MATHEUS 1:18-25
DIE HISTORISITEIT EN WARE MENSHEID VAN DIE MAN GENAAMD JESUS, DIE SEUN VAN JOSEF VAN NASARET, WORD SELDE BETWYFEL – nóg onderweg deur die geskiedenis, nóg vandag.
Maar as Jesus se mensheid en historisiteit selde bevraagteken word, word die bonatuurlike wat die Bybel eweneens gereeld aan Sy geboorte en lewe toeskryf, baie dikwels afgemaak as fabels en mites.
Wat die bonatuurlike in Jesus se lewe betref, word min méér afgemaak as onsin, as Sy maagdelike geboorte. Kom ons kyk dus na hierdie fundamentele en lewensbelangrike waarheid wat so glashelder duidelik deur die Bybel geleer word.
DIE BYBELSE EN HISTORIESE GETUIENIS
Laat ons allereers seker maak ons verstaan Jesus se maagdelike geboorte Bybels korrek.
Dit is die Bybelse openbaring dat die tweede persoon van die Goddelike drie-eenheid op ‘n bonatuurlike wyse deur die Heilige Gees in die moederskoot van die maagd Maria ingeplant is (Mt 1:20; Lk 1:35), sonder dat sy enigsins geslagsgemeenskap met ‘n man gehad het.
Die uitdrukking, maagdelike geboorte, moet nie oorspan word nie. Hoewel Maria steeds ‘n maagd was toe Jesus gebore is (Mt 1:25), was slegs haar swangerwording bonatuurlik. Daarna gaan sy deur ‘n normale swangerskaptydperk van 40 weke, waarna sy doodgewoon geboorte skenk. Die Kind wat gebore word, is in elke opsig volkome mens, en Hy ontwikkel heeltemal normaal. In Lk 2 word Hy agtereenvolgens ‘n “baba” (2:16: Gr. brephos), ‘n “klein kindjie” (2:40: Gr. paidion) en ‘n “seun” (2:43: Gr. pais) genoem (vgl. NIV; ESV).
Die volkome mensheid van Jesus kom dus in geen opsig in die gedrang as gevolg van Sy bonatuurlike ontvangenis nie (Hb 2:14, 17).
Eintlik is daar niemand wat dit bevraagteken dat die Bybel duidelik leer dat Jesus uit ‘n maagd gebore is nie. Wat wel bevraagteken word, is of die Bybel wat hierdie saak betref letterlik betroubaar is.
Modernistiese ongeloofsteoloë ontken die maagdelike geboorte en voer aan dat dit nie regtig belangrik is nie. Hulle stel as ‘n reël immers net belang in Jesus se voorbeeld en lering ten einde van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak. Vra mens hulle hoe hulle by die Skrifuitsprake oor die maagdelike ontvangenis verbykom, voer hulle eenvoudig aan dat dit deur die vroeë kerk gefabriseer is om ‘n bonatuurlike status aan Jesus te verleen.
Uitdruklike Skrifuitsprake oor die maagdelike geboorte vind ons in Mt 1:18-25 en Lk 1:26-38 (Markus en Johannes skryf nie oor die Here Jesus se geboorte nie). Hierbenewens sinspeel die Nuwe Testament ook verskeie kere daarop (bv. Lk 3:23; Gl 4:4). Les bes word hierdie bonatuurlike geboorte sonder meer aanvaar as ‘n vervulling van Jes 7:14: “Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immanuel noem” (OAV; Mt 1:21-23).
Talle opmerksame Bybellesers het al ‘n probleem gekry met ‘n bepaalde uitspraak in die Ou Testament. Maar hiervoor bied die maagdelike geboorte van Jesus ‘n fassinerende oplossing.
Teen die bose koning Jojagin spreek Jeremia in Jer 22:30 ‘n vloek van God uit: “So sê die Here: … niemand van sy nageslag sal op die Dawidstroon sit nie …” Nou kom die probleem hierby in: Jojagin was ‘n afstammeling van Dawid. Matteus wys dan ook uitdruklik daarop in sy geslagsregister van Jesus (Mt 1:11, 12). 1 Dit lyk dus of Jesus ‘n afstammeling van hierdie vervloekte koning was. Wat nou gemaak met Jeremia se profesie, want die Skrif maak baie daarvan dat die Messias die Seun van Dawid sou wees (Mt 21:9, om maar één voorbeeld te noem)?
Matteus se geslagsregister werk met Jesus as die wettige Seun van Josef en uiteindelik deur Salomo as afstammeling van Dawid. Só beklemtoon Matteus Sy juridiese reg tot die troon van Dawid.
As dit al was wat die Bybel hieroor te sê gehad het, het ons met ‘n groot probleem gesit. Maar as ons nou na Lukas se geslagsregister kyk, sien ons dat hy Jesus se biologieseafkoms deur Maria beskryf. En hoewel Maria ook ‘n afstammeling van Dawid was, het haar geslagslyn nie deur Jojagin geloop nie, aangesien sy ‘n afstammeling van ‘n ander seun van Dawid was – Natan (Lk 3:31).
In God se soewereine raadsplan het die Messias dus wetlik die reg tot Dawid en Salomo se troon gehad, maar biologies was Hy vry van Jojagin se vloek.
Van die vroegste tye af aanvaar die kerkvaders reg oor die Romeinse Ryk die maagdelike geboorte. Gevolglik word dit opgeneem in die baie vroeë Apostoliese Geloofsbelydenis, asook in elke noemenswaardige konfessie van die kerk daarna.
As ongeloofsteoloë en bewegings soos die Jesus-seminaar die maagdelike geboorte verwerp, trek hulle nie net ‘n streep deur die Woord van God nie, maar ook deur die konsekwente en eenstemmige getuienis van die kerk deur die eeue.
DIE DOEL VAN DIE MAAGDELIKE GEBOORTE
Twee nie-redes vir die maagdelike geboorte
Talle mense het in hulle agterkoppe die idee dat so ‘n bonatuurlike geboorte nodig was ten einde een of beide van twee dinge te bereik. Maar laat ons dadelik sout op hierdie twee slakke gooi.
Die oorsprong van Jesus Christus se goddelikheid lê nie in Sy maagdelike geboorte nie.
Dit is so dat die goddelikheid van Jesus ernstig in die gedrang sou wees sonder die maagdelike bevrugting van Maria. Maar terselfdertyd is Sy bonatuurlike ontvangenis nie die oorsprong van Sy goddelikheid nie. Nee, die Kind wat vir Maria gebore is, was van ewigheid af waarlik en ten volle God.
Laat ons ook vir geen oomblik dink in terme van ‘n soort halfgod en ‘n halfmens nie. So ‘n mitologiese fantasie is Godslasterlik en het hoegenaamd geen Bybelse grond nie. Die Here Jesus was – en is steeds – ten volle God en ten volle mens
Die maagdelike geboorte is nie die verklaring vir die Here Jesus se sondeloosheid nie.
Sommige mense redeneer dat die erfsonde deur die man van geslag tot geslag voortplant. Dit is ‘n wolhaarstorie, aangesien die vrou eweveel as die man deel het aan die gevallenheid van die mens. In elk geval bevat die Skrif geen aanduiding hoegenaamd dat dit die geval is nie. Jesus se moeder, Maria, was ‘n sondaar met mislukkings en oortredings soos enige ander mens. Daarom bely sy haar nood aan ‘n Verlosser (Lk 1:47). Biologies dui alle inligting daarop dat die moeder net soveel bydra tot ‘n baba se fisiese, psigologiese en geestelike karakter as die vader. Dit is interessant dat Dawid spesifiek sy ma noem in sy boetepsalm: “in sonde het my moeder my ontvang” (Ps 51:7, Hb lett.).
Dit lyk dus of ons moet aanvaar dat Maria ‘n sondige natuur aan haar Kind sou oorgedra het as dit nie vir ‘n spesiale weerhoudingswerk van die Gees was nie.
Positief, wat was dan wel die doel van die maagdelike geboorte?
Om mense enigsins te kon red, moes Jesus Christus waarlik en ten volle God wees. En ommense te kon red, moes Hy as volkome mens in hulle plek versoening kom doen. Die maagdelike geboorte was die manier waarop God die Seun volkome mens geword het, sonder om Sy goddelikheid enigsins in te boet.
VYF REDES VIR GELOOF IN DIE MAAGDELIKE ONTVANGENIS VAN JESUS CHRISTUS
Die uitdruklike Bybelse lering.
Dis die primêre rede. As die Bybel nie op hierdie punt betroubaar is nie, is elke ander mededeling daarvan onder verdenking – veral as dit getuig van dinge wat ons verstand te bowe gaan.
Die gewig van kerkhistoriese getuienis.
Almal van ons, individueel en gesamentlik, het blindekolle, asook die neiging om waarheid te verwring. Net ‘n dwaas hou nie rekening daarmee nie. Daarom sal enige mens of gemeente met ‘n greintjie wysheid ook rekening hou met die insig en getuienis van ander. En as dit gaan oor die verstaan van God se Woord, kan ons nie ‘n beter maatstaf en klankbord kry as die getuienis van die historiese Christelike geloof nie – wat konsekwent die maagdelike geboorte bely.
Die feit dat ons met God almagtig te doen het.
Die ontsagwekkende en verbysterende almag van ons Skeppergod is oraloor om ons in die natuur te sien. Daarbenewens getuig die Bybel weer en weer daarvan. As God dan die heelal geskep het, waarom sou die maagdelike ontvangenis buite Sy vermoë wees? As jy glo dat Christus uit die dood opgestaan het, waarom kan jy nie ook glo dat Hy uit ‘n maagd gebore is nie? En as jy nie in die opstanding van Christus glo nie, waarom jou moeg maak oor die maagdelike ontvangenis? Sonder die opstanding is die hóé van Jesus se geboorte totaal irrelevant – want dan is ons geloof van A tot Z ‘n windeier.
Die teologiese noodsaaklikheid daarvan.
As Jesus Christus nie uit ‘n maagd gebore is nie, was Hy ‘n gewone mens. Dit sou vernietigend wees vir die Christelike geloof.
Eerstens is die maagdelike geboorte die Bybel se verduideliking van die menswording van God. Daarsonder was ons besig om ‘n gewone mens te vergoddelik en te aanbid – wat nie net verspot sou wees nie, maar ook Godslasterlik.
Tweedens sou Jesus, as gewone mens, nie versoening vir ons sonde kon doen nie. Hoe sou Hy die sondeskuld van miljoene kon dra? En in elk geval sou Hy vir Sy eie sonde moes sterf. Selfs al sou mens aanvoer dat Hy as volmaakte mens nooit gesondig het nie, sou Hy steeds as nakomeling van Adam in terme van die erfsonde doemwaardig gewees het.
Die integriteit van die Bybel is daarvan afhanklik.
As Jesus nie uit ‘n maagd gebore is nie, is die Bybel op hierdie punt foutief en onbetroubaar. En as dit op één punt nie betroubaar is nie – veral op ‘n wesentlik belangrike punt soos die maagdelike geboorte – is dit orals onder verdenking. Gaan dit oor ‘n terloopsheid in die Bybel, maak dit dalk nie soveel saak nie. Maar wat, byvoorbeeld, van die beloftes oor ons toekomstige opstanding uit die dood?
SLOTWOORD
As Jesus Christus nie letterlik, histories en biologies uit die maagd Maria gebore is nie, is daar geen sprake meer van die uiteindelike reddende krag van die Christelike geloof nie. Want dan maak ons staat op ‘n gewone mens om ons te red, en ‘n méér patetiese oefening in futuliteit is nie bedinkbaar nie.
Dan moet ons tot dieselfde slotsom as Paulus in 1Kor 15:32 kom, waar hy oor die ewe noodsaaklike opstanding van Christus uit die dood praat: as Jesus Christus nie uit ‘n maagd gebore is nie, “laat ons eet en drink, want môre sterf ons.”
VOETNOTAS
1. Die OAV se “Jegónia” is ‘n letterlike vertaling. Dit was bloot ‘n alternatiewe naam van Jojagin (vgl. NIV voetnota).
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier