OP 2-3 : SEWE BRIEWE UIT DIE HEMEL [4] Op 2:1-7 : EFESE (2)

DIE HERE SPREEK IN V.2-3, 6 STERK WAARDERENDE WOORDE VIR HIERDIE GEMEENTE UIT. Dit het te doen met twee sake: eerstens hulle ywerige en volhardende dienswerk (2a, 3), en tweedens hulle onderskeiding van dwaalleraars en weiering om dwaalleer vir soetkoek op te eet (2b, 6).

HARDWERKEND EN VOLHARDEND

In v.2a gebruik die Here 3 begrippe om hierdie gemeente te tipeer  –  begrippe wat duidelik toeneem in intensiteit (vgl. OAV). Hy prys hulle “werk” (Gr. ergon), hulle “arbeid” (Gr. kopos), en hulle “lydsaamheid” (Gr. hupomone). Laasgenoemde begrip word beter deur die NAV vertaal: “volharding”

“Werk” dui op aktiwiteit in die algemeen. Dit is die algemene woord vir die goeie werke wat moet voortvloei uit ons geloof  –  daardie werke waarsonder die geloof dood is.

“Arbeid” is ‘n veel sterker begrip. Dit is nóú verwant aan die werkwoord om te slaan, wat herinner aan die inspanning van ‘n trekos as die sweep oor sy rug brand. Die Afrikaanse woord afsloof vat die idee goed vas.

“Volharding” dui op aanhou onder ‘n swaar las. Die woord dra ook die ondertone van geduldige afwagting. Dit gaan dus oor vasbyt op ‘n pad wat jy weet geloop moet word as jy by die loon wil uitkom. Dit praat van ‘n gesindheid wat, ten spyte van die inspanning, hoegenaamd nie oorweeg om op te gee nie.

Vers 3 vou bloot hierdie volharding van die Efesiërs verder oop. Dit word dus nie terloops deur die Here genoem nie. Dit is werklik ‘n uitstaande kenmerk van die gemeente.

Baie betekenisvol in hierdie vers is die Efesiërs se motivering. Waarom sloof hulle hulself so onvermoeid af? Terwille van die Here se Naam! ‘n Hartstog vir Sy eer dryf hulle voort. Hulle is Godgesentreerd en Christusgefokus. Soli Deo gloria! is hulle leuse. Voorwaar ‘n gereformeerde gemeente, díé.

ONDERSKEIDEND

Hierdie gemeente het nie in mensgesentreerde sentimentalisme verval nie.

Hulle weet dat ons almal met ‘n sondige natuur gebore word en dat mens slegs deur God se herskeppende genade in staat gestel word om oor jou inherente boosheid te heers  –  en dat jy selfs dan nog dikwels misluk. Hulle weet dat dwaalleer vernietigend in ‘n gemeente kan wees, dat dit mense die verdoemenis kan insleep, en dat die Here Jesus ‘n ononderhandelbare premie op waarheid stel. Hulle weet voorts dat onwedergebore mense onder ‘n kleed van huigelagtige vroomheid die gemeente kan binnekom; trouens dat alle gemeentes voortdurend te kampe het met die probleem. En hulle weet dat alle sonde in die kerk die Heilige Gees bedroef en dus die gemeente lamlê in die uitleef van sy roeping  –  en dat dit veral waar is van die akkommodering van wêreldlinge en die duld van dwaalleraars.

Hiérdie insig en oortuiging van die gemeente kom op drie maniere tot uitdrukking.

Een, Efese verdra slegte mense nie.

Hier gaan dit oor die weiering om mense te bly duld wat die Here se voorskrifte geweld aandoen. Hoe dit ook al gebeur, sulke slegte mense word gou-gou uit die gemeente gesit. Per slot van rekening maak een appel spoedig die hele kis vrot.

Die Griekse woord wat vertaal word met “verdra”, beteken gewoon om te dra. En so werk dit inderdaad. Hierdie soort mens maak geen bydrae in ‘n gemeente nie; inteendeel, die toegewydes moet hulle dra en saamsleep.

Let verder daarop dat die Here Jesus nie versigtig poog om aanstoot te vermy nie  –  hierdie mense is “sleg”, klaargepraat! En as Hý so sê, dan is dit presies wat hulle is.

Twee, hulle toets mense wat hulleself aanbied as apostels, en huiwer nie om vals apostels “leuenaars” te noem nie.

Soos vandag, was die kerk destyds ook vol swendelaars  –  bedrieërs wat naiewe en onverankerde Christene probeer uitbuit en mislei het. Die Efesiërs was op hulle hoede vir diesulkes, en as ‘n man nie die toets geslaag het nie, het hulle nie mooi broodjies gebak nie, maar hom summier ‘n “leuenaar” genoem.

Dit is presies waarteen Paulus ‘n ruk vantevore hierdie einste Efese-gemeente se ouderlinge gewaarsku het  –  toe hy hulle vir die laaste keer gegroet het (Hd 20:29-31a): “Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie … wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei.”

Veertig jaar later het hierdie gemeente steeds verstaan hoe lewensbelangrik regsinnigheid en waarheid is. Ignatius (wat in 107 ‘n marteldood sterf) skryf in die brief waarna ons vantevore verwys het: “Julle lewe almal volgens die waarheid, en julle maak geen ruimte vir dwaalleer nie. Trouens, julle weier botweg om julle ore uit te leen vir enigeen wat nie in waarheid oor Jesus Christus praat nie … julle laat hulle geensins toe om onkruid tussen julle te saai nie. Julle is van kop tot tone beklee met die bevele en lering van die Here Jesus.”

Drie, soos die Here, haat hulle dit wat die Nikolaïete doen.

As ons vra wie hierdie Nikolaïete was en wat hulle geleer het, is ons op onsekere grond. Maar ‘n bietjie speurwerk kan ons ver bring.

Die brief aan Pergamum (2:15) praat weer van hulle. Weereens word uitdruklik verwys na die Here se haat  –  in ons teks vir hulle werke, maar in 2:15 vir hulle leer. Daar is immers ‘n onlosmaaklike band tussen leer en lewe.

Na alle waarskynlikheid het hierdie mense hulle naam gekry van die man agter wie hulle aangeloop het  –  bes moontlik iemand met die naam, Nikolaos. 1 Die naam Nikolaos beteken in Grieks Oorwinnaar van die volk.

Voorts is dit sekerlik nie toevallig nie dat dieselfde brief waarin hierdie tweede verwysing na die Nikolaïete voorkom, ook afwysend praat van die “leer van Bileam”  (14)  –  en in Hebreeus beteken “Bileam” óók Oorwinnaar van die volk. Dis so duidelik soos daglig: die Here praat hier van dieselfde mense, of van voëls van eenderse vere.

En dis nie die einde van die storie nie. In die volgende brief (dié aan Thiatira) veroordeel die Here Isébel, wat die gemeente in dieselfde sondes probeer inlei as die Bileamiete, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer (2:20).

Dit stel ons in staat om tot ‘n slotsom te kom. Of ons hier met verskillende kultusse te doen het, en of dit bloot verskillende maniere is om na dieselfde verskynsel te verwys  –  dit gaan oor ‘n losbandigheid en ‘n geflankeerdery met erge sondes.

Maar met mense wat die genade van God as ‘n verskoning vir vleeslikheid en wellus wil misbruik, het die Efesiërs geen geduld nie. Sonder meer is hulle uit die gemeente geban.

WAT LEER ONS UIT HIERDIE VERSE?

Die dinge wat die Here Jesus in die gemeente van Efese aanprys, moet baie duidelik prioriteite in elke gemeente wees  –  ook in ons gemeente.

Ons moet dus hard vir die Here werk, en steeds daarin volhard. Laat ons voorts die Here só liefhê, en só vir Hom ywer, dat ongelowiges en huigelaars so ontuis voel in ons midde dat hulle spoedig hoedvat en vertrek. Maar daar sal ook altyd diegene wees met duistere agendas wat nooit vanself sal vertrek nie. Laat ons in sulke gevalle onthou dat gemeentlike tug en dissipline een van die merktekens van die ware kerk is.

Mag ons voorts nooit prooi word van vandag se gees van relativisme nie  –  ‘n gees wat waarheid só afwater dat enige standpunt met ‘n Christelike sousie oor sy lê kan kry in ‘n gemeente se midde.

Les bes, mag dit altyd ons hartstog wees om heilig voor die Here te leef. Mag ons sonde steeds met ‘n passie haat. En mag die Here tot in lengte van dae vir ons predikers gee in wie se harte hierdie dinge brand.

Maar dan is hier nog iets wat ons nie moet miskyk nie. Het jy opgelet hoe hierdie brief se trant verskil van die mensgesentreerde, sentimentele en stroperige aanslag wat so tipies geword het in die kerk van ons dag?

Koning Jesus huiwer nie om te sê dat Hy “slegte mense” “haat” nie. En Hy loof die gemeente omdat hulle Hom hierin navolg  –  en bedrieërs sonder meer “leuenaars” noem.

Mag ons in navolging van ons Here, steeds só ywer vir ons Vader se eer dat die valse kerk se verwyfde mooipraterigheid nooit tot in lengte van dae by ons gehoor word nie!

VOETNOTAS

1. In die tweede eeu het Irenaeus beweer dat dit die Nikolaus was wat een van die eerste helpers in die Jerusalemse gemeente was (Hd 6:5). Dis natuurlik moontlik, maar vir bepaalde redes twyfelagtig.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00