AMOS 2:6-3:2
UITEINDELIK SPREEK AMOS VIR ISRAEL SELF AAN. En wat hy skets is ‘n totaal verdorwe samelewing. Die swakkes en magteloses word vertrap. Die immoraliteit en perversiteit is afstootlik. Die Godslastering is meer as skokkend.
Die paragraaf bestaan uit 4 gedeeltes. Dele 1 en 3 skets Israel se sonde (2:6-8, 2:12). In deel 2 word die volk herinner aan God se goedheid in hulle geskiedenis – iets wat hulle sondes des te meer onverskoonbaar maak (2:9-11). Deel 4 spel die vonnis en die komende straf uit (2:13-3:2).
ISRAEL SE SONDE
Vertrapping van die magteloses (6b-7a)
Hulle verkoop die regverdiges vir geld en armes vir of oor ‘n paar sandale (6). Die Hebreeus sê óf dat die armes vir ‘n paar sandale verkoop word (OAV), óf dat hulle in slawerny verkoop word omdat hulle die skuld op selfs ‘n paar sandale nie kan betaal nie (NAV). Hoe ook al, daar is geen empatie met die magteloses nie, geen sprake van naasteliefde nie.
Vers 7a is dubbelsinnig. Die probleem lê by die eerste werkwoord. Die woord kan óf beteken “hyg” (Jes 42:14) of “sterk begeer” (Job 7:2). So vertolk die OAV dit. Die NAV werk egter met ‘n ander moontlikheid, en dit maak meer sin in die konteks. Die woord kan ook beteken om te vertrap of te verbrysel (so vertolk die Septuaginta dit). Dan is die aanklag teen Israel dat hulle die swakkes se koppe in die grond intrap. Dit gaan dus steeds oor ‘n gewetenlose ongevoeligheid teenoor die naaste.
Dekadente sinkretisme (7b-8)
Wat hier beskryf word is tempelprostitusie. Dit was tipies van die Kanaänitiese natuurgodsdienste.
Die heidene het die gode – veral Baäl – gesien as verantwoordelik vir die instandhouding van die natuur. Hoe hou dit verband met tempelprostitusie?
Hulle het gehoop om met hulle seksdade die gode te stimuleer of op te wek om húlle vrugbaarheid op die aarde uit te stort – in die vorm van reën en groeikrag en diere-aanwas.
Jahweh het die praktyk van godsdienstige prostitusie as ‘n gruwel beskou (Dt 23:17-18). Ten spyte hiervan het die Israeliete hulle hieraan skuldig gemaak. Ergste van alles, hulle het minagtend hulle gruweldade “in die huis van hulle God” gepleeg – dus by hulle eie aanbiddingsplekke: Bet-El, Dan (1Kon 12:29) en Gilgal (Am 4:4; 5:5).
Oud en jonk was skuldig: sowel pa’s as seuns. Sommer langs die altare het hulle hulle inhibisieloos uitgestrek. “Uitstrek” word altyd transitief in die Ou Testament gebruik. Dit was dus iets wat die mans met die meisies van v.7 gedoen het.
Hier word nogeens gesinspeel op die uitbuiting van armes. Die tempel-orgies vind plaas op klere en met wyn wat by die armes afgevat is (8b).
Die laaste frase van v.7 is betekenisvol. Die Hebreeus het ‘n doelsin (OAV). Hulle doen hierdie dinge ten einde God se heilige Naam te onteer. Waarskynlik sou die mans ontken het dat dit hulle oogmerk was, maar wanneer mense willens en wetens sondig, dring die Bybel daarop aan dat dit so goed soos moedswillig gedoen word.
Onderdrukking van God se spreke (12)
In Sy goedheid het God voortdurend Sy volk herinner aan Sy wil – en dus aan die uitnemende pad vir hulle. Die profete het namens God voor die volk gestaan en hulle die pad van die verbond geleer. Die Nasireërs (Num 6:1-21) het hulle verset teen die Kanaänitiese kultuur en godsdiens dramaties gedemonstreer deur nooit hulle hare te sny of aan sterk drank te raak nie. So het hulle die volk altyd weer teruggeroep na die eenvoudige en vir God afgesonderde lewensstyl van die uittog.
Maar hiervan wou die Israeliete niks weet nie. Die profete is verbied om te praat; die Nasireërs gedwing om wyn te drink. God se spreke is ten alle koste gesmoor; die volk se gewete stil gemaak. Beswaarlik kan God erger beledig word, as om Sy selfopenbaring te minag. Deur God se Woord te verwerp, het hulle Hóm verwerp en hulself noodwendig van Hom afgesny.
GOD SE GOEDHEID DEUR DIE EEUE (9-11)
In hierdie drie verse word God se verbondstrou en goedheid sterk beklemtoon. Die persoonlike voornaamwoord, “Ek”, word twee maal beklemtoon (aan die begin van v.9 en v.10), en eerste persoon enkelvoud werkwoorde word vyf keer gebruik. Redding kom volkome van God.
Vyf dinge wat Jahweh vir die Israeliete gedoen het word hier genoem – dinge wat die volk se aanspreeklikheid en skuld oor en oor verintensifeer.
Een, die Here het die Israeliete uit Egipte verlos (10a). Vir die profete het geen ander gebeurtenis so sterk getuig van God se liefdestrou as die eksodus nie (Hos 11:1; Miga 6:3-4). En hierin het Israel se verantwoordelikheid tot verbondsrespons en verbondsgehoorsaamheid by uitnemendheid gelê.
Twee, die Here het Sy volk op ‘n wonderlike wyse deur die veertig jaar in die woestyn gelei, bewaar en versorg (10). Jesaja beskryf dit so: “Soos ‘n trop beeste na ‘n groen vallei toe afgaan, so het die Gees van die Here sy volk na ‘n woonplek toe gebring, so het U u volk gelei om die roem van u Naam te vermeerder” (63:14).
Drie, die Here het hulle die Beloofde Land as erfenis gegee (10).
Vier, die Here het hulle in die proses oorwinnings oor al hulle vyande gegee – ongeag hoe sterk díé was (9).
Vyf, die Here het Homself aan hulle geopenbaar en Sy wil aan hulle bekendgemaak – deur die profete en Nasireërs (11). Meer as enigiets anders het God se besondere openbaring Israel uniek gemaak onder die nasies. Daarom het Israel se verwerping van die profete se bediening die kroon op hulle sondes gespan. En spoedig sou hulle leer dat mens gou-gou ophou om God se Woord te hoor as jy dit eenmaal begin wegstoot (8:11-12).
DIE VONNIS EN KOMENDE STRAF (2:13-3:2)
Straf is onafwendbaar. En dis presies dieselfde God van die voorafgaande verse wat dit uitmeet en sal voltrek. Ook in v.13 word die voornaamwoord, “Ek”, beklemtoon: Ek, ja Ék, gaan julle straf!
Vertaling van v.13 is moeilik. Miskien is die NIV se vertolking naaste aan die kol: soos ‘n swaar gelaaide wa oor ‘n dorsvloer gedryf word om nie net die koring en die kaf te skei nie, maar ook om die koring te breek soos in ‘n meul (Jes 28:27-28), so sal die Here Israel in Sy oordele besoek.
God gaan dus hulle vyand word (Jes 63:10).
Verse 14-16 beskryf dan hoe ‘n menslike vyand as instrument in Sy hand hulle gaan aanval. Wie hierdie vyand is, word nie genoem nie, maar ongetwyfeld sinspeel dit op die komende Assiriërs. Voetsoldate, boogskutters en perderuiters sal almal holderstebolder vlug. In die proses sal hulle selfs hulle klere weggooi om vinniger te probeer wegkom. Maar niemand sal ontkom nie!
Het God dan die verbond oorboord gegooi? Allermins, sê 3:1-2! Dis júís die verbond in aksie. Dis júís omdat God Israel alleen vanuit al die volkere vir Homself gekies het, dat Hy in soveel gestrengheid met hulle handel (3:2).
Dis die wraak van die verbond wat ons hier sien (Lev 26:25). Geensins kon die volk onkunde oor hierdie saak pleit nie. Net soveel as wat hulle in die Deuteronomiumboek belowe word dat die seën van die Here op hulle sal rus as hulle hul verbondsverpligtinge nakom, net soveel word dit beklemtoon dat die vloek van die Here hulle sal tref indien hulle ontrou sou raak (Dt 27:15-26; 28:15-68). Hulle word dan ook oor en oor gewaarsku dat volhardende sonde tot ‘n ballingskap sal lei.
Dit alles is juis omdat die Here hulle alleen as Sy geliefde verbondsvolk vanuit die nasies vir Homself gekies het (Dt 26:16-19; 27:9-10).
WAT SÊ DIT ONDER MEER VIR ONS?
Wat ons hier moet raaksien, is die dissipline van God se liefde.
Die probleem met Israel was dat hulle God se liefde en die verbond verkeerd verstaan het. Hulle het gedink genade is die voortrekkery van witbroodjies, en dat God se verbondstrou alle sprake van straf uitsluit. Maar handhawing, enersyds, en suiwering, andersyds, van die verbond is nie wedersyds uitsluitend nie. Nee, van die begin af maak die verbond óók voorsiening vir loutering, die uitsaag van dooie hout, die suiwering tot ‘n oorblyfsel.
Amos sê hard en duidelik: die oordeel begin by die huis van God. Hoe meer lig, hoe groter die verantwoordelikheid (1Pt 4:17) (vgl. E-preek 50).
Waarom vergeet ons tog so maklik dat sonde ‘n skrikwekkend ernstige saak is vir hulle wat aan die Here behoort? Wees getrou aan God volgens Sy Woord – en Hy sal vir jou alles wees wat jy maar kan verlang, en meer. Maar raak ontrou, gly terug, raak wêreldgelykvormig, begin hand-om-die-lyf loop met sonde – en jy sal gewis te doen kry met Sy tugtiging en kastyding [Hb 12:4-12]. Dis nou as jy inderdaad ‘n ware kind van God is.
Daar is so iets soos die verskrikking van verkiesing, bevoorregting en verligting.
Dit beteken nie dat God Sy verkiesing oorboord gooi nie. Amos praat van tugtiging binne die verbondsgrense. Maar God sal voortdurend Sy gemeente bly suiwer. Die wat heilig is, moet heiliger word. En in die proses sal die huigelaars ook uitgesnoei word. In hierdie verband is Jh 15 betekenisvol (v.2, 6). Mens sien dit oor en oor in die kerkgeskiedenis – in sowel tye van afval as tye van vervolging. Wie bly staan? Wie groei en dra vrug – meer en meer? Die ware gelowiges!
Om die pad van die Here te kies, is nie om ‘n maklike pad te kies nie! Ons word opgeroep om heilig te wees soos Hy heilig is! Alleen in ons getrouheid is die egtheid van redding te sien!
Om hierdie waarhede te openbaar, is geen verleentheid vir God nie.
Ons beleef ‘n tyd waarin baie mense wat hulleself Christene noem, skaam kry vir enigiets anders in God se karakter as Sy liefde. Met ywer wy hulle hulself daaraan om die boodskap uit te kry dat Hy ‘n God van liefde is – en nét van liefde. Daarom is die talle Skrifuitsprake oor Sy toorn vir hulle ‘n verleentheid. En as die Bybel dan nie wil saampraat met hulle mensgesentreerde sentimente nie, skeur hulle by wyse van spreke die bladsye uit wat hulle nie pas nie – en skep vir hulle ‘n God volgens hulle eie voorkeure. Maar, soos die ou Puriteine gesê het, wie ‘n denkbeeldige God dien, sal tevrede moet wees met ‘n denkbeeldige verlossing.
TEN SLOTTE
Toe Jesus Christus die eerste keer gekom het, het mense Hom as leeu verwag. Toe kom Hy as lam – en hulle herken Hom nie. As Hy weer kom, sê die Bybel, gaan Hy as leeu kom. Sal mense wat nét aan Hom as lam dink, Hom hoegenaamd herken?
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier