MARKUS 15:34

DIS BELANGRIK OM TE ONTHOU dat Jesus Christus dwarsdeur die tyd van Sy vernedering gely het  –  van die oomblik van Sy ontvangenis af. Maar sonder twyfel het dit toegeneem in intensiteit soos Sy lewe gevorder het.

Uiteindelik lees mens die beskrywing van Sy ure in die tuin van Getsemane. Wie van ons kan begin verstaan wat daar gebeur het? Maar terselfdertyd moet mens sê, wat was dit in vergelyking met Golgota? As Getsemane vooruitsig was, hoe moes Golgota se werklikheid nie gewees het nie?

DIE KRUISWOORDE

Daar was sewe kruiswoorde in totaal. Hulle is versprei deur al vier evangelies. Net Markus en Matteus bevat hierdie vierde een  –  ons teks.

In die eerste drie kruiswoorde gaan dit oor die belange van die omstanders.

Eerstens doen Jesus voorbidding vir sondaars  –  in hierdie geval Sy teregstellers: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Lk 23:34). Betekenisvol is dat die Griekse werkwoord sê Hy het aanmekaar so gebid (Gr. Imperfektum).

Tweedens gee Hy ‘n wonderlike belofte vol troos vir ‘n sondaar wat homself verootmoedig  –  ‘n misdadiger wat saam met Hom gekruisig word: “Ek verseker jou: vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Lk 23:43).

Derdens sien Hy om na die belange van Sy moeder, Maria, deur haar en Johannes aan mekaar toe te vertrou: “Daar is u seun … Daar is jou moeder” (Jh 19:26-27).

Oënskynlik volg daar dan ‘n lang periode van stilte  –  dit kan so lank soos drie uur wees  –  voordat die laaste vier kruiswoorde uitgespreek word, kort na mekaar. Nou gaan dit oor die Here Jesus se lyding en Sy verhouding met Sy Vader. Ons teks word gevolg deur drie kort sinnetjies: “Ek is dors (Jh 19:28) … Dit is volbring (Jh 19:30) … Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” (Lk 23:46).

Dat die Here nou met Homself en Sy hemelse Vader besig is, is natuurlik en tipies. As ‘n sterwende al sy aardse belange afgehandel het, draai hy by wyse van spreke sy gesig na die muur toe om die dood tegemoet te gaan, en om met God alleen besig te wees.

‘N MERKWAARDIGE GEBEURTENIS

Die kruisiging van Christus is sekerlik die mees uitsonderlike gebeurtenis in die geskiedenis van hierdie wêreld  –  die skepsel maak sy Skepper dood! En die uitroep waarna ons kyk, is die dieptepunt en mees verstommende van hierdie ontsettende gebeurtenis  –  die ewige en onuitspreeklik wonderlike gemeenskap tussen die eerste en tweede Persone van die Goddelike Drie-eenheid word verbreek!

Dat onskuldiges veroordeel word en dat die een wat goed doen deur sy begunstigdes vermoor word, is sekerlik niks nuuts in die geskiedenis van die wêreld nie. Dit het al begin toe die vrome Abel deur sy broer vermoor is. Maar Hy wat aan die kruis gehang het, was geen gewone mens nie  –  Hy was die volkome en die volmaakte mens! Alle ander mense wat deur hulle vervolgers tereggestel is, het talle foute gehad. Niemand se saak is immers waterdig nie. Maar van hierdie Een het selfs ‘n heidense regter gesê: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie” (Lk 23:4)!

Maar dis nie al nie. Nog meer verstommend is die feit dat híérdie tereggestelde nie net ‘n volmaakte mens is nie  –  Hy is die Seun van God en God die Seun!

As ons nie kan begryp dat God die Seun Homself aan so iets onderwerp nie, wat sal ons sê van die Bybelse openbaring dat dit God die Vader was wat Sy Seun oorgegee het om so ‘n skandelike dood te sterf? En presies dit is wat die Skrif leer.

DIE VIERDE KRUISWOORD

Dis reeds vir 3 uur donker. Nou is dit die negende uur, oftewel drie-uur die middag. Dis ‘n middag-middernag. Jesus is sterwende. “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?  –  My God, my God, waarom het U My verlaat?”.

Wat het deur Jesus se gemoed gegaan tydens daardie 3 uur van stilte in die duisternis? Beleef Hy dalk ekstatiese gemeenskap met Sy Hemelse Vader? Dit sou tipies wees van ‘n sterwende gelowige. Het baie van ons dit nie al langs die sterfbed van ‘n heilige gesien nie? Hoeveel martelare was nie al so weggeruk in hemelse vervoering dat hulle midde-in ‘n vlammesee staan en sing het nie?

Maar so was dit nie in ons Here Jesus se geval nie! Inteendeel.

Die rou kreet van benoudheid waarmee Hy die stilte verbreek, is uitdrukking van dit wat Hy in die voorafgaande ure van duisternis beleef het.

Psalm 22:2, die Messiaanse profesie van ‘n duisend jaar vantevore, waar hierdie woorde net so geskryf staan, sê dit was soos ‘n “gebrul” (OAV). Die Hebreeuse woord dui op die roggelende gebrul van ‘n dier in sterwensangs. Nooit was daar ‘n uitroep soos dié in die geskiedenis nie; nooit sal daar ooit weer só ‘n gil wees nie. Dis nie net nóg ‘n mens wat hier sterf nie  –  dis die ewige en enigste Seun van God!

En die Vader stuur nie ‘n engel om Hom te versterk nie. Hy doen nie ‘n wonderwerk en haal Hom dramaties van die kruis af nie. Hy laat Hom eenvoudig oor aan Sy lot. Vir die eerste maal in die ewigheid is daar tussen Vader en Seun geen gemeenskap nie. Jesus is alleen, alleen, alleen!

Want tot in der ewigheid sal God met sonde geen gemeenskap hê nie!

Wat ons moet verstaan, is dat Jesus se lyding nie bloot Sy eie belewing is nie. Nee, Sy geskeidenheid van God is werklik. God het Hom regtig verlaat.

Die Here Jesus is hier die vervulling van dit wat ‘n duisendvyfhonderd Groot Versoendae geprofeteer het (Lev 16). Hy vervul dit waarvan onder meer die twee bokke gespreek het  –  die bok “vir die Here” wat met vuur verbrand is, en die bok “vir Asasel” wat met die volk se sonde op hom die woestyn ingejaag is om daar alleen en verdwaald van honger, dors en ontbering om te kom.

Jesus ondergaan hier die marteling van ‘n doemeling. God handel met Hom, nie soos ‘n liefdevolle vader met sy seun nie, maar soos ‘n gekrenkte en regverdige regter met ‘n misdadiger. Dis miljoene se sonde wat Jesus hier vergruis. Dis die bliksemstrale van God se heilige toorn wat meedoënloos, een na die ander, op Hom inbrand! Dis die ewige verdoemenisse van miljoene begenadigdes wat op Hóm gestapel is en Hom verbrysel. En Hy is alleen, alleen, alleen!

“Maar is dit regverdig?”, vra jy. “Was Hy nie in hierdie oomblikke juis by uitnemendheid gehoorsaam aan Sy Vader nie? Is dit nie juis waarvoor Hy gekom het nie?” Presies dit is die punt. Hy het ons sonde op Hom geneem sodat die Vader dit aan Hom kon straf. Só bevredig Hy die onkreukbare geregtigheid van God. Wat ons hier sien, is hoe Hy elke stukkie sondeskuld van elke uitverkorene deur die ganse geskiedenis betaal!

DIE KRUISWOORD WOORD VIR WOORD

“My God, my God”. In die eerste en laaste kruiswoord praat Jesus met God as Sy “Vader”. Maar hier noem Hy Hom net “God”. Is dit omdat die band van intimiteit tussen hulle verbreek is?

Die Aramese Godsnaam wat die Here Jesus waarskynlik hier gebruik, is “El”. Dis die basiese Godsnaam en kom van die stam “om sterk te wees”. Dit dui dus op God as die almagtige. Die band tussen Vader en Seun word dus nie verbreek omdat die Vader nie meer Sy gefolterde Seun kan vashou nie. Nee, wat hier gebeur, is presies wat reeds in die ewigheid voor die skepping tussen die drie Persone van die Goddelike Drie-eenheid besluit is  –  dit wat die verlossingsverbond vasgemaak het.

“Waarom?”. Wat tog is die rede dat God Sy enigste Seun nou verlaat  –  hier in Sy uur van grootste nood? Hy het tog geen aanleiding daartoe gegee nie. Was Hy nie in alles deurgaans getrou en gehoorsaam nie? Waarom? Waarom? Waarom?

Natuurlik weet Jesus presies wat aan die gang is. Maar hier sien ons Hom in Sy menslike swakheid.

“Het”. Dis verlede tyd; dit het reeds gebeur. Hier is nie bloot ‘n dreigende vooruitsig nie. Nee, dis reeds ‘n voldonge feit! Dis die verskriklikste oomblik in God se ewigheid!

“U”. Was die klem in die sin dalk op hierdie woord? Dis asof Jesus wil sê: “Ek ken verwerping. My broers het My vroeg-vroeg reeds verwerp  –  soos Josef se broers hom nie kon verduur nie. My eie mense in Nasaret het My verwerp; trouens, hulle wou My selfs vermoor. My volk het My die rug toegekeer. Meeste van My volgelinge het aanstoot aan My geneem. Judas het My verraai. Petrus het My verloën. En die res van My dissipels het gevlug.”

“Dit alles kon Ek verduur  –  want Ek het U gehad. Dis waarom ek in die bovertrek kon sê: ‘Kyk, daar kom =n tyd, en dit is nou al hier, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen sy eie koers in, en dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is'” (Jh 16:32).

“Maar nou  –  nou, Vader, het Ú My ook verlaat!”

“My”. Of is die klem dalk op híérdie kort woordjie? Dan is dit ‘n roep tot die Vader: “Die mens is die kroon van U skepping, maar hy het in sonde geval. Daarom is alle mense sondig. Dat U dus die mens verwerp, is verstaanbaar, tewens, onvermydelik. Maar Ék is die tweede mens, die laaste Adam. En het Ek nie die werkverbond volkome gehou nie? Was Ek nie elke oomblik van elke dag in optrede, woord en gedagte volmaak gehoorsaam aan U nie? Het U nie van My gesê nie, Dit is My geliefde Seun in Wie Ek ‘n behae het?Waarom, waarom verlaat U Mý?”

“Verlaat”. Was die Vader en die Seun nie van altyd af sielsgenote nie? Was die eenheid tussen hulle, en die liefde, en die onderlinge behae, en die intieme gemeenskap, nie meer en dieper as wat mensewoorde kan uitdruk nie? Was dit nie van alle ewigheid af so nie? Maar nóú, as die Seun Sy Vader se bystand en gemeenskap oënskynlik nodiger het as ooit, is Hy skielik alleen. Die Vader is net weg! Waarom? Waarom? Waarom?

TEN SLOTTE

Jy weet mos waarom. Dis om dermiljoene sondaars, wat hulle volle vertroue in Hom alleen stel, van God se toorn te red  –  dieselfde toorn waarna ons so pas gekyk het. Is jy een van diesulkes? Is jy?

Kan iets meer gepas wees op hierdie punt, as ‘n paar minute van stil, persoonlike gebed? Soms  –  nee, dikwels  –  moet mens niks doen nie, net bid.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00