AMOS 1:3-2:3
AMOS SE EERSTE PROFESIEË IS GERIG TEEN ISRAEL SE VYANDE: Damaskus, Gasa, Tirus, Edom, Ammon, Moab! Hierdie ses oordeelsuitsprake vertoon dieselfde trekke:
Die eenvoudige struktuur is elke keer dieselfde: Een, ‘n oproep aan elke nasie om voor God se regterstoel te verskyn. Twee, die spesifieke aanklag. Drie, die oordeelsaankondiging.
Die inleidende frase, elke keer, “oor drie oortredinge … ja, oor vier” (OAV), het destyds gesê: die maat van julle sonde is vol, méér as vol!
Die woord wat met “sonde” vertaal word (“oortredinge” in die OAV), dui eintlik op rebellie in die Hebreeus. Dis die profete se karakteristieke woord vir sonde – waarmee hulle beklemtoon dat sonde nie maar net ongehoorsaamheid aan ‘n onpersoonlike wet is nie,maar dat dit ‘n oortreding teen God persoonlik is.
Elke keer word God se oordeel voorgestel deur vuur – simbool van algehele uitwissing.
Elke keer word gesê dat die “mooi huise” (OAV: “paleise”) deur vuur verteer sal word. Hierdie woord (27 maal in die Ou Testament) het te doen met die verdediging van stede. Daarom vertaal die NIV, NASB en ESV eerder met “fortresses” of “citadels” of “strongholds”. God se oordele gaan dus kom in die vorm van militêre aanslae en die lyding wat daarmee gepaard gaan.
OORSIG OOR DIE SES OORDEELSFROFESIEË
Teen Damaskus (1:3-5)
Damaskus is die hoofstad van Sirië en verteenwoordig die hele nasie. Dit was in die voorafgaande eeu Israel se mees geswore vyand.
Die aanklag is dat hulle Gilead, die gebied oos van die Jordaan waar Israeliete ook gebly het, soos met ‘n ystersleë vermink het.
Die “grendels”, oftewel poorte van Damaskus, sal swig voor hulle vyande en hulle sal uiteindelik in ballingskap weggevoer word. Volgens 1Kon 16:9 het dit presies net so gebeur.
Damaskus se sonde dus: hulle het medemense onmenslik en meedoënloos behandel asof hulle onpersoonlike goed sonder gevoel is!
Teen die Filistyne (1:6-8)
Gasa was ‘n prominente stad van die Filistyne. Hierdie tradisionele vyand van Israel het suidoos van hulle langs die Middelandse See gewoon. Reeds in die tyd van die Rigters en die eerste konings is Israel en die Filistyne in ‘n stryd om besit van Kanaän gewikkel.
Die aanklag is dat hulle volkere as ballinge weggevoer het en dan as slawe verkoop het.
Hulle oordeel? Hulle gaan totaal uitgeroei word.
Die Filistyne se sonde dus: in hulle hebsug het hulle hul medemens se welsyn algeheel verag!
Teen Tirus (1:9-10)
Die hawestad, Tirus, was die hoofsetel van Fenesië, noordwes van Israel. Die bevolking het hoofsaaklik bestaan uit mense wat destyds tydens Israel se besetting van Kanaän weggedryf is. Hulle het egter spoedig ‘n hoogs ontwikkelde en welvarende beskawing geword. Die berugte Isebel, vrou van Koning Agab, het hiervandaan gekom, en Israel probeer verlei tot die Baälgodsdiens van Fenesië.
Tirus se sonde was dieselfde as die van die Filistyne, net nog erger. Want hulle het dit ten spyte van verbondsooreenkomste gedoen. Uiteindelik sou Alexander die Grote die stad in 332 v.C. vernietig. Dit was egter nie die einde van Tirus nie. Die stad is weer en weer herbou, weer en weer beleër en weer en weer vernietig. Uiteindelik, na 1600 jaar, is dit in die tyd van die kruistogte (1291 n.C.) finaal afgebreek. Tot vandag toe is dit nie herbou nie.
Tirus se sonde dus: nie alleen het hulle in hebsug hul medemens vertrap nie; in die proses het hulle ook gewetenlose verraad gepleeg!
Teen Edom (1:11-12)
Hierdie ou-ou vyand van Israel het aan hulle suidoostelike kant gewoon. Deur Esau was ook húlle afstammelinge van Abraham – en as sodanig “broers” van Israel.
In onbeteuelde woede het hulle hul broers tot die dood toe met die swaard bly agtervolg, sonder dat hulle haat ooit bevredig is.
“Teman” en “Bosra”, onderskeidelik ‘n streek en ‘n prominente stad van die Edomiete, sou uiteindelik ‘n eeu voor die koms van Christus deur die Joodse Makkabeërs en Selote vernietig word. Die ruïnes van Petra, Edom se gewese hoofstad, is tot vandag toe ‘n getuienis dat God se Woord nooit misluk nie.
Edom se sonde dus: hulle het vergeet dat bloed dikker as water is, en hulle het hulself aan blinde en ongebreidelde wraaksug oorgegee!
Teen Ammon (1:13-15)
Hierdie afstammelinge van Lot, Abraham se broerskind – verwek vanuit sy bloedskande met een van sy dogters (Gn 19:30-38) – het oos van Israel gewoon, anderkant die Jordaanrivier. Tussen die twee nasies was daar gereeld oorlog.
Wat God se toorn meer as enigiets anders verwek het, was hulle hebsug en ambisie om hulle grondgebied uit te brei, en veral die afstootlike geweld wat daarmee gepaard gegaan het: die oopsny van swanger vrouens! Geweld is nooit verskoonbaar nie, maar dít! En as dit dan ook nog gepleeg word tydens die verowering van dit wat nie aan jou behoort nie, is dit ‘n onbeskryflike gruwel. God se oordele sou die Ammoniete soos ‘n orkaan tref. Ballingskap was hulle voorland.
Ammon se sonde dus: hulle het op ‘n gewetenlose wyse weerlose mense vermink en vermoor – alles ter wille van eie gewin!
Teen Moab (2:1-3)
Hier sien ons irrasionele wraaksug teen ‘n ander volk. Grafte in Edom is oopgegrawe ten einde selfs die vorige geslagte – teen wie bittere haat steeds hoog gevlam het – te verneder. In die wêreld van destyds was daar groot respek vir die dooies, ook vir hulle liggame. En om ‘n lyk te verbrand, soos hier, was totaal onaanvaarbaar.
Ook hier kom daar verskriklike oordele – en dit oor dade van redelose geweld, nie teen Israel nie, maar teen een van sy tradisionele vyande. Amos is nie bevooroordeeld nie en sy Sender nog minder; trouens, Hy veroordeel enige sonde teen ‘n medemens, ongeag wie dit mag wees. Want ten diepste is dit rebellie teen so ‘n persoon se Maker, in wie se beeld hy geskape is.
Moab se sonde dus: redelose wraaksug wat selfs dit wat heilig is nie ontsien nie in sy aandrange om bevrediging!
WAT SÊ HIERDIE VERSE VIR ONS?
Soos op soveel plekke in die Skrif spring die universele realiteit van die natuurlike mens se radikale verdorwenheid ook hier weer in die oog. Waarvan ons hier lees mag vir ons aanvanklik skokkend klink. Maar ‘n oomblik se nadenke sal bevestig dat die mens deur al die eeue moreel niks gevorder het nie. Die afgelope eeu het meer en erger oorloë as ooit vantevore opgelewer, en geeneen van hierdie oorloë was vry van die skokkende dinge waarvan ons teks skryf nie.
Selfverheffing, selfhandhawing en selfbevrediging is steeds aan die orde van die dag. Gewetenlose hebsug, onbeteuelde wraaksug, en bloeddorstige moordsug is steeds met ons. Sonder God se herskeppende genade is daar vir die gevalle mens moreel geen hoop nie.
Ook oor God is hier insiggewende openbaring.
Met ‘n felle haat haat God onmenslikheid en uitbuiting – van veral die hulpeloses.
Sy algemene genade 1 is oneindig kosbaar. Daarsonder sou dit waarvan ons teks praat ons alledaagse ervaring gewees het. Niks sou ons teëgehou het om so erg soos duiwels te word nie.
Ons sien God se regverdigheid. Hierdie nasies, sonder Sy besondere openbaring, word nie oor godsdienstige oortredinge (sondes direk teen Homself) veroordeel nie – soos Juda en Israel net hierna wel. Dit gaan oor sondes teen medemense. God verwag dus nie van hulle wat hulle nie het nie.
Maar hulle hét Sy natuurlike wet in hulle harte. Dis presies waarmee Paulus werk as hy in Rm 1-3 aantoon dat alle mense – ook die heidene – toerekeningsvatbaar voor God is (Rm 2:14-15).
Maar, sê jy, dis steeds nie regverdig nie, aangesien die natuurlike mens vanweë die sondeval en sy gepaardgaande verdorwenheid selfs nie die natuurlike wet kan onderhou nie.
Hieroor maak Jh 5:27-29 ‘n fassinerende perspektief vir ons oop. Vers 27 sê: “Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.” Dan gaan Jesus voort deur te sê dat álmal op die opstandingsdag geoordeel gaan word – volgens wat hulle gedoen het, goed of kwaad. Sou v.27 gesê het dat die Seun volmag het om te oordeel omdat Hy die Seun van God is, sou ons dalk grond gehad het om te kla. Wie kan moreel tot súlke Goddelike hoogtes uitstyg? Maar Jesus gaan juis as Seun van die mens oordeel! Die Regter sal self die standaard wees – as Mens! Of anders gestel, die mens gaan veroordeel word, omdat hy misluk het om méns te wees. God verwag dus nie van hom méér as waarvoor hy geskape is nie.
Ja, sal jy nou sê, maar Jesus was nie aan die sondeval en die erfsonde onderworpe nie. Hoe kan mense wat met ‘n verdorwe natuur gebore word, by Sy standaarde uitkom? Maar dis juis die punt! Die gevalle mens se grootste probleem is nie op sig self die feit van Sy sonde nie, maar die feit dat hy deel is van ‘n gevalle mensheid onder God se oordeel. Dis waarom mense wat nie in eie hoedanigheid kan sondig nie, soos ongebore en pasgebore babas, ook kan sterf. Onthou, die dood is die loon van die sonde (Rm 5:14; 6:23). Ons is nie sondaars omdat ons sonde doen nie, ons doen sonde omdat ons sondaars is.
Die gevalle mens verdien die oordeel omdat hy die volmaaktheid waarmee hy geskape is geminag het, en sy bekwaamheid om God volkome te gehoorsaam, vertrap het. Die mens se krisis voor sy Skepper is korporatief, voordat dit individueel is.
Is die ewige verdoemenis dan elke mens se onontkombare bestemming? Prys die Here, daar is een uitweg – maar net één: vlug in die geloof in Christus in, bly in Hom skuil, en Sý volkome geregtigheid sal aan jou toegereken word!
VOETNOTAS
1. Dit is alles duskant God se reddende genade wat die gevalle mens in stand hou en daarvan weerhou om in die diepste uiterstes van verdorwenheid in te sink.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier