LUKAS 15:20-24

UITEINDELIK IS DIE JONGMAN OP PAD TERUG NA SY PA TOE. Maar sy besluit en terugkeer is één ding; die ontvangs wat hy gaan kry, iets anders. Sy pa sou alle reg hê om hom weg te jaag. Mens kry sulke pa’s. Of hy sou die seun inderdaad in die bediendekwartiere kon laat bly en hom soos ‘n dagloner laat werk. En sê nou sy pa het getrek. Hy het dalk bankrot gespeel na die erfporsies wat hy so ruim uitgedeel het. Wat gaan die seun aantref?

Wat is ‘n verlore seun sonder ‘n wagtende pa?

DIE EVANGELIE: DAAR ÍS ‘N VADER WAT WAG

Die institusionele kerk is vandag baie begaan oor versoening  –  tussen mens en mens, ras en ras, nasie en nasie. En dis nie onbelangrik nie.

Maar die tragiese is dat daar baie min besorgdheid is oor versoening tussen God en mens.

Ja, daar is baie mense wat sê dat hulle Christene is. Daar is baie wat sê dat hulle rekening hou met God. Maar vir baie min kerkmense is dit die beheersende van hulle lewens. Skaars is die mense wat hulle met al die erns waaroor hulle beskik vir die hiernamaals voorberei. Soveel is bloot kerkbekeerd. Min is daar wat worstel met die vraag of hulle eendag in die ewige saligheid verwelkom gaan word. Waarlik, dís die allervraag:gaan daar vir my ‘n wagtende Vader wees!

Op sy lang reis terug huis toe is daar dag na dag net één begeerte in ons jong vriend se gemoed: om weer met sy pa versoen te wees.

Sy eensaamheid in die vreemde land was erg. Ver van sy mense af en verwerp deur sy eertydse vriende, was die varke sy enigste geselskap. Maar nóú brand ‘n dieper eensaamheid in hom. Hy het geen gemeenskap met sy vader nie. Hoe verlang hy nie na sy sagte oë en sy warm omhelsing nie! Sal sy pa tuis wees as hy daar aankom? Sal sy pa hom herken? Sal hy hom aanvaar?

As ‘n soeker na God op hierdie punt is, is hy waar hy moet wees. Dis aan súlke mense wat die Vader Homself openbaar.

Hier is ons by die punt van die gelykenis. Dit is wat die Here Jesus by ons wil tuisbring.Daar ís inderdaad ‘n wagtende Vader! Maar Hy wag vir mense wat uit die varkhok kom  –  mense wat hulle les geleer het. Hy wag vir gebrokenes, vir mense wat ingebreek is, vir mense wat weet dat daar vir hulle net één moontlikheid oorbly om die ewige verdoemenis vry te spring  –  die lewende God in die hemel se liefde en genade en vergiffenis. Hy wag vir mense met die hartsgesteldheid van hierdie seun.

Dis wat die Fariseërs en skrifgeleerdes nie kon of wou aanvaar nie. Hulle was dan só godsdienstig, só vroom, só wetsgetrou! Die Here leer egter hier vir ons dat die Vader slégs wag vir mense wat aan die einde van hulle godsdienstige toue gekom het.

Wonderlike waarheid, heerlike evangelienuus: vir seker wag die Here vir sulke mense!

DIE OPREGTHEID EN GRETIGHEID VAN DIE VADER SE LIEFDE

Op ‘n aangrypende wyse wil hierdie gelykenis die wondere van ons hemelse Vader se liefde vir sondaars beklemtoon. Maar, let op, dis nie ‘n liefde sonder meer nie. Dis ‘n liefde vir sondaars wat huis toe kom  –  gebroke oor hulle sonde, maar ook vasbeslote om in Sy genade in te vlug.

Dis ‘n liefde wat van ver kom.

Jesus sê dat die pa die seun al sien aankom het toe hy nog ver was (20b). Duidelik was die pa op die uitkyk vir sy seun. Trouens, jy kan verseker wees sy oë het van die eerste dag af op die horison geboer. Dis hoe ‘n ouer is  –  almal van ons.

Net so sê die Bybel dat “God ons eerste liefgehad het” (1Jh 4:19). Tewens, net ‘n paar verse vroeër skryf Johannes dat die liefde tussen ons en ons hemelse Vader nie by ons ontstaan het nie, maar by Hom. En nooit sien ons Sy inisiatief beter as in die feit dat Hy Sy Seun gestuur het nie (10). Watter mens deur die ganse geskiedenis sou aan só ‘n oplossing kon dink?

Trouens, as die Woord van God oor Sy liefde praat, vat dit ons selfs baie, baie verder terug as 2000 jaar gelede. Wat sê Ef 1:4? Hy het ons nog voordat die wêreld geskep is, in Christus uitverkies! En 2Tm 1:9 sê: “Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.”

Waarlik, ons kan weer en weer troos put uit die ewige permanensie van die Vader se liefde. Dis nie ‘n impulsiewe sentiment wat verdamp die oomblik as ek uit my spoor trap nie. Nee, dis ‘n liefde wat geen struikelblok te moeilik ag nie, en wat elke terleurstelling oorkom. Dis ‘n liefde wat deur dik en dun steeds hoog brand.

Dis ‘n liefde sonder aansiens des persoons.

Wat het die Vader gesien soos die seun nader gekom het? Ons weet nie, maar ons kan dink. Ten minste was dit nie dieselfde seun wat destyds so selfversekerd en vol brawade vertrek het nie. Nou is hy swart gebrand deur die woestynson, sy hare en baard is lank en gekoek van weke se stof en sweet, sy klere is verslete, en hy ruik soos ‘n transportos.

Maar dit verhinder nie die pa om hom te omhels en te soen nie. Volgens die Grieks het hy hom aanmekaar gesoen. Onthou, volgens God se wet het sy pa die volste reg gehad om hom nie net weg te jaag nie, maar selfs dood te maak. In Dt 21:18-21 word die pa van ‘n “opstandige en ongehoorsame seun”, of van ‘n “vraat en ‘n suiplap”, die reg gegee om hom te laat stenig. Maar wat ons hier sien, is presies die teenoorgestelde. Dit laat mens dink aan Eseg 16, waar die Here vir Jerusalem sê: “Toe jy gebore is, is jou naelstring nie afgesny nie, jy is nie gebad nie … Niemand was oor jou besorg … Jy is met afsku behandel en in die veld weggegooi … Toe het Ek verbygekom en jou in jou bloed sien spartel. Ek het vir jou … gesê: Leef!” (4-6).

Wat ons hier sien, is waarvan die Jesus in Lk 5 praat: “Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is, tot bekering te roep nie, maar sondaars” (32).

Dis nie ‘n liefde wat belangeloos wag nie, maar ‘n liefde wat opsoek en tegemoetgaan.

Die pa in die gelykenis voel nie net intens nie, hy handel ook daarvolgens. Hy wag nie bloot waardig en selfbeheersd soos dit van ‘n man van sy aansien verwag is nie. Nee, hy hardloop sy seun tegemoet. En dalk is dit nie net om uiting te gee aan sy opgewondenheid nie; miskien wil hy ook by hom uitkom voor hy die dorp binnekom. Miskien wil hy in die openbaar vir die mense wys  –  mense wat vir seker hierdie slegte seun sou verag en hoon  –  dat hy hom weer onvoorwaardelik en skaamteloos aangeneem het. Die Skrif sê dit in soveel woorde op ander plekke. Hb 2:11: Jesus is nie skaam om ons Sy broers te noem nie. En Hb 11:16: God skaam Hom nie om die God genoem te word van mense wat na ‘n hemelse vaderland verlang nie.

Al drie die gelykenisse hier in Lk 15 skets vir ons ‘n soekende God  –  die herder, die vrou, die pa. En in Lk 19 sê die Here Jesus, die gestuurde van die Vader, van Homself dat Hy gekom het “om te soek en te red wat verlore is” (10).

Die evangelie is ‘n uitnodiging, ‘n aanbod, ‘n bevel, aan almal wat nood het, om die heil wat daar in Christus is, aan te neem. Maar dis méér. Dis die verstommende berig dat God die inisiatief geneem het en Sy Seun na hierdie wêreld toe gestuur het om die pad oop te maak, sodat God in Sy genade by verlore sondaars kan uitkom. Nóg meer, as die Seun terugkeer hemel toe, word die Heilige Gees gestuur om die redding van sondaars ‘n werklikheid te kom maak. Dink net daaraan, twee van die drie Persone van die Drie-eenheid kom spesiaal aarde toe sodat ek en jy gered kan word!

Christen, kan jy nog twyfel dat die Vader ernstig is oor jou ewige verlossing?

Dis ‘n vreugdevolle liefde.

Hoe duidelik blyk dit nie uit die laaste deel van v.20 nie! Die soene oor en oor bars van blydskap!

Nog duideliker sê die ander twee gelykenisse dit. Daar word uitbundig fees gevier as die skaap en die baie kosbare muntstuk gevind word. En nie net hier op aarde nie, maar ook in die hemel (6 – 10).

Hoeveel troos het ek nie al geput uit Lk 12:32 nie? “Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.” En ken julle Sef 3:17? Dis woorde gerig aan die Ou Testamentiese verbondsvolk, maar hoeveel te meer geld dit nie vir óns wat deel het aan die Nuwe Verbond in Christus nie: “Die Here jou God is by jou … Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.”

Dis ‘n oorvloedige liefde.

Die pa trek vir die seun “die beste kleed” aan (22, OAV). Volgens kenners van die Midde-Oosterse kultuur was dit hoe die pa se beste kledingstuk dikwels genoem is. Dit was as ‘t ware die pa se kispak. Watter beter bewys van versoening tussen pa en seun sou daar kon wees. Dit sou ‘n sein aan die gemeenskap wees, behandel hom soos vir my.

Mens kan ook nie anders as om aan die Bybel se lering oor toegerekende geregtigheid te dink nie  –  die volmaakte gehoorsaamheid van Christus wat by wyse van spreke vir ons aangetrek word.

Die ring wat aan die Seun se vinger gesit word (22), is waarskynlik die pa se seëlring. Dan sinspeel dit op ons mandaat om namens die Here in hierdie wêreld te praat en op te tree.

Maar sommige Skrifverklaarders dink eerder in terme van ‘n ring van verbondenheid  –  soos ‘n verloofring of ‘n trouring.

Die skoene (22) wat vir hom aangetrek word, beklemtoon dat hy ‘n vryman in sy pa se huis is  –  nie ‘n kaalvoet slaaf nie.

Les bes dui die kalf wat geslag word (23) op die uitbundige blydskap van ‘n groot fees. En onthou, dis nie sommer enige kalf nie, dis ‘n vetgemaakte kalf. En dis nie ‘n skaap of bok nie, dis báie vleis  –  wat in die hitte van die Midde-Ooste, voor die dae van yskaste, nie lank kan oorstaan nie. Hier word gepraat van ‘n bielie van ‘n fees!

“Toe het hulle begin feesvier” (24).

SLOT

Hier los ons nou die jongste seun. Oor hom het die gelykenis twee dinge beklemtoon: een, die verskriklike diepgang van sy verdorwenheid en verlorenheid; twee, die uitbundige en duiselingwekkende verhewenheid van sy redding.

Stem jy saam dat die Here Jesus met hierdie gelykenis vir ons ‘n uiters belangrike waarheid aan die verstand wil bring? Inderdaad! En dis nie ‘n waarheid om ligtelik op te neem nie.

Pas jy in die prentjie in? Pas jy régtig in?

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00