1 Korinthiers 3:10-15
ONS HET LAAS ONDER MEER VINNIG NA HIERDIE VERSE IN 1KOR 3 GEKYK. Ek het toe daarop gewys dat dit wat hier beskryf word nie gaan oor ewige redding of verlorenheid nie, maar oor die bepaling van meer of minder loon vir God se kinders in die hiernamaals. Terwyl elkeen wat iets verstaan van die gewigtigheid van daardie ontmoeting met Christus nie anders kan as om dit in die vrese van die Here tegemoet te gaan nie (2Kor 5:11, OAV), is dit ook so dat ons met positiewe verwagtinge daarna kan en moet uitsien.
Dis soos ‘n student wie se maag gespanne ineentrek as hy aan sy naderende finale eksamen dink. Maar dis ‘n goeie ding, want dit spoor hom des te meer aan om hard te werk. Tog gaan hy die eksamen ook met opgewonde afwagting tegemoet. Hy het alle rede om te glo dat hy goed sal slaag – en dat dit die behaling van sy graad sal beteken.
Wat dus hier in 1Kor beskryf word, is die prysuitdeling.
‘N BETEKENISVOLLE WOORD
In 1Kor 3:13 skryf die apostel dat die gehalte van elkeen se werk “getoets” sal word – dit sal op die proef gestel word (OAV).
Daar is twee woorde in Grieks wat dui op die aanlê van ‘n toets (Gr. dokimazo en peirazo). Laasgenoemde toets geskied met óf geen verwagting oor die uitkoms nie, óf dikwels met die verwagting van ‘n negatiewe resultaat. Maar dis eersgenoemde woord wat hier gebruik word. En dikwels dui dit op ‘n toets wat optimisties aangelê word – dat die uitkoms positief sal wees. 1
In Lk 14:19 en Jh 6:6 word die betekenis van die woorde goed uitgebring.
Eersgenoemde vers vertel van ‘n man wat nuwe osse wat hy gekoop het wil gaan “probeer”. Hier word dokimazo gebruik. Die suggestie is dus dat hy nie kan wag om te sien hoe goed sy nuwe aanwas gaan vaar nie.
Jh 6 – die gedeelte oor die vermeerdering van die brood – gebruik daarenteenpeirazo. Dis ‘n toets wat die Here Jesus op Filippus aanlê – om sy kleingeloof uit te wys. Daar is ‘n skare wat moet kos kry. Dan sê Jesus vir Sy dissipel, “Waar sal ons gaan kos koop?” As Filippus geloof gehad het, sou hy gesê het dat daar vyf broodjies en twee vissies is, en dat die Here dit sekerlik kan vermeerder. Maar Jesus weet hy het nié hierdie geloof nie en wil dit sagkens vir hom aan die verstand bring.
Die vuurtoets eendag sal dus nie daarop gerig wees om alles wat sleg was in ons lewens uit te wys nie. Inteendeel, dit sal juis die goeie wil uitwys! Dit sal niks wat beloon kan word wil oorslaan nie.
Vir God se kinders, ten spyte van die skrikwekkende gewigtigheid van die geleentheid, sal die eindoordeel tog ook ‘n blye oomblik wees. Nee, meer nog, dit sal gepaard gaan met onbeskryflike vreugde oor die wonderlike loon wat toegeken word! En ons praat nie net van ‘n lourierkrans wat spoedig verwelk nie, ons praat van ‘n welgeluksalige lewe, onbeskryflik in sy heerlikheid, wat tot in alle ewigheid nie sal verbygaan nie.
‘N APOSTEL SE GESINDHEID
Die apostel Paulus het verstaan waarvan ons praat. Daarom het hy alle ywer aan die dag gelê om met goud, silwer en edelstene te bou. In sy Christelike wedloop het hy voluit gehardloop. Hieroor skryf hy in 1Kor 9:24-27.
As hy in v.24 sê dat net één die prys kry, bedoel hy nie dat net een persoon eendag beloon sal word nie. Dis sy manier om te sê, aangesien net een in ‘n gewone wedloop die wenprys kry, is alle atlete wat ernstig is, ingestel op die eerste plek. En dieselfde gesindheid van toewyding moet ons geestelike wedlope kenmerk. Ons moet dus gaan vir goud!
Vergelyk mens v.27 in die OAV en die NAV, kom jy ‘n verskil agter. Die NAV is ‘n beter weergawe van Paulus se bedoeling. Hy sê nie dat hy bang is om verwerp te word nie. Hy is nie bevrees dat hy verlore sal gaan nie. Daarvoor is hy té gevestig in Christus, té oortuig van die onomkeerbaarheid van regverdiging. Wat hy sê, is dat hy alles in die stryd werp sodat hy nie vir die prys gediskwalifiseer sal word nie (NIV). Hy wil nie loon inboet te wyte aan laksheid nie. Ten alle koste wil hy verhoed dat sy lewenswerk in rook opgaan.
Elkeen van ons het verskillende gawes en roepinge. In Paulus se geval moet hy die evangelie op skrif stel en dit ver en wyd verkondig. Om so getrou moontlik in die uitvoering van sy taak te wees, span hy al sy kragte in (v.23; NAV, NIV).
Terug na 1Kor 3. As die apostel aan die begin van v.13 sê dat elkeen se werk aan die lig sal kom, is dit ‘n duidelike suggestie dat die beoordeling baie deeglik sal wees. Alles sal in ag geneem word.
Onthou jy nog wat dit beteken as Paulus in 2Kor 5:10 sê dat ons voor die Here sal “verskyn”. Die woord beteken om blootgelê te word – om gestroop te word van elke fassade van ordentlikheid.
Kennelik het Paulus die Here Jesus se waarskuwing baie ernstig opgeneem dat daar niks geheim is wat nie bekend sal word nie (Lk 12:1-3). Hy skryf in 1Kor 4:5 dat die Here die dinge wat in die duisternis verborge is, aan die lig sal bring en die bedoelings van die hart sal blootlê. Na aanleiding daarvan sal elkeen dan lof van God ontvang – meer of minder.
Sien jy, hier kom die positiewe al wéér na vore. Elke keer as ék die voorafgaande woorde lees, wil my keel toetrek. Maar dan verras Paulus ons: voorop in sy gedagtes is nie verleentheid en verlies wat sal volg op blootlegging nie, maar lof – lof!
Let laastens daarop dat Paulus presies geweet het waaroor dit gaan en wat sy lewenstaak is. Hy ken die reëls. Hy weet wat beloon sal word en wat waardeloos is. Sy teiken is vlymskerp voor hom afgeëts (26). Hy is gefokus; hy mors nie tyd en energie op beuselagtighede nie.
Nou sal talle van julle vir my sê, dis juis my probleem, ek weet nie wat my roeping is nie. Wat is die Here se wil vir my lewe? Wel, dis ‘n baie groot seën as mens jou nis in die koninkryk gevind het – hoe vroeër hoe beter. Maar vir talle kom dit eers met toenemende ervaring en ouderdom.
Maar, sal jy dalk sê, wat moet ek intussen doen? Moet ek bloot maar wag? Allermins!
As mens die Bybel versigtig lees, sien jy dat die beoordeling op daardie dag veral sekere dinge in ag sal neem. Laat ons daarvolgens leef, en ons kan verseker wees dat die regterstoel van Christus ‘n wonderlike prysuitdeling vir ons sal wees.
DIE MAATSTAWWE VAN DIE EINDOORDEEL
Ons getrouheid en gehoorsaamheid.
In die gelykenis van die talente sê die eienaar vir die slawe wat hy beloon: “Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel.” (Mt 25:21, 23).
Hierdie slawe het hulle baas se opdragte ernstig opgeneem en puntenerig uitgeleef. Sý belange was vir hulle voorop, nie hulle eie gerief of voordeel nie.
Dis waarom Jesus in Jh 12:48 sê dat Sy woorde op daardie dag die ongehoorsames sal oordeel. Ons sal aan die Here se opdragte geoordeel word!
Ons motiewe en gerigthede
By meer as een geleentheid bring die Here Jesus ons motiewe hier en nou, en ons ewige loon in direkte verband (Mt 6:1; Lk 12:1-3). Gaan dit vir jou vandag oor die goedkeuring en eer van mense, sal jy alle loon eendag verbeur. Speel jy nóú vir die pawiljoene, sal jy dán bedroë daarvan afkom.
Hier is die beginsel: ek en jy moet besluit waar en wanneer ons ons loon wil hê: hier of daar, nou of dan. Die wêreld is bereid om dadelik uit te betaal. Maar as jy in die hemel belê sal jy in geloof moet wag. Maar God se Woord verseker ons dat die dividende meer as die moeite werd sal wees.
Vir seker is dit nie sonder betekenis nie dat die Woord van God in hierdie verband ‘n besondere klem laat val op die belangrikheid van materiële uitdeling. Dít is een van die uitnemende maniere om skatte in die hemel te vergader (Mt 6:19-20; Lk 12:31-33; Lk 18:22; 1Tm 6:17-19).
Daar is dus twee beleggingsalternatiewe voor ons. Die een se se dividende betaal nog in hierdie lewe uit, maar die sekuriteit is bedenklik. Die ander se sekuriteit is absoluut en die opbrengs duiselingwekkend. Maar mens moet in die geloof daarvoor wag, soms baie lank.
Ons lig en geleenthede
In die gelykenis van die waaksame slaaf, sê die Here Jesus dat die slaaf wat goed weet wat sy baas wil hê, maar dit nie doen nie, ‘n swaar straf sal kry. Daarenteen sal die een wat te wyte aan onkunde nie doen wat die baas wil hê nie, ‘n veel ligter straf kry. Hier is dus die beginsel: “Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word” (Lk 12:47-48).
Ons gesindhede
In 1Kor 9 skryf Paulus oor die feit dat hy die evangelie uit eie keuse verkondig. Daarom doen hy dit kosteloos. Hy weet immers dat die loon wat hy nou van die hand wys wel eendag in die hiernamaals aan hom uitbetaal sal word (9:14-18).
In 2Kor 9 gaan dit nogeens oor geld en ewige loon. Wie volop saai, sal volop maai. En in die besonder is dit belangrik om blymoedig en vrywillig te saai – want by uitstek is dit die uitdeler vir wie God lief is, wat Hy in hierdie lewe sal versorg, en wat eendag volop sal oes (9:6-8).
TEN SLOTTE
‘n Laaste vraag: As mens na hierdie maatstawwe kyk, is dit duidelik dat baie “Christene” nie die toets sal slaag nie. Hoe is dit dan dat Paulus, as hy oor die eindoordeel praat, soos klokslag die klem laat val op die sekerheid van beloning?
Die antwoord is eenvoudig. Sy versekeringe oor ewige loon skryf hy aan wedergebore mense. En hy weet dat die hartsverandering wat die wedergeboorte bewerkstellig, só diepgaande is dat élke wedergeborene, ten spyte van baie oorblywende gebrokenheid, tog deeglik aan die maatstawwe vir beloning voldoen.
‘n Laaste konklusie: Sien jy nou, wat die Here Jesus in ag gaan neem tydens Sy evaluering met die oog op ons ewige loon, is nie net ons dade nie, maar ook ons geleenthede; nie net wat ons was nie, maar ook wat ons kon gewees het; nie net wat ons bereik het nie, maar ook wat ons nagejaag het; nie net wat ons gedoen het nie, maar ook wat onsnagelaat het; nie net die getal van ons goeie werke nie, maar ook die gewig daarvan.
UIteindelik sal dít die vraag wees: tot watter mate was ek gelykvormig aan Sy beeld – in my hartsgesindhede en in my dade.
1. George Berry, A Dictionary of New Testament Synonyms, Zondervan, 1979, p.37. Vergelyk ook Richard Trench, Synonyms of the New Testament, Eerdmans, 1976, p.278-281 en Kenneth Wuest, Treasures from the Greek New Testament, Eerdmans, 1973, p.126-131.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier