OPENBARING 2-3 Op 2:1-7 : EFESE (3)

ONS HET LAAS GEKYK NA DIE WONDERLIKE KARAKTERTREKKE VAN HIERDIE GEMEENTE IN EFESE  –  dinge wat in pragtige taal deur die Here Jesus aangeprys word.

Kan daar in só ‘n gemeente iets skort? Ja, en ernstig ook! Want in dieselfde asem kom die Here met ‘n gewigtige aanklag. Hulle het hulle eerste liefde verlaat! Christenskap het alles te doen met liefde. As ‘n gemeente dan sy éérste liefde verloor  –  wat bly oor?

Dis inderdaad geen geringe aanklag nie. As hulle hul nie bekeer nie, gaan die Here hulle lampstaander verwyder. Hulle sal nie meer kerk wees nie  –  nie een van Syne nie. 1

Niemand was seker méér verbaas oor hierdie aanklag  –  dat hulle hul eerste liefde verlaat het  –  as die Efesiërs self nie. Hoe kan die Here dit sê? Het hulle nie alles veil vir Sy saak nie? Wat méér kan hulle vir Hom doen? Hulle is tot breekpunt toe besig in Sy diens!

HOE VERSTAAN MENS DIE AANKLAG?

Oor wat die Here Jesus hier bedoel, is al baie deur die geskiedenis bespiegel. Wat is die probleem in Efese? Is dit ‘n gevaar wat ons ook bedreig? Gaan dit oor liefde vir die Here, of oor liefde vir mekaar?

Die eerste brief aan die Tessalonisense los waarskynlik die raaisel op. In 1:3 word presies dieselfde drie Griekse woorde gebruik om die gemeente van Tessalonika te loof, as hier in Op 2:2: “werk”, “arbeid”, “volharding”. 

Maar híér in 1 Tessalonisense word drie kwalifikasies bygevoeg. Paulus praat van die werk “van julle geloof”; die arbeid “van julle liefde” en die volharding “van julle hoop”.

Na alle waarskynlikheid is dit presies net hier wat die Efesiërs se probleem lê. Trouens, ons kan dit met ‘n redelike mate van sekerheid aanvaar. Ja, in Efese werk en swoeg hulle dag en nag vir die Here en vir Sy eer. Maar hulle het net die dop behou. Iewers langs die pad het hulle die hart en lewe daarvan verloor  –  hulle geloof en hoop en liefde.

Oor en oor leer die Skrif dat geloof sonder werke dood is. Maar werke sonder geloof is ewe onaanvaarbaar vir die Here. Nooit, maar nooit sal dit die grond wees vir redding nie.

En om jouself in die kerk af te sloof, maar sonder ‘n hart wat van liefde vir die Here brand, is ‘n offer wat Hy allermins aanneemlik vind.

En om jaar in en jaar uit aan te hou met allerlei religieuse pligte, maar met oë wat nie bewustelik op die geloofswenpaal en die loon uit die Here se hand vasgenael is nie, is selde meer as godsdienstige formalisme en tradisie.

Ken ons nie hierdie noodlottige siektes in die kerk nie? En ken ons nie ons eie neiging om daarin te verval nie? Só gesien, verstaan ons dat selfs ‘n modelgemeente prooi kan word daarvan, nie waar nie.

‘N NADERE KYK NA 1TS 1:3

Dit is die moeite werd om bietjie nader te kyk na 1Ts 1:3. Dit werp lig op wat in Efese aan die gang was. Dis egter nie ‘n maklike vers om te vertaal nie. Mens hoef maar net verskillende vertalings te vergelyk om dit te sien. Die sleutel lê in ‘n deeglike analise van die vers se struktuur. Ons kan dit só uiteensit: 2

Julle

Werk

arbeid

volharding

van geloof 

van liefde

van hoop

vir ons Here Jesus Christus

voor die God en Vader van ons

Let daarop dat Paulus deurgaans die enkelvoud gebruik. Hy praat nie van die Tessalonissense se werke en liefdesmomente nie. Nee, hulle belewing is aaneenlopend.

Dis omdat die wedergeboorte ‘n verandering van hart is  –  ‘n herskepping van jou persoonlikheidsentrum. En dis waar al ons lewensuitinge ontspring. Die toestand van die hart kom dus konsekwent tot uitdrukking oor die volle spektrum van ons mens-wees. Dis lewensbeheersend, dag in en dag uit.

Maar as ons liefde vir die Here net sporadiese emosionele opwellings is; as ons werke niks meer as periodieke pligplegings is nie  –  dan is dit tyd om diep selfondersoek te doen of ons regtig wedergebore is.

Nie net vertoon elke item wat Paulus noem ‘n enkelvoudige geïntegreerdheid nie, maar ál die items wat hy noem is eweneens onlosmaaklik verbonde. Die liefde vir Christus is immers die uitvloeisel van ons geloof in Hom. En hoe sal ‘n mens volhard op die geloofspad as jy nie in die Here glo en Hom nie liefhet nie?

Nee, dis wanneer geloof, hoop en liefde vervaag, dat dinge begin verbrokkel  –  dat inkonsekwenthede en teenstrydighede oorvat.

Die uitbreiding, “vir ons Here Jesus Christus”, word in bykans alle vertalings net van toepassing gemaak op die Tessalonissense se hoop. Dis beslis moontlik, maar in die lig van die struktuur lyk dit eerder of hulle werk, arbeid en hoop  –  al drie  –  ter wille van die Here Jesus was.

Hier is waarskynlik die eerste punt waar die gemeente in Efese gegly het. Hulle werk, arbeid en volharding het ‘n doel op sigself begin word. Dit het al hoe minder oor Christus gegaan  –  om Hóm te behaag en te verheerlik.

As ons onsself ken, sal ons weet hoe verskriklik maklik so iets gebeur.

In Tessalonika was daar nóg ‘n dimensie by. Hulle het nie net hulle alles gegee ter wille van Christus nie; hulle het dit ook voor God die Vader gedoen  –  soos in Sy teenwoordigheid. 3       Hulle was dus deeglik bewus van die drie-enigheid van God. Hulle toewyding was nie net ter wille van die Here Jesus nie; hulle het in die finale analise voor die aangesig van hulle hemelse Vader geleef.

Miskien was dit ook ‘n probleem in Efese. Maar wat ook al die geval dáár, in vandag se wêreld kry mens gereeld te doen met Christene wie se geloofsbelewing niks verder kom as die Here Jesus nie. Luister maar net na mense se gebede. Nee, ‘n duisend maal nee! Christus se werk het alles daarmee te doen dat ons met die Vader versoen word  –  dis soos Hy dit wil. In die finale analise gaan ons redding oor ‘n liefdesverhouding met die Vader. Kindskap van die Vader is die hoogtepunt van ons erfenis in Christus.

Natuurlik kan ons nooit ophou om die Here Jesus in volhardende liefdesdankbaarheid te dien nie, maar in die finale analise gaan dit oor die behae en eer van ons hemelse Vader  –  die Een by wie alles begin het, en by wie alles uiteindelik tot vervolmaking kom.

Hierdie dimensie móét sentraal wees in ons lewens, hierdie wasdom móét ons bereik.

ENKELE GEDAGTES VAN TOEPASSING

Mens hoor dikwels die gesegde: Christenskap is nie ‘n gevoel nie, dis ‘n manier van lewe. Reg verstaan, is dit natuurlik absoluut waar. Daar is te veel sogenaamde Christene wat bloot op gevoelens en emosies teer, sonder om die radikale eise van dissipelskap prakties uit te leef.

Maar die verse waarna ons vandag kyk, sê vir ons ewe hard en duidelik dat ‘n lewe van aktiwiteit, sonder ‘n innige liefde vir die drie-enige God, ook nie die toets slaag nie. Trouens, die eerste en groot gebod is om die Here ons God lief te hê met ons hele hart, ons hele siel, ons hele verstand en met al ons krag. Mis ons hierdie punt, mis ons alles.

As mens nie verder gaan met jou besinning oor hierdie dinge nie, kan jy maklik vasval in allerlei vals teenstrydighede: gaan dit nou oor liefde, of gaan dit oor werke? Maar nog iets wat ons vandag gesien het, is dat God se werk in ‘n geredde mens wonderlik geïntegreerd is. Dis nie of-of nie, maar en-en. Trouens, hierdie geïntegreerdheid is dalk meer as enigiets anders die waarmerk van egte innerlike herskepping. As die Here in jou werk, dan is dít hoe Hy werk  –  altyd, altyd.

Egte Christenskap is dus ‘n wonderlike kompleks van werk én geloof, en van arbeid én liefde, en van volharding én hoop. Dit alles word gedring deur ‘n allesoorheersende liefde vir die Here Jesus Christus. Dit alles is ‘n lofoffer wat dit hartstogtelik najaag om ons hemelse Vader te behaag en te verheerlik.

Presies dit is ten diepste waarvan ons praat as ons sê ons wil ‘n God-gesentreerde en Christus gefokusde gemeente wees.

VOETNOTAS

1. Hieroor het ons veel meer uitvoerig gehandel in preek

2. Hier volg ek R.C.H. Lenski, The Interpretation of St. Paul’s Epistles to the Colossians, to the Thessalonians, to Timothy, to Titus and to Philemon, Augsburg Publishing House, 1961, p.220-222.

3. Meeste vertalings koppel hierdie frase aan Paulus se gebede in v.2 (vgl. NAV, NIV, ESV), maar dit lyk eerder korrek  –  weereens in die lig van die struktuur  –  om dit te verstaan as deel van die gerigtheid van die Tessalonissense se werk, arbeid en volharding (OAV, NKJV, NASB).

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00