AMOS 3:3-8

HIERDIE SES VERSE VAL UITEEN IN TWEE GEDEELTES. Verse 3-6 het te doen met God se verbond met Israel. En v.7-8 handel oor die verhouding tussen God en Sy profete. Ons kyk eers na laasgenoemde, dan na v.3-6.

‘N PROFEET SE WERK (7-8)

Hier maak Amos iets oop van sy persoonlike belewinge as profeet, en as sodanig gee hy vir ons betekenisvolle perspektiewe op die profetiese bediening in die Ou Testament.

Soos altyd, as die Here iets groots wil doen, roep Hy iemand om daaroor te profeteer. Amos bied dit aan as ‘n algemene beginsel. So werk God altyd.

In hierdie geval het die Here dreigend gepraat. Dis soos die gebrul van ‘n leeu. Hy gaan ‘n herout van ‘n dringende en verontrustende boodskap wees.

Daarom preek hy presies wat die Here sê.

Nou verstaan mens hoe Amos as ongeleerde man die moed het om in ‘n vreemde land te gaan sê wat hy sê. Sy ontmoeting met God het hom oorrompel en vervul met die vrese van die Here.

SEWE RETORIESE VRAE (3-6)

Hier het ons sewe retoriese vrae. Die antwoord op elke vraag is duidelik, natuurlik nie!

Behalwe vir v.3, kom die vrae in pare voor. Dit handel agtereenvolgens oor die gedrag van leeus, die vang van voëls of diere in ‘n wip of slagyster, en ‘n stad wat deur ‘n vyand aangeval word.

Hierdie drie pare vrae het deurgaans met gevaar en onheil te doen  –  vir die leeu se prooi, vir die voël in die wip, vir die inwoners van die stad.

Daar is voorts ‘n sekere progressie te bespeur in elke stel vrae. Eers is daar die jagtende leeu se brul; dan sy tevrede gegrom as hy lê en vreet. Eers gaan sit ‘n voël by ‘n wip; dan word hy gevang. Eers waarsku die wagte; dan kom die ramp oor die stad.

Elke keer beskryf die eerste vraag die moment van bedreiging. Maar ontkoming is ook nog moontlik. Die tweede vraag beskryf dan die hartseer van verspeelde kanse; van onheil en dood wat ‘n onomkeerbare werklikheid geword het.

Daar kan min twyfel wees dat v.3 op die verbond tussen Jahweh en Israel sinspeel. Het hulle nie ooreengekom om saam te loop nie? Het hulle nie ‘n verbondsooreenkoms nie? (Eks 19:3-6, 8; 24:3-8).

Hierdie vraag word nie gevolg deur ‘n tweede soos die ander nie. Dis sekerlik doelbewus. En dis die sleutel om hierdie paragraaf reg te verstaan. Kyk só daarna: hierdie vraag huiwer afwagtend om deur te steek na ‘n tweede  –  te doen met vernietigende oordeel oor Israel se verbondsontrou.

Die implikasie? Daar is ‘n verbond tussen die Here en Sy volk. Hulle ontrou moet dus tot straf lei  –  ‘n vernietigende straf, soos die volgende vrae impliseer. Maar dis nog nie onomkeerbaar finaal nie. In Amos se profesieë moet hulle egter die finale gebrul van die leeu hoor.

Hier het ons dus ‘n laaste-minuut ultimatum. Maar dan moet verootmoediging en bekering onverwyld geskied. Israel se lot balanseer op ‘n mespunt. Waarlik, dis ‘n lotsbepalende moment!

WAT SÊ DIT ONDER MEER VIR ONS?

Hierdie verse werp betekenisvolle lig op Bybelse profete en profesie 

Bybelse profesie was veel meer as blote toekomsvoorspelling. Maar tog, wanneer die profete mense en omstandighede aangespreek het, het hulle dit baie dikwels gedoen in die lig van die toekoms. Presies dit is wat Amos hier sê, en hy stel dit trouens as algemene reël: die Here doen niks as Hy dit nie eers aan Sy profete bekendmaak nie (7). Waarom? Die profete moes die mense oproep om hulle in die lig van God se toekoms te bekeer en dan daarvolgens te lewe.

Ons sien dit by al die profete, maar by niemand duideliker en meer dringend as by Johannes die Doper nie  –  die laaste van die Ou Testamentiese profete: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom” (Mt 3:2). Dus, kry julle lewens dadelik reg, sodat die Koning se koms  –  wat op hande is  –  julle nie onverhoeds betrap nie!

Ook sien ons dit by ons Groot Profeet, Jesus Christus. Neem byvoorbeeld Sy lering in Sy profetiese rede (Mt 24-25). Aan die einde van Sy preek se eerste deel kom Hy tot ‘n slotsom: omdat Hy as Koning en Regter gaan terugkom, en dit gepaard sal gaan met skrikwekkende oordele, en omdat niemand weet wanneer dit sal gebeur nie, moet mense waaksaam leef en sorg dat hulle altyd gereed is om voor Hom te verskyn (Mt 24:42-44). Jesus gaan dan voort en vertel vier gelykenisse om te illustreer hoe so ‘n lewe van waaksaamheid in die lig van God se toekoms lyk (Mt 24:45-25:46). En die gemeenskaplike punt van al vier gelykenisse is dít: leef in die lig van die ewigheid!

Hierdie verse werp betekenisvolle lig op die roeping van predikers deur alle eeue 

God het Sy besondere openbaring aan die mens met die koms van Christus en die werk van die apostels  –  as oog- en oorgetuies  –  afgesluit. Profesie in die klassieke sin van die woord bestaan dus nie meer nie. Tog het alle Christene in ‘n afgeleide sin steeds ‘n profetiese roeping  –  deur die vasgelegde, afgeronde en genoegsame Woord te verklaar, toe te pas, en by elke geleentheid so ver en wyd as moontlik uit te dra.

En uiteraard geld dit veral vir predikers.

Mens kan dus verwag dat waarlik geroepe predikers tot vandag toe proefondervindelik iets sal ken van die belewinge wat Amos gehad het.

Ware prediking word altyd op ‘n manier beheers deur God se toekoms. Dis omdat God ‘n toekoms het  –  ‘n toekoms waarin die mens ‘n sentrale plek het. Alle prediking moet dus tot ‘n mindere of meerdere mate ‘n eskatologiese dimensie hê.

Dringendheid is die snykant van prediking. Eintlik is die hede net dringend oor wat in die toekoms gaan gebeur.

Sonder dringendheid lewer prediking beswaarlik enige vrug. Die mens is van nature ‘n uitsteller. Tensy hy skrik vir die aanstormende toekoms, sal niks hom uit sy gemaksones lig nie.

Geen prediker kan dringendheid opklits nie. Hy het dit net as hy die leeu deur die Heilige Gees in God se Woord hoor brul het  –  en gereeld hoor brul. Deur die eeue was die vrese van die Here steeds een van die karaktertrekke van alle groot predikers.

Natuurlik moet predikers steeds Christus die gekruisigde preek. As sodanig sal prediking dikwels oor die verlede handel. Maar sonder Christus se wederkoms, bly Sy kruisiging bloot van akademiese belang. Dit beteken dat selfs die kruisiging in die lig van die toekoms verkondig moet word.

Natuurlik gaan God se toekoms nie net oor oordeel nie; inteendeel. Dit is so dat Amos die leeu hoor brul het. Maar baie dikwels het die profete ook die basuingeskal van ‘n komende huwelik gehoor. Het hulle nie weer en weer die goeie nuus van God se toekomstige heil gebring nie? En as dit tóé gegeld het, hoeveel te meer nie vir die Nuwe Testamentiese bedeling nie?

Die Christen se aansporing in sy geloofswedloop is nie net dankbaarheid vir ontvange heil nie, dit is ook die opgewonde afwagting op die lourierkrans by die wenpaal. Vir ‘n dinamiese Christelike lewe is ‘n toekomsgerigte hoop net so noodsaaklik as ‘n geloof wat veranker is in die verlede. Neem God se toekoms weg uit jou geloof; verloor die Christelike hoop  –  en alle erns en dringendheid verdwyn in die niet. Al wat oorbly is moralistiese willekeur en filantropiese do-goodery wat poog om hierdie wêreld ‘n beter plek te maak.

Dis waarom die apostel in 1Kor 15:19 sê: “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.”

Sekerlik hou God se toekoms oordeel in, maar die prediker wat nie die Christusgesentreerde goeie nuus van God se toekoms voorop stel nie, sal gou-gou sy hoorders se ywer blus. En spoedig sal hulle groener weivelde begin soek.

Sommige sê dat dit nie regtig saak maak of die Here Jesus liggaamlik, persoonlik en histories opgestaan het nie. Hy kon ewe goed in die vroeë kerk se herinneringe bly voortleef het. Dit gaan oor die inspirasie van Sy voorbeeld. Dis soos Mozart bly voortleef in sy musiek, word gesê. 

Niks kan verder van die waarheid wees nie!

Daar was wel ‘n tyd toe Jesus se dissipels nét herinneringe aan Hom gehad het, niks meer nie. Dit het drie dae geduur  –  tussen kruis en opstanding. En in hierdie drie dae was hulle die mees moedelose en uitsiglose mense in Palestina. Dink maar aan die Emmausgangers.

Maar die oomblik toe hulle besef Hy het opgestaan, het alles verander. Hulle is gelanseer om onstuitbaar doelgerig van die mees dinamiese en invloedryke lewens ooit te leef. Herinneringe kon hulle nie troos of inspireer nie  –  dit was die wete dat Hy régtig opgestaan het! Waarom? Duidelik het hulle verstaan dat daar sonder Christus se liggaamlike, persoonlike en historiese opstanding geen heil kan wees in God se toekoms nie. Maar as Hy inderdaad opgestaan het, kry alles sin en betekenis. Dan gaan ook húlle opstaan!.

Dis waarom Paulus so kategories in 1Kor 15 sê dat ons geloof en ons prediking sonder inhoud, leuenagtig en waardeloos is as Christus nie opgestaan het nie. As Hy nie opgestaan het nie, sal Hy ook nie terugkom nie. En as Hy nie terugkom nie, sal ook ék nie liggaamlik, persoonlik en histories opstaan nie. Dan bly ek vir ewig in die graf.

Dis die rede waarom die apostels die opstanding met dieselfde hartstog as die kruis gepreek het.

Hierdie verse werp betekenisvolle lig op die prioriteite en lewenswyse van ware Christene 

Volgens die Nuwe Testament is die hele bedeling tussen Christus se eerste koms en Sy wederkoms ‘n interim genademoment  –  voordat die finale afrekening aanbreek. Nóú is die tyd om reg te maak met God. Nóú is die tyd om in Christus in te vlug en in Hom te bly skuil. Voor ons ons oë uitvee, is dit te laat. Omdat môre gaan bring wat dit gaan bring, moet ons vandag doen wat ons moet doen!

Nêrens in die Skrif is daar enige aanduiding van genade wat ná die dood en die wederkoms vir die eerste maal gegee word nie. Mens kry genade in hierdie lewe, of glad nie. Soos jou testament, moet jou verbondsdokumente in orde wees as jy jou laaste asem uitblaas. Nóú is die tyd!

Laat ons goed kennis neem van hoe Paulus sy beskrywing van Christus se wederkoms in 1Ts 4:13-18 afsluit: “Troos mekaar dan met hierdie woorde.” 

Ware Christene leef in die lig van die ewigheid!

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00