LUKAS 16:19-31; OPENBARING 6:9-11
HOEVEEL PERSONE IS DAAR TANS IN DIE TUSSENTOESTAND MET VERHEERLIKTE LIGGAME? Jy sê: net die Here Jesus. Dink weer. Ek sê: dalk drie. Ek praat ook van Henog (Gn- 5:24) en Elia (2Kon 2:11-12). Hierdie twee is die enigste mense wat dwarsdeur die geskiedenis nie gesterf het nie, maar lewendig na die hemel weggevoer is. Wat het van hulle liggame geword? Het hulle dalk dadelik hulle verheerlikte liggame ontvang?
Is dit in sy verheerlikte liggaam wat Elia op die berg van verheerliking verskyn? (Lk 9:30-31). Maar dan moet ons onmiddellik vra, wat van Moses wat saam met Elia verskyn? Weliswaar sit daar iets bo-natuurliks in Moses se afsterwe, en hy is deur God self begrawe – maar hy hét gesterf en sy liggaam ís begrawe (Dt 34:5-6).
Dikwels vra mense ook oor Samuel se verskyning aan Saul en die heks van Endor (1Sam 28:11-19). Was dit regtig Samuel, of was dit ‘n bose gees wat hom as Samuel voorgedoen het? En as dit Samuel was, het Saul ‘n verheerlikte liggaam gesien, of dalk net die manifestasie van ‘n gees?
Oor al hierdie vrae kan ons gelowig wonder – en dis sekerlik nie verkeerd nie – maar oor nie een kan ons ‘n dogmatiese standpunt inneem nie. Die antwoord op al hierdie vrae is heel eenvoudig: ons weet nie. Dis nie aan ons geopenbaar nie.
Wat sê dit alles vir ons? Gewoon dat daar baie mededelings in die Bybel is wat in hierdie lewe steeds vir ons geheimenisvol sal bly. En van niks geld dit meer nie, as van die Skrifopenbaring oor die hiernamaals. Laat ek dus maar weer beklemtoon: versigtigheid, beskeidenheid en voorlopigheid moet ons omgang met die Bybelse openbaring oor die laaste dinge kenmerk.
Dit geld ook as ons nou verder besin oor die tussentoestand. As ons spesifieke vrae begin vra oor die staat waarin ons heengegane dierbares in Christus nou verkeer, is die Bybelse gegewens baie skraps. En om dit verder te kompliseer, is ons grootliks afhanklik van Lk 16:19-31 en Op 6:9-11 – ‘n gelykenis en ‘n gedeelte in Openbaring.
Die Openbaringboek is propvol beeldspraak. Hoe letterlik kan ons dus die dinge opneem wat oor die siele onder die altaar gesê word?
En wat die ryk man en Lasarus betref, moet mens met gelykenisse baie versigtig wees, aangesien ons van ‘n verhaal praat wat as ‘n reël ‘n enkele punt wil tuisbring. ‘n Groot deel van ‘n gelykenis dien dus net as verpakking. Tog, as mens hierdie besondere gelykenis lees, kan jy nie anders nie as om aan te voel dat die toneel wat Jesus skets in ooreenstemming met die werklikheid is. Die verhaal mag dus denkbeeldig wees, maar dis nie fantasie nie. Selfs oor die denkbeeldigheid kan mens wonder. Hierdie is die enigste gelykenis in die Skrif waarin ‘n karakter ‘n naam gegee word. En waarom Lasarus, as Jesus talle ander name kon kies? Dis immers die naam van Sy geliefde vriend wat baie kort hierna sou sterf (en opgewek word).
Ons ken gewoon nie met sekerheid al die antwoorde nie. Maar ek meen tog dat ons twee teksgedeeltes ons toelaat om ‘n paar betroubare afleidings oor die tussentoestand te maak.
Die feit dat Op 6 se siele dié is van mense wat as martelare gesterf het, hoef ons nie daarvan te weerhou om wat ons daar sien op alle gelowiges van toepassing te maak nie. Per slot van rekening ly elke dissipel van die Here Jesus op een of ander manier vir Hom (Rm 8:17; Fl 1:28-30; 2Tm 3:12).
‘N PAAR VERANTWOORDELIKE AFLEIDINGS UIT ONS TWEE TEKSGEDEELTES
Onmiddellik na die dood gaan elke persoon na een van twee radikaal verskillende bestemmings (Lk 16:22-23; vgl. ook Lk 23:43).
Hieroor is die Bybel oor en oor so duidelik soos daglig: elke mens gaan óf hemel toe, óf hel toe. Saligheid of smarte wag dadelik nadat jy jou laaste asem uitgeblaas het op jou. En so sal dit onomkeerbaar finaal bly – tot in alle ewigheid.
Ons sal in ‘n staat van volle bewussyn wees.
Dit is so voor die hand liggend dat mens dit beswaarlik hoef te sê. Hoe anders sou mens jou saligheid kon beleef – of dan jou smarte, indien jy verlore gaan. Trouens, dit verg geen verbeelding nie om te besef dat ons bewussyn veel meer intens sal wees as hier. Is dit nie ‘n voorvereiste vir die meer intense belewing van sowel vreugde as pyn nie?
Ons sal kommunikeer – met mekaar en met die Here.
Die ryk man en Abraham praat met mekaar. Die martelare praat met die Here en Hy reageer daarop. Dit impliseer intelligensie, logika, vertolking, waarneming, ensovoorts.
In die hemel sal daar gesamentlikheid en gemeenskap wees.
Die mededeling dat Lasarus aan “die boesem” van Abraham is (Lk 16:22, 23, letterlik), dui op intieme liefdesgemeenskap. En in Op 6 roep die siele gesamentlik. Wanneer ons oorwinnend sterf, gaan ons, soos Hb 12:23 dit stel, na die “geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is.”
Ons sal ons individualiteit en identiteit behou.
Lasarus het Lasarus gebly, en die ryk man steeds dieselfde man (nou egter nie meer so ryk nie!).
Ons sal onthou wat op aarde met ons gebeur het.
Die siele onthou dat hulle vermoor is. En die ryk man onthou dat hy vyf broers gehad het. Lasarus word “getroos” (25, OAV) terwyl hy by Abraham is. As hy niks van sy aardse swaarkry onthou nie, waarom sou hy troos nodig hê?
Sonder twyfel sal ons die verdorwenheid en doemwaardigheid van voor ons bekering onthou, sowel as God se reddingsgenade wat alles verander het. En dan sal dit, saam met die voortgaande waarneming van die drie-enige God se heerlikheid, die brandstof wees wat ons ewige lof en aanbidding voortstu. Hoeveel armer sal my dankbaarheid en lofprysing nie wees as my redding van sonde en die gevolge daarvan in vergetelheid sou verdwyn nie?
Die feit van die laaste oordeel impliseer ‘n helder geheue. Die Bybel beklemtoon dat ons selfs oor elke ydele woord verantwoording sal moet doen. Dit vereis tog dat ons ons lewens tot in die fynste besonderhede sal kan onthou.
Openbaring 19:7-8 sê dat ons goeie werke nóú die bruilofskleed weef wat ons in die hiernamaals sal dra. Dis beeldspraak, maar impliseer baie duidelik dat ons godsvrug hier op aarde altyd met ons sal bly. Ons sal steeds weer herinner word aan ons huidige gehoorsaamheid hier en nou. Eintlik moet ons dit beter stel: ons sal steeds weer herinner word aan God se herskeppende genade wat ons in hierdie lewe te beurt geval het. Dis soos Op 14:13 sê: “alles wat hulle gedoen het, volg hulle.”
Ons sal voortgaan om te weet wat op die aarde gebeur.
Die siele weet hulle bloed is steeds nie gewreek nie. Die ryk man besef sy broers is nog onbekeerd.
Elders in die Openbaringboek lees ons hoe onder meer die siele in die hemel hulle verheug oor die voltrekking van God se oordele oor die bewoners van die aarde, en hoe hulle God daarvoor aanbid (Op 18:20; 19:1-4).
Waarlik, ons op aarde mag onkundig wees oor hulle wat ons vooruitgegaan het; maar húlle weet oënskynlik goed wat hier op aarde met ons gebeur.
Die mense in die tussentoestand weet egter nie álles nie.
Die siele weet nie dat daar nog mense vir hulle geloof moet sterf nie, en hoe lank dit nog sal aangaan nie. Dis waarom hulle vra.
Ons sal gevoel hê en emosies ervaar.
Die ryk man is bekommerd oor sy broers. Hoeveel te meer sal die saliges nie begaan wees oor die ongereddes nie. En die siele verlang daarna dat hulle bloed gewreek word. Hulle het ‘n sin vir geregtigheid; hulle is nie apaties oor die verwikkelinge op aarde nie. As hulle “met ‘n groot stem” roep (OAV), dui dit op intensiteit van gevoel.
Hierbenewens word die dankbaarheid en aanbiddingshartstog van die saliges meermale in die Openbaringboek beskryf. Sonder twyfel sal ons die Here en mekaar intens liefhê en geniet.
In die hemel word tydsverloop beleef.
Die vraag “hoe lank nog” impliseer dit duidelik. Ook die Here se antwoord: die siele moet nog ‘n “klein rukkie” wag. Hulle is kennelik haastig dat dit sal gebeur. Daar is dus afwagting.
In die hiernamaals is daar steeds ‘n belewing van solidariteit en familiële bande.
Diegene wat nog dood gemaak sal word, word “mededienaars” en “medegelowiges” genoem. En selfs in die verdoemenis is die ryk man spesifiek oor sy broers begaan, nie oor al die ander mense nie. Hoeveel te meer sal die heiliges nie saamvoel met hulle geloofsgenote wat nog op aarde is nie. En as die Here Jesus in Sy gelykenisse van verlorenheid sê dat daar blydskap in die hemel is oor elke bekering, kan mens vir ‘n oomblik dink dat die salige siele nie ook in hierdie blydskap sal deel nie?
TEN SLOTTE
Dr. Martyn Lloyd-Jones was reg toe Hy gesê het: “My uitkyk op alles wat in hierdie lewe met my gebeur, moet beheers word deur drie dinge: die besef van wie en wat ek hier en nou in Christus is; my bewussyn oor my uiteindelike bestemming; en my kennis van wat op my wag wanneer ek daar aankom.”
Daarom is dit belangrik om – soos wat ons nou ook weer gedoen het – oor die hiernamaals na te dink.
Die wêreld wat dié van ons wat in Christus is, na die dood gaan betree, gaan nie ‘n dowwe en spookagtige droomwêreld wees, soos baie mense in hulle agterkoppe dink nie. Dit gaan ‘n sinvolle, volwaardige en welgeluksalige bestaan wees. Weliswaar, soos ons laas gesien het, sal dit vir ‘n tyd lank liggaamloos wees. Maar ons sal die wonderlike vooruitsig hê om spoedig met ‘n volmaakte en verheerlike liggaam beklee te word – en om dan vir ewig op ‘n nuwe aarde te woon.
Diegene wat in Christus is, sien mekaar tot in ewigheid nooit vir die laaste keer nie. As ons nou vreugde in mekaar het, hierna – ook reeds in die tussentoestand – sal dit baie meer intens wees. En dit sal nooit verbygaan nie!
Maar dis in Christus self wat ons vreugde ten diepste sal wees! Ons sal by Hom wees en innige gemeenskap met Hom geniet. Ons sal Hom sien soos Hy is, en uiteindelik word soos Hy (1Jh 3:2).