OPENBARING 2-3 Op 2:1-7 : EFESE (1)
ONS WEET NIE HOE HIERDIE BRIEWE 50 KM OOR DIE EGEÏESE SEE GEKOM EN UITEINDELIK HULLE BESTEMMING BEREIK HET NIE. Maar as die matrose die possak op die kaai gooi, weet hulle vir seker nie hoe onuitspreeklik kosbaar die vrag is nie.
Kom ons kyk nou na hierdie eerste brief. Die koms daarvan is sekerlik ‘n groot verrassing. Wie verwag ‘n brief direk van Christus af? Meer nog, dit gaan die gemeente tot in sy fondamente skud. Efese, so oortuig dat hulle in elke opsig die Here behaag, loop gevaar om heeltemal gediskwalifiseer te word!
DIE STAD EFESE
Die klompie Christene aan wie hierdie brief gerig is, woon in ‘n besondere en pragtige stad met driehonderdduisend inwoners. Dis ‘n baie belangrike politieke, kulturele en handelsentrum. Met sy kuns, wetenskap, swaardgevegte, afgodery en towery (selfs die Jode was betrokke, Hd 19:13-19), is dit ‘n baie opwindende plek. In die hoofstraat is die gimnasium, die publieke baddens, die openbare biblioteek, en die publieke bordeel. Dan is daar ook die opelug-teater met sitplek vir 24 500 mense. Maar die hoogtepunt vir elke besoeker is sekerlik die tempel – een van die sewe wonders van die antieke wêreld.
In hierdie tempel word die sogenaamde moeder-godin van Wes-Asië aanbid – die godin van vrugbaarheid. Die Grieke noem haar “Artemis”, die Romeine “Diana”.
Tog, ten spyte van al die indrukwekkende glans, is die stad tot in sy kern verrot.
Hierin sit daar vir ons, in ‘n toenemend afvallige wêreld, bemoediging, nie waar nie!
GESKIEDENIS VAN DIE GEMEENTE
In hierdie dekadente hool het die Here ‘n gemeente – ‘n besondere gemeente.
Teen die einde van die tweede sendingreis (50-52 nC) verkondig Paulus kortliks in die sinagoge die evangelie (Hd 18:19-21). Maar dan keer hy tydens die derde sendingreis (53-57 nC) terug, en Handelinge berig nogal uitgebreid oor die besoek. Die gemeente het waarskynlik onder leiding van die egpaar Pricilla en Akwila ontstaan. Paulus en sy helpers speel egter vir meer as 2 jaar ‘n deurslaggewende rol. In hierdie tyd is Efese ook die sentrum vanwaar die evangelie orals in Klein-Asië uitgedra word (Hd 19:10).
Daar is dus volgens Nuwe Testamentiese standaarde baie deeglike fondasies gelê. Ook maar goed so, aangesien die jong gemeente van die vroegste dae af vervolging geken het. Tewens, Paulus-hulle het so hittete ernstige teëspoed gehad in die volksopstand wat hulle verblyf daar kortgeknip het (Hd 18:24-20:1).
Aangrypend is dan ook die apostel se afskeid van die gemeente-ouderlinge as hy teen die einde van die reis op pad terug is Jerusalem toe (Hd 20:17-38).
Na Paulus werk Timoteus in Efese (1Tm 1:3), en tradisie sê dat die apostel Johannes sy oudag in hierdie gemeente slyt.
Ignatius, die biskop van Antiogieë, skryf in die eerste jare van die tweede eeu ‘n lang brief aan die gemeente in Efese. Hierin prys hy hulle oor hulle onderlinge eenheid en toegewyde Christelike lewens. In hierdie tyd is hulle voorganger ene Onesimus, en mens kan net wonder of dit dalk Filemon se slaaf is wat onder Paulus tot bekering gekom het (Fil 10).
Hierdie gemeente ontvang in die vroeë sestigerjare een van Paulus se mees beroemde briewe. Dis ‘n brief wat wonderlike perspektiewe op die kerk van die Here Jesus oopmaak. Merkwaardig is die feit dat dit die enigste van die apostel se geskrifte is waarin niks gerep word oor enige leerstellige afwyking wat reggestel moet word nie.
Ongetwyfeld was daar ‘n diep liefdesband tussen Paulus en hierdie gemeente.
Daar sou egter nóg ‘n brief kom – hierdie brief waarna ons kyk. Nou kom dit direk van die verhewe Hoof van die kerk af. En die brief is anders. Weliswaar bevat dit talle uitnemende aanprysings, maar die enkele waarskuwing daarin dreig met volkome diskwalifisering (Op 2:4-5) – ‘n waarskuwing wat deur die eeue koue rillings langs baie ruggrate afgestuur het.
‘N NADERE KYK NA VERS 1
Soos in elkeen van hierdie briewe, stel die Here Jesus Homself reg aan die begin voor aan die hand van beeldspraak wat reeds in die eerste hoofstuk voorgekom het. In hierdie geval loop die lyne terug na Op 1:13, 16 en 20.
Ons het laas keer kortliks die beeldspraak verduidelik wat hier gebruik word, maar nou moet ons ‘n bietjie meer in diepte na 2:1 kyk. In die proses sal ons sommer ook ‘n bietjie grondwerk doen vir die ander briewe.
Die leraars
Hierdie briewe word direk aan die “engele”, oftewel “sterre” gestuur – die voorgangers.
As hulle “sterre” genoem word, dui dit op hulle leierstaak in die gemeente. Maar ons praat nie van gesag soos die wêreld dit ken nie; ons praat van die invloed van nederigheid en diensbaarheid. Hierdie mense het net drie regeringsinstrumente: hul voorbeeld, hul gebede, en hul verkondiging van die Woord.
By uitnemendheid is hulle die “engele” van die gemeentes – die boodskappers, die leraars. Dis waar hulle belangrikste invloed in die gemeente lê. Dis hoe hulle veral regeer. Dis hulle heel belangrikste taak (saam met gebed, Hd 6:4). Alle ander dinge is sekondêr.
Maar let op, hulle durf nie hulle eie stories verkondig nie. Hulle moet die Hoof van die kerk se regering bemiddel, en dus Sý Woord verkondig – niks meer nie, niks minder nie.
Christus hou hierdie manne in Sy regterhand vas. “Vashou” (Gr. krateo) is ‘n sterk begrip. Dit praat van ‘n stewige en besliste greep.
Die Here regeer oor hierdie leraars. Hy het absolute gesag in hulle lewens. Aan Hom alleen sal hulle verantwoording doen – en verantwoording sal hulle vir seker doen.
Maar in hierdie beeld lê ook wonderlike troos. Christus se greep is meteen ook ‘n bewarende en beskermende greep. Laat alle voorgangers dit onthou elke keer as die eise van hulle roeping hulle wil verswelg.
Die gemeente
Die Griekse woord wat hier in v.1 (asook in die ander ses briewe) met “gemeente” vertaal word, is ekklesia. Dis ‘n uiters belangrike Nuwe Testamentiese begrip. Dit kom 115 keer voor, en met die uitsondering van 4 keer in Handelinge, word dit in ‘n tegniese sin gebruik vir die kerk van die Here – feitlik deurgaans vir die plaaslike gemeente.
Waarom hierdie begrip? Dis ‘n saamgestelde woord – ‘n voorvoegsel wat vanuit beteken, plus die woord vir roeping. Interessant genoeg, werp die paar kere wat die woord nie vir die kerk in die Nuwe Testament gebruik word nie, vir ons lig op hoe ons dit as benaming vir die gemeente moet verstaan.
In Hd 7:38 word dit gebruik vir die Ou Testamentiese verbondsvolk tydens die uittog – “dievergadering in die woestyn” (OAV). Ons praat dus van ‘n groep mense wat afsonderlik en gesamentlik uit Egipte gehaal is en tot ‘n nuwe groepering saamgevoeg is. En hierdie nuwe volk het één roeping gehad: hulle het vir Jahweh, hulle Verbondsgod bestaan – Sy behae, Sy eer, Sy doel in hierdie wêreld.
In Efese (Hd 19:32, 39, 40) word die woord ook met “vergadering” vertaal. In die Griekse samelewing was die ekklesia ‘n saamgeroepte vergadering van die vry burgers van ‘n stad met die oog op besluite oor hulle gemeenskaplike belange en regering.
Voeg ons nou bogenoemde insette saam, gee dit ‘n besondere perspektief op hoe ons die kerk moet verstaan: Die gemeente is ‘n groep begenadigdes wat deur God uit die gevalle wêreld geroep is om hulle alles te wy aan ‘n liefdesverhouding met Hom, asook Sy saak in hierdie wêreld. Dis egter nie net ‘n amorfe klomp mense nie; die kerk het ‘n amptelike en ordelike karakter, en speel ‘n sleutelrol in God se regering in hierdie wêreld.
Die Here “wandel” (OAV) tussen die gemeentes; Hy gaan tussen hulle rond. Hierdie Griekse woord is betekenisvol (Gr. peripateo). Dit beteken om rond te loop, om te patrolleer. Dit onderstreep die Here se betrokkenheid by en belangstelling in die welsyn van Sy gemeentes. Nooit is Hy afsydig en apaties oor wat in Sy kerke aangaan nie. Nee, Hy hou wag oor hulle. Niks ontglip Sy blik nie.
Soos wat ons op Hom ingestel moet wees, so is ons in ‘n besondere sin in die middelpunt van Sy bestaan en gerigthede!
My geliefde broers en susters, besef julle wat hierdie vers 1 vir ons as gemeente sê? Kom ons bepeins dit – weer en weer. Laat hierdie waarhede oor die kerk ons deurdrenk!