OPENBARING 2-3 DIE LAMPSTAANDER
DIS VERSTOMMEND HOEVEEL CHRISTENE HULLE BESWAARLIK STEUR AAN DIE NUWE TESTAMENTIESE OPENBARING OOR DIE KERK. Hoe min verstaan regtig waarom dit gaan in die gemeente, 1 en wat sy grootse roeping is in die uitwerk van God se raadsplan? Wat het tog geword van die hartstog dat die kerk waarlik kerk sal wees!
Elke brief regverdig uiteraard ‘n dieptestudie, maar daar sit ook waarde in ‘n oorsigtelike benadering om die geheel-boodskap van die briewe te bekyk – soos ons nou gaan doen.
SEWE FASETTE VAN DIE KERK
In hierdie briewe vind mens nie net die wel en wee van die kerk in die eerste eeu nie, maar ook dié van die kerk deur die geskiedenis. Daar is die tragiese, die skandelike, die sonde en mislukkings; daar is die triomfe, die heroïese getrouheid, die onwrikbare volharding. Die waarskuwings is dus gerig teen die tipiese gevare wat oor die eeue eintlik nie veel verander het nie. Hier is raad vir elke krisis, troos in elke beproewing, bemoediging vir elke desperate moment. Dis liefdesbriewe hierdie – uit die hart van die hemelse Bruidegom aan Sy geliefde bruid, Sy pelgrimskerk deur die eeue.
Een ding wat hierdie briewe tuisbring, is dat elke plaaslike gemeente van die grootste belang is vir die Here Jesus Christus. Elke brief is immers ‘n puntenerige ontleding van elkeen se toestand.
DIE KONING SE PRIORITEITE
Dis ‘n eenvoudige oefening om deur die briewe te lees, ten einde vas te stel waarop die Here Jesus ‘n hoë premie plaas – wat Hy as belangrik ag.
Christelike liefde – teenoor die Drie-enige God en die medemens, veral die medegelowiges.
Diensbaarheid en goeie werke.
Geloof, geduld en volharding in ‘n vyandiggesinde omgewing.
Leersuiwerheid en verwerping van vals leraars.
Haat, vermyding en uitroeiing van sonde.
Ywer vir die suiwerheid van die gemeente, asook die dissipline en tug in diens daarvan.
Getrouheid in die gemeente se roeping om die waarheidsevangelie ver en wyd uit te dra.
Laat daar geen illusies hieroor wees nie: dís wat die Here in Sy gemeente soek – élke gemeente, ongeag van tyd, kultuur of omstandighede.
Ewe duidelik kom in hierdie briewe na vore wat die Here in Sy gemeentes verag en veroordeel – en waarteen ons meedoënloos moet waak.
Liefdeloosheid teenoor God en mens.
Die duld van dwaalleer en dwaalleraars.
Slap gemeentelike dissipline en verdraagsaamheid teenoor sowel sonde as sondaars in eie midde.
Vormgodsdiens en geestelike louheid.
Godsdienstige gearriveerdheid en tevredenheid.
Dis ook baie betekenisvol om te let op dit waarna die Here gladnie in hierdie briewe verwys nie – en kennelik nie as van primêre belang ag nie.
Lidmaatskapgetalle en -groei.
Die finansiële begroting en fasiliteite.
Kwalifikasies en begaafdheid van voorgangers.
Organisasie, programme en aktiwiteite.
Betrokkenheid by politiek en kultuur.
GODDELIKE EN MENSLIKE BEOORDELING
Twee van die gemeentes kry net goedkeurende waardering van die Here. Smirna (2:8-11) en Filadelfia (3:7-13) kry as ‘t ware A-simbole.
Daarenteen kry twee gemeentes net kritiek en bestraffing. Sardis(3:1-6) en Laodisea (3:14-22) kry F-simbole. In Sardis is daar darem nog ‘n paar wat heilig lewe (3:4). Laodisea is egter so ver heen dat dit onseker is of daar nog diesulkes is (3:20).
Werk mens deur hierdie briewe, kom enkele sake na vore. Dit ruk elkeen wat die kerk se hoë roeping verstaan en die Here se eer op die hart dra.
Die twee A-gemeentes is beide maar sukkelaars. Smirna is armoedig en verdruk (2:9-10). Filadelfia het min krag (3:8). In terme van hedendaagse idees is beide eintlik mislukkings – maar van die Hoof van die kerk kry hulle net lof.
Die twee F-gemeentes is op die oog af modelle. Sardis het selfs buite sy eie kring ‘n reputasie van lewe (3:1). Laodisea is skatryk en reken dat hulle oor alles beskik wat ‘n gemeente nodig mag hê (3:17). Vandag sou hulle as suksesvolle gemeentes geag word – maar Jesus Christus het nie ‘n enkele goeie woord vir een van hulle nie!
Besef ons hoegenaamd tot watter mate vandag se idees oor gemeentelike sukses en mislukking verskil van Bybelse norme? Dis lewensbelangrik dat elke gemeente homself voortdurend beoordeel in die lig van die Skrif. Sommige “mislukkings” mag dalk baie bemoedig word; en party “suksesse” sal vir seker geskud word tot in hulle fondamente!
Nog iets toon hoe verskriklik maklik dit is om die bal mis te slaan as jy ‘n gemeente beoordeel. Tweemaal sien ons in hierdie briewe hoe menslike evaluering lynreg strydig is met Christus s’n.
Buitestaanders sê dat Sardis lewe, maar die Here sê hulle is dood (3:1)! Laodiseaklop hulleself op die skouer, maar die Here lewer vernietigende kritiek: ellendig, beklaenswaardig, arm, blind, kaal!
Voorwaar is dit genade as ‘n gemeente weier om sy ore uit te leen vir andere se lofsange, as hy weet hoe onbetroubaar menslike opinie is. En baie wys is die gemeente wat, diep bewus van sy geneigdheid tot selfbedrog, homself weer en weer met meedoënlose eerlikheid in die Woord spieël.
DIE LAMPSTAANDER
Hier aan die begin van Openbaring word ‘n baie sprekende simbool vir elke plaaslike kerk gebruik: dis ‘n lampstaander (1:12, 13, 20; 2:1, 5).
Dit is van besliste belang dat die woord (Gr. lugnia) wat in die Afrikaanse Bybels met “kandelaar” (OAV) en “lamp” (NAV) vertaal word, reg verstaan word. Die woord word 12 keer in die Nuwe Testament gebruik (Mt 5:15; Mk 4:21; Lk 8:16; 11:33; Hb 9:2; Op 1:12, 13, 20 (2x); 2:1, 5; 11:4).
Gesaghebbende woordeboeke 2 is eenstemmig: die woord dui op ‘n staander waarop ‘n lamp neergesit word, sodat die lig so wyd as moontlik kan skyn. Dis nie die lamp self nie (daarvoor is daar ander woorde in Grieks). Kyk mens na die verse in die evangelies hierbo, sien jy duidelik die onderskeid tussen ‘n lamp (lugnos) en sy staander (lugnia).
Die beste Afrikaanse vertaling is dus lampstaander. Omtrent alle moderne Engelse vertalings gebruik dan ook deurgaans lampstand.
Wat is die punt? Hier word van die plaaslike gemeente gesê dat dit as wesenstaak het om ‘n lampstaander te wees. Wat is dan die lamp, die lig? Christus is die Lig van die wêreld (Joh 8:12)!
Verkondiging van die Christusgesentreerde evangelie is elke gemeente se sentrale roeping!
So ‘n afleiding is volledig in pas met die res van die Nuwe Testament. Fil 2:15-16 spel dieselfde roeping uit: “Tree … op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra.” En Paulus wil niks anders doen as om Christus, die Gekruisigde, te verkondig nie (1Kor 2:2).
VERWYDERING VAN DIE LAMPSTAANDER
Die gemeente in Efese word gewaarsku dat die Here hulle lampstaander sal verwyder indien hulle hul nie bekeer nie (2:5). Wat presies gebeur in ‘n gemeente as die lampstaander verwyder word?
Geestelike blindheid begin intree. Lidmate begin sig verloor op die wonder van hulle redding. Christus se glansryke heerlikheid begin algaande verdof. En, onvermydelik, getuienis oor Sy Naam en groot verlossingsdade raak al hoe stiller.
‘n Klemverskuiwing vind plaas. Die mens en sy dinge begin sentraal raak. ‘n Beheptheid om die kerk lekkerder en meer sosiaal te maak, en hierdie wêreld ‘n beter plek, staan al hoe meer voorop.
Die tragiese gevolg is dat “die Lig van die wêreld” nie meer vanuit so ‘n gemeente skyn nie. Christus word nie meer na ‘n sterwende wêreld uitgedra nie. En die lidmate roem nie meer in Hom nie, in elk geval nie uit die harte en met nat wange nie (1Kor 1:30-31, OAV).
Christus word nie meer as God se Groot Profeet gepreek nie. Die Woord word nie behoorlik uitgelê nie, maar allerlei mensgesentreerde en “praktiese” temas word behandel.
Christus word nie meer as God se Groot Hoëpriester gepreek nie. Die evangelie, die régte evangelie, word selde vanaf die kansel gehoor. En wanneer dit wel gebeur, is dit mensgesentreerd en sentimenteel. Omdat die lidmate vreemdelinge geword het vir God se geregtigheid en heilige standaarde, maak die ware betekenis van die kruis nie meer sóveel saak nie. God se vrye genade in Christus vir sondaars, word vervang met die eie-verdienste van filantropiese medemenslikheid.
Christus word nie meer as God se Groot Koning gepreek nie. Jy gaan tevergeefs na so ‘n gemeente om van Sy soewereine seggenskap en regering in Christene se lewens te hoor. Die noodsaak van self-aflegging en kruisdra in Sy voetspore is vervang met die beklemtoning van al die hier-en-nou-voordele van Christen-wees. Van Sy vermoë om sondaars bonatuurlik toe te rus tot ‘n heilige lewe, word bloedweinig gesê; en van Hom as toekomstige Regter nog minder.
Normaalweg word so ‘n gemeente nou gewild – en amper onvermydelik selfvoldaan. Waarom? Die “struikelblok” (1Kor 1:23, OAV) is verwyder en huigelaars voel tuis. En die prediking bevat nie meer “onsin” nie, met die gevolg dat vleeslike ongelowiges nie aanstoot neem nie.
Let op, ‘n gemeente verloor nie sy lampstaander, omdat hy nie Christusgesentreerd is nie. Nee, hy is nie Christusgesentreerd nie, omdat hy reeds sy lampstaander verloor het!
‘n Kerk kan baie lank so lampstaander-loos voortbestaan. Gegee genoeg institusionele stutte, staan hy vanself – ‘n ruïne, opgetooi in prag en praal. En niemand binne die mure besef dit nie! Want almal wat in die lig wandel, het lankal al vertrek.
Daar is steeds ‘n vlymskerp en lotsbepalende keuse voor elke prediker en elke gemeente:Kies jy getrouheid aan Christus, maak nie saak wat dit kos nie. Of kies jy sukses voor die mense?
VOETNOTAS
1. Die tipiese onderskeid in Afrikaanse kringe tussen “gemeente” en “kerk” het geen Bybelse mandaat nie. Beide is vertalings van een en dieselfde Griekse woord, ekklesia.
2. Vgl. Bauer, Arndt en Gingrich, p.484; asook Louw & Nida, 6.105.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier