gr. huios), maar na gelowiges as God se kinders (Gr. tekna). Paulus weer, as dit gaan oor hoe mens ‘n kind van God word, praat as ‘n reël van ons aanneming as kinders  –  teenoor Johannes wat sonder meer van ons wedergeboorte of geboorte uit God praat.

MAAR HY IS OOK ÓNS VADER

Bogenoemde beteken nie dat ons kindskap minderwaardig is nie; inteendeel. Ons kindskap is immers gewortel in Christus se seunskap  –  in verbondenheid met Hom. Dit moet ons dus nie verbaas nie dat die Heilige Gees  –  die Gees van Christus  –  ook óns as mense dring tot intieme gemeenskap met die Vader.

Luister hoe Rm 8:15-16 dit stel: “… julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.”

En Gl 4:6 skryf: “… omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: ‘Abba!’ Dit beteken: Vader!”

Alle mense is dus nie sonder meer kinders van God nie. Nie deur natuurlike geboorte word mens ‘n kind van God nie, maar deur die wedergeboorte. “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Jh 1:12. Vgl ook Jh 14:6).

Die teoloog en skrywer, J.I. Packer, skryf in sy wonderlike boek, Knowing God: “Mens som die lering van die hele Nuwe Testament in ‘n enkele frase op as jy sê dis die openbaring van die vaderskap van die heilige Skepper. Netso som jy Nuwe Testamentiese godsdiens in ‘n neutedop op as jy sê dis die kennis van God as jou heilige Vader. As jy ‘n idee wil kry oor hoe goed iemand die Christelike geloof verstaan, vind uit hoeveel hy maak van die voorreg om God se kind te wees en Hom as Vader te hê. As dit nie sy aanbidding en gebede en uitkyk op die lewe beheers nie, beteken dit dat hy nog nie veel verstaan van wat dit beteken om ‘n Christen te wees nie. Want alles wat Christus geleer het, en alles wat die Nuwe Testament núút maak, en beter as die Ou Testament, en alles wat spesifiek Christelik is, teenoor dit wat bloot Joods is, word opgesom in die kennis van die Vaderskap van God. “Vader” is die Christen se naam vir God. … Die openbaring aan die gelowige dat God Sy Vader is, is in ‘n sin die klimaks van die Bybel …” 1

In die Ou Testament het God vir Sy volk ‘n verbondsnaam gegee waarmee hulle van Hom kon praat en Hom kon aanroep: Jahweh  –  “Hy is”. Die naam dui op Sy soewereine en onafhanklike algenoegsaamheid, en as sodanig moes dit diep nederigheid en verwondering wek in die verbondsvolk se harte. Hiermee saam het God in die Ou Verbond geeneen van Sy attribute meer voorop gestel as Sy heiligheid nie  –  die karaktertrek  wat by uitnemendheid die klem laat val op Sy afgeskeidenheid. Om voor Hom te verskyn was dus altyd maar weer ‘n skrikwekkende ervaring.

Maar in die Nuwe Testament verander alles. Ja, God is steeds die heilige en algenoegsame, maar nou het iets bygekom  –  die openbaring dat God gelowiges se Vader is. En “Vader” is nou hoe Hy wil hê hulle oor Hom moet praat. Dis nou Sy verbondsnaam. Sy kinders is ‘n gesin  –  Sý gesin.

Nie langer is die klem op die bykans ontoeganklikheid van Sy teenwoordigheid nie, maar op die vrymoedigheid wat Sy kinders moet hê om weer en weer in Sy teenwoordigheid te kom.

Waarby kom hierdie radikale verandering in? Sonder enige twyfel spruit dit uit die volkome versoenings- en middelaarswerk van die eerste en enigste Seun. Packer is reg as hy sê dat God se Vaderliefde in Christus, en die gepaardgaande vrymoedigheid en vryheid wat ons as Sy kinders mag en moet beoefen, die hart is van die Nuwe Testament se boodskap.

Waar dit regtig die Heilige Gees is wat werk  –  in individu, sowel as in gemeente  –  sal daar gevolglik, in die lig van die Skrifgedeeltes hierbo aangehaal, altyd ‘n diep bewussyn wees van God se liefdevolle vaderskap, sowel as van die voorregte en verantwoordelikhede van kindskap.

Om ons te help om ons in die Vader se liefde te verlustig en Hom sodoende te verheerlik, herinner die Woord ons weer en weer aan die grootsheid van God se Vaderliefde. Dink maar aan die volgende:

Toe ek aangeneem is, het die Vader reeds ‘n Seun gehad, waardiger as die engele (Hb 1:4). Waarlik, ek het ‘n Vader nodig gehad; maar Hy beslis nie ‘n kind nie. Genade is onverdiend!

In die antieke wêreld was aanneming nie ‘n vreemde verskynsel nie. Wat wel waar was, is dat mense nie normaalweg babas aangeneem het nie, maar jongmense wat reeds met hulle begaafdheid en prestasies getoon het dat hulle die familienaam en -fortuin waardig sou wees. Daarenteen, toe ék aangeneem is, was ek verwerplik  –  in die diepste en wydste sin van die woord (Ef 2:1-3). Nog meer, God het ook presies geweet van my kleivoete wat ná my aanneming sou lei tot mislukkings sonder tal in die uitlewing van my verhewe roeping as Sy kind.

Ek was egter nie net vuil nie, ek was vyandiggesind! Dit verg merkwaardige liefde om ‘n vyand te vergewe en vry te laat. Maar om hom as eie kind en erfgenaam aan te neem, is ongehoord!

Vergeet nooit die koste waarteen alles geskied het nie. Die aannemingskontrak is met die bloed van die Seun geteken. En soos ek onder leiding van die Gees in heiligmaking groei, raak ek al hoe pynliker bewus van my onwaardigheid en oorblywende sonde  –  met ‘n steeds groeiende waardering vir die Vader se genade tot gevolg.

Onthou ook die omvang van God se Vaderliefde. Hy het nie net een of twee kinders aangeneem nie, maar miljoene  –  uit elke geslag en elke volk. Laat die diep bewussyn van jou eie onwaardigheid om deel van die lewende God se huisgesin te wees, daarom jou hart oopmaak vir elkeen wat óók deur Hom aangeneem is  –  ongeag status of begaafdheid of herkoms.

PRAKTIESE IMPLIKASIES VAN GOD SE VADERSKAP VIR ONS

As ons wil weet hoe ons as kinders van God moet leef, is daar eintlik net een manier om uit te vind. Ons moet kyk na hoe die Eerste en Enigste in Sý verhouding met die Vader geleef het. Per slot van rekening word ons geroep om in Sy voetspore te volg. “Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het” (1Jh 2:6).

Hieroor het die apostel Johannes baie om vir ons te leer. In sy evangelie is die heel eerste voorreg van Christenskap wat hy noem, die reg om ‘n kind van God te word (1:12). Voorts skryf hy dat die heel eerste boodskap wat die Here Jesus ná Sy opstanding aan Sy dissipels stuur, dit is: “Ek vaar op na my Vader en julle Vader  …” (Jh 20:17).

Les bes is sy eerste brief vol herinneringe aan die voorregte van kindskap. Niks beklemtoon God se liefde vir ons méér nie as die feit dat Hy nou ons Vader is, en ons Sy kinders (1Jh 3:1).

In die evangelie van Johannes leer Jesus ons dat Sy verhouding as Seun van die Vader ten minste drie praktiese implikasies vir Hom inhou.

Onontkombaar duidelik moet ons as kinders van ons hemelse Vader die Eerste en Enigste hierin puntenerig navolg.

Die Vader is die onbetwisbare gesagsdraer; Sy Seun  –  en daarom ook Sy kinders  –  moet Hom sonder meer gehoorsaam.

“Ek het van die hemel af gekom, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het” (6:38).

Daar is geen hoër roeping en opdrag as om die Vader lief te hê nie.

In 15:9-10 sê die Here dat Hy die opdrag van Sy Vader uitleef deur in die liefde te bly waarmee die Vader Hom liefhet  –  en dat Sy dissipels ook in hierdie liefde moet bly.

Daar is geen hoër voorreg en sekuriteit as om in gemeenskap met die Vader te leef nie.

In die uitvoering van Sy roeping, en selfs tydens Sy ergste beproewinge, het die Here Jesus wonderlike troos geput uit die feit dat die Vader altyd by Hom is (8:29; 16:32). Op Sy liefdesteenwoordigheid, beskerming, versorging en koestering kan ook ons wat in Christus God as ons Vader het, dag na dag onwankelbaar staat maak.

VOETNOTAS

1.  J.I. Packer, Knowing God, Hodder and Stoughton, 1975, p.224-225. Uit sy hoofstuk 19 is baie vir hierdie preek geput.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00