AMOS 2:4-5 : DIE AANKLAG TEEN JUDA

LEES MENS HIERDIE EERSTE HOOFSTUKKE VAN AMOS VERSIGTIG, sien jy hoe die profeet die hanglus geleidelik stywer trek om Israel se keel. Eers spreek hy 3 omliggende heidennasies aan. Dan kom hy nader aan Israel se vel deur 3 heidense neefs aan te spreek  –  Edom, Ammon en Moab. 1 Derdens spreek hy Juda, sy eie volk, kortliks aan (2:4-5). Uiteindelik tref hy Israel dan vanaf 2:6 met ‘n muilskop. Maar nou eers sy profesie teen Juda.

JUDA SE EERSTE SONDE: VERWERPING VAN GOD SE WET EN VOORSKRIFTE (4B)

Die eerste ding wat ons moet raaksien, is dat Juda hier veroordeel word op grond van hulle verwerping van God se besondere openbaring. Laas keer het ons daarop gelet dat God die heidennasies aanspreek oor hulle oortredinge teen Sy algemene openbaring(wat hulle ontvang het), maar nooit oor enige sondes teenoor Homself nie. In Sy regverdigheid hou Hy daarmee rekening dat hulle nie Sy besondere openbaring ontvang het nie.

Maar oor laasgenoemde word Juda onmiddellik voor stok gekry, want vir seker ontvang hulle al vir eeue God se besondere openbaring.

Tweedens is die spesifieke uitdrukkings wat die Woord hier gebruik, baie betekenisvol.

Juda het “die wet” van die Here verwerp. Die Hebreeuse woord praat nie soseer van ‘n onpersoonlike wet nie, maar van persoonlike onderwysing, met die verwante idee van persoonlike kontak tussen onderwyser en leerling.

Ook het Juda “die voorskrifte” (OAV: “insettinge”) van die Here nie gehou nie. Die woord se wortelgedagte is om uit te kerf of te grafeer. Dit herinner natuurlik dadelik aan die feit dat God die Tien Gebooie met Sy vinger op klippe geskryf het. Die idee hier is dus die onveranderlike permanensie en betroubaarheid van God se voorskrifte.

Juda het dus nie net Jahweh se persoonlike en liefdevolle bemoeienis met hulle verag nie, maar hulle het ook die onuitspreeklike kosbaarheid van ‘n lewensnorm wat tydloos en universeel op ‘n pad van verhewe moraliteit en welsyn lei, gering geskat.

JUDA SE TWEEDE SONDE: HULLE LEUENS HET HULLE VERLEI, DIE LEUENS WAT HULLE VOORVADERS NAGEVOLG HET (4C) 2

Juda het nie net hulle rug gedraai op die gawes van God se bemoeienis en ewige norme nie, maar aktief het hulle ook agter leuens aangeloop. As mens eers die waarheid oorboord gegooi het, is ‘n lewe volgens die leuen immers onvermydelik.

Maar in hierdie verwyt sit nog meer: hierdie leuens kom al van die voorvaders af. Juda het met ander woorde, sonder om twee keer te dink, die sondige lewenstyl van hulle voorgeslagte nagevolg.

WAT SÊ DIT ONDER MEER VIR ONS?

God se oordele is altyd regverdig. 

Juda word geoordeel in ooreenstemming met die openbaring wat hulle ontvang het.

Sekerlik is dit ‘n baie, baie groot voorreg as die Here deur Sy Gees se verligtende werk ‘n mens en ‘n gemeente diep inlei in die geheimenisse van die Nuwe Verbond. En om dit na te jaag, is gewis elke gelowige se onontkombare verantwoordelikheid en roeping. Maar terselfdertyd moet ons onthou dat elke nuwe stukkie lig wat mens ontvang, tot jou aanspreeklikheid toevoeg. Waarmee die heidennasies nog kon wegkom, is teen Juda gehou.

Waarlik, die lewende God is ‘n regverdige God!

Hieroor is Rm 2:12 baie duidelik: “Almal wat sonder die wet van Moses gesondig het, sal ook sonder die wet verlore gaan; en almal wat onder die wet gesondig het, oor hulle sal volgens die wet geoordeel word.” God trek immers niemand voor nie, allermins Sy eie mense (Rm 2:11).

Die heidene moes beter geweet het; Juda (en natuurlik ook Israel) het beter geweet. En daarom is die verbondsvolk strenger geoordeel.

Jesus stel die beginsel in Lk 12:47-48: “Die slaaf wat geweet het wat sy eienaar wil hê maar wat nie gereed gemaak of volgens die wil van sy eienaar gehandel het nie, sal ‘n swaar straf kry. Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat straf verdien, sal ‘n ligte straf kry. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word.”

Wat sê ek dus? Ons glo in hierdie gemeente dat die Here vir ons baie goed was en steeds is. Laat ons dan ook verstaan dat daar dienooreenkomstig ‘n groot verantwoordelikheid op ons rus om getrou met Hom te wandel, en om die waarhede wat Hy ons geleer het uit te leef, en ver en wyd uit te dra. Vergeet dit nooit nie: as Hy eendag ons ewige loon vasstel, sal Hy in ag neem hoeveel lig en guns ek en jy van Hom ontvang het.

Onuitspreeklik kosbaar is God se twee samehangende gawes: Sy tydlose en algeheel betroubare Woord, asook Sy Heilige Gees om ons in die verstaan daarvan te lei. 

Juda het God se persoonlike bemoeienis en Sy onveranderlike voorskrifte verag  –  en daarom op leuenpaaie beland. Daarenteen is erns met hierdie twee gawes die sleutel tot ‘n lewe van godsvrug.

Mag die Here ons help om Sy Woord altyd kosbaar te ag, om weer en weer ‘n dieper begrip daarvan te soek, en om die uitlewing daarvan steeds as hoogste prioriteit na te jaag.

Maar laat ons dit altyd voor oë hou: sonder die Heilige Gees se gemeenskap en verligtende werk sal so ‘n ambisie tevergeefs wees. Daarom moet Sy volheid ons voortdurende versugting voor die Vader se genadetroon wees.

Ons verval baie maklik in ‘n ongebalansseerde siening oor hierdie saak.

Enersyds vergeet ons maklik die noodsaak van die Gees se verligtende werk. Mense begin bloot intellektueel en akademies met die Skrif omgaan. Dan is dit net ‘n kwessie van tyd voordat ‘n dooie ortodoksie die kerk in sy wurggreep kry  –  met ‘n spoedige afsterwe tot gevolg. En dan is dit tyd vir kettery na kettery se dodedans op die graf van ‘n instelling wat eens op ‘n tyd ‘n huis van gebed en ‘n basuin van evangeliese waarheid was.

Waar kan ‘n mens hierdie tragiese verloop van sake duideliker waarneem as in die Afrikaner se resente kerkgeskiedenis?

Andersyds is daar die geneigdheid om net op die Heilige Gees se werk te konsentreer en die Woord gering te skat. Ook hierdie dwaling het die afgelope dekades epidemiese afmetings aangeneem in ons land. Hoor mens nie gereeld dat gepraat word van ‘n sogenaamde spreke van die Gees los van die Woord nie? En wat van die sogenaamde rhema-woord wat verhef word bo die logos-woord? Wat is dit anders as ‘n afmaak van vasgelegde Bybelbeginsels as minderwaardig?

Die galbitter vrugte hiervan is só oorweldigend duidelik dat geen nugter mens dit kan miskyk nie.

Nee, die Gees werk déúr die eens en vir altyd afgeslote en genoegsame Woord van God.

Vir gesonde kerkwees is en bly voortdurende reformasie baie belangrik. 

Juda het sonder meer op die leuenpaaie van hulle voorvaders bly voortgaan  –  sonder om hulself af te vra of dit inderdaad reg was in die oë van die Here.

Een van die mees subtiele gevare wat elke geslag in die gesig staar, is ‘n onkritiese aanvaarding van dit wat ons van ons voorgeslagte geërf het. Tradisie kan baie kosbaar wees, maar as dit ons verkeerd lei, moet ons dit summier verwerp.

Hieroor swyg die Skrif nie. Die idee van tradisie word op twee maniere aangebied.

Die eerste is uiters negatief. Die Jode in Jesus se tyd, veral die skrifgeleerdes en Fariseërs, het geweldig baie gemaak van die tradisie, oftewel die oorleweringe van die ou mense. Hierdie tradisie was vir hulle nie net die Ou Testament nie, maar ook die Talmud. 3 Dit is welbekend dat die Here Jesus male sonder tal die gesag daarvan verwerp het  –  as bloot menslike tradisies wat mense weerhou het om God in gees en waarheid te aanbid.

Maar dan word die idee van tradisie ook baie positief aangebied  –  die apostoliese tradisie.             In 2Ts 2:15 gebruik Paulus ‘n baie interessante woord. Hy roep sy lesers op om standvastig te wees en vas te hou aan die “leer” (Gr. paradosis). Die woord beteken eintlik tradisie  –  dit wat van geslag tot geslag oorgedra word. 4 In 3:6 gebruik hy weer die woord. Nou is dit duidelik dat hy spesifiek van die apostoliese tradisie praat (vgl.1Kor 11:2 waar die woord ook gebruik word).

Die apostels het, volgens hulle eenstemmige getuienis, die geopenbaarde Nuwe Testamentiese waarheid van die Here Jesus self ontvang. Dit het hulle onvermoeid aangegee aan die eerste gelowiges. En so moet die proses voortgaan  –  van geslag tot geslag (2Tm 2:2).

Waarom is dit so belangrik vir stabiliteit en koersvastheid om vas te hou aan die apostoliese getuienis  –  die Nuwe Testamentiese tradisie of leer? Omdat dit tydlose, universele en algeheel betroubare waarheid is. Wie kinderlik gelowig daarvolgens glo en lewe, is koersvas op pad na die ewige saligheid. Wie se voete vierkantig daarop geplant is, kan deur niks van balans gestoot word nie.

Laat ons leer uit die kerkgeskiedenis: die kerk dwaal ontstellend maklik van die waarheid weg. Daarom moet ons die Nuwe Testamentiese tradisie so puntenerig vashou. Weer en weer moet ons onsself dus toets of ons nog in die voetspore van die apostels loop (1Kor 11:1), of ons nog op die fondament bou waarvan Jesus Christus die hoeksteen is (Ef 2:20). En waar nodig moet ons die nodige verstellings aanbring. Dit is reformasie.

Laat ons uiters versigtig wees vir daardie tradisie wat eerder die denke van die vaders aanvaar, as om self te dink. Maar laat ons meteen besef hoe lewensbelangrik ware reformasie is  –  nie om nuwe dinge te ontdek nie, maar om ou-ou dinge opnuut te ontdek. Semper reformanda!

VOETNOTAS

1. Hulle het gemeenskaplike voorouers met die verbondsvolk gehad. Edom was die nageslag van Esau (Gn 25:30), terwyl Ammon en Moab ontstaan het uit Lot se bloedskande met twee van sy dogters (Gn 19:36-38).

2. Dit is waarskynlik die beste weergawe van die Hebreeus. Vergelyk NASB, ESV, NIV voetnota.

3. ‘n Versameling boeke en kommentare wat Joodse Rabbi’s ‘n paar eeue voor die koms van Christus opgestel het. Dit bevat honderde voorskrifte oor die presiese vertolking van God se Wet  –  baie daarvan absurd in hulle voorskriftelikheid en detail.

4. Die woord is nou verwant aan die werkwoord, paradidomi: aangee of aflewer. In Jud 3 word hierdie werkwoord gebruik vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is, en waarvoor kragtig gestry moet word.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00