GENESIS 1:26-28
GOD HET DIE MENS NA SY BEELD GESKEP. Hierdie beeld is ernstig deur die sondeval verwring, maar nie heeltemal vernietig nie (Gn 1:26-27; 5:1; 9:6). God los dit egter nie so nie. Sy verlossing in Christus herstel die mens na Sy beeld.
Wat behels God se beeld in die mens? Die Westminster Shorter Catechism (Vr. 10) antwoord só: “God created man male and female, after His own image, in knowledge, righteousness, and holiness, with dominion over the creatures” (Ef 4:24, OAV; Kol 3:9-10, OAV).
Dis duidelik dat God se beeld ook in die geslagtelikheid van die mens te vind is – die feit dat die mens as man en vrou geskape is. “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Gn 1:27, OAV; sien ook Gn 5:1-2).
GOD SE BEELD IN ONS GESLAGTELIKHEID
Die feit dat God, toe Hy die mens na Sy beeld geskape het, nie net een persoon gemaak het nie, maar twee afsonderlike en verskillende persone – man en vrou – bring ‘n baie besondere aspek van God se beeld en wese na vore: die Drie-eenheid.
In Gen 1:26, onmiddellik voordat vertel word van die mens se skepping na God se beeld, vind ons die eerste sinspeling op die Drie-eenheid: “Toe het God gesê: ‘Kom Ons maak die mens asons verteenwoordiger, ons beeld …”.
Die mens se skepping as man en vrou vertoon die drie-enige God se beeld op minstens drie maniere: Eerstens kom dit tot uitdrukking in die man en vrou se verhouding, veral in die intimiteit binne die huwelik. Tweedens sit dit in hulle persoons- en statusgelykheid voor God. Derdens word dit gesien in hulle verskillende rolle en gesagsonderskeid.
Eerstens: Liefdesgemeenskap
Net soos daar van ewigheid af gemeenskap, kommunikasie en samewerking tussen die drie persone van die Goddelike Drie-eenheid is, so is man en vrou ook hiervoor vir mekaar gegee.
God het die mens nie geskape om ‘n geïsoleerde bestaan te voer nie. Hy is in staat tot interpersoonlike menseverhoudinge en het ‘n onversadigbare behoefte daaraan. Nooit kom dit tot intenser uitdrukking as in die verhouding tussen man en vrou in die huwelik nie – tot so ‘n mate dat hulle “een word” (Gn 2:24), fisiek, emosioneel en geestelik (Mt 19:6; 1Kor 7:3-4; Ef 5:28).
Tweedens: Statusgelykheid
Van ewig af – wat belangrikheid en goddelikheid betref – is daar volkome gelykheid tussen die drie Persone van die Goddelike Drie-eenheid. Netso is daar geen statusverskil tussen man en vrou voor hulle Skepper nie. Beide is eweveel na Sy beeld geskape; en hierdie beeld is sedert die sondeval nie in een méér verwring as in die ander nie. Tot in alle ewigheid is nie een vir Hom meer waardevol as die ander nie. Die Bybel bied dus geen grond vir enige manlike of vroulike geslagshoogmoed nie.
Hierdie statusgelykheid van mans en vrouens vereis dat hulle mekaar moet respekteer en hulle onderlinge afhanklikheid altyd onthou.
Paulus word meermale as manlike chauvinis uitgekryt. Dis ten onregte: “Tog het die Here bepaal dat die vrou nie sonder die man sal bestaan nie, en die man nie sonder die vrou nie, want soos die vrou uit die man geneem is, so kom die man deur die vrou in die wêreld …” (1Kor 11:11-12).
Statusgelykheid tussen man en vrou word onontkombaar duidelik gestel in Galasiërs: “… want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één” (3:27-28). Die apostel beklemtoon hier dat daar geen meerder- of minderwaardige kategorie mense in die gemeente is nie. Hierdie Nuwe Testamentiese gelykheidsbeginsel het ‘n rewolusie begin – waaraan vrouegelykheid in die moderne wêreld te danke is.
Derdens: Funksionele onderskeid
Terwyl daar van ewigheid af volkome gelykheid tussen die Persone van die Drie-eenheid bestaan, is daar verskille in funksie en gesag tussen hulle. Hoewel al drie Persone volkome God is, het die Vader groter gesag. Hy het ‘n leierskaprol wat die ander twee Persone nie het nie.
In feitlik alles wat in God se raadsplan gebeur, is al drie Persone betrokke. Maar sonder uitsondering het hulle verskillende rolle. Wat meer is, daar is ook ‘n onmiskenbare orde te bespeur. Die Vader is altyd die inisiatiefnemer. Dan kom lê die Seun die basis. En uiteindelik is die Heilige Gees die agent wat alles verwerklik en finaliseer. Ons sien dit in die skepping, maar veral in die herskepping.
Só het God ook funksionele en gesagsverskille tussen man en vrou daargestel. 1Kor 11:3: “Ek wil egter hê julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en =n man die hoof van sy vrou, en God die hoof van Christus.”
‘N SKEPPINGSVERORDENING
Oor die eerste twee punte hierbo is daar tans geen verskille in die kerk nie. Die derde punt is egter in die branding. Daarop konsentreer ons dan nou.
Sommige voer aan dat die rol- en gesagsonderskeid tussen man en vrou ingestel is as straf ná die sondeval – en dus in Christus opgehef word. Dis egter glashelder duidelik dat dit reeds vóór die sondeval volledig gevestig was. Dis ‘n skeppingsverordening!
Hier is meer oor te sê, maar ek beperk my tot drie aspekte wat in die Nuwe Testament weerklank vind en verband hou met vandag se kontroverse.
Adam is eerste geskep; Eva eers daarna
Hierdie skeppingsorde was uniek. Geen dier is so geskep nie. Kennelik het God ‘n spesifieke doel gehad. Dat dit onder meer te doen gehad het met ‘n rol- en gesagsonderskeid, word duidelik deur die Nuwe Testament onderstreep.
Paulus begrond sy verbod op vroulike leierskap in die gemeente hierop. Hy skryf in 1Tm 2:12-13: “Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva.”
Eva is as helper vir Adam geskep
God het Eva in die eerste instansie vir Adam gemaak, nie Adam vir Eva nie. God het gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom =n hulp maak wat by hom pas” (Gn 2:18, OAV).
Ook hierdie feit word deur die apostel gebruik as hy die noodsaak van ‘n onderskeid tussen man en vrou tydens gemeentelike aanbidding motiveer: “Die man is ook nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man” (1Kor 11:9).
Die slang het sy verleiding op Eva toegespits
Satan het geweet die vrou sou minder bestand wees teen sy versoeking. God het haar nie geskape om in die voorste loopgrawe te veg nie. Sy is by uitnemendheid toegerus vir ‘n ondersteuningsrol.
Paulus skryf, as hy die vrou van lering en regering in die gemeente uitsluit: “Dit is ook nie Adam wat verlei is nie, dit is die vrou wat haar laat verlei het en die gebod oortree het.” (1Tm 2:14).
ONS BEPERK ONS TOT TWEE IMPLIKASIES
Die skepping van man en vrou na God se beeld, is ‘n hoeksteenbeginsel in die huwelik.
As die huwelik daarin slaag om die drie pilare – gemeenskap, gelykheid en funksionele onderskeid – in jukstaposisie te hou, is dit een van God se wonderlikste gawes aan die mens. En as afskynsel van Sy wese, verheerlik dit Hom uitnemend.
Die sondeval het egter hierdie God-verheerlikende instelling ernstig beskadig. En deur die geskiedenis het min dinge meer pyn vir miljoene der miljoene gebring, as juis huwelike wat hierdie skeppingsverordening geweld aangedoen het.
Verlossing in Christus bring egter ‘n opheffing van die vloek en ‘n terugkeer na die oorspronklike ordes mee. In plaas van naywer en rebellie, word die vrou in Christus beveel om haar man in blymoedige en lojale onderwerping te steun (Ef 5:22-24; Kol 3:18; 1Pt 3:1-6). In plaas van gevoellose onderdrukking, word die man in Christus opgeroep tot liefdevolle en koesterende regering in die huwelik (Ef 5:25-33; Kol 3:19; 1Pt 3:7). So word die Christelike huwelik nie net ‘n afskynsel van die Goddelike Drie-eenheid nie, maar ook van die verhouding tussen Christus en Sy gemeente.
Maar nooit mag ons die man se hoofskap beklemtoon, sonder om óók te onthou dat man en vrou “mede-erfgename van die genade van die lewe is” nie (1Pt 3:7, OAV).
Hierdie skeppingsverordening is die diepste rede waarom die Nuwe Testament nie die vrou toelaat om in die gemeente te regeer nie.
Gaan jy oppervlakkig met die Nuwe Testament om, lyk dit asof Paulus homself weerspreek: enersyds beklemtoon hy die gelykheid tussen man en vrou in die gemeente (Gl 3:26-29); andersyds maak hy baie van die verskille tussen hulle (1Kor 11:2-16). En hy lê hy ‘n swyggebod op die vrou in gemeentelike byeenkomste (1Kor 14:34-36; 1Tm 2:9-15).
Maar Paulus weerspreek homself allermins. Hy verstaan gewoon die fundamentele beginsel waarna ons tans kyk. Hy weet hoe lewensbelangrik God se skeppingsverordeninge is. En dis uiters betekenisvol dat hy hom soos klokslag hierop – en net hierop – beroep as hy oor hierdie kwessie skryf!
Waarin lê die funksionele verskil tussen man en vrou in die gemeente? Die vrou is ‘n volwaardige lidmaat, en mag aan alles deelneem – behalwe om in die gemeente te regeer. Dit geld in die besonder amptelike en formele Woordverkondiging. Dis immers ‘n kragtige regeringsinstrument.
Let op dat regering ál is waarvan die apostels die vrou uitgesluit het. Sy kon profeteer, bid en lering gee vir jonger vrouens – en sekerlik ook vir kinders (1Kor 11:5; Tit 2:3-5).
SLOT
Al die skeppingsverordeninge is van lewensbelang. Die kerk wat daarvan afwyk, betaal mettertyd ‘n baie, baie duur prys.
Laat ons dit nie miskyk nie dat die geïnspireerde apostel hom konsekwent op die situasie vóór die sondeval beroep as hy die vrou daarvan weerhou om in die gemeente te regeer. Hiermee beklemtoon hy dat sy voorskrifte nie kultuurbepaald is nie, maar dat hy werk met ‘n ewige en universele beginsel.
God is besig om Sy beeld in Sy gemeente te herstel – in individue, maar in die besonder ook korporatief. Hieraan moet ons met alles in ons vermoë meewerk. Dis ons voorreg, maar ook ons hoë en verhewe roeping. Daarom is die aftakeling van die rol- en gesagsonderskeid tussen man en vrou in die kerk nie maar bloot ‘n kwessie van kulturele aanpassing nie. Nee, dis lynreg in stryd met God se skeppingsordes en wil – en dus ‘n ernstige sonde!
Waarlik, die kerk wat met betrekking tot hierdie sake wegbreek van die pad van die historiese Christelike geloof, loop ‘n wesentlike gevaar om die geloof mettertyd heeltemal te versaak. Om die skeppingsverordeninge van God geweld aan te doen, is immers geen geringe saak nie!
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier