2PETRUS 3:1-13 2PT 3 (1)

PETRUS WEET SY DOOD IS OP HANDE (1:14) en hy wil seker maak hy laat die gemeentes in ‘n gesonde toestand agter. In hierdie brief is hy veral begaan oor die invloed van die dwaalleraars van destyds. Spesifiek het hy dit oor die Gnostici.

In essensie het hierdie mense ‘n radikale onderskeid gemaak tussen die materiële en die geestelike wêrelde. God, het hulle betoog, woon in die geestelike sfere en het geen erg aan wat in hierdie fisiese ondermaanse aangaan nie. Die dood is daarom ‘n ontsnapping uit die gevangenis van die bose bestaan in die liggaam, en ‘n toetrede tot die geestelike dimensies waar God woon.

Hierdie basiese uitgangspunt van die Gnostici het hulle voorts verlei om die wederkoms van Christus te misken. As God dan nie geïnteresseerd is in hierdie fisiese wêreld nie, waarom sou Hy hierheen wou terugkom, het hulle geredeneer.

Dis veral in hierdie derde hoofstuk dat Petrus híérdie dwaling aanspreek. Dit rus op bedenklike uitgangspunte. En gevolglik mis dit die wonderlike en praktiese implikasies van ‘n lewende hoop op die wederkoms van die Here Jesus Christus.

SONDE EN SELFBEDROG LOOP SAAM

Petrus het geen geduld met die Gnostici se dwalinge nie. Hy noem hulle “spotters” (3:3). In 2:10 sê hy dat hulle “vermetel en aanmatigend” is.

En laat daar geen illusies oor wees nie: diesulkes sal dwarsdeur die laaste dae (3:3) aktief wees om die kerk op dwaalweë te probeer lei. 1

Die dwaalleraars baseer hulle verwerping van die wederkoms op die feit dat daar steeds niks van gekom het nie. Meer as drie dekades het al verloop ná Jesus se belofte dat Hy sal terugkeer  –  meer as dertig jaar!  –  en Hy bly steeds weg. As daar nou nog niks gebeur het nie, sê hulle, sal niks ooit gebeur nie. Dis ‘n feëverhaal! (3:4).

Maar Petrus sien dwarsdeur hulle argumente. Hulle is besig met wensdenkery, met volstruis-politiek. Hulle leef in sonde en sien nie kans om dit te los nie. Daarom kan hulle die gedagte aan Christus se wederkoms en die gepaardgaande oordeel glad nie hanteer nie.

Kyk net wat skryf Petrus oor hulle lewenstyl in 2:14, 18, 19. Hulle is vol wellus, hulle verlei onstandvastige mense, hulle is geldwolwe, hulle is losbandig en slawe van die verderf. Vir sulke mense is die gedagte aan ‘n komende oordeel onhoudbaar.

VYF PILARE WAAROP DIE VERWAGTING VAN ‘N KOMENDE OORDEELSDAG RUS

Petrus hou vir sy lesers  –  en daarom vir ons  –  vyf redes voor waarom Jesus vir seker sal terugkeer.

God het gesê dit sal gebeur (3:2) 

Die Ou Testamentiese profete verseker ons daarvan, en nadruklik leer die Here Jesus en Sy apostels (3:2) dat die geskiedenis van hierdie wêreld afstuur op die wederkoms van Christus as Koning en Regter. En dit sal ‘n dag van afrekening en oordeel wees. Hoe dikwels het die Here Jesus nie daaroor gepraat nie; hoeveel van Sy gelykenisse het dit nie as tema nie? Dit word gesê dat die Nuwe Testament ‘n stuk of 250 verwysings na die wederkoms het.

God het reeds eenmaal vantevore in oordeel gekom (3:6) 

Het God nie al vantevore tydens die sondvloed die wêreld laat vergaan nie? Waarom kan Hy dit nie weer doen nie?

Baie duidelik is hierdie mense oneerlik in hulle argumentasie. Hulle haal die Ou Testament aan as dit hulle pas (3:4), maar gerieflikheidshalwe vergeet hulle “moedswillig” van Gn 7-8 (3:5).

Sulke bedenklike integriteit is tipies van alle dwaalleraars. Hulle is uitstekendevergeeters. O ja, hulle kan hulle argumente opdollie met imponerende argumente  –  oënskynlik baie intellektueel en wetenskaplik. Maar jy hoef nie diep onder die oppervlak te krap om agter te kom dat hulle teorieë nie water hou nie. Waar sien mens dit duideliker as in die wilde teorieë van die evolusionisme, wat so breëbors onder die dekmantel van onaantasbare wetenskaplikheid paradeer?

God is die soewereine, ewige en almagtige Skeppergod (3:5, 8) 

Die dwaalleraars se verwysing na die skepping (4) pas Petrus baie goed. Julle is reg, sê hy vir hulle, God hét geskep  –  deur bloot te spreek. Sou Hy dan nie by magte wees om die aarde weer te laat vergaan nie? As Skepper behoort alles immers aan Hom. Hy kán dus nie net die wêreld vernietig nie, Hy mág ook  –  Hy is algeheel soewerein.

Nog meer, God het ook tyd geskep. Self is Hy dus nie onderworpe daaraan nie. Hy is a-tyds. Hy is die ewige! Vir Hom is daar dus geen wesentlike verskil tussen ‘n duisend jaar en een dag nie. En dan dink julle, sê Petrus vir die dwaalleraars, dat die verloop van drie dekades bewys dat Hy van Sy beloftes vergeet het!

God is regverdig (3:7) 

As Petrus in v.7 sê dat die huidige hemel en aarde “bewaar” en “in stand gehou” word vir die vuur, en dat die goddeloses op daardie dag geoordeel sal word, sinspeel hy op iets wat hy reeds in h.2 gesê het. Dáár argumenteer die apostel dat God se regverdigheid Hom nie toelaat om sonde ongestraf te laat bly nie. As God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie; as Hy die goddeloses van die outyd nie laat wegkom het nie, maar hulle met die vloed verdelg het; en as Hy Sodom en Gomorra nie laat voortmors het in hulle boosheid nie (2:4-6)  –  sal Hy mos nooit die sondegevalle wêreld en die bose mense wat dit bewoon, gewoon skotvry laat wegkom nie! Nee, hulle sal vir hulle sondes “die loon van die goddeloses ontvang” (2:13a).

Loon is iets wat verskuldig is vir dit wat gedoen is. Geregtigheid vereis dat sodanige skuld betaal word  –  en God is ‘n God van geregtigheid! Sou Hy dus versuim om terug te kom, en sou Hy dit nalaat om die goddeloses te straf, sal dit ‘n ernstige klad op Sy Naam wees. Sonde móét gestraf word!

Wat Paulus in Gl 6:7 skryf, is onontkombaar waar: “Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, sal hy ook oes.”

God is genadig (3:9) 

Waarom talm die Here so lank om terug te kom? Dis oor Sy barmhartigheid, sê Petrus. Ons leef in genadetyd, en Hy rek dit uit sodat meer en meer mense gered kan word.

Hoe oneindig kosbaar is hierdie karaktertrek van God nie! Esegiël jubel daaroor: God het geen behae in die dood van ‘n goddelose nie; nee, Sy vreugde is daarin dat so ‘n persoon hom of haar bekeer en lewe! (18:23, 30-32 OAV). En Paulus roem daarin: God wil hê “dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1Tm 2:4).

Het jy al daaraan gedink? As die Here ‘n honderd jaar gelede in antwoord op Sy heiliges se smeekgebede teruggekom het, het ons almal die lewe en die ewige salig misgeloop! Het díé van julle wat kleinkinders het, en hulle liefhet soos tipiese oupa’s en ouma’s, die Here al gedank dat Hy lank genoeg getalm het om terug te kom  –  sodat ook húlle kan lewe en gered word?

Wat moet ons hiervan maak? Laat die Here ons God in Sy soewereine wysheid en liefde maar self besluit wanneer Hy terugkom. Dit beteken nie dat ons nie oor Sy wederkoms moet bid nie. Ons móét. Maar laat ons ook v.9 onthou. In elk geval is die uitnemende gebed, “Laat U koninkryk kom!”  –  en, natuurlik, dit bestryk sowel die bekering van die verlorenes as die wederkoms van Christus.

WAT SÊ DIT ALLES VIR ONS?

Tot die mate wat die wederkoms van Christus en die gepaardgaande oordeel uit mense se sigveld verdwyn, tot daardie mate verloor hulle ‘n morele verantwoordelikheidsin.

As daar geen morele verantwoording op ons wag nie, waarom sal ons die aandrange van die vlees inperk en bestry? Daarom loop ongeloof en sedeloosheid altyd hand aan hand.

Die mens en sy bevrediging  –  dinge soos plesier en status en mag  –  word dan god. Help dit ons beter verstaan wat tans in ons land aan die gang is? Natuurlik!

Maar laat ons nog iets raaksien. Hierdie dwaalleraars van wie Petrus praat, het nie net gesondig omdat hulle nie in die wederkoms van Christus geglo het nie. Hulle het ook geweier om die feit van die wederkoms in die gesig te staar, omdat hulle nie kans gesien het om van hulle goddeloosheid afstand te doen nie. So is dit steeds!

Laat ons die Bybel op sigwaarde lees. 

Eindeloos deur die eeue was die debattering oor vers 9. As God ‘n vaste getal uitverkorenes het, en as Hy dan soewerein die verloop en eindpunt van die geskiedenis verordineer het, hoe moet mens dit verstaan dat God die geskiedenis uitrek sodat sommige nie verlore gaan nie?

Sommige verwerp God se algehele soewereiniteit en die uitverkiesing op grond van verse soos hierdie. Maar die Woord van God leer die uitverkiesing onontkombaar duidelik. Ander weer betoog dat dit in hierdie vers daarom gaan dat geen uitverkorene verlore gaan nie. Maar so ‘n argument los nie regtig die probleem op nie. Sal God se geduld op ‘n stadium opraak en ‘n klomp uitverkorenes verlore gaan?

Nee, laat ons die Skrif op sigwaarde lees. Soms  gee dit vir ons wesenswaarheid  –  die storie agter die storie. Ander kere kry ons belewingswaarheid  –  waarheid soos ons dit sien en beleef.

‘n Voorbeeld kan help om te verstaan. As ek sê die son sak, is dit belewingswaarheid. Maar ewe waar is dit om te sê dat die aarde reeds só ver geroteer het dat die horison besig is om voor die son in te skuif. Dit is wesenswaarheid.

In ons teks gebruik Petrus belewingswaarheid. Die uitverkiesing is wesenswaarheid.

Die wederkoms sal onverwags wees (10). 

Baie gelowiges verwag allerlei dramatiese tekens voor die wederkoms, sodat God se kinders lank voor die tyd reeds sal weet dat dit op hande is. Maar dis nie wat die Nuwe Testament leer nie.

Die vooraf-tekens waarvan die Skrif wel praat, het amper altyd te doen met ander gebeure  –  soos die val van Jerusalem in 70 n.C. (Mt 24:4-35). Daarenteen word keer op keer beklemtoon dat die Here totaal onverwags sal kom  –  so onverwags soos ‘n dief in die nag. Daarom moet ons elke dag waak, omdat ons nie vooraf weet wanneer dit gaan gebeur nie (Mt 24:36-42; Lk 17:26-30).

VOETNOTAS

1. In die Nuwe Testament verwys die uitdrukking “laaste dae” nie in die eerste instansie na die tyd kort voor die wederkoms nie, maar na die hele bedeling tussen Christus se eerste en tweede koms (vgl. Hd 2:17).

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00