MARKUS 15:34
VERLEDE SONDAG, TOE ONS NA HIERDIE VIERDE KRUISWOORD GEKYK HET, het ons nie eintlik aandag gegee aan die leerstellige en praktiese uitvloeisels daarvan nie.
Kom ons kyk nou na enkele implikasies.
IN DIE HERE JESUS SE BENOUDHEIDSKREET SIEN ONS DIE VERSKRIKLIKHEID VAN SONDE.
Waar was daar ooit soveel haat saamgetrek op een plek soos daar op Golgota?
Waar sien jy die mens se weersin in God meer as hier? Die skepsel vermoor sy Skepper!
Goed, miskien besef die mense nie dat hulle met die Seun van God te doen het nie. Maar was Sy persoon en leer en lewe onder hulle nie deurgaans deurtrek van Godsteenwoordigheid nie? Het Hy nie dag in en dag uit die liefde van God in hulle midde uitgeleef soos niemand voor of na Hom nie? Het Hy nie oor en oor, op allerlei wyses, vir hulle gesê wie Hy is en wie Hy verteenwoordig nie?
Maar hulle kies Barabbas. En hulle nageslag dompel hulle in die uiterste ellende. In hulle waansinnige haat en woede skreeu hulle: “Laat Sy bloed op ons en ons kinders kom!”
Sonder twyfel is ook die Duiwel baie aktief op Golgota. En hierdie vierde kruiswoord is die mooiste woorde wat hy ooit gehoor het. Om te dink dat hy destyds in die paradys gedink het dat daar geen groter triomf as die sondeval kan wees nie!
Maar terwyl hy sy hande selfvoldaan vryf, word sy lot onomkeerbaar en finaal verseël!
Die volk en die duiwel se haat is egter niks in vergelyking met ‘n ander haat nie – ‘n haat wat die Golgota-gebeure van A tot Z beheers. En niks beklemtoon hierdie haat soos die vierde kruiswoord nie. Ons praat van Gód se haat vir sonde.
Só vasbeslote is die Vader dat geen, maar géén sonde ongestraf sal bly nie, dat Sy innig-geliefde Seun plaasvervangend moet instaan vir die uitverkorenes. Daar is geen ander manier om hierdie begenadigdes te red nie, want nie ‘n kriesel van hulle sondeskuld sal onder die mat ingevee word nie. Elke onsuiwer motief, elke onbedagsame woord, elke selfsugtige daad van ‘n honderd miljoen lewens, of baie meer, sal ten volle gestraf word.
Hierdie vierde kruiswoord is ‘n bloedstollende gil vanuit die diepste dieptes van die hel!
O, as ons maar méér kan verstaan van hierdie Godshaat vir sonde! As ons maar ‘n dieper insig kan verkry in die helse smarte wat God se geliefde Seun in ons plek moes verduur! ‘n Beter antidoot teen ‘n geflankeerdery met sonde is daar nie. As dít die prys is vir my verlossing, móét ek mos elke dag bid dat God my heilig sal maak soos Hy heilig is.
Daarenteen, kan daar iets méér veragteliks wees as om God te aanbid terwyl jy sonde soos ‘n suiglekker in jou kies rondrol?
IN JESUS SE BENOUDHEIDSKREET SIEN ONS DIE VERSKRIKLIKE LOT VAN DIEGENE WAT OP EIE MERIETE DIE EWIGHEID BINNEGAAN.
Dis duidelik soos daglig: As God Sy geliefde Seun nie gespaar het nie, sal hy jou en my laat wegkom as ons Sy genade-uitnodigings en bekeringsbevele in die wind slaan? As die Seun so volkome deur die Vader verlaat is toe Hy sonde vir ons geword het, sal ek en jy vir altyd kan voortgaan om in die sonskyn van God se genadeguns te bak terwyl ons hand om die lyf loop met opinies en gesindhede en praktyke wat God haat? (Hb 12:14).
Nee, nee! Moenie die verleiers glo wat – deur wat hulle sê, of nie sê nie – aan jou suggereer dat alles uiteindelik vir almal goed sal uitwerk nie. Helaas, hoeveel kansels is nog bereid om oor die verskrikkinge van God se ewige oordeel te praat? Ek kan hierdie huiwering verstaan. In ons mensgesentreerde wêreld is mense skaam vir ‘n God van toorn. En dis mos lekker om ‘n goedvoel-tyding te bring: Sing, sing stap ons hand aan hand, almal saam na die ewige heil van glimlagland!
Maar ek durf nie so ‘n eensydige boodskap preek nie. My Koning het nie so ‘n boodskap gepreek nie! Trouens, niemand in die Bybel het so dikwels teen die ewige verdoemenis gewaarsku as Hy nie. En wie het beter geweet as Hy?
Nee, daar is maar één manier om gered te word van dit wat jy deur en deur verdien – deur beklee te word met Christus se geregtigheid. En dit kom net wanneer ek en jy ons volle vertroue vir tyd en ewigheid in Sy verdienste alleen plaas.
Maar wat dan van die gehoorsaamheid en heiligmaking wat ek hierbo aangevoer het as noodsaaklik vir redding? Die antwoord is eenvoudig, maar diepsinnig: nooit maar nooit sal God iemand regverdig verklaar sonder om daarna ook heiligmakend in hom of haar te werk nie. Dis omdat beide elemente van die reddingsproses sonder uitsondering voortspruit uit die herskeppende wonder van die wedergeboorte wat dit voorafgaan.
IN DIE HERE JESUS SE BENOUDHEIDSKREET HOOR ONS ‘N ONONTKOMBARE ROEPING TOT DANKBAARHEID EN GEHOORSAAMHEID.
Lees mens die Nuwe Testament, kom jy gou-gou onder die indruk dat niks vir Jesus belangriker was as Sy kruiswerk nie. Ja, in Sy liefde moes Hy baie vreugde geput het uit Sy goeie werke, wat vir soveel duisende lewensverligting gebring het. En as God se groot profeet, was dit vir Hom baie belangrik om onvermoeid die mense te leer. Maar in die eerste instansie het Hy as Verlosser gekom. Hy sou nooit tevrede gewees het om bloot welriekende pleisters oor stinkende wonde te plak nie. Nee, Hy het gekom om ewige en volmaakte verlossing vir dermiljoene te bewerkstellig. En dit kon net aan die kruis gebeur.Jesus het gelewe om te sterf!
As Sy versoeningsdood dan die Here Jesus se allererns was, en as die dieptepunt daarvan hierdie vierde kruiswoord was – hoedanig moet óns erns dan nie wees om die implikasies daarvan te omhels en uit te leef nie? Hoe hemelskreiend selfgesentreerd is dit nie om fluit-fluit verby dit te huppel nie? Waarlik, as jy jouself ‘n Christen noem, moet jy besef dat waarhede soos hierdie enorme verantwoordelikhede op jou stapel!
Dis nie dat ons kan of moet probeer vergoed nie. Genade kan ons nooit in die skuld by God dompel nie. Dit sou impliseer dat ons moet terugbetaal. Maar dan is dit nie meer genade nie. Genade is per definisie guns wat betoon word aan iemand wat magteloos is om enige kompensasie te betaal. Nee, Christus is óf ‘n sondaar se volkome alleen-Redder, óf glad nie. Hy deel Sy eer met niemand nie!
Tog is daar so iets soos integriteit en dankbaarheid. As Hý so ‘n prys betaal het om my van die ewige verdoemenis te red – dan is dit mos krimineel as ek nie my hele lewe wy aan die bevordering van Sy eer nie.
Nog meer, dis so voor die hand liggend dat mens dit beswaarlik wil noem: tot die mate wat ek hierdie waarhede begryp en aangryp, en tot die mate wat ek dit na waarde skat – tot daardie mate sal dit my lewe beheers.
CHRISTUS WAS VERLATE SODAT ONS WAT MET HOM VERENIG IS NOOIT WEER IN DIE ABSOLUTE SIN VERLATE HOEF TE WEES NIE
Tot ‘n mindere of meerdere mate ken elkeen van ons eensaamheid en verwerping. En dis veral in sulke tye dat mens stewig in die geloof daaraan moet vashou dat jy nie van Gód verlate is nie. Die grondoorsaak en rede daarvoor sit in hierdie vierde kruiswoord. Omdat Christus van God verlate was, sal diegene wat deur ‘n ware geloof met Hom verenig is tot in ewigheid nooit weer in die absolute sin van die woord alleen wees nie. Waarom nie?
Kort na die Here Jesus se benoudheidskreet van verlatenheid, het Hy triomferend uitgeroep: “Dit is volbring!” (Jh 19:30). Dit is die vertaling van ‘n enkele Griekse woord wat vir elke Christen onbeskryflik kosbaar is: tetelestai. Dis ‘n woord wat uit die handelswêreld gekom het. As iemand geld geskuld het, en uiteindelik sy verpligting finaal nagekom het, het die skuldeiser hierdie woord dwarsoor die rekeningstaat geskryf – met die betekenis: die skuld is ten volle vereffen! So ‘n gekanselleerde staat het dan as kwitasie gedien.
Dis wat Jesus hier met Sy sesde kruiswoord uitroep. Al die sondeskuld van diegene vir wie Hy hier plaasvervangend ly, is afbetaal. Daar is niks uitstaande nie! Daar is geen skuld meer nie!
Dit beteken dat daar niks, maar niks meer in die pad staan van volkome gemeenskap tussen God en diegene in Christus nie. Want dis sonde wat skeiding maak tussen die Here en sondaars (Jes 59:2). Van God verlate hóéf ons dus nooit te wees nie. Trouens, in beginsel kán dit nooit weer gebeur nie – want al ons sondeskuld, elke kriesel daarvan, is betaal. In God se boeke het ons wat gereverdig is, die status van mense wat nooit gesondig het nie.
Tog voel mens wel soms van God verlate, nie waar nie. Dan kan jy nie sonder meer sê so ‘n gevoel is áltyd die gevolg van sonde nie. Want soms beproef die Here ons geloof deur die belewing van Sy teenwoordigheid op te skort. Baie dikwels is dit egter wel die gevolg van sonde – al is dit net die sonde van kleingeloof. Maar dan hoef mens net die sonde in opregtheid te bely, en die belewing van gemeenskap met die Here word gou-gou herstel.
Dis soos ‘n man en ‘n vrou wat ‘n uitval het. Hulle is dan skaamkwaad en ongemaklik in mekaar se geselskap. Maar hulle blý getroud. En al wat nodig is om die genot van hulle liefdesverhouding te herstel, is die selfvernedering van apologie.
JESUS SE ANTWOORD OP SY VRAAG
Die Here se wanhoopskreet was ‘n vraag. Toe Hy in paradys aankom, was die eggos daarvan dalk nog hoorbaar. Het Hy ‘n antwoord daarop gekry? Wat tref Hy in die hemel aan? Ek kan my indink: ontelbaar baie Ou Testamentiese heiliges met feesbaniere langs die strate wat Hom vol dankbare blydskap verwelkom. Hy het hulle verlossing so pas gefinaliseer. Ja, ook hulle is soos Abraham deur die geloof alleen geregverdig. Tog sê die Skrif dat hulle sondes tydens die ou bedeling “tydelik ongestraf” gebly het (Rm 3:25). Dit moes wag vir Christus om die straf te kom dra – om God se toorn te bevredig.
Om ook húlle verlossing eens en vir altyd tot afronding te bring, moes Hy van God verlate wees!
Maar, natuurlik, dit gaan oor meer. Dit gaan oor ons almal – God se uitverkorenes van sowel Ou as Nuwe Verbond.
Die einste Psalm wat Jesus in Sy vierde kruiswoord aanhaal (Ps 22:2), sluit wonderlik vertroostend af. Verse 23-32 beskryf die ewige sekuriteit en aanbiddingsvreugde van diegene wat Hy aan die kruis losgekoop het. Hoe weet ek dit?
Die laaste woord van die Psalm gee die geheim weg. Dis ‘n enkele Hebreeuse woord: “Hy het dit gedoen!” En dan kom die Septuaginta, die Griekse vertaling van die Ou Testament, en vertaal die Hebreeus met ‘n enkele Griekse woord: tetelestai!