OPENBARING 2-3 Op 2:1-7 : EFESE (4)

KOM ONS KYK VANDAG VIR DIE LAASTE KEER NA HIERDIE BRIEF  –  na v.7, die wonderlike belofte aan die oorwinnaars.

AS JY KAN HOOR, LUISTER AANDAGTIG!

Hierdie is ‘n uitdrukking wat die Here Jesus meermale gebruik het toe Hy op aarde was. Dit was ‘n manier van Hom om te sê: Slaan baie noukeurig ag op wat Ek sê. Dis belangrik!

Hier kom dit nou weer uit Sy mond, en met dieselfde betekenis.

Elkeen van die sewe briewe bevat hierdie oproep. Hier lyk dit of dit dalk net betrekking het op die belofte self, maar kyk jy na die laaste vier briewe, sien jy dat dit elke keer van toepassing is op die hele brief. So is dit dan ook hier die geval.

DIE BELOFTE IS AAN DIE OORWINNAARS

Die wonderlike belofte hier in v.7 word gegee aan “hom wat oorwin”. Hierdie kwalifikasie word in elkeen van die sewe briewe herhaal. Hier is dus nogeens ‘n beklemtoning wat ons nie moet miskyk nie. Trouens, nie ‘n enkele belofte word in hierdie briewe gegee nie, behalwe aan die oorwinnaars.

Wie is die oorwinnaars? ‘n Klompie elite-Christene  –  net die room? Hoegenaamd nie!

Soos ons weldra sal sien, dui die belofte wat hier gegee word  –  toegang tot die boom van die lewe  –  sonder enige twyfel op beërwing van die ewige lewe. En so is elkeen van die beloftes ‘n ander faset van die ewige lewe. Alle ware Christene is dus oorwinnaars. En as jy nie ‘n oorwinnaar is nie, is jy nie ‘n Christen nie  –  en verwerf jy nie die prys, naamlik ewige lewe nie!

As mens ‘n oorwinnaar is, beteken dit dat jy ‘n bepaalde weerstand en verskillende aanslae oorkom het. In die geval van Christene slaan dit  –  so maak die hele Nuwe Testament dit duidelik  –  op die versoekinge van die duiwel, die suigkragte van die God-vyandiggesinde wêreld, en die begeertes van die sondige vlees. As jy dan in hierdie uitmergelende oorlog end-uit en seëvierend volhard, maak dit van jou ‘n oorwinnaar.

Hierdie afleiding is volledig in lyn met ander Skrifuitsprake wat vir ons onder meer sê dat diegene wat tot die einde toe volhard, gered sal word, en dat niemand die Here sal sien sonder heiligmaking nie (Hb 12:14).

DIE BOOM WAS VAN DIE BEGIN AF DAAR

Ons kry die eerste verwysings na die boom van die lewe in die eerste hoofstukke van die Bybel (Gn 2:9; 3:22, 24).

Hoewel nie uitdruklik gesê nie, kan ons, in die lig van latere verwysings na die boom van die lewe, aanvaar dat dit sonder twyfel gedien het as simbool van die loon wat die mens sou gekry het indien hy aan die proefgebod gehoorsaam gebly het.

Nog nader gestel, die boom het gestaan vir die ewige lewe wat die mens sou ontvang het indien hy vir ‘n bepaalde tyd getrou aan die proefgebod gebly het. Dit word duidelik in Gn 3:22-24 geïmpliseer. As die mens ná die sondeval van die boom sou eet, sou hy tot in ewigheid lewe  –  maar uiteraard in ‘n gevalle en sondige staat.

Helaas het die mens misluk! En die ewige dood het sy lot geword  –  die teenoorgestelde van die ewige saligheid, oftewel die boom van die lewe.

Was dit finaal  –  vir ewig? Vóór die mens het ‘n groot klomp engele immers geval, en hulle sou nooit weer ‘n tweede kans kry nie.

DIE BOOM BLY TOT IN EWIGHEID

Daar word weer van hierdie boom gepraat  –  reg aan die einde van die Bybel (22:2, 14). In die volmaakte staat op die nuwe aarde sal dit elke maand vrugte dra, tot genesing van die nasies. Kennelik is dit simbool van die ewige saligheid  –  ten minste van ‘n faset daarvan  –  wat diegene sal ontvang wat hulle klere gewas het (22:14, NAV).

Dit kan nie anders as uiters betekenisvol wees dat ons so reg aan die begin van die Bybel, en dan weer reg aan die einde daarvan, van die boom van die lewe lees nie. Die simmetrie is net eenvoudig té ooglopend.

Dan was die mislukking in die tuin van Eden tóg nie finaal nie! Daar is tog hoop vir die oorwinnaars; nee, ‘n absoluut sekere vooruitsig vir diegene wat die ontmoeting met die Here met gewaste klere tegemoet gaan  –  toegewyd, gehoorsaam en heilig.

Hoe oneindig genadig is die Here nie!

KOM ONS MYN DIEPER

Wat ons tot nou toe gesien het, is wonderlik waar. Maar as ons hier stop, sal dit ons tragies arm laat  –  en heel moontlik ongered, want dit gaan ons reguit na die trapmeul van menslike inspanning en verdienste toe lei. Ons móét dus dieper  –  na die storie agter die storie.

Op ons pad tot hier is ons by ten minste twee afdraaipaaie verby. Beide hierdie paaie sou ons dieper gevat het, en by dieselfde plek uitgebring het. Eintlik moet ek sê, by dieselfde Persoon (en daar gee ek die geheim weg!). Onverwyld moet ons dus terug soontoe.

Die belofte van die boom van die lewe in Op 22 word gegee vir diegene “wat hulle klere was”. Wat beteken dit? Die antwoord lê in Op 7:14. In die vorige verse word ‘n groot skare vanuit alle nasies geskets wat met wit klere aan, die Lam verheerlik. Wie is hulle? Vers 14 sê: “Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam.”

Die sleutel tot die wit klere en die boom van die lewe is dus die Lam, Jesus Christus  –  en spesifiek Sy bloed, oftewel Sy soenverdienste.

Maar is dit so eenvoudig en maklik? Sê ons teks nie die belofte is vir die “oorwinnaars” nie?

Dis hier wat die tweede afdraaipad ons help. Dis nog iets wat Johannes skryf, in sy eerste brief: “… dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof” (1Jh 5:4). Sien jy, daar is dus net één manier om oor die sonde te heers: deur die geloof in Christus. En dit beteken om met jou volle gewig vir tyd en vir ewigheid aan Hom te hang  –  deurgaans tot die einde van jou lewe toe.

Nou kan ons saamvat en opsom.

Die boom van die lewe staan vir die ewige lewe  – die welgeluksalige en onsterflike lewe in volkome gemeenskap met God. En dit word beloof aan die oorwinnaars. Maar hoe sal ek in my swakheid en sondigheid ooit kan oorwin? Dis van dag een af ‘n verlore stryd.

Die sleutel tot oorwinning is die geloof in Christus. En hier moet ons dit nou reg verstaan. Dit wil nie sê dat, indien ek op die regte manier in Christus glo, ek die geheim van volkome heiligmaking sal bemeester, en sodoende met heroïese dissipelskap vir die loon sal kwalifiseer nie. Geloof is nie ‘n tegniek nie! Nee, dit wil gewoon sê dat as ek waarlik in Christus glo  –  in my patetiese swakheid my algeheel aan Hom en Sy verdienste toevertrou  –  dan sal die Vader my op grond van Sy Seun se middelaarswerk aanneem as kind.

Maar word die belofte nie aan “oorwinnaars” gegee nie? Inderdaad!

Huisvrouens sal weet hoe gereeld daar vuil wasgoed is wat gewas moet word. So gaan dit met ons ook, nie waar nie. Is daar in ‘n ware Christen se lewe ooit ‘n dag wat verbygaan sonder sondebesef  –  en sonder die noodsaak om maar weer jou toevlug te neem tot die bloed van die Lam?

Dit is waarvan Op 7:14 praat. Ware Christene staan dag vir dag by die wasbalie van God se genade in Christus.

Maar dis nie die einde van die storie nie. Saam met die wondere van vergiffenis en regverdiging en aanneming, gee God altyd, sonder uitsondering, ook die gawe van die wedergeboorte. Hy skryf Sy wette op die tafels van jou hart. En jy word slaaf van ‘n innerlike hartstog om met ‘n lewe van liefdestoewyding jou Verlosser te behaag en te verheerlik. Dit sleep jou eenvoudig voort  –  lewenslank. En drie dinge kenmerk jou lewe: toe-eiening van Christus se verdienste; ‘n toevertrou van jouself aan Hom vir tyd en ewigheid; en ‘n toewyding van jouself aan Hom om lewenslank as Sy gehoorsame dienskneg te volhard.

Ons praat nie hier van ‘n volmaakte dissipelskap nie. Allermins! Dis meer dikwels stamelend, strompelend en struikelend as iets anders. Dis soos die pogingkies van ‘n klein seuntjie vir wie niks belangriker is nie as om sy pa te help werk aan die kar. Hy is meer in die pad as iets anders  –  maar hoeveel vreugde het sy pa nie daarin nie.

Net ‘n laaste waarheid wat ons nie durf nalaat nie. Die diepste simmetrie is nie tussen Adam se sonde en ons geregtigheid in Christus nie; dis tussen Adam se mislukking en Christus se oorwinning (Rm 5:12-21; 1Kor 15:45-47).

Adam het as hoof van die ou skepping in terme van die werkverbond tussen hom en God misluk  –  en só sy ganse nageslag in die ellende gedompel en onder die toorn van God geplaas (die erfsonde).

Maar Christus het as “tweede mens”, as “laaste Adam”, weereens in terme van ‘n werkverbond tussen Hom en God, volmaak geslaag en sodoende as Hoof van die nuwe mensheid  –  wat deur die geloof met Hom verenig is  –  vir hulle die ewige saligheid bewerkstellig.

Die Een wat dus eintlik die oorwinning behaal het, en sodoende in eie reg toegang tot die boom van die lewe verdien, is ons Here Jesus Christus. Plat uitgedruk, ons ry bloot “op Sy rug” die koninkryk binne. Ons staan bloot op Sy skouers om die vrugte van die boom van die lewe te pluk.

Hierdie absoluut fundamentele waarheid het daarom aan die hart van die robuuste geloof van die ou Puriteine gelê: “There are but two men standing before God  –  Adam and Christ  –  and between them these two men have all other men hanging from their girdles.”

‘N SLOTWOORD

Kan dit toevallig wees dat presies dieselfde Griekse woord (Gr. ksulon) wat in ons uitdrukking met “boom” (van die lewe) vertaal word, vyf keer in die Nuwe Testament gebruik word om na die kruis van Christus te verwys? [Hd 5:30; 10:39; 13:29; 1Pt 2:24 (“kruishout” in OAV; “tree” in NIV; ESV); Gl 3:13 (“hout” in OAV)].

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00