1KRONIEKE 25
EEN VAN DIE TALLE NUWE DINGE WAT DAWID IN DIE VERBONDSVOLK SE LEWE GEVESTIG HET, is ‘n beklemtoning van gesamentlike en geordende lofprysing vir die Here. Dawid was van jongs af ‘n digter, sanger en musikant. Hy skryf psalms en as seun moet hy in die paleis vir Saul op sy lier gaan speel (1Sam 16:16, 23).
As hy koning in Jerusalem word, gaan haal hy die verbondsark in die huis van Abinadab. Dit is ‘n feestelike optog waaraan die hele volk deelneem: “Dawid en die hele Israel het uitbundig voor die ark van die Here gedans, begelei deur liedere, liere, harpe, tamboeryne, ratels en simbale” (2Sam 6:5).
Ook as hulle die ark die tweede keer by die huis van Obed-Edom gaan haal, geskied dit met selfs meer feesvreugde (2Sam 6:12b-15). In 1Kron 15 lees ons op watter skaal en hoe geordend dit gebeur het (16-25, 28). By hierdie geleentheid is Dawid se lied “Loof die Here” ook vir die eerste keer gesing (1Kron 16:7-36).
Dawid wou hierdie uitbundige lof vir die Here in die volk se godsdienstige lewe laat wortel skiet. Daarom het hy besondere moeite gedoen om geordende musikale aanbidding in die tabernakel te vestig. Uit die Leviete is 4 000 sangers hiervoor afgesonder. Hulle “… moes sorg vir die lof van die Here op die instrumente wat daarvoor vervaardig is” (1Kron 23:5; 2Kron 7:6).
Volgens 1Kron 6:31-47 is dit duidelik dat hierdie sangers reeds by die tabernakel – in Dawid se regeringstyd dus – so gefunksioneer het.
Volgens 1Kron 25 het veral 288 van hierdie Leviete ‘n prominente rol in die lofsang vir die Here gespeel. Hulle het uit 3 familiegroepe bestaan – onderskeidelik dié van Heman,Asaf en Jedutun (ook Etan genoem). Tussen hulle het hierdie 3 manne 24 seuns gehad, en elkeen van húlle was weer die leier van ‘n groep van 12. Die 24 groepe is ingedeel om “volgens ‘n vaste reëling” (1Kron 6:32) toe te sien dat die lof van die Here nooit stil word by die tabernakel nie.
‘n Paar dinge val op in 1Kron 25:
Hierdie 24 groepe moes ook die ander sangers, asook die volk in lofsang lei. En hulle het instrumente bespeel én gesing. Hulle was dus sowel die orkes, as die voorsangers.
Hulle het ‘n verskeidenheid van instrumente gebruik. Hier in 1Kron 25 word snaar- en slaginstrumente genoem. Kyk mens egter na van die voorskrifte in die Psalms (bv. Ps 150), sien jy dat ook hout- en koperblaas-instrumente gebruik is.
Hierdie musikante was nie ‘n klomp amateurs nie. Hulle is “in sang ter ere van die Here onderrig”; hulle was “opgeleides” (7). Hulle het voltyds in hulle roeping gestaan en was duidelik met niks minder as musikale uitnemendheid tevrede nie.
Baie interessant – maar eksegeties moeilik – is dat hulle volgens v.1, 2, 3 “as profete opgetree het” terwyl hulle musiek gemaak het (NAV). Die OAV sê dat hulle “besield” gespeel het. Duidelik is hier ‘n sinspeling op die inspirasie van die Gees.
Hier is twee moontlikhede. Die NAV impliseer dat die woorde van die lofliedere deur die Heilige Gees vir hulle ingegee is. Die ander moontlikheid is om dit soos die OAV te verstaan, naamlik dat die musiek vir bestaande woorde vir hulle ingegee is.
Terwyl eersgenoemde vertolking nie afgeskryf moet word nie – Asaf was immers verantwoordelik vir sommige van die Psalms – maak die OAV tog baie sin. Immers het Dawid dikwels Psalms vir hierdie Levitiese musiekgroepe geskryf. Talle Psalms begin so iets: “Vir die koorleier. Van Dawid. ‘n Psalm.” Hy het dus, onder inspirasie van die Gees, die lirieke vir talle van die lofliedere verskaf, terwyl die musikante, eweneens deur die Gees, melodieë geskep het wat nie net die woorde gedra het nie, maar ook uitdrukking gegee het aan die woorde se gevoelswaarde.
Uiteindelik moet ons dalk aanvaar dat beide bg. vertolkings korrek is (vgl. 2Kron 29:29-30).
Dawid se aanbiddingsreëlings het oorgespoel na die tempeldiens in Salomo se tyd. Maar ook toekomstige konings, wat die Here gedien het, het dit weer ingestel.
In die tyd van die kinder-koning, Joas, het die priester, Jojada, met die volk ‘n verbond gemaak dat hulle die Here sou dien. Onder meer het dit ingehou dat daar weer by die tempel “… sang soos Dawid dit gereël het …” sou wees (2Kron 23:16-18).
Tydens die herlewing onder Koning Hiskia het hy weer “… die Leviete plek laat neem met simbale, harpe en liedere in die huis van die Here volgens die opdrag van Dawid … want dit was ‘n opdrag wat van die Here self gekom het …” (2Kron 29:25-26). Hy het “… die Leviete beveel om die Here te loof met die liedere van Dawid en die siener Asaf” (29:30). Vgl. ook 30:26.
Tydens Juda se laaste herlewing en terugkeer na die Here se weë, is Dawid se aanbiddingsvoorskrifte weer in besonderhede herstel (2Kron 35:4, 15).
Ook ná die ballingskap kan die respek vir Dawid se instellings nogeens in Esra en Nehemia se heropbou gesien word. Toe die fondamente van die tempel gelê is, is die Here geloof “… soos koning Dawid van Israel bepaal het” (Esra 3:10-11). Nehemia plaas ‘n premie daarop om die Here te loof “… volgens die voorskrif van Dawid, die man van God” en “… met die musiekinstrumente van Dawid …” (Neh 12:24, 36, 45).
Ons het nie hier te doen met ‘n modegier van een tydvak nie. Nee, onmiskenbaar duidelik was dit ‘n opdrag “wat van die Here self gekom het”. Daarom het die verbondsvolk, elke keer as hulle hul bekeer het, dit weer ingestel.
WAT SÊ DIT VIR ONS ?
Ons moet ten minste 2 dinge onthou:
Eerstens, die Ou Testament getuig oor en oor dat hierdie aanbiddingsreëlings besondere gewig gedra het. Dit het God kennelik behaag.
Tweedens, ons is Nuwe Testamentiese gelowiges. Ons kan nie alles slaafs navolg nie. Daar was ‘n sterk klem op die seremoniële destyds. In óns geval is niks belangriker as om in gees en waarheid te aanbid nie. Tog het ons vir seker hier ‘n aantal belangrike beginsels en praktiese riglyne.
Lof en aanbidding is belangrik.
Bybels moet aanbidding baie ruimer verstaan word, maar kom ons praat spesifiek van ons gemeentelike lofsang.
Daar rus talle verhewe roepinge op ons, maar niks is meer fundamenteel as om ons Drie-enige God te verheerlik nie. Dit het Dawid goed verstaan, asook latere godvrugtige leiers van die verbondsvolk. Gevolglik is geen moeite en koste ontsien om ook dááraan in hulle erediens reg te laat geskied nie. Musiek en sang is as ‘n belangrike kanaal van lof gebruik. En so was hulle ook vir ons ‘n voorbeeld.
Volgens Ef 5:18-19 is die sing van “psalms, lofgesange en ander geestelike liedere” ‘n uitvloeisel van die volheid van die Gees. En dit moet uit die hart kom – tot eer van die Here (vgl. Kol 3:16).
Met ‘n formalistiese liturgie kan ons as Nuwe Testamentiese en Geesvervulde Christene ons nie vereenselwig nie. Nog minder het ons vrede met die gebruik van musiek en sang in die erediens om bloot mense te vermaak en te lok. Tog moet ons oppas dat ons nie in ‘n oorreaksie teen hierdie dinge ons eredienste se lofprysingskomponent – ons gebede en lofsange – verwaarloos nie. Eenvoudig gestel, het ’n erediens 2 dele: óns wat met die Here praat (lof, dank, belydenis, voorbidding), en Hý wat met ons praat (Skriflesing en prediking). Een deel is nie belangriker as die ander deel nie.
Gemeentebetrokkenheid is belangrik.
Wie ook al asem het in die gemeente – groot en klein – moet die Here se lof besing. Om met ‘n toe mond te staan terwyl die Here in sang ge-eer word, skrei ten hemele.
Dawid se sanggroepe was nie daar om uitvoerings te lewer nie. Hulle was in diens van die volk se lofsange. Hulle moes nuwe liedere ontwikkel, die mense dit leer en die gemeentesang begelei – instrumenteel en vokaal.
Maar, terwyl gemeentebetrokkenheid ‘n Bybelse prioriteit is, moet mens ook sê dat sommige se afwys van kore en begeleidingsinstrumente sonder meer, ‘n oorspanning van die beginsel is. Indien dit werklik oor die eer van die Here en gemeentelike opbou gaan, en nie bloot oor musikale kuns en vermaak nie, is daar n.a.v. 1Kor 14 se oproep dat ons mekaar met ons gawes moet stig, ‘n plek vir kooruitvoerings en solosang in die erediens.
Die woorde van ons liedere is belangrik.
Godgerigte lofprysing moet inhoud hê – Bybelse inhoud. Die Vader soek aanbidders wat Hom in gees en in waarheid aanbid (Jh 4:19-24).
Die woorde van ons liedere het ‘n besondere invloed op ons geloofslewe. Dit help om ons diepste emosies te verwoord. ‘n Gespierde Skrif-inhoud help baie om ‘n gemeente op suiwer bane te hou.
Sonder om te sê dat herhaling op sigself verkeerd is – die Bybel het te veel voorbeelde daarvan – word vandag dikwels oortree teen die verbod op “‘n ydele herhaling van woorde” (Mt 6:7).
Almal van ons ken die neiging van ons gedagtes om ver draaie te loop terwyl ons hartlik saamsing. Dit verg dus gedissiplineerde konsentrasie as ons die Here wil loof soos ons moet.
Die musiek van ons liedere is belangrik.
Musiek is een van die wonderlikste gawes van die Here se algemene genade. Waarlik, Hy is ‘n God van skoonheid – ook van melodie, harmonie en ritme. Om te sing is dus ‘n heerlike en emosioneel vervullende manier vir ‘n gemeente om Hom in eenheid te loof.
Ja, dit gaan in die eerste instansie oor die woorde van ons liedere, maar musiek is die rytuig daarvoor hemel toe. Waarom sal ons donkies vir so ‘n kosbare vrag gebruik as ons Arabierperde het? Die musiek moet dus die woorde waardig wees.
Die besware in sekere kringe teen ‘n verskeidenheid van begeleidingsinstrumente het nie Bybelse gronde nie. In beginsel is min of meer enigiets in orde, solank dit natuurlik stig. Soos so dikwels, is hier egter ook ‘n kulturele dimensie.
Hb 13:15: “Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ‘n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.”