ESEGIËL 26

GEE GOD OM WAT IN EN MET DIE HEIDENNASIES GEBEUR? In kort: heers Hy ook in die heidenwêreld? Esegiël 26-28 gee hierop ‘n onweerlegbaar duidelike antwoord.

As Esegiël profeteer, is Juda in die Babiloniese ballingskap. Dis die sentrale tema. Maar ook word 8 hoofstukke (25-32) gewy aan oordeelsuitsprake teen die heidennasies rondom die verbondsvolk.

Amper drie van die hoofstukke teen die nasies word afgestaan aan Tirus (26:1-28:19). Afgesien van talle verwysings in die Ou Testament na hierdie stadstaat, en verskeie in die Nuwe, is Tirus se geskiedenis oraloor in ander literatuur opgeteken.

Fassinerend van Esegiël se profesie oor Tirus is die letterlike vervulling daarvan deur die eeue.

ESEGIËL SE PROFESIE (26:1-28:19)

Tirus het noord-wes van Juda gelê. Dit was die hoofstad van Fenisië  –  ‘n streek min of meer waar die moderne Libanon is.

Tirus was ‘n baie antieke stad. Josefus dateer die ontstaan daarvan in 1217 v.C., en Herodotus selfs so vroeg soos 2740 v.C.

In die regeringstye van Dawid en Salomo het goeie verhoudinge tussen Israel en Tirus geheers. Koning Hiram van Tirus (980-947) het byvoorbeeld hout en ambagsmanne verskaf vir die konstruksie van sowel Dawid se paleis (2Sam 5:11) as Salomo se tempel (1Kon 5:1-18). Salomo het ook skepe en matrose vir sy handelsvloot daarvandaan gekry (1Kon 9:27). Daar is geen verslae oor enige oorloë tussen Israel en Tirus nie.

As Babel teen die einde van die sewende eeu v.C. op die wêreldtoneel verskyn, is Tirus ‘n skatryk kommersiële sentrum. Die sondes waarvoor Esegiël die stad en sy mense veroordeel, hang dan ook grootliks saam met hulle welvaart.

Tirus was op die ooskus van die Middelandse See geleë  –  maar ook op ‘n eiland van ongeveer 2 vierkante kilometer so ‘n bietjie minder as ‘n kilometer van die land af.

Die profesie word gelewer kort na die val van Jerusalem in 586 v.C. (26:2). Verdoemende oordele word oor Tirus uitgespreek. Omdat hy hom oor Jerusalem se val verbly, sal die stad in die toekoms deur die nasies oorspoel word (26:3). Nebukadnesar se aanslag word spesifiek genoem (26:7vv).

Mettertyd sal die stad totaal vernietig word – as ‘t ware van die aardbol afgeveeg (26:21). Dit sal onder die see verdwyn (26:19). Dit sal in die doderyk afsak (26:20). Dit sal nooit herstel word nie (26:20v).

Tirus se sondes word uitdruklik of per implikasie geskets: veral trots en selfversekerdheid (26:4, 9-11, 16), materialisme (26:12) en plesiersug (26:13).

Tirus was ‘n besondere stad (27:4-25a). Dit was aangrypend mooi en welvarend (4-9), met ‘n uitstaande leër (10-11). Dit het handel gedryf met elke denkbare produk én met talle nasies (12-25a).

Maar Tirus gaan vernietig word. Verskriklike oordele sal die stad tref (27:25b-36). Die oordele word oor en oor uitgespreek (25b-32 en 33-36).

DIE VERVULLING VAN ESEGIËL SE PROFESIEË

Die komende oordele 

‘n Deurlees van Eseg 26 toon dat die oordele oor Tirus in besonderhede beskryf word. Die profeet maak dus nie sulke vae en algemene stellings dat min of meer enige stel gebeure later aangebied sou kon word as vervulling daarvan nie; inteendeel!

Ten minste 7 stukke detail kan onderskei word:

Een, baie nasies gaan soos golwe oor Tirus breek (26:3).

Twee, Nebukadnesar van Babel sal Tirus beleër en inneem (26:7).

Drie, die stad sal vernietig word en die bogrond sal verwyder word sodat net ‘n kaal klipplaat oorbly (26:4,14).

Vier, vissermanne sal hulle nette daar droog maak (26:5,14).

Vyf, die verwoeste stad se puin sal in die see gegooi word (26:12,19).

Ses, die stad sal nooit herbou word nie (26:14).

Sewe, wie na die stad soek, sal hom nie kry nie  –  nooit weer nie (26:21).

Vervulling oor die eeue wat gevolg het. 

Kort na Esegiël se profesie word Tirus deur Nebukadnesar beleër. Na meer as ‘n dekade (585-573) gee Tirus uiteindelik oor (profesie 2). As Nebukadnesar egter deur die poorte gaan, is die stad amper dolleeg. Die meerderheid inwoners het skelm per boot na die eiland teruggetrek. Daar sou hulle spoedig ‘n fortagtige stad vestig. Hoewel die stad op die vasteland vernietig is, kon Nebukadnesar nie die eiland bykom nie, en dié bly dan vir die volgende eeue ‘n sterk vesting.

Twee-en-‘n-half eeue later, in 332 v.C. besluit die magsugtige en imperialistiese Aleksander die Grote om Tirus in te neem. Dit lei dan tot een van die epiese verhale van die militêre geskiedenis. Met amper onbeperkte mannekrag tot sy beskikking, begin hy om die puin van die ou stad die see in te werk ten einde ‘n pad na die eiland toe te bou (profesie 5). So word die kuslyn regoor die eiland tot op die rotsbodem skoongemaak. Elke kubieke meter grond was uiteraard nodig (profesie 3).

Hoewel ‘n enorme taak, word die eiland na 7 maande bereik en ingeneem. Agtduisend inwoners word doodgemaak en 30 000 as slawe weggevoer.

Hierdie mensgemaakte skiereiland bestaan tot vandag toe!

Dit was egter nie die einde van Tirus nie. Pogings is weer en weer aangewend om dit te herbou, maar dis elke keer weer aangeval. Uiteindelik, na 1600 jaar, is dit in die tyd van die kruistogte (1291 n.C.) finaal afgebreek (profesie 1). Tot vandag toe is dit nie herbou nie (profesie 6).

Tirus is weliswaar steeds ‘n klein vissershawe. En op die kaal rotsplate op die vasteland droog die vissers tot vandag toe hulle nette (profesie 4).

Hoewel die algemene ligging van die stad bekend is, is daar geen ruïnes wat die eksakte ligging en grense daarvan aantoon nie. Dit kan dus nie meer “gevind” word nie (profesie 7).

ENKELE LESSE TE LEER

Hier het ons ‘n kragtige getuienis vir die akkurate betroubaarheid van God se Woord  –  ook die Ou Testament. 

Statisties is die waarskynlikheid dat sewe baie spesifieke profesieë toevallig só akkuraat vervul is, infinitessimaal gering. Net ‘n stiksienige dwaas sal dit betwyfel dat Esegiël deur die Gees van die soewereine en alwetende God geprofeteer het.

En, natuurlik, hierdie is maar één voorbeeld. Daar is dosyne en dosyne ander Ou Testamentiese profesieë wat eweneens en net so akkuraat vervul is. Verreweg kosbaarste daarvan is sekerlik die messiaanse beloftes wat so heerlik waar geword het in die lewe van die Here Jesus.

Hoef ons dus te twyfel dat die Goddelike voorseggings wat selfs in ons dag nog onvervuld is  –  waarvan Jesus Christus steeds in die middelpunt is   –  uiteindelik óók in vervulling sal gaan?

God regeer soewerein en noukeurig oor die lotgevalle van volkere en nasies. 

Om hierdie profesieë tot vervulling te bring, moes die Here ontsaglike historiese en politieke kragte, asook heidense vorste, presies stuur volgens Sy wil. 

Die Spreukedigter het hierdie waarheid duidelik verstaan: “Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here; soos ‘n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies” (Spr 21:1).

God heers nie net in die lewens van Sy kinders wat Hom met ywer wíl gehoorsaam nie. Nee, Hy heers ook onweerstaanbaar soewerein  –  en in besonderhede  –  in die lotgevalle van Sy vyande.

God se soewereine regering oorspan die eeue. 

Geen profeet se optrede is so noukeurig en seker gedateer soos Esegiël s’n nie. Hy lewer sy laaste profesie in 571v.C. Eers twee-en-‘n-half eeue later sou Aleksander die Grote die profesie tot op die letter waar maak  –  terwyl hy waarskynlik niks van Esegiël se profesie geweet het nie. En vir al die eeue daarna, tot vandag toe, het dit waar gebly.

Dit is goed en nodig vir ons om dit te onthou. Ons as mense het altyd maar weer die neiging om die profesieë van God se Woord in terme van óns omstandighede te vertolk. Ons is ongeneeslike pypiekykers. Maar laat ons Petrus se woorde onthou: “vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag” (2Pt 3:8).

En onthou dat Petrus dit gesê het toe hy gepraat het oor die lang tyd wat sou verloop voordat die Here Jesus terugkom. Laat ons ons dus onthou van opinies en voorspellings wat daarop aanspraak maak dat die wederkoms vir seker binnekort gaan plaasvind. Jesus het uitdruklik geleer dat niemand weet wanneer dit gaan gebeur nie  –  selfs nie Hyself nie  –  net die Vader (Mt 24:36).

Oppas vir wederkomspredikers wat maak asof hulle presies weet wat voor en tydens die wederkoms gaan gebeur. 

Sekerlik is die Bybel vol profesieë oor die wederkoms  –  ook oor wat dit sal voorafgaan, en wat daarop sal volg. Maar laat ons baie versigtig en nederig wees as ons dit probeer vertolk.

Het julle opgelet, hoewel daar met verstommende detail oor Tirus geprofeteer is, sou niemand aan die hand daarvan kon voorsien hoe dit presies vervul sou word nie. Dis eers nadat dit alles gebeur het, dat mens verstom staan oor die letterlike akkuraatheid van die voorseggings.

Dis net so met die messiaanse profesieë in die Ou Testament. Vandag verbyster dit ons, byvoorbeeld, dat Jes 53 so letterlik vervul is. Maar wie sou vóor die tyd op grond van hierdie hoofstuk kon voorsien hoe alles sou verloop het?

Ek is oortuig daarvan dat presies dieselfde geld vir die wederkomsprofesieë. Gaan dit letterlik vervul word? Vir seker! Maar hóé presies sal ons moet sien. Trouens, vandag sal ons nie kan droom wat alles op die Here se kinders, asook die ongelowiges, wag nie  –  ten spyte daarvan dat dit in besonderhede beskryf word in ons Bybels.

Waarom word die profesieë dan vir ons gegee? Eerstens om ons tydens ons pelgrimstog te bemoedig. Tweedens, as ons dit nóú leer ken en liefkry, sal ons wanneer dit alles gebeur, nie kop verloor nie, maar die vervullings herken en die Here koersvas in die geloof tegemoetgaan. En derdens sal profesie en vervulling vir ons tot in ewigheid ‘n bron van lof en aanbiddingsverwondering wees.

Mag die Here ons bewaar van ‘n voorbarigheid wat daarop aanspraak maak dat ons presies weet hoe en wanneer God se toekoms gaan ontvou. Die Jode was seker dat hulle geweet het hoe die Messias sou kom. Toe kom Hy anders  –  met die gevolg dat hulle Hom nie herken het nie. En ons ken die onuitspreeklik tragiese gevolge!

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00