2 Korinthiers 5:10

HÍÉROOR IS GOD SE WOORD BAIE DUIDELIK: ook diegene wat in Christus sterf, sal die eindoordeel moet deurgaan. En hulle sal aan presies dieselfde norme gemeet word as die ongelowiges. “God trek immers niemand voor nie” (Rm 2:11). Hy het nie witbroodjies nie. Hy meet nie met dubbele standaarde nie.

  In ‘n sin is die Christelike lewe hier en nou niks anders nie as die Here God se gereedmaking van Sy kinders vir daardie dag van afrekening. Hy werk nou heiligmakend só in die uitverkorenes dat nie ‘n enkele een van hulle op daardie dag verleë sal staan nie. Selfs diegene wat verwerp word  –  sélfs die duiwel  –  sal op daardie dag geen fout kan vind met die feit dat miljoene ewige loon ontvang nie. God se vyande sal moet toegee: elkeen  –  gered en ongered  –  ontvang presies in ooreenstemming met die lewe wat hy of sy in hierdie lewe gely het.

  Laat ons nooit die volle evangelie vergeet nie: Ja, ons word gered uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, en deur geloof alleen. En oor hierdie mees fundamentele kant van ons verlossing sal ons nooit kan ophou juig nie. Maar ons mag nie hier stop nie. Ons word eweneens gered tót heiligheid, goeie werke en gehoorsaamheid  –  en daarom uiteindelik ook vólgens die lewe van geregtigheid waartoe die Heilige Gees ons in staat gestel het, nadat Hy ons geroep en wederbaar het vanuit ‘n God-vermydende hartsgesteldheid en ‘n selfgesentreerde lewe. 1

DIE EINDOORDEEL HET TWEE KOMPONENTE

Eerstens praat die Skrif oor die skeiding van diegene wat gered is en diegene wat nie gered is nie  –  soos byvoorbeeld in Mt 25:31-46, waar die skape en bokke van mekaar afgekeer word. Onmiskenbaar duidelik geskied dit op grond van die lewens wat die mense geleef het (vgl. Rm 2:6-11).

Tweedens praat die Skrif van ‘n beoordeling van gelowiges se lewens met die oog op ewige loon (Mt 10:42; Mk 9:41; Lk 14:12-14; 1Kor 3:10-15; Ef 6:8; 2Jh 8). Uitdruklik verklaar 1Kor 3:15 dat die werk wat jy vir die Here doen, maar nie reg doen nie, verbrand sal word  –  maar dat jy self tog, ten spyte daarvan, gered sal word (mits, natuurlik, jy deur ‘n ware geloof met Christus verenig is).

2 KOR 5:10

Hierdie vers sny meeste van die beginsels aan wat ter sprake is as ons ‘n Bybelse perspektief op die eindoordeel wil bekom.

Die vers begin met “want” (OAV) of “immers” (NAV). Dit verduidelik dus die voorafgaande.

Ook v.9 hou verband met die voorafgaande (“Daarom”, OAV). Paulus skryf na aanleiding van die komende dood en die implikasies daarvan (1-8).

As die apostel sê hy het net een wens (NAV), naamlik om te lewe soos die Here wil, gebruik hy ‘n woord wat beteken om ambisieus te wees. Dit is dus sy brandende hartstog om in alles wat hy doen die Here te behaag.

Ons “almal” moet voor die regterstoel verskyn  –  selfs Paulus en die ander apostels. Vir een en elkeen sal daar dus ‘n dag van afrekening kom.

Ons wat in Christus is kan en moet ons verheug  in die wonder van onomkeerbare regverdiging en die sekere vooruitsig op ons komende heerlikmaking. Maar dit onthef ons nie van die gewigtige verantwoordelikheid om lewenslank en puntenerig in die lig van Christus se komende regterstoel te leef nie.

Sekerlik is dankbaarheid vir die Here se groot verlossingsdade genoegsame rede vir ‘n lewe wat dit najaag om Hom te behaag en verheerlik. Maar daar is nóg ‘n rede: my lewe hier en nou bepaal my loon, al dan nie, in die hiernamaals!

As die apostel skryf dat ons voor Christus sal “verskyn”, gebruik hy ‘n sterk woord: ons sal blootgelê word, gestroop van elke fasade van ordentlikheid  –  om totaal en volledig geopenbaar te word vir wie en wat ons was.

“Elkeen sal ontvang” volgens wat hy of sy tydens hierdie aardse lewe gedoen het. Eintlik wil die Grieks sê dat ‘n mens dit sal terug ontvang. Dit sinspeel op onpartydige en regverdige beoordeling.

Voorts bied ‘n versigtige lees van die teks nog ‘n belangrike perspektief  –  op twee maniere.

Die werkwoord “gedoen” is ‘n eenvoudige verlede tyd. Vanaf die regterstoel word dus teruggekyk op iemand se lewe as ‘n eenheid, as ‘n geheel. Dit gaan oor wat jy tipies gedoen het.

Paulus skryf, letterlik: ons sal die dinge (meervoud) terug ontvang wat in die liggaam gedoen is, of dit (enkelvoud) goed was of kwaad.

Hierdie oorgang van die meervoud na die enkelvoud is verrassend en sprekend. Wat dit wil tuisbring, is dat, hoewel niks die beoordeling sal ontglip nie (dinge, meervoud), sal ons lewens en dade as ‘n geheel beskou word (enkelvoud).

Opgesom: geen enkele daad of versuim kan met sekerheid uitwys of iemand genade ontvang het nie. Nee, al die besonderhede van ons lewens gesamentlik  –  ons tipiese gedrag  –  wys uit wie ons werklik in ons diepste wese is.

Ons lewe, nadat ons met Christus verenig is, sal dus as ‘n geheel beoordeel word  –  en dit sal nie net uitwys of ek inderdaad deur die Gees van God herskep is nie, maar dit sal ook my loon bepaal.

Die “kwaad”, wat die teendeel van “goed” is, beteken eintlik waardeloos. Dit bevestig die res van die Nuwe Testament se getuienis dat die regterstoel vir die Here se kinders nie ‘n strafbank sal wees om ‘n vonnis uit te meet nie. Nee, dis ‘n waardebepaling om uitspraak te gee oor die loon wat elke dissipel van Jesus moet kry.

Gelowiges moet die eindoordeel dus positief en vol verwagting benader, nie negatief nie.

1KORINTIËRS 3:10-15

Elke gelowige bou uiteraard op die fondament wat reeds gelê is  –  op Jesus Christus (11). Daarom is ewige redding nie hier in die gedrang nie. Wie nie op Hóm bou nie, is vanselfsprekend nie gered nie.

Maar elkeen moet oppas hóé hy bou (10b). Ons werk gaan immers “aan die lig kom”. Dis dieselfde begrip as wat ons in 2Kor 5:10 raakgeloop het: ons werk sal blootgelê word; dit sal gesien word vir presies wat dit was.

Die beeld van bouwerk word gebruik. Hóé ons bou, sal deur vuur getoets word  –  dus deur en deur. Slegs as ons kwaliteitsmateriaal gebruik, sal ons loon kry. Verbrand ons werk egter, sal ons nie beloon word nie  –  hoewel ons self gered sal word.

Dis so duidelik soos daglig: dit gaan nie hier oor ewige redding of verlorenheid nie  –  asof regverdiging in Christus voorlopig en omkeerbaar is. Nee, dit gaan oor die bepaling van loon. Wat hier beskryf word, is die prysuitdeling. Die wedloop is verby; nou moet die lourierkranse omgehang word.

VYF PUNTE VAN TOEPASSING

Sien jy die kontinuïteit, die deurlopenheid tussen hierdie lewe en die lewe hierna? 

As die graad van jou heerlikheid eendag afhang van jou getrouheid en toewyding in hierdie lewe, moet jý as persoon en individu mos bly voortbestaan. Jy sal dus jou identiteit behou  –  net soos die Here Jesus nadat Hy opgestaan het.

  In antwoord op sekere dwaalleraars wat beweer het dat ‘n ander liggaam as my huidige eendag sal opstaan, sê die ou kerkvader, Chrisostomus: “Hoe so? Sê my, sal één sondig en ‘n ander gestraf word; sal één goed doen en ‘n ander gekroon word?”

Sien jy die noodsaak van wedergeboorte? 

Wedergeboorte is ‘n hartsverandering  –  jou diepste wese word herskep. En dit alleen kan ‘n sondegevalle mens se verdorwenheid só verander dat geregtigheid die tipiese van sy lewe word.

Let op die hartsgesteldheid wat die feit van die komende regterstoel in Paulus verwek. 

Hy gaan in 2Kor 5:11 voort: “Omdat ons dan die vrees van die Here ken” (OAV). Omdat daar ‘n onontkombare wetmatigheid is, naamlik dat baie vereis word van diegene wat baie ontvang het  –  is die vooruitsig op die regterstoel vir ‘n Christen enorm gewigtig. Hoeveel het ons nie immers ontvang nie! Hoeveel ontvang ons nie steeds nie!

   Laat die volle gewig hiervan lewenslank op jou hart druk: wat ek in hierdie lewe saai, sal ek tot in alle ewigheid maai; die kwaliteit van die saad wat ek nou saai, bepaal vir ewig die kwaliteit van my loon!

Van alle mense is ons die allerlaastes wat kan kla dat ons beoordeel gaan word. 

Is ons nie herskep sodat ons heilig en godvrugtig kan lewe nie? Is God se wette nie op die tafels van ons harte gegrafeer nie? Werk die Gees van die Here nie nou só in ons dat ons eendag vir die loon kan kwalifiseer nie?

  Waarlik, niks is meer redelik as die oproepe en imperatiewe van die Nuwe Testament nie. “Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is” (Rm 12:1). “Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik” (1Kor 6:19-20).

Al is dit ék wat beloon sal word, is dit die Here alleen wat die eer daarvoor moet kry. 

In Op 4:8-11 lees ons van die vier-en-twintig ouderlinge wat hulle krone voor die troon van die Here terugplaas. Dis hulle stefanoi (Gr.), oftewel lourierkranse, simbool van die prys wat oorwinnaars in die Christelike wedloop ontvang. En dan breek hulle in ‘n wonderlike lofuiting uit: “U is waardig …”

  Waarom gee hulle hul krone terug? Omdat hulle besef dat hulle die prys en loon wat hulle vir hierdie lewe se getroue volharding ontvang het, hoegenaamd nie self verdien nie. Dit is Gód se werk in hulle wat beloon is. Was elke oorwinnaarstree van hulle wedloop nie ‘n genadegawe nie?

 Laat ons dus altyd onthou: elke stukkie godsvrug in my lewe is ten diepste die werk van Christus in my. Onthou, dis ten diepste nie ék wat gekroon gaan word nie, maar Christus in my.

Wat leer dit dan vir jou en vir my? As mens die wenpaal seëvierend wil bereik, moet jy leer om gelowig in die krag van God se Gees te leef en te werk. God gee die oorvloed van Sy gawes by die wenpaal, omdat ons in die geloof Sy gawes op die baan aangeneem het.

VOETNOTAS

1.     Omdat hierdie Bybelse beklemtoning so hemelskreiend verwaarloos word in prediking vandag, mag sekere mense geskok wees by die aanhoor of lees hiervan. In Antipas Herout no. 2 en 3 word hierdie waarheid in veel meer diepte behandel.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00