1TESSALONISENSE 4:13-18; 2PETRUS 3:1-13

TENSY DIE WEDERKOMS VAN JESUS CHRISTUS BINNEKORT PLAASVIND, gaan een en elkeen van ons moet sterf. Daar is geen uitsondering nie. Daar gaan ‘n oomblik aanbreek dat ek my oë vir die laaste keer sluit, dat my hart die laaste van sy, sê maar, 2500 miljoen pompe gee, en dat ek my laaste asem uitblaas. En dan? Sal ek nog bewussyn hê? Hoe lank sal dit duur voordat ek my bewussyn terugkry? Wat van die tyd tot en met die wederkoms en my opstanding? Wat sal my ewige staat wees? Hoeveel sal ek weet? Waar sal ek wees?

Ons sou hierdie vrae, waaroor almal van ons al getob het, kon vermenigvuldig. Tog is daar ook baie mense wat glad nie oor hierdie dinge wil dink nie. Hulle vrees die dood en het ‘n volstruis-houding.

Ek wil graag by ‘n paar geleenthede aandag gee aan sekere van hierdie vrae oor die lewe na die dood. Dit raak ons almal en enigeen wil weet hóé die plek is waarheen hy binnekort gaan verhuis.

‘N MOEILIKE ONDERWERP

Paulus het geweet hoe belangrik dit vir ons is om te verstaan wat die hiernamaals inhou. In 1Ts 4 skryf hy: “Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie” (13). En dan eindig hy sy paragraaf só: “Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (18).

Baie van wat die Bybel oor ons tema sê, is moeilik verstaanbaar. Daar is geen moeiliker veld in die teologie as die eskatologie nie. Dit geld veral die Bybel se mededelings oor die wederkoms en wat dit vooraf sal gaan. Vandaar die uiteenlopende standpunte hieroor in die liggaam van Christus.

Nou wil ek nie soseer praat oor die dinge wat die wederkoms vooraf sal gaan nie. Ek wil ‘n paar geleenthede praat oor wat daarop sal volg. Maar vandag wil ek, as inleiding, ‘n kernagtige oorsig gee oor wat ek glo die Bybel leer oor ons toekoms as gelowiges  –  van nou af tot en met ons ewige staat.

In die proses moet ek onvermydelik ook die wederkoms aansny. Nou weet ek dat daar ook in hierdie gemeente verskillende standpunte oor die saak is. En ons hoef nie té ontstel daaroor te wees nie, aangesien die kerk deur die eeue  –  juis omdat die onderwerp so moeilik is  –  homself daarvan weerhou het om dogmatiese standpunte hieroor in beton te giet. Die onderwerp is dus intra-konfessioneel. Nie een van die groot, historiese belydenisskrifte maak finale uitsprake oor die detail van die wederkoms nie.

Ongeag jou wederkomsbeskouing, dit berus op ‘n klomp hermeneutiese en eksegetiese aannames. En enigeen wat nie net ‘n boek of drie gelees het om tot ‘n standpunt te kom nie, maar wat regtig die onderwerp op ‘n verantwoordelike wyse bestudeer het, sal ten minste twee dinge weet. Een, van jou aannames kan verkeerd wees. Twee, as jou aannames verander, verander jou model.

Waarop kom dit neer? Ongeag hoe ek die Bybel oor God se toekoms verstaan, en ongeag hoe sterk ek daaroor voel, oor my standpunt moet ek nederig bly. Ek moet goed besef dat ek verkeerd kan wees.

Ek glo voorts dat ons iets van ‘n oop gesindheid moet behou. Dan sal ons, soos wat God se toekoms ontvou, die besonderhede daarvan as vervulling van Bybelse profesieë herken. Maar diegene wat dogmatisties vashou aan allerlei detail-standpunte, loop gevaar, indien hulle verkeerd is, om dit wat die Here dalk al in óns leeftyd gaan doen, heeltemal mis te kyk. Dis presies wat destyds met die Joodse skrifgeleerdes gebeur het toe Christus vir die eerste maal gekom het.

As ek dus in die res van hierdie preek sekere dinge sê waarmee jy nie saamstem nie, moenie aanstoot neem en afskakel nie. Ten minste kan ek jou verseker dat ek in pas loop met ‘n baie groot deel van die kerk  –  histories en wêreldwyd.

‘N VOËLVLUG OOR WARE GELOWIGES SE LANGTERMYN-TOEKOMS SOOS EK VERSTAAN GOD SE WOORD DIT AAN ONS OPENBAAR

Hoe lyk ons langtermyn-toekoms  –  ons wat in Christus is? Hieroor swyg die Bybel nie, en meeste Christene deur die eeue het dit min of meer verstaan soos ek dit nou gaan uiteensit.

As ek sou sterf voordat Christus terugkom, bly my dooie liggaam agter en verval tot stof. My gees gaan dadelik na die Here toe (Pred 12:7). Van my eerste lewensoomblik af is ek immers nie net ‘n fisiese liggaam nie, maar ten diepste is ek ook gees  –  die nie-materiële deel van my persoon.

Die Skrif gee ons alle rede om te glo dat ek onmiddellik na my dood by die Here sal wees. Die Here Jesus sê vir die misdadiger aan die kruis: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Lk 23:43; vgl. ook Fl 1:23).

Die liggaamlike dood is geen grap nie. Dis ‘n uitmekaar skeur van liggaam en gees, en word baie dikwels vooraf gegaan deur afnemende krag, siekte en pyn. Dis omdat liggaam en gees so nou saamverweef is, en saam hoort. Die een is sonder die ander tragies minder as wat dit moet wees.

Hoewel die gees na God toe gaan, en God se kinders geestelik salig sal wees by Hom, sal dit tog ook ‘n onnatuurlike toestand wees, so sonder die liggaam. Daarom sê die apostel in 2Kor 5:4 dat die tussentoestand soos naaktheid sal voel: “Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard, omdat ons liewer nie ontklee nie, maar oorklee wil word …”

Ons nadoodse bestemming kan ons “die hemel” noem. Dis die huidige woonplek van God.

Die hemel is egter nie my permanente bestemming nie. Dis as ‘t ware ‘n interim plek van bewaring, ‘n wagplek vir die einde van die ou wêreld. Daarom praat ons van die tussentoestand.

Oor die tussentoestand vertel die Bybel ons baie min. Dis asof die apostels dwarsdeur die graf kyk en hulle oë op die opstanding vasnael. Maar tog gee God genoeg openbaring, sodat die dood nie vir ons ‘n sprong oor ‘n pikswart afgrond hoef te wees nie. Trouens, hierdie openbaring is sodanig dat ons wat in Christus is, die dood  –  terwyl dit wel die laaste vyand bly  –  met besliste tred kan tegemoet stap.

Hoe lank mens in hierdie tussentoestand sal verkeer, hang af van hoe lank jy vóór die wederkoms sterf. Abraham is byvoorbeeld al 4000 jaar daar. Hoe mens tydsverloop daar beleef, is egter nie aan ons geopenbaar nie. Maar die Bybel leer duidelik dat dit ‘n bewustelike staat is.

Baie mense dink in terme van ‘n sieleslaap en dat die tussentoestand dus in ‘n oogwink verby sal wees. Die Skrif leer egter dat ons bewussyn sal geniet. In die gelykenis van Lasarus en die ryk man, skets Jesus hulle as heeltemal by hulle positiewe, sowel in die hemel as in die hel (Lk 16:22-31). En in Op 6:9-11 roep die martelare in die hemel tot God om geregtigheid op die aarde te laat geskied.

Uiteindelik, wanneer die nou nog onbekende oomblik van die wederkoms aanbreek, sal die wagtydperk verby wees en sal ons (indien ons dan reeds gesterf het) saam met die Here Jesus na hierdie aarde toe terugkeer. Dis wanneer die opstanding plaasvind en ons weer met ons liggame verenig word. Sowel die regverdiges in Christus, as diegene wat verlore is (en wat intussen in ellende in die doderyk verkeer het) sal opstaan (Jh 5:28-29).

Hierdie sal ‘n geweldig moment wees! Iets hiervan word onder meer in 1Ts 4 vir ons beskryf. Diegene wat op hierdie moment nog lewe, sal saam met die opgestane liggame van die gelowiges wat reeds gesterf het, die Here tegemoet gaan in die lug (en natuurlik die geeste van die afgestorwe gelowiges wat saam met Hom sal kom).

Hieroor twee opmerkings.

Paulus beskryf hier ‘n wegraping. Die woord, “weggevoer” (Gr. harpadzo) in 4:17, is ‘n sterk begrip. Dit beteken om te gryp, om op te raap, om met geweld weg te voer.

Die woord wat met “tegemoet” vertaal word, is baie interessant (Gr. apantesis).

In die Griekse wêreld van destyds het die begrip dikwels ‘n tegniese betekenis gehad, wat dit hier dalk baie betekenisvol mag maak. In buite-bybelse Grieks word die begrip meermale gebruik vir die ontmoeting, sê, van ‘n hoogwaardigheidsbekleër wat ‘n stad kom besoek. By sulke geleenthede sou ‘n afvaardiging hom dan tipies buite die stadspoorte gaan ontmoet, en hom terug begelei die stad in. 1 Die ouer mense onder ons sal nog onthou hoe dit ook vroeër jare gebruik was om ‘n nuwe predikant ‘n ent buite die dorp te gaan verwelkom, en dan in ‘n optog terug te ry na sy pastorie toe.

Kyk ‘n mens na die ander twee plekke in die Nuwe Testament waar die woord gebruik word, bevestig dit so ‘n verstaan van die begrip. Matteus 25:6: “In die middel van die nag was daar ‘n geroep: Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!” En Hd 28:14-16: “En so is ons na Rome toe. Die gelowiges daar het van ons gehoor, en party van hulle het ons by die Appiusmark kom ontmoet en party by die Drie Herberge.” Dan draai hulle saam met Paulus om en begelei hom Rome binne.

Dit lyk dus asof 1Ts 4 nie net wil sê dat die lewende gelowiges (en die ontslape heiliges se liggame) die Here sal tegemoetgaan in die lug nie, maar ook dat almal dan saam met Hom sal terugkeer na die aarde toe.

By hierdie geleentheid sal die herskepping van die heelal plaasvind. ‘n Nuwe hemel en ‘n nuwe aarde sal ontstaan. Dit sal ‘n ontsaglike gebeurtenis wees. Só stel 2Pt 3 dit: “Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand … ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde …” (10-13).

Kyk mens na die laaste verse van Op 20, lyk dit asof die laaste oordeel direk hierna sal plaasvind. Vanaf Sy “groot wit troon” sal die Here Jesus Christus finaal die voorlopige beoordeling bekragtig  –  die beoordeling wat aanvanklik bepaal het waar iemand die tussentoestand sou deurbring.

‘N SLOTWOORD

Vir ‘n uitgebreide toepassing het ons nie nou tyd nie. Dis ook nie regtig nodig nie. Want as dit waarna ons gekyk het aan die hart lê van jou salige hoop, sal dit jou lewenslank bemoedig en elke dag ‘n veerkrag in jou tred gee. En dit sal jou grootliks bevry van die vrees vir die dood.

Al wat dus saak maak, is of jy in Christus is. En dit gebeur deur die geloof alleen. Glo dus die evangelie, bevestig jou geloof deur die Here Jesus in alles te gehoorsaam  –  en jy kan die ewige toekoms met opgewonde afwagting tegemoet gaan.

VOETNOTAS

1. Leon Morris, The New International Commentary on the New Testament, p.146; Fritz Rienecker, Linguistic Key to the Greek New Testament; W.E. Vine, An Expository Dictionary of New Testament Words

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00