ROMEINE 8:19-22
LAAS KEER HET ONS GEKYK NA DIE TWEE “BOEKSTUTTE”, Gn 1-2 en Op 21-22, weerskante van die “ensiklopedie” van die geskiedenis – die dramatiese verloop van val, verlossing en herstel. Uiteindelik het ons gekyk na vier groot beginsels wat God se herskepping beheers: die beginsel van volkome herstel met rente; die beginsel van die redding van die hele mens; die beginsel van ‘n woonplek wat by die mens pas; en die beginsel van verlossingskontinuïteit.
HOE SAL ONS TOG VERSTAAN?
As ons so in die verre toekoms van die herskepping probeer intuur – en ons móét dit gelowig doen om ons hoop te voed en in stand te hou – dan duisel ons denke.
Laas keer het ek die kontinuïteit tussen hierdie bedeling en die ewige staat sterk beklemtoon. Maar terselfdertyd berei God se Woord ons voor op iets wat amper onherkenbaar nuut en heerlik gaan wees. Luister net na sekere Ou Testamentiese uitsprake. Ps 102:27 sê: “Die hemel en die aarde sal vergaan … Soos ‘n kledingstuk verslyt, so sal alles vergaan, soos klere wat uitgedien raak, so sal U alles laat verdwyn.” Of Jes 65:17: “Ek gaan ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie.”
Ook die Nuwe Testament maak soortgelyke uitsprake. Só stel Hb 1:10-12 dit: “U, Here, het in die begin die aarde gevestig, en ook die hemel is die werk van u hande. Dié dinge sal vergaan, maar U bly bestaan; soos ‘n kledingstuk sal alles verslyt; soos klere sal U dit oprol; ja, soos ‘n kledingstuk sal dit vervang word. Maar U, U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.” En 2Pt 3:10: “… op dié dag sal die hemel met ‘n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan.”
Uiteindelik kan ons tot net een slotsom kom: daar is dramatiese diskontinuïteite, maar daar is meteen ook wonderlike kontinuïteite.
Kom ons kyk na ‘n paar Skrifgedeeltes wat die wondere van ons toekoms saam met die Here belig, en só ons hoop voed. Onthou, as jy die onafwendbare, ewige toekoms met ‘n besliste tred wil tegemoet stap, moet die Skrifopenbaring daaroor op die tafels van jou hart geskryf wees.
DIE WEDERGEBOORTE
Matteus 19:28 praat van die hiernamaals: “En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel.” (OAV).
Die woord wat hier met “wedergeboorte” vertaal word (Gr. palingenesis), word net 2 keer in die Nuwe Testament gebruik. Die ander plek is Tit 3:5, waar dit verwys na die wedergeboorte soos ons gewoond is om daaroor te praat.
Dit suggereer ‘n sekere analogie tussen die herskepping van iemand wat gered word, en dit wat gaan gebeur as die Here Sy skepping finaal gaan nuut maak. Elkeen wat wedergebore is, verstaan 2Kor 5:17: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” Hier word gepraat van ‘n dramatiese verandering – en dis waar. En tog is ons steeds dieselfde mense. Baie het verander, maar tog het soveel presies dieselfde gebly. Onder meer verander jou identiteit, voorkoms, genetika en basiese temperament glad nie.
Net so in die geval van die verloste mens en sy woonplek se finale nuutwording. Alles gaan só anders wees – en tog gaan ek steeds ék wees. En ons woonplek sal steeds híérdie aarde wees.
DIE WEDEROPRIGTING
In Hd 3:21 lees ons: “Hom (Christus) wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete” (OAV).
Die woord wat met “wederoprigting” vertaal word (Gr. apokatastasis), word slegs hier in die Nuwe Testament gebruik.
Vra mens na die betekenis van ‘n Griekse woord, moet jy oppas om nie te veel peil te trek op die samestelling daarvan nie. Maar in hierdie geval gee dit insiggewende lig. Dis ‘n saamgestelde woord wat bestaan uit ‘n voorvoegsel wat terug of weer beteken, plus ‘n woord wat dui op die in orde bring van iets. Die begrip praat dus van ‘n handeling wat iets herstel tot die toestand waarin dit eers was. 1 In buite-Bybelse Grieks word dit gebruik vir die regmaak van ‘n pad, asook vir die teruggee van ‘n eiendom aan die oorspronklike eienaar. Die Joodse historikus, Josefus, gebruik die woord om die terugkeer uit die ballingskap te beskryf. Die idee is dus die van restorasie. 2
Hoewel daar deur die geskiedenis uiteenlopende verklarings van Hd 3:21 aangebied is, is die mees voor die hand liggende verstaan daarvan dat dit dui op – soos die gerespekteerde woordeboek van Colin Brown dit stel – “the universal renewal of the earth.” 3 Indien korrek, het ons dus hier ‘n sterk beklemtoning van die kontinuïteit tussen die huidige skepping en die komende. Trouens, dan onderstreep dit dat die komende verheerliking “van alle dinge” in ‘n baie besondere sin ‘n herstel sal wees van die tragiese gebrokenheid wat die sondeval veroorsaak het.
LAAT DIE SKEPPING ONS LEER: RM 8:19-22
Wat ons onderwerp betref, bied hierdie 4 verse ‘n paar baie betekenisvolle insigte.
Eerstens is daar ‘n onlosmaaklike band tussen die mens en die skepping.
So was dit reg van die begin af. Nie alleen is ons uit die aarde gemaak nie, maar toe ons as bestuurder van hierdie aarde in sonde val, het dit noodwendig ook die skepping se val meegebring (Gn 3:17-19).
Dis waarom die skepping “aan verydeling onderworpe” is (20). Hierin sit die idee dat dit nie sy skeppingspotensiaal en -doel kan bereik nie. Dis aan bande gelê. Dit wil, maar dit kan nie. Dis gefrustreerd, soos ‘n atleet wat in los sand moet hardloop. Dis waarom die skepping verslaaf is aan die verganklikheid (21). Hy kan eenvoudig nie loskom van die proses van verval, ontbinding en agteruitgang nie. 4
En dis alles te wyte aan die mens se sonde.
Tweedens sal hierdie band tussen mens en skepping ook geld in die finale herskepping.
Paulus personifiseer die skepping hier, en sê dan dat dit met reikhalsende verlange wag op die openbaarmaking van die kinders van God (19). Waarom? Omdat dit noodwendig gaan meebring dat ook die skepping, as woonplek vir God se kinders, herstel gaan word (21).
Dit is voorts opvallend dat die Skrif hier dieselfde taal gebruik om te beskryf wat met sowel die gelowiges as die skepping gaan gebeur: beide gaan ‘n bevryding ondergaan (21).
Dus, as die NAV se vertaling korrek is, sal die skepping se bevryding in diens staan van die kinders van God se heerlikheid. Die Here gaan die wêreld tot ‘n waardige woonplek vir Sy kinders verhef – dit gaan pas by hulle heerlikheid (21).
Derdens is daar ‘n wonderlike kontinuïteit tussen die huidige gevalle skepping en die nuwe skepping wat kom.
Paulus gebruik hier die beeld van ‘n vrou wat geboorte skenk. Die huidige skepping “sug” in “barensnood” om die toekomstige voort te bring (22, OAV). Dit wat gebore word, is altyd van dieselfde aard as dit waaruit dit voortkom. Soort baar soort. Tussen die huidige skepping en ons ewige woonplek is daar ‘n groot verskil in heerlikheid, maar tog ten diepste nie ‘n wesensverskil nie!
Vierdens sal die heerlikheid van die nuwe skepping dit so ver uitlig bo die huidige werklikhede dat die natuur by wyse van spreke nie daarvoor kan wag nie.
Hoe groot die verskil in heerlikheid gaan wees, word sterk onderstreep as die apostel die wêreld se afwagting op dit wat vir hom aan ‘t kom is, beskryf.
In v.19 word twee sterk begrippe gebruik. “Wag” (OAV) (Gr. apekdechomai) beteken om iets gretig, en volhardend af te wag. Daarbenewens is die tweede begrip, “reikhalsende verlange” (OAV) (Gr. apokaradokia), baie sprekend, veral as jy rekening daarmee hou dat dit ‘n saamgestelde woord is. Die woord, om met ‘n uitgestrekte kop (of nek) te kyk, is gekombineer met ‘n voorvoegsel wat dui op die wegkyk van dit wat jou aandag kan aftrek, sodat jy kan konsentreer op dit waarop jy gerig is. 5 J.B. Phillips parafraseer die vers so: “The whole creation is on tiptoe to see the wonderful sight of the sons of God coming into their own.”
DIT MÓÉT MOS PRAKTIESE EFFEKTE HÊ
Kan iets wat so ver buite ons ervaringsveld lê, regtig ‘n werklikheid word? Waarlik, dit verg ‘n innerlike wonderwerk om hierdie dinge só te glo dat dit jou lewe beheers. En selfs al het mens hierdie wonderwerk ondergaan, moet jy maar voortdurend daaraan werk om jou hoop lewend te hou.
Iets wat my baie help, en vir seker die Bybelse sleutel is, is om die Here Jesus Christus voortdurend voor oë te hou. Hy hét opgestaan – persoonlik, liggaamlik, histories. Honderde getuies het Hom gesien. Die apostels getuig oor en oor daarvan. En Hy hét liggaamlik na die hemel opgevaar. En as Hoëpriester tree Hy voortdurend vir my in. Hoe kan ek my wedergeboorte, en dit wat in my geval oor meer as drie dekades reeds daaruit voortvloei, anders verklaar. Waarlik, ou dinge hét vir my verbygegaan; alles hét vir my nuut geword. Daarom kán ek die Bybelse getuienis aanvaar dat ek met Christus verenig is. En as dit dan waar is, sal die graf my onmoontlik kan vashou!
Aangesien so ‘n verheerlikte adel dan wag op ons wat in Christus is, en ons so ‘n skitterende woonplek gaan beërf, hoe waardig, hoe ernstig, hoe doelgerig en toegewyd – hoe heilig – moet ons dan nie nou reeds lewe nie? Dien dus jou Verlosser met ‘n onverdeelde hart. Die wedloop is vir seker soms moeilik – maar, onthou, dis net ‘n kwessie van tyd voordat die wenlint om jou borskas vou.
VOETNOTAS
1. R.C.H. Lenski, The Interpretation of the Acts of the Apostles, Augsburg Publishing House, p. 143.
2. W.E. Vine, An Expository Dictionary of New Testament Words, Oliphants: ARestoration@.
3. Colin Brown (Ed.), The New International Dictionary of New Testament Theology, Vol.3, Paternoster Press, p.148.
4. Natuurwetenskaplik is hierdie beginsel in die Tweede Wet van die Termodinamika vervat: in ‘n geslote sisteem lei spontane prosesse sonder uitsondering tot laer vlakke van orde en bruikbare energie – oftewel tot hoër vlakke van entropie en chaos.
5. Fritz Rienecker, A Linguistic Key to the Greek New Testament, Regency Reference Library, p.366
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier