HEBREËRS 10:23
NA SY WONDERLIKE STUK LERING OOR DIE UITNEMENDHEDE VAN CHRISTUS in die voorafgaande hoofstukke, begin die Hebreërskrywer uiteindelik in 10:19 met die praktiese toepassing van dit wat hy geskryf het. Hy vat dit eers kernagtig saam met drie “laat ons” uitsprake (22-24). So beklemtoon hy ons roeping om erns te maak met die drie pilare van ‘n godvrugtige Christelike lewe: geloof, hoop en liefde. Hierdie drie begrippe bou hy dan in veel groter detail uit, onderskeidelik in h.11, 12 en 13.
Nou fokus ons op die hoop in v23a.
DIE TEKS, WOORD VIR WOORD
“Laat ons vashou”
Die werkwoord dui op ‘n besliste en ferm greep. Dis in ‘n vorm wat voortgaande aksie beklemtoon. Hierdie vashou moet dus ‘n lewenskenmerk wees. Voorts is dit nie net ‘n bevel in die algemeen nie, dis ‘n kohortatief, wat beteken dat dit vir ons almal geld.
“Onwankelbaar”
Dis hoe ons moet vashou. Dis ‘n sterk begrip, wat sê dat dit nie huiwerig of lusteloos moet gebeur nie, maar doelgerig, dinamies en met beslistheid.
“Die hoop”
Dis wat moet vasgehou word.
Hoop is een van die groot begrippe van die Nuwe Testament en die Christelike lewe. Volgens 1Kor 13:13 is dit, saam met geloof en liefde, een van die dinge wat “bly”. Ons praat dus nie hier van ‘n sekondêre saak nie! (vgl. Rm 8:23-25).
Ons sou die Christelike hoop só kon definiëer: Dis ‘n opgewonde en volhardende geloofsverwagting dat God se beloftes oor die toekoms in vervulling sal gaan.
Hoop is niks anders nie as vooruitgerigte geloof.
Hoop het ‘n subjektiewe kant (soos liefde en geloof). Dis iets wat mens innerlik beleef, iets wat jy voel – dis ‘n innerlike genadewerk van die Gees.
Maar hoop het ook ‘n objektiewe kant (net soos geloof en liefde). Dit het dus inhoud. Dis nie net ‘n naïewe, ongedefinieerde optimisme nie. Dit is hoop op verlossing (2Kor 1:8-10); op die wederkoms van Christus (Tit 2:13); op die opstanding uit die dood (1Ts 4:13-18; 1Jh 3:2-3); op volkome heerlikmaking (Rm 5:2); op die ewige lewe (Tit 1:1-2; 3:7).
Egte Bybelse hoop is dus gerig op die afronding en vervolmaking van ons verlossing in Christus.
“Belydenis”
Dis nie bloot die hoop op sigself wat vasgehou moet word nie – dis die belydenis daarvan!
Die Griekse begrip “belydenis” dui op die saamstem met iemand anders – om dieselfde ding te sê as hy. Met wie moet in hierdie geval saamgestem word? Met die Here God! En waarmee stem ek saam? Met Sy beloftes oor die toekoms!
Hoe bely ons dit? Op ten minste drie maniere. Eerstens moet dit geformuleer word. Die inhoud moet immers uitgeklaar en vasgemaak word. Tweedens moet dit uitgespreek en verkondig word – vanuit ‘n oorvol hart. Derdens moet dit bevestig word met ‘n lewe in ooreenstemming daarmee.
Die belydenis van die hoop is dus vrymoedige, openlike, spontane verstaan, verkondiging, verduideliking en uitlewing van wat ek van harte glo oor God se toekomsbeloftes. Presies dit is wat die apostel in 1Pet 3:15 beveel: “Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.”
Die belydenis van die hoop is die lied op die lippe en die veerkrag in die tred van die reisiger na God se heerlike toekoms.
SAMEVATTING
Die belydenis van die hoop moet voortdurend met beslistheid vasgehou word. Ek moet daaraan werk. Waarom? Dit wil gedurig uit my greep glip. Die hier en die nou probeer voortdurend op allerlei sluwe maniere beslag lê op my aandag, energie en hartstogte. Só maklik raak my lippe stil, my gang slepend – en leef ek koers- en uitsigloos.
Hoe werk mens daaraan? Ek moet die beloftes bepeins en myself daarmee voed. Ek moet dit steeds beter verstaan en formuleer. Ek moet dit so goed moontlik uitleef. En ek moet tussen broers en susters beweeg waar hierdie dinge geglo en geleef word – en waar mens daarmee bemoedig en daaraan herinner word (1Tes 4:18).
Mens moet jou dus daarin oefen om jou gesprekke daarmee te kruie – uiteraard in wysheid, goeie smaak, beskeidenheid en respek vir jou hoorder (1Pet 3:16a).
Waarlik, die Christelike geloof het geen plek vir gearriveerdheid nie. Nee, dis ‘n geloof van voortgang, verwagting en toekomsverlange – van hoop. En dis geen randsaak nie.
Hierdie wêreld is nie ons woning nie, ons is vreemdelinge en bywoners, ons is pelgrims onderweg. Steeds geld 1Kor 15:19: “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.”
WAT SÊ DIT VERDER VIR ONS?
Laat ons vlug vir wêreldgelykvormigheid.
Almal van ons het al die verwyte gehoor wat na die kerk geslinger word: “All you preach, is a pie in the sky, one day when you die” en “You are so heavenly-minded that you are no earthly good.”
Natuurlik is daar Christene wat só behep is met God se toekomsbeloftes dat hulle hul roeping hier en nou verwaarloos. Party is so besig met allerlei sensasionele teorieë oor hoe laat die uur is, dat hulle Christenskap beswaarlik méér inhou as dit. Sommige kerke en predikers tokkel tot satwordens toe op die wederkomssnaar.
Maar ‘n veel groter probleem is dat baie Christene só wêreldgelykvormig geraak het, dat mens van hulle moet sê: “So earthly-minded, that they are no heavenly good.” Hulle het vergeet dat die Woord van God ons beveel: “Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie …” (Kol 3:1-4). Hulle het Jk 4:4 se ysingwekkende woorde vergeet: “Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is.”
Hierdie binne-wêreldse beheptheid wat so tipies geword het van vandag se kerk, is veral te wyte aan drie soorte mense in die kerk.
Eerstens is daar diegene wie se Christelike belydenis blote skynheiligheid is. Hulle is doodgewoon nie wedergebore nie – en daarom nie in staat om die wêreld te oorwin nie (1Jh 5:4).
Tweedens is daar diegene wie se Christenskap wel hulle erns is, maar wat hulle ywer grootliks in sosio-maatskaplike kanale laat vloei. Min of meer al waarom dit vir hulle gaan, is om van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak. Hulle mensgesentreerde boodskap word grootliks gedra deur polities-geïnspireerde kerkmanne en liberale teoloë.
Derdens is daar diegene wat in oorywerige belewingsbeheptheid soveel moontlik van God se toekomsbeloftes in hierdie lewe wil insleep. Hulle dring nóú aan op omtrent hul volle erfenis in Christus. Hulle wil hemel op aarde hê. Iets wat ons byvoorbeeld vandag goed ken, is die aanspraak op welvaart, gesondheid en ‘n lang lewe hier en nou.
Die probleem is dat mense nie die spanning tussen die reeds en die nog-nie in die Christelike lewe verstaan en vashou nie.
Twee gevare bedreig ons as Christene voortdurend: om in hierdie lewe op te min van ons erfenis in Christus aanspraak te maak; en om in hierdie lewe op te veel daarvan aan te dring.
Eersgenoemde mistasting onderskat my huidige posisie in Christus. Dit masel uit in allerlei Godonterende gevolge: onsekerheid van saligheid, halfhartige heiligmaking en gehoorsaamheid, geen sigbare onderskeid tussen ware en valse gelowiges nie. Ons ken dit in ons land, nie waar nie?
Laasgenoemde dwaling lei weer tot ‘n triomfantalisme en talle voorbarige aansprake. Die gevolge is tragies: selfbedrog, geestelike snobisme, en uiteidelik terleurstelling en ontnugtering. Ook hiermee het ons al dikwels te doen gekry, of hoe?
Laat ons verstaan: die gevalle mensheid sal nooit van hierdie wêreld ‘n paradys maak nie.
Die mens is van nature ‘n aartsoptimis. Daarom glo hy alles sal regkom. Jan Alleman glo dat wetenskap en tegnologie besig is om ‘n utopia van hierdie wêreld te maak. Wat baie mense egter nie verstaan nie, is dat die eintlike probleem moreel van aard is. Die mens se hart – dít is sy krisis!
Toon die geskiedenis enige morele ontwikkeling in die natuurlike mens? Is hy vandag minder sondig as duisend of vyfduisend jaar gelede? Aikona! Ja, daar was verskuiwings. Ons noem dit beskawing. Maar is ons beskawing moreel beter as dié van die Grieke en die Romeine, as dié van die Chinese eeue gelede, as dié van Jan van Riebeeck en sy mense? Het die afgelope eeu nie die ergste oorloë en volksmoorde in die geskiedenis opgelewer nie?
Die Bybel is nie optimisties oor die mens en sy toekoms nie. Hy is geestelik dood; ‘n slaaf van sy vlees, die wêreld en die duiwel; en onder die toorn van God (Ef 2:1-3). Die Here Jesus voorsien geen morele ontwikkeling van die gevalle wêreld nie. Wanneer Hy terugkom, sê Hy, sal dit steeds gaan soos in die dae van Noag en Lot (Lk 17:26-30).
As Christene het ons daarom ‘n nugtere perspektief op hierdie wêreld. Dit bewaar ons van ‘n naïewe optimisme, maar terselfdertyd van ‘n negatiewe sinisme. Ons roeping is duidelik en sinvol. Dis soos die bemanning van ‘n sinkende passasiersboot. Hulle weet presies waarheen die skip en dalk ‘n klomp passasiers op pad is, maar hulle werk dringend en doelgerig – ten einde betyds soveel moontlik mense in die reddingsbote te kry.
Ware Christene leef hul lewe hier op aarde in die lig van die ewigheid.
Een van die sentrale temas van die Here Jesus se prediking is dat Sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie. Sy uiters belangrike stuk lering, die profetiese rede, word afgesluit met vier gelykenisse wat as gemeenskaplike tema het dat Sy dissipels in die lig van die ewigheid moet leef (Mt 24:36-25:46).
Ook die apostels hou hulle oë voortdurend op die hiernamaals gerig. Die lewe is ‘n wedloop, daar is ‘n wenpaal en daar is loon. Maar dis ‘n wedloop, en die loon sal gegee word op grond van die werke wat ons hier en nou verrig.
SLOT
Waarlik, as ons die belydenis van die hoop vashou, het dit ‘n deurslaggewende effek op hoe ons die lewe sien en uitleef. Nog meer, dit het ‘n bepalende invloed op hoe ons die dood en wat daarop volg, benader. Tot die mate wat ek die belydenis van die hoop vashou – tot daardie mate word die lewe vir my Christus, en die sterwe vir my wins (Fl 1:21).
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier