LUKAS 15:11-32
DIE HERE JESUS WAS ‘N WONDERLIKE ONDERWYSER. By uitstek het dit tot uitdrukking gekom in Sy gelykenisse. En steeds het hulle nie hulle bekoring verloor nie. Só eenvoudig, só onpeilbaar!
Van al die gelykenisse is hierdie een dalk die bekendste – en dalk ook die ontroerendste.
Dis deel van ‘n drietal gelykenisse wat saam hoort – gelykenisse van verlorenheid: die verlore skaap, die verlore muntstuk en die verlore seun.
TWEE SEUNS
Eintlik handel die gelykenis nie net oor een seun wat verlore is nie, maar oor twee. Want ook die oudste seun – met al sy ordentlikheid – is verlore. Hy is net so verlore soos sy jonger broer. A miss is as good as a mile! Trouens, hý is die een wat heel moontlik in sy verlore staat gebly het.
Om die gelykenisse na behore te verstaan, moet mens dit lees in die lig van 15:1-3. Die twee seuns in ons gelykenis verteenwoordig onderskeidelik die tollenaars en sondaars, enersyds, en die die Fariseërs en die skrifgeleerdes, andersyds. Eersgenoemde groep is beskou as die ergste sondaars in die samelewing, en laasgenoemde groepe as die godsdienstige vromes by uitstek.
Niemand wat die evangelies lees, sal ontken dat die Here Jesus ‘n besondere aangetrokkenheid tot die eerste groep geopenbaar het nie. Weer en weer beklemtoon Hy dat Hy primêr op hulle gerig is: “Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars” (Mt 9:13). By hulle het Sy hart gelê: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur” (Mt 15:24). Hy het gekom vir die herderlose, uitsiglose, hopelose en verlore kinders van Israel – en almal soos hulle.
Daarenteen het Jesus gedurig met die wettiese en eiegeregtige Fariseërs en skrifgeleerdes gebots (Lk 11:37-54). Hulle was soos olie en vuur.
Is dit nie verbysterend ironies nie? Die heiligste Man van alle eeue, die enigste Een wat ooit volkome volgens God se wil geleef het, kies die ergste sondaars en die mees tragiese mislukkings in die samelewing, terwyl Hy soos klokslag bots met die mees vooraanstaande en ywerige godsdienstiges. Waarlik, hierin sit een van die heel belangrikste lesse wat ons by die Here Jesus moet leer!
‘n Laaste opmerking oor die twee seuns is nodig: tussen hulle twee verteenwoordig hulle alle mense. Die oudste seun staan vir al die selfvoldane godsdienstiges deur die eeue, wat gereken het hulle moraliteit verseker hulle ewige saligheid. Die jongste seun is die universele sondaar. Hy verteenwoordig Jan Alleman in sy sonde, hulpelose ellende, sinlose uitsigloosheid en vervreemding van God.
DIE PA
Ons het tot nou toe oor die twee seuns gepraat – en inderdaad speel hulle ‘n groot rol in die gelykenis. Maar die belangrikste karakter is hulle pa. Hy is die held. Dis per slot van rekening hý wat die jongste seun na sy gewetenlose opeis van die erfenis – vóór sy pa se dood – en sy spandabelrige vermorsing daarvan, met oop arms terug verwelkom. En dis hý wat by die oudste seun – ten spyte van dié se selfsugtige wangedrag – aandring om deel te word van die feesvieringe.
Die Here Jesus noem hom net ‘n man – maar kennelik verteenwoordig hy ons hemelse Vader. En ten diepste wil die gelykenis Sý liefde vir sondaars onderstreep. Al drie gelykenisse beklemtoon Sy onvermoeide soeke na diesulkes, asook die uitbundige feesvreugde as hulle gevind en gered word. En dis Sý engele wat jubel oor elke sondaar wat tot bekering kom en gered word (15:7, 10).
Eintlik moet die gelykenis genoem word: die gelykenis van die liefdevolle vader.
GOD IS LIEFDE
Voordat ons by ‘n volgende geleentheid verder na die gelykenis kyk, kom ons besin eers bietjie meer oor God se liefde vir sondaars. Uiteraard kan daar beswaarlik ‘n onderwerp wees wat ons meer bekoor. Is dit nie die storie van ons eie lotsverandering nie – ons wat in Christus is?
In die Pastorale Briewe word 5 kernagtige geloofsformules aangetref – elkeen só getipeer: “Dit is ‘n betroubare woord …” (1Tm 1:15; 3:1; 4:8-9; 2Tm 2:11-13; Tit 3:3-8). Luister hoe druk een hiervan die essensie van die evangelie uit: “Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom omsondaars te verlos” (1 Tm 1:15). Romeine 5:8 dra dieselfde idee: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”
Terwyl die Bybel kompromieloos daarop staan dat God sondaars liefhet, staan dit net so onbeweeglik daarop dat Hy nie álle sondaars reddend liefhet nie. Wie is dan die bevoorregtes? Hieroor kan en moet ons ‘n paar dinge sê.
God red sondaars ás sondaars – ongeag wie en wat hulle is, of nie is nie! Hy het lewende dooies lief; mislukkings in terme van Sy standaarde; rebelle teen Sy Wet; mense wat algeheel magteloos is om hulle ewige lot te verander.
Dis ‘n moeilike les, maar ons móét dit leer.
Dit beteken dat God se liefde op niemand beslag lê, ómdat hy iets is nie. Nooit is redding te danke aan iets in die sondaar self nie. Mense word dus nie gered, ómdat hulle hul bes probeer nie; of ómdat hulle beter vaar as ander nie. Opvoeding, rykdom, geleerdheid, begaafdheid en skoonheid speel geen rol nie. Niemand is ‘n voorwerp van God se reddende liefde, ómdat hy godsdienstig, of ‘n kerkganger of ‘n tiendegeeër is nie. Ewemin is sondebelydenis, of vroomheid, of uitkniel ‘n kwalifikasie. God red nie mense ómdat hulle siekes verpleeg, of armes kosgee, of sendingwerk doen, of gedoop is nie. Selfs die aanroep van die Here, of die grootste geloof, is nooit ‘n grónd vir redding nie.
Andersom gestel: God het sondaars lief ten spyte van wie of wat hulle is. Hy red skuldiges, ellendiges, vuiles, mislukkings, uitvaagsels en patete. Hy red uitsigloses, moedeloses, koersloses, hopeloses. Christus het gekom vir blindes, lammes, kreupeles, dowes, stommes. God red oortreders van Sy Wet, mislukkings i.t.v. Sy standaarde: godloënaars, afgodsdienaars, lasteraars, sabbatsbrekers, ouer-veragters, moordenaars, egbrekers, diewe, leuenaars, hebsugtiges. Hy red geestelik-dooies, vleeslikes, wêreldgelykvormiges, satanbeheerdes, helgedoemdes.
Ons móét verstaan: God red nie net sondaars as sondaars nie; Hy red slégs sondaars! Hy red net ellendelinge wat weet dat hulle sondaars is en dit bely sonder om doekies om te draai.
Dit is wat die Here bedoel as Hy sê dat Hy net vir sondaars gekom het (Lk 18:9-14; 19:10; Mk 2:17, OAV). Een van die Jode se grootste probleme was hulle idee dat ‘n mens langs ‘n leer van moraliteit en godsdienstige rituele na God toe moet opklim. En hulle selfvoldaanheid in hierdie verband was die finale spyker in hulle doodskis. Die gevolg was dat hulle totaal doof was vir die evangelie.
Waarom werk dit so? Sonder ware sondebesef is Christus se versoeningswerk vir jou net van akademiese belang. Uiters kan dit tot ‘n kunsmatige geloof lei, nooit tot egte, reddende vertroue nie.
Nog belangriker: God red sondaars ten einde Homself te verheerlik. Nou is dit duidelik dat Sy eer net gedien word as iemand werklik verstaan hoe afhanklik hy of sy van die Here se genade is. En sonder sondebesef is dit eenvoudig nie moontlik nie.
Vir ‘n lewe van geregtigheid is Mt 5:3 die fondasie. Jesus begin Sy Bergrede só: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
HET GOD JÓÚ SO REDDEND LIEF?
Eintlik kan jy net een van twee antwoorde op hierdie brandende vraag gee: Ja! of Onseker!Want al dink jy dat die Here nie in jou belangstel nie, kan Sy liefde môre, oormôre op jou beslag lê.
Sommige sal protesteer:
“Ek is gewis sonder God en hoop!” Dit sê niks nie. Ál die geliefdes is nog nie ingebring nie. Wie weet, dalk is jou hartoorplanting om die draai.
In elk geval, is daar nie talle Bybelse oproepe tot sondaars om in die Here se liefdevolle arms in te hardloop nie? Waarom huiwer jy? Wie se skuld is dit dat jy nog sonder God is? Al struikelblok is jou eie ongehoorsaamheid en onwilligheid en ongeloof. Jy, en jy alleen, dra die skuld vir jou toestand!
“Ek stel nie belang nie!” Wel, as God se liefde kom – kóm dit! Een oomblik is jy ‘n halsstarrige rebel, die volgende oomblik lê jy op jou gesig voor die Here. En die res van jou lewe is jy Sy ywerige dissipel. Só het miljoene dit al ervaar. God se liefde slaan onverwags toe. Onweerstaanbaar!
Wat sê die Woord vir die onsekeres? Dis onnodig om onseker te bly! Die uitnodiging van die Bybel se vyfde laaste vers staan steeds so vas soos die berge: “Die Gees en die bruid sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dit hoor, moet sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Op 22:17).
Hierdie is nie net ‘n uitnodiging om eenmaal te drink nie; dis ‘n bevel om weer en weer te drink. Elkeen wat in opregtheid kom, het die Here se belofte in Jh 6:37: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit, maar nooit verwerp nie.” (Gr. letterlik).
Aan die onsekeres sê die Bybel dus: Al het jy hoeveel keer in die verlede gedrink, kom nou weer. Jy bly onseker omdat jy nog altyd halfhartig en kleingelowig was. Kom nou, beslis en gelowig! Kom, maak die transaksie vas – eens en vir altyd!
Spoedig sal die Gees in jou begin roep: “Vader, my Vader!” (Rm 8:15-16; Gl 4:6). Dan sal jy weet: ook ek is ‘n voorwerp van God se besondere liefde!
En wat sê die Woord vir diegene wat vanuit uitbundige harte kan sê: “Ja! Ek weet dat ek weet dat ek ‘n voorwerp van God se reddende liefde is!” Sonder om jou geloofsekerheid te bevraagteken, kom die Bybel en roep jou op om elke dag jou roeping en verkiesing vas te maak. Dan sal jy nie struikel nie. En jy sal uiteindelik ‘n vrye en feestelike toegang tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, verkry (2Pt 1:10-11).
Dien die Here dus met ‘n onverdeelde hart! En laat die sentrale hartstog van jou lewe wees om Hom te behaag en te verheerlik – deurdat jy op jou beurt Hóm liefhet met alles in jou.