1 TIMOTHEUS 1:15
KOOK MENS DIE EVANGELIE AF TOTDAT JY HOM NIE VERDER KAN AFKOOK NIE – dus tot sy mees gekonsentreerde ekstrak – bly daar net drie woorde oor. En só belangrik is elkeen van hierdie woorde, dat, as jy enige een daarvan weggooi, of selfs net effens dokter of verwater, sit jy met iets minder as die evangelie. En enige evangelie wat minder is as die ware Jakob, is ‘n sielsvernietigende basterevangelie, ‘n “ander evangelie” (Gl 1:6-10). So ‘n evangelie kan niemand red nie; trouens, “ander evangelies” is deur die eeue die oorsaak van ontelbaar baie se ewige verdoemenis.
Wat is hierdie ondeelbare hart van die evangelie, hierdie drie woorde? God red sondaars!
Presies dit is wat ons teks sê: “Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos” (1 Tm 1:15). Rm 5:8 dra dieselfde idee: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”
Kom ons kyk nader na hierdie drie woorde.
WIE HET LIEF? GOD DRIE-ENIG!
Omdat die Drie-enige God is wie Hy is, is Sy reddende liefde iets wonderliks. Dis uniek en volmaak.
Dit is Christosentries. Geen sondaar word ooit ánders gered as op grond van Christus se verdienste nie. Hieroor is die Woord van God vlymskerp duidelik (Jh 14:6; Hd 4:12; 1 Tm 2:5).
Ewe belangrik is die Nuwe Testamentiese aandrang dat Christus óf alleen-redder is, óf glad nie. Die inroer van selfs net ‘n mespunt vertroue in eie verdienste of seremoniële godsdienstigheid, is diskwalifiserend (vgl. Gl 5:2-4).
Dit is geestelik. Die Heilige Gees is as ‘t ware die Koerier wat God se liefde kom aflewer. En Hy hou dit in stand. Sonder Sy oortuigende (Jh 16:7-11), wederbarende (Jh 3:5-8; Tit 3:5) en verligtende werk (1Kor 2:10-16) kan niemand reddend met Christus verenig word of bly nie.
Dit is ewig. Dit strek vanuit die ewige verlede, dwarsdeur die tyd, tot in die ewige toekoms in. Voor die skepping al het God Sy geliefdes uitgekies. En Hyself dra hulle deur tot en met die volmaaktheid (Jh 6:35-40; Rm 8:28-30; Ef 1:4; 2Tm 1:9; 1Pt 1:20; Op 13:8; 17:8).
Dit is soewerein. As Skepper is God die onbetwisbare Eienaar van alles en almal. Wie kan Sy reg bevraagteken om Sy liefde uit te stort soos en op wie Hy wil? (Rm 9:6-29).
Dit is onvoorwaardelik en onverdiend. Dit word geensins ontlok of bepaal deur enige verdienste in enige persoon wat dit ontvang nie (Hd 13:48; Rm 9:11-13, 16; 10:20; 1Kor 1:27-29; Ef 2:8; Fl 2:12-13; 2Tm 1:9).
Dit is persoonlik. Dit is op spesifieke mense gerig (Jh 6:39; 10:27-30; 17: 2, 6, 9, 24; Hd 13:48; 18:9-10; Op 13:8; 17:8).
Dit is korporatief. Die ware kerk is gesamentlik, as ‘n organiese geheel, die bruid van Christus (2Kor 11:2; Ef 5:25-27; Op 19:7-9; 21:2).
Dit is universeel. Die Here se geliefdes kom vanuit elke nasie, stam, volk en taal (Op 5:9; 7:9).
Dit is histories. Hierdie bemindes kom vanuit al die eeue. Elke geslag sal verteenwoordig wees tydens die bruilofsmaal van die Lam.
VIR WIE HET GOD LIEF? SONDAARS!
As God dan nie alle mense reddend liefhet nie – dermiljoene sterf immers in hulle sonde – ontstaan die vraag: wie is die bemindes dan? Op wie lê God se verlossingsliefde beslag? Watter soort mense word deur Hom oorrompel?
Die Bybel antwoord klokhelder: God red sóndaars – ás sondaars – ten spyte van wie en wat hulle is, of nie is nie! Hy het lewende dooies lief – mislukkings in terme van Sy volmaakte standaarde, rebelle teen Sy Wet, mense wat magteloos is om hulle ewige lot te verander.
Dis ‘n moeilike les, maar ons móét dit leer.
Dit beteken dat God se liefde op niemand beslag lê – omdat hy of sy iets is nie. Nooit is redding te danke aan iets in die sondaar self nie. Mense word dus nie gered omdat hulle hul bes probeer nie; of omdat hulle beter vaar as ander nie. Opvoeding, rykdom, geleerdheid, begaafdheid en skoonheid speel geen rol nie. Niemand is ‘n voorwerp van God se besondere liefde omdat hy godsdienstig, of ‘n kerkganger, of ‘n tiendegeeër is nie. Ewemin is sondebelydenis, of vroomheid, of uitkniel, of restitusie ‘n kwalifikasie. God red nie mense omdat hulle hul laat doop, of siekes verpleeg, of armes kos gee, of sendingwerk doen nie. Selfs is die aanroep van die Here of die grootste geloof nooit ‘n grond vir redding nie.
Andersom gestel: God het sondaars lief ten spyte van wie of wat hulle is. Hy red skuldiges, ellendiges, vuiles, mislukkings, uitvaagsels en patete. Hy red uitsigloses, moedeloses, koersloses, hulpeloses, hopeloses. Christus het gekom vir blindes, lammes, kreupeles, dowes, stommes. God red oortreders van Sy Wet, mislukkings i.t.v. Sy standaarde: godloënaars, afgodsdienaars, lasteraars, sabbatsbrekers, ouer-veragters, moordenaars, onsedelikes en egbrekers, diewe, leuenaars, hebsugtiges. Hy red geestelik-dooies, vleeslikes, wêreldgelykvormiges, satanbeheerdes, mense onder Sy toorn, op pad na die hel.
In hierdie verband moet ‘n lewensbelangrike waarheid beklemtoon word – soveel te meer omdat dit so dikwels verwaarloos word: God red nie net sondaars as sondaars nie; Hy red slégs sondaars wat weet dat hulle sondaars is en dit bely sonder om doekies om te draai.
Dit is wat die Here bedoel as Hy sê dat Hy net vir sondaars gekom het (Lk 18:9-14; 19:10; Mk 2:17, OAV). Een van die Jode se grootste probleme was hulle godsdienstige selfvoldaanheid. Dit het hulle doof gemaak vir die evangelie.
Waarom is dit so? Sonder ware sondebesef is Christus se versoeningswerk net van akademiese belang. Uiters kan dit tot ‘n kunsmatige geloof lei.
Nog belangriker: God red sondaars ten einde Homself te verheerlik. En dis tog duidelik dat Sy eer gedien word as ek werklik verstaan hoe afhanklik ek van Sy genade is – iets wat sonder sondebesef net nie moontlik is nie.
HOE KOM GOD SE LIEFDE TOT UITDRUKKING? IN REDDING!
Wat gebeur met ‘n sondaar as God se besondere liefde op hom of haar beslag lê? Hy (of sy) begin iets van God se heilige geregtigheid sien. Dan sien hy homself as ‘n verwerplike sondaar. En uiteindelik sien hy dan vir Christus as enigste oplossing vir sy verskriklike dilemma.
Dit lei dan noodwendig daartoe dat hy vanuit sy geestelike bankrotskap die Here Jesus as Verlosser en Koning omhels. Soos ‘n drenkeling bly hy dan aan Hom hang vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid. En met ferm tred neem hy dag na dag die kruis van gehoorsaamheid op.
Hy begin sy sonde haat en vlug gevolglik daarvoor. Om meer en meer soos Jesus te word, raak sy hoogste ambisie. Geleidelik neem die patrone van godsvrug gestalte in sy lewe aan.
Sy broers en susters begin uitstaan asof hulle neonkleurig geverf is. Nêrens is hy méér tuis as tussen medegeliefdes van die Here nie.
Les bes volhard hy jaar in en jaar uit teen die begeertes van sy vlees, die suigkragte van die wêreld en die aanslae van die Duiwel.
En hoe langer die stryd voortduur, hoe meer besef hy sy totale afhanklikheid van ‘n Middelaar. Hy skuil dus al hoe dieper in Christus.
IS JY ‘N VOORWERP VAN GOD SE BESONDERE LIEFDE?
Eintlik kan jy net een van twee antwoorde op hierdie brandende vraag gee: ‘Ja!’ of ‘Onseker!
Sommige sal protesteer:
Party is uitsigloos: “Ek is in ‘n patetiese toestand – gewis sonder God en sonder hoop!”
Dit sê niks nie. Ál die geliefdes is nog nie ingebring nie. Wie weet, dalk is jou hartoorplanting net om die draai.
In elk geval, is daar nie talle Bybelse uitnodigings aan sondaars om in die Here se liefdevolle arms in te hardloop nie. Waarom huiwer jy? Wie se skuld is dit dat jy nog sonder God is? Al struikelblok is jou eie ongehoorsaamheid, onwilligheid en ongeloof. Jy en jy alleen dra die skuld vir jou toestand, nie waar nie?
Ander is verhard: “Ek stel nie belang nie!”
Wel, as God se liefde kom – kóm dit! Een oomblik is jy ‘n halsstarrige rebel, die volgende oomblik lê jy op jou gesig voor die Here – en die volgende oomblik is jy Sy ywerige dissipel. Só het miljoene dit al ervaar. God se liefde slaan baie dikwels onverwags en onweerstaanbaar toe!
Wat sê die Woord vir die onsekeres? Klokhelder duidelik roep dit oor en oor: “Dis onnodig om onseker te bly!”
Die uitnodiging van die Bybel se vyfde laaste vers staan steeds so vas soos die berge:”Die Gees en die bruid sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dit hoor, moet sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!”(Op 22:17). En hierdie is nie net ‘n uitnodiging om eenmaal te drink nie; dis ‘n bevel om weer en weer te drink.
Wees verseker, elkeen wat in opregtheid kom, kan staat maak op die Here se belofte in Jh 6:37: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit, maar nooit verwerp nie.” (Gr. letterlik).
Aan die onsekeres sê hierdie uitnodiging en belofte dus: Al het jy hoeveel keer in die verlede gedrink, kom nou weer. Jy bly onseker omdat jy nog altyd halfhartig en kleingelowig was. Kom nou, beslis en gelowig! Hou op om God ‘n leuenaar te maak. Sy beloftes is algeheel betroubaar. Kom dus, maak die transaksie vas – eens en vir altyd!
Spoedig sal die Gees dan in jou begin roep: ‘Vader, my Vader!’ (Rm 8:15-16; Gl 4:6). En dan sal jy weet dat jy weet.
Net ‘n laaste woord aan diegene wat sonder huiwering “Ja!” sê, diegene wat weet dat God eens en vir altyd op hulle beslag gelê het: maak elke dag jou roeping en verkiesing vas – dan sal jy nie struikel nie. En jy sal uiteindelik ‘n vrye en feestelike toegang tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, verkry (2Pt 1:10-11, OAV).
Dien die Here dus met ‘n onverdeelde hart! En laat die sentrale hartstog van jou lewe steeds wees om Hom te behaag en te verheerlik!