LUKAS 15:17-24

ONS HET LAAS DIE SWARTSKAAP IN DIE VARKHOEK GELOS. Dit was egter nie die einde van sy lewe nie. Inteendeel, in sy ellendige toestand is hy op die drumpel van ‘n nuwe lewe. Spoedig gaan hy verstaan dat die heel beste ding wat ooit met hom gebeur het, sy varkhok-ervaring was.

As mens in armoedeland is, is dit bykans onmoontlik om te verstaan dat jy ‘n bevoorregte is. Dis eers ná die tyd, as jy terugkyk, dat jy dit sien.

Kom ons loop nou verder saam met hom.

DIE PAD VAN REDDING

Ons lees in v.17: “hy het tot homself gekom” (OAV). Hy kom tot sy sinne. Hy kry ‘n ware perspektief op sy situasie. As blinde oë begin sien, is dit die eerste tekens van genade in ‘n verstorwe lewe. Aangesien geloof inhoud het, gaan dit altyd gepaard met ‘n sekere begrip.

Wat sien die swartskaap? Hy sien dat die opwinding van die wêreld  –  wat hom sommer nou die dag nog so gefassineer het  –  bloot lugspieëlings is. Die bekoring van die ver land het oornag in die niet verdwyn. Dit wat hy gedink het so lekker gaan smaak, het nou soos aalwyn in sy mond geraak.

Gelukkig is die man of vrou wat verstaan dat die wêreld niks het om te bied nie  –  in elk geval niks wat standhou nie, niks wat regtig die moeite werd is nie, niks wat ewigheidswaarde het nie.

Wat sien die swartskaap? Hy sien sy ellende: “hier vergaan ek van die honger” (17b). Hy het alles verloor  –  sy erfporsie, sy onskuld, sy pa, sy menswaardigheid (stel jou voor, die ryk Joodjie moet varke oppas!). In vergelyking met hom, leef sy pa se slawe in oorvloed.

Om te weet dat jy verlore is, sonder God en sonder hoop, en dat die ewige verdoemenis jou voorland is, is ‘n wonderlike genade. Dit beteken dat jy op die drumpel van die ewige lewe is.

Maar ongelukkig is ‘n kwalifikasie, soos so dikwels, hier nodig. Daar is sondebesef én sondebesef. Lees maar Lk 18:9-14, die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar. Beide staan voor God. Beide het sondebesef.

Die fariseër is intens bewus van die mense om hom se sonde  –  veral die tollenaar se sonde. “O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie … ook nie soos hierdie tollenaar nie.” Mense soos hy kyk na die wêreld om hulle en sê dan: “Ja, die mens is sondig!” In oomblikke van besondere vroomheid gee hulle selfs toe: “Ja, ons almal is geneig tot die kwaad  –  ek ook!” Maar natuurlik, wie is so veilig soos iemand wat in die massa wegkruip?

Die tollenaar is daarenteen beswaarlik bewus van die sonde van die mense óm hom. Hy sien niks verder as sy eie doemwaardigheid nie. Daarom het hy vrede met ander. Luister maar na sy gebed. Letterlik staan daar geskryf: O God, wees my dié sondaar genadig. Op hierdie oomblik is hy net van één sondaar bewus  –  hyself. En bowenal is hy van God bewus. Hier is ons by dié kenmerk van ware sondebesef  –  die wete dat jy met God te doen het.

Wat sien die swartskaap? Hy sien sy hulpeloosheid, sy magteloosheid, sy verlorenheid  –  sy algehele afhanklikheid van verlossing. Presies dit kry mens ook by die tollenaar. As daar staan, “O God, wees my, sondaar, genadig”, lees die Grieks letterlik, “O God, doen versoening vir my.” Duidelik soos daglig verstaan hy, as verlossing nie van buite af vir hom opdaag nie, is daar geen, maar geen kans dat hy uit sy toestand van verlorenheid sal kom nie.

Wat sien die swartskaap? Hy sien sy eie onwaardigheid. Hy weet dat hy nie meer werd is om sy pa se seun genoem te word nie. Daarom sou hy meer as bereid wees om ‘n dagloner vir sy pa te wees (19). Mens tref dit ook by die tollenaar aan. Hy het nie eers vrymoedigheid om na die hemel op te kyk nie. In die diepste van sy wese weet hy dat God niks aan hom verskuldig is nie  –  inteendeel.

Wat sien die swartskaap? Hy sien dat hy, ten spyte van sy magteloosheid, iets drasties sal moet doen aan sy situasie. Dis een ding om te verstaan dat jy in ‘n hopeloos verlore staat is. Dis iets anders om te verstaan dat jy iets daaraan moet doen. Maar hierdie kloof kry die jongman oorgesteek: “Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan …” (18).

Daar word gesê dat die pad hemel toe geplavei is met goeie voornemens. En dis waar. Hoeveel mense is daar nie wat gereeld besluit hulle moet iets aan hulle verlore staat doen nie! As dit by vroom besluite kom, is hulle voor in die koor. Maar, natuurlik, ‘n voorneme is een saak, die uitvoering daarvan is iets anders. Alles hang af van hoe eg en opreg die voorneme is  –  en of dit tot optrede lei.

Maar die swartskaap bedoel regtig besigheid. Hoe weet ons dit? Hy hét opgestaan en die pad gevat na sy pa toe  –  en ál die pad tot daar geloop.

‘N KLASSIEKE BESKRYWING VAN BEKERING

Verse 18-20a is ‘n presiese beskrywing van egte bekering  –  reddende bekering. Die begrip bekering dui ten diepste op ‘n gesindheidsverandering. En as dit enigsins eg is, kom dit noodwendig tot uitdrukking in ‘n lewensommekeer.

Presies hóé dit tot uitdrukking kom, verskil van persoon tot persoon. Soms is dit vinnig en dramaties, soos in Saulus se geval (Hd 9). Soms vind dit geleidelik plaas oor ‘n tydperk. Maar dát dit moet plaasvind voordat jy gered kan word, staan Bybels soos ‘n paal bo water. Dis nie dat daar reddende verdienste in sit nie. Maar die hartsverandering wat deur wedergeboorte te weeg gebring word, moet noodwendig in ‘n verandering van lewens- en ewigheidsbeskouing oorgaan. En dit kan nie anders nie as om ‘n ingrypende uitwerking te hê op jou lewensprioriteite, en dus op jou gedrag.

In die jongste seun se nuwe gerigtheid en optrede sien ons vier onmisbare en ononderhandelbare fassette van egte bekering.

Een, ‘n eerlike self-beoordeling en sondebesef.

“Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig!” (18b). 

Daar is sondebesef én sondebesef. Dermiljoene woorde van sondebelydenis en berou is al ge-uiter  –  sonder die die nodige diepgang en opregtheid.

Judas Iskariot het besef dat hy gesondig het en dat hy ‘n onskuldige verraai het. Hy het probeer restitusie doen deur die omkoopgeld terug te vat vir die priesters. Tog het hy nie vrede met God gevind nie en homself opgehang (Mt 27:3-10).

Wat het geskort met Judas se sondebesef? Duidelik het hy verskriklik ellendig gevoel oor wat hy gedoen het. Maar hy was ontsteld oor wat hy homself aangedoen het. Na sy verraad het hy besef dat hy homself in die voet geskiet het. In die Bybel se beskrywing van sy berou, is daar geen aanduiding van gebrokenheid voor God nie. Die sommetjies wat hy gemaak het, het God en Sy eer nie verreken nie. Dit het alles gegaan oor eiebelang.

Presies hier lê ook die verskil tussen Dawid en Saul. Saul het inderdaad sy sonde bely (1Sam 15:24). Maar lees jy sy geskiedenis, is dit duidelik dat dit deurgaans vir hom gegaan het oor mense se dunk van hom. Hy het vir die pawiljoen gespeel. Daarenteen was Dawid (wat in terme van ons dag se oppervlakkige standaarde baie erger gesondig het!) diep onder die indruk daarvan dat sy sonde in die eerste instansie teen God was (Ps 51:6).

Ware sondebesef het dus alles te doen met ‘n diep bewussyn dat jy ‘n mislukking voor God is, en dat jy in terme van Sý standaarde niks minder as die ewige verdoemenis verdien nie.

Twee, openlike sondebelydenis.

“Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê …” (18a). 

Hier is geen sprake van verskonings en jakkalsdraaie nie. Hy het geen voorneme om te rasionaliseer, of om doekies om te draai nie. Openlik en eerlik sal hy bieg  –  presies net soos dit is.

Die feit dat die jongman van ‘n varkhok af wegloop, moet ons nie verlei om aan bekering te dink as net ‘n wegdraai van kru en morsige sondes af nie. Dit gaan oor álle sonde. Die Fariseër was respektabel, godsdienstig en geag in die samelewing  –  maar verlore. Sonde bly sonde, al is dit mooi geverf en met blomme opgemaak!

In die eerste instansie is sondebelydenis iets wat teenoor die Here gedoen word. Dis ‘n intens privaat gebeurtenis tussen die sondaar en ‘n heilige God.

Dikwels gaan dit wel ook gepaard met belydenis en restitusie teenoor mense. Maar dit is sekondêr; dit kom later.

Drie, ‘n diep nederigheid voor God en ‘n bewussyn van jou afhanklikheid van Sy genade.

“Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners” (19). 

Hier is geen sprake meer van die arrogansie wat destyds aangedring het op die erfenis nie. Hier is nie ‘n man wat wil beding vir die beste moontlike voordele uit die situasie nie. Genade is al wat hy vra  –  al is dit dan net die voorreg om die res van sy lewe as ‘n arbeider vir sy pa te werk. Net so het ware bekering alles te doen met ‘n nederigheid wat algeheel staat maak op die genade van God.

Maar tog is dit nie ‘n wanhopige toenadering tot God nie. Die jongste seun het darem geweet die man na wie toe hy op pad is, is sy pa. Sekerlik het hy met verwagting gegaan. En presies so gaan die sondaar wat die evangelie glo, na God toe. Hy verstaan dat Christus se versoeningswerk nie net genade moontlik maak nie, maar dit ook verseker.

Dus nederigheid, ja. Maar vrymoedigheid is ewe noodsaaklik  –  op grond van die oortuiging dat die Lam van God ‘n volmaakte offer gebring het.

Vier, ‘n besliste en doelbewuste lewensommekeer.

“En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan” (20). 

Toe hierdie jongman eenmaal besluit het om terug te gaan huis toe, kon niks hom stuit nie.

Net so is ‘n besliste besluit en daadkragtige optrede nodig om ‘n Christen te word. Sê die Here Jesus nie in Mt 11:12 nie: “… mense wat hulle kragtig inspan, kry dit (die koninkryk van die hemel) in besit.” Die OAV is eintlik nog nader aan die oorspronklike: “… bestormers gryp dit met geweld.” Laat ons dit nou eenmaal verstaan en ter harte neem dat die saligheid nie vir halfhartiges is nie.

Sien dit voorts duidelik raak, in die jongman se optrede sit twee dimensies  –  die een so noodsaaklik soos die ander. Hy het ná sy pa toe gegaan. En hy het wéggeloop van die varkhok af. Altyd, maar altyd behels bekering twee dinge: ‘n wegdraai van sonde af, en ‘n heendra na God toe in Christus. En tot die einde toe sal elke Christen hiermee besig bly  –  onophoudelik.

Is jy bekeerd? En leef jy ‘n bekerende lewe?

ONS HET LAAS OORSIGTELIK NA DIE TWEE SEUNS IN HIERDIE GELYKENIS GEKYK, ASOOK NA HULLE PA. Ons het gesê die pa is kennelik verteenwoordigend van ons hemelse Vader. En toe het ons ‘n bietjie meer in diepte na Sy liefde gekyk.

Kom ons kyk nou na die jongste seun  –  die swartskaap  –  se wedervaringe.

VANWAAR SULKE BEDORWENHEID?

Dis mode vandag om kinders se gedrag toe te skryf aan hulle opvoeding. Veral as ‘n kind sleg uitdraai, verwyt ouers hulleself wroegend oor al die foute wat hulle tydens sy of haar grootwordjare gemaak het.

Natuurlik speel ouerlike opvoeding ‘n groot rol in die vorming van ‘n kind se waardestelsel en lewens- en wêreldbeskouing. Maar laat ons nie die fout maak om te dink dat kinders primêr sondig omdat hulle swak opgevoed is nie. Nee, nee, hulle sondig ten diepste omdat hulle sondaars is! Soos John MacArthur sê: “We are not victims, we are villains!”

Daar is geen noodwendige en absolute verband tussen ouers se opvoeding en kinders se gedrag nie. Kyk net hoe kan broers en susters wat presies dieselfde opvoeding gekry het, in hulle volwasse jare van mekaar verskil.

Daar is ‘n enorme verskil tussen die stellings, “ons is sondaars omdat ons sondig” en “ons sondig omdat ons sondaars is”. Die mens se grootste probleem is die erfsonde. Hy word as ‘n sondaar met ‘n sondige natuur gebore. Dis waarom hy sondig. Presies dít was ook die swartskaap se probleem.

DIE SWARTSKAAP SE VERVAL NADER BEKYK

Soos feitlik altyd in die lewe, vind die jongste seun se agteruitgang stapsgewyse plaas.

In die verhaal begin alles as hy vir sy pa sê, “gee my” (12). Natuurlik is dit nie ‘n impulsiewe versoek nie. Sy begeerte om sy eie ding te doen, kom sekerlik al ‘n hele ent.

Dis natuurlik en reg vir ‘n jongman om sy eie potjie te wil krap, maar duidelik is hier iets meer aan die gang. Hy wil finaal klaar kry met sy pa en sy ouerhuis se waardes. Hy het genoeg gehad van ordentlikheid. Hy wil die wêreld en die lewe leer ken!

So was dit natuurlik ook met die eerste mens. Hy wou onafhanklik wees van God. Hy wou goed en kwaad self leer ken. En hy sou self daaroor besluit.

Hier is ons by die wortel van die mens se sonde. Die sondeval was ‘n UDI, ‘n eensydige onafhanklikheidsverklaring.

Hy het “weggereis na ‘n ver land” (13)  –  so ver as moontlik. Hy wil sy vlerke sprei. En met die avontuurlus van die jeug wat in sy are pols, wil hy alles ervaar wat hierdie lewe te bied het.

As iemand nie sin in die Here en Sy koninkryk ervaar nie, bly daar net die dinge van hierdie wêreld oor om lewensbetekenis te probeer vind. Tot die mate wat jou ondernemingsgees en avontuurlus jou toelaat, sal jy elke stukkie opwinding uitprobeer. Of kom ons sê dit soos dit regtig is: tot die mate wat jy smag na ‘n betekenisvolle lewe, tot daardie mate sal jy oor land en see reis om dit te vind. Geen denkende mens kan sonder bestaansin leef nie.

Hy het “sy geld verkwis deur losbandig te lewe”(13). In die ver land aangekom, lei een ding tot ‘n ander. Sonde is gulsig!

Die jongman beland in ‘n tuimelgang. Hy verval sedelik al hoe dieper. En daarmee saam versleg sy omstandighede. So ‘n proses kan natuurlik ook opwaarts wees. Maar dis ewe gevaarlik. Hoewel ons dit dikwels miskyk, kan die najaging van mag en sukses en rykdom in ewigheidsterme net so vernietigend wees soos ‘n lewe van kru sondes.

Niemand is so blind vir sulke gevaarlike ontaardings in ‘n mens se lewe soos jyself nie. As ons tog maar meer objektiwiteit kon hê wanneer ons na ons eie lewens kyk. Niemand wil homself immers vernietig nie. Sekerlik sou ons vriend nie wou beland het waar hy uiteindelik eindig nie.

En moenie dink dat God niks te doen het met die swartskaap se verval nie. Sê Rm 1 nie drie keer nie dat Hy mense wat weier om hulle te bekeer, aan hulle sonde oorgee? Wie nie wil hoor nie, moet voel. Dis dikwels die enigste manier om ‘n les te leer.

Hy het “alles deurgebring” (14). So gaan dit mos: ‘n lewe van losbandigheid en sonde trek jou kaal uit. Ongedissiplineerdheid en vergrype eis spoedig ‘n verskriklike tol. Dis waarom armoede en dekadensie so dikwels hand aan hand loop. Mense is nie soseer dekadent omdat hulle arm is nie  –  daar is net eenvoudig te veel ordentlike arm mense. Nee, mense is arm omdat hulle dekadent is. Almal van ons ken patete wat ‘n fortuin uitgedrink of uitgedobbel of uitgehoereer het. Waarlik, God se gebooie en ordes moet nie ligtelik opgeneem word nie. Maak erns daarmee, en dit lei jou op ‘n pad van seën. Minag dit, en jy vernietig jouself.

Maar dis nie al wat ons hier moet sê nie. As iemand sy eie goed uitmors, is dit een saak. Maar as mens ‘n ander s’n deurtrek, is dit krimineel. En dis presies wat hierdie jongman doen. Want sy pa leef nog  –  en eintlik is die besittings wat hy so deurbring nog sy pa s’n. Dis presies wat die gevalle mens doen. Hy maak of alles syne is, nog erger, hy mors daarmee. Maar eintlik behoort alles aan ons Skeppergod. Ons is bloot rentmeesters  –  wat ons roeping met groot erns, ywer en respek moet uitleef. Maar of ons dit nou wil weet of nie, verantwoording sal ons eendag aan die Groot Eienaar doen!

Toe begin hy “gebrek lei” (14). Dit moes noodwendig kom, nie waar nie. Ontnugtering neem nou die plek in van opwinding. Sy vriende verdamp. Dit wat hy gedink het is liefde, blyk nou net wellus te wees. Die good life het as in sy mond geword. En om alles te kroon, begin hy honger lei. Dan word hy ‘n varkwagter. En al wat hy het om te eet, is varkkos. Ken jy varkkos? Selfs dit moet hy skelm eet, want die boer voel vere vir hom  –  hy sorg nie vir hom nie.

Iemand wat sy rug op God draai, leef nie net sonder God nie, hy leef ook sonder hoop. En wat is erger as om geen hoop te hê nie? Uitsigloos! Geen verwagting! Sonder God is die lewe ‘n uitmergelende geworstel om so lank as moontlik uit te hou, want die wurms wag. Dis soos ‘n popliedjie ‘n paar dekades terug gesing het: “I am so tired of living, but so terribly afraid of dying!” Min ongelowiges waag dit om té diep te dink, maar as hy dan tog die moed het om realiteite in die gesig te staar, kan hy tot geen ander gevolgtrekking kom nie as die ateïstiese filosoof (ek meen dit was Albert Camus): “die lewe is absurd  –  ‘n siek grap!”

DIE SONDE EN SY EFFEKTE

Sonde het sy plesiere, sy opwinding, sy kompensasies. Dis gewis so. Die probleem is net dat dit nie hou nie.

Een van die kenmerke van ‘n lewe sonder God, is sy rusteloosheid. Waarom? Dis omdat wêreldse genot baie selde standhoudend is. En as een beheptheid vaal en vervelig raak, moet jy ‘n volgende een kry om jou aandag in beslag te neem. Want dink durf jy nie.

Die mens kan nooit volle en finale bevrediging uit sonde put nie. Hy is nie ‘n dier nie. Hy is nie net liggaam nie, hy het ook ‘n siel. Hy is na die beeld van God geskape  –  vir gemeenskap met God. Hy is dus geskape om sy hoogste vervulling in ‘n ander dimensie te vind as bloot die liggaamlike.

As daar één les is wat ons in hierdie lewe moet leer, dan is dit dat mens blywende vervulling net in ons hemelse Vader se huis kan vind. Daarom is die man of vrou wat die rug op Christus draai, gedoem tot ‘n lewe van sinloosheid. Dit is immers net in Christus dat ons met God versoen kan raak.

Nie alleen is ‘n lewe sonder God nie in staat om ‘n mens te vervul nie. Erger, dit droog jou siel uit. Dis soos Dt 8:3 sê: die mens leef nie net van brood nie, “hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.” Sonder híérdie kos verdor jy in jou menswees.

Dis natuurlik nóg ‘n rede waarom mense sonder die Here steeds soekend bly.

Die ergste dwase onder hulle poog om in nog méér sonde betekenis te vind. Soos rondloperhonde soek hulle kos in die asblikke van hierdie wêreld.

Die meer edelmoediges probeer op ‘n duisend maniere lewensin vind in moraliteit en die sogenaamde verhewe dinge in die lewe. Hulle word groenes, of hulle gaan op in die akademie of die kunste. En meeste van hulle leef vir die welsyn van hulle kinders en kleinkinders. Hulle boedels raak belangriker as die bestemming van hulle siele.

En dan is daar natuurlik ook diegene wat wel aan die hiernamaals dink. Dis die godsdienstiges. Vir hulle is elke goeie werk en elke ritueel nog ‘n trappie oppad na God toe.

GOD SE GENADE

Ons het afgedwaal. Ons het ons vriend netnou in die uiterste ellende gelos  –  daar in die varkhok.

En tog! Hy is ‘n wonderlik begenadigde. Dis eintlik volgende keer se storie, maar ons kan tog nou ‘n paar dinge daaroor sê.

Waarom kan die swartskaap nie op ‘n beter plek wees as hier waar die swyne se stank hom wil laat stik nie? Waarom is dit die beste oomblik van sy lewe tot dusver? Dis omdat hy in ‘n hoek is. Hy het vasgeloop. Hy kan nie verder nie. Nou móét hy dink. En as mens regtig dink, bly insig nie lank uit nie.

Vir die swartskaap kom die insig spoedig. Hy ken immers die goeie nuus  –  die goeie nuus!  –  van sy pa se liefde vir hom. Hy weet hy kan enige dag teruggaan en met ope arms ontvang word.

Daar is natuurlik talle verlore seuns wat die goeie nuus nie ken nie. Vir hulle vat dit gewoonlik langer voordat die uitkoms opdaag. Iemand moet dit immers vir hulle kom vertel. En meeste mense loop maar wye draaie om stink varkhokke.

Helaas gaan baie van hierdie verlore seuns in die varkhok dood. Party het wel gehoor dat daar ‘n liefdevolle Vader is  –  maar dit as nonsens afgemaak. Vir verreweg die meeste word dit helaas nooit vertel nie. En waarheen gaan jy, as jy nie weet dat jy die varkhok vir ‘n paleis kan verruil nie?

Meeste van ons verstaan presies, nie waar nie. Meeste van ons het ook die pad teruggeloop na die Vaderhuis toe. Ons weet, die pad na God toe begin in armoede-land. Want dis dáár waar mens besef jy het vasgeloop  –  jy kan jouself nie help nie. Dis dáár waar die helder lig vir mens opgaan dat jy ‘n Verlosser nodig het.

Is dit nie ironies nie, die lewe in die lig begin in die stikdonkerte van uitsigloosheid! “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Mt 5:3).

Is hier dalk iemand wat vanaand na vark ruik? As jy nog nie presies verstaan waarlangs die pad na die Vaderhuis loop nie, vra onverwyld pad! Hier is baie mense in wie se gemoedere die roete tot in die fynste besonderhede ingeëts is. Hier is baie mense wat jou met die grootste graagte sal wil help.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00