Num 16:1-50

Die ook al die Ou Testament eerlik lees, kry noodwendig stryd met die verskrikkinge van God se oordele. Dit vul jou meermale met skok en afsku. En daar is nie net een geval waarna ons kan verwys nie; daar is talle. Dink maar aan Nadab en Abihu (Lev 10); Ussa (2Sam 6); Sodom en Gomorra (Gen 19); die 450 Baälprofete op Karmel (1Kon 18); die uitoefening van die banvloek op God se bevel tydens die inname van Kanaän; die 70 000 wat gesterf het nadat Dawid die volk getel het (2Sam 24). En só kan ons voortgaan.

Is dit die God van die Nuwe Testament -die een wat ons Vader noem?

   Ons kan die probleem ignoreer-soos baie. Of ons kan dink in terme van twee gode -soos baie. Maar as ons eerlik is, is dit ‘n gewigtige probleem. En ons moet dit vierkantig in die oë kyk.

   Dit vra durf. Dis nie vir sentimenteles en oppervlakkiges nie. Want in die proses moet ons probeer intuur in die duiselingwekkende dieptes van God, die verskriklike.

   Ten minste sal ons nader moet kyk na God se karakter. Hier móét ons begin! Voordat jy nie iets verstaan van wie en wat God is nie, sal jy tevergeefs probeer om die probleem op te los.

   Dis een van die grootste probleme van die kontemporêre kerk: mense ken God nie. ‘n Groot deel van die kerk is vandag gebou op mensgesentreerde sentimentaliteit, sensasie, opwinding en blote belewing. En helaas immuniseer niks teen die waarhede van God se Woord soos hierdie dinge nie. Daarom sit tienduisende vandag op kerkbanke met allerlei gebrekkige en verwronge idees oor God. Hulle ken God nie!

GOD SE HEILIGHEID

Die begrip heiligheid dui ten diepste op afgesonderdheid. Toegepas op God dui dit op Sy transendensie -die feit dat Hy ver bo Sy skepping verhewe is. Hy is die Gansandere!

Hieruit volg dan die feit van Sy etiese volmaaktheid. Hy is die somtotaal van alle morele skoonheid en suiwerheid. Wie en wat Hy is, is meteen die definisie van wat reg en heilig is.

Sonde is daarom algeheel onversoenbaar met God se persoon en karakter. En aangesien geen mens algeheel vry van sonde is nie, kan niemand God sien en bly lewe nie. Ja, as jy baie toegewyd lewe, mag jy dalk begenadig word om, soos Moses, Hom “van agter” te sien. Maar, sê Hy dan: “Niemand mag my gesig sien nie” (Eks 33:20-23).

   Daar was al mense wat iets van die driemaal heilige God gesien het. Vir almal van hulle was dit ‘n amper vernietigende ervaring wat ‘n onuitwisbare indruk gelaat het. Moses maak Sy gesig toe (Eks 3:6); Jesaja word oorweldig deur sy eie onreinheid (Jes 6:5); Job verag homself (Job 42:6); Esegiël stort in duie (Ese 1:28); Daniël val bewusteloos op sy gesig (Deu 10:9); Johannes sak soos ‘n dooie neer (Opg 1:17).

GOD SE TOORN

God se toorn is ‘n noodwendige uitvloeisel van Sy heiligheid; dit is, trouens, onlosmaaklik verbonde daaraan. Wat is dit? Ons sou dit só kon definiëer: God se toorn is, eerstens, Sy ewige en absolute afkeur van alle ongeregtigheid en sonde -van alles strydig met Sy persoon en karakter. En, tweedens, is God se toorn Sy handelinge om uitdrukking te gee aan hierdie afsku.

   Eenvoudig gestel: God se toorn is Sy heiligheid in aksie teen alle sonde. Omdat God heilig is, haat Hy alle sonde; en omdat Hy sonde haat, brand Sy toorn teen die sondaar.

God se toorn is net soveel een van die volmaakthede van Sy karakter as Sy liefde, trou en genade. In Sy wese is daar geen skaduwee van sonde nie. Maar ongeërgdheid, apatie, afsydigheid teenoor sonde, sou getuig het van morele onvolmaaktheid in Hom.

   Laat ons dus verstaan: soos die ewige saligheid van regverdiges vanuit God se volmaaktheid vloei; net soveel is die onverganklikheid van ewige helse smarte vir sondaars ook die gevolg daarvan.

Daar is meer verwysings in die Bybel na God se toorn en oordele, as na Sy liefde en genade. As die Skrif dan God se selfopenbaring aan ons is, wil Hy kennelik hê dat ons ook goed van Sy toorn sal kennis neem -en Hom daarvoor verheerlik.

Geen mens hou van nature hiervan nie, maar presies só hou die Bybel God aan ons voor.

Laat ons nie net vrede maak met hierdie feit nie, maar dit ook dikwels bepeins. Dan sal ons die erns van sonde verstaan; dan sal die noodsaaklike en heilige vrese van die Here in ons harte kom vestig -en dan sal ons die wondere van ons verlossing des te meer waardeer.

   Een van die heel grootste gevare wat ons in die gesig staar, is om ‘n eensydige en verwronge beeld van God in ons gedagtes op te tower-‘n beeld volgens ons eie onheilige geneigdhede en begeerlikhede. Nie alleen is dit die toppunt van selfmisleiding nie; dis ook die wese van afgodery.

DIE GOD VAN ONUITSPREEKLIKE GENADE

In die Ou Testament was daar meer as 40 sondes waarvoor volgens wet die doodstraf opgelê moes word. Ons praat onder meer van sondes soos die slaan of vloek van ouers, ontvoering, okkultiese praktyke, homoseksuele praktyke, die beoefening van vals profesie, afgodery, oortreding van die Sabbat, laster, ens. ens.

   Vir ons klink dit vandag kras, brutaal, afstootlik. Maar tog verteenwoordig die Ou Testamentiese lys van doodsondes ‘n verstommende verslapping van God se oorspronklike verordening. Trouens, dit dui op die ongelooflike genade van God!

   Om hierdie stelling te verstaan, moet ons teruggaan na die begin toe. In die paradys, voor die sondeval, spreek God in die duidelikste terme die doodsvonnis uit oor die mens indien hy van die boom van kennis van goed en kwaad sou eet (Gen 2:17 en 3:3). Ten spyte daarvan eet die mens. En hoewel hy geestelik sterf, bly hy onder God se verdraagsaamheid fisies lewe -in elk geval nog vir baie jare. Die punt is, die mens is glashelder duidelik gewaarsku -en met sy sonde het hy alle aanspraak op lewe verbeur. God is geen lewe aan hom verskuldig nie.

Gesien in die lig van bogenoemde, is die diepste geheimenis van die geheimenis van sonde, níé dat die sondaar verdien om te sterf nie, maar die feit dat die deursnee sondaar so lank bly leef. Die vraag is nie waarom God sonde straf nie, maar waarom Hy die mens se voortslepende rebellie so toelaat? Watter aardse vors sou dit doen?

Nou word dit duidelik: die Ou Testament is nie in die eerste instansie die geskiedenis van ‘n vertoornde God nie -verre daarvandaan. Dis die geskiedenis van God wat geduldig en genadig is in die oortreffende trap! Die Ou Testament is die trompetgeskal van God se onbegryplike genade!

Waarom is God so geduldig? Waarom hou Hy die valbyl van Sy toorn terug? Die Bybel se antwoord isduidelik: sodat sondaars geleentheid kry om hulle te bekeer. Sê Hy nie uitdruklik in onder meer Ese 18 dat Hy geen behae het in die dood van ‘n sondaar nie? Was die offerstelsel nie ‘n tydelike bedekking van die volk se sonde totdat Christus daarmee sou kom werkmaak nie? Per slot van rekening beteken die woord “versoening” (Heb. kaphar) om te bedek.

NOG TWEE PROBLEEMVRAE

Ons kan maklik aantoon dat al die mense wat op so ‘n verskriklike wyse in die Ou Testament gesterf het, inderdaad skuldig was in terme van God se standaarde. Maar twee probleme bly staan.

Vraag 1: Waarom ervaar ons so ‘n groot verskil tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament se Godsopenbaring?

   Eerstens moet ons verstaan dat daar geen verskil in wese is nie. Jesus noem die God van die Ou Testament “Vader”. Dis die God van Abraham, Isak en Jakob van wieJhn 3:16 sê dat Hy Sy Seun gestuur het, omdat Hy die wêreld so lief het. Die ywer wat in God was toe Nadab en Abihu gesterf het, is presies dieselfde ywer wat in Jesus gebrand het toe Hy die tafels in die tempel omgekeer het.

   Tweedens moet ons verstaan dat ons net met ‘n verskil van graad te doen het. Ons sien soveel méér van God se genade in die Nuwe Testament. Maar ewe waar is dit dat ons ook soveel meer van God se toorn in die Nuwe Testament sien. Lees die boek Openbaring, en dit laat God se toorn in die Ou Testament na ‘n Sondagskoolpiekniek lyk. Dink maar aan die seëls en die trompette en die bakke.

   Al verskil tussen Ou en Nuwe Testament is dus gewoon dat die Nuwe die persoon en karakter van God net soveel duideliker in fokus vir ons plaas.

Vraag 2: Waarom sterf net sommige, terwyl meeste bly lewe?

   Mense het die neiging om genade mettertyd as vanselfsprekend te aanvaar. En na ‘n tyd dring jy daarop aan. Daarom vind God dit nodig om van sekere mense voorbeelde te maak -om ons te herinner dat Hy heilig is, en sonde haat, en dat genadetyd bekeringstyd is.

   Omdat God se normale handelswyse die van geduld en genade is, neem ons aanstoot as Sy toorn net vir ‘n oomblik flits. Ons probleem is dat genade ons nie meer beïndruk nie. Ons het gewoond geraak daaraan. Ons maak, trouens, daarop aanspraak.

   In plaas van hulle bekeer, misbruik mense genadetyd deur in sonde te volhard en uitdagend grens na grens oor te steek.

   Die grootste wonder van ons dag is God se geduld. Die toppunt van dwaasheid is om te dink jy sal met jou sonde wegkom. Mense glo steeds Satan se leuen: “Julle sal beslis nie sterf nie” (Gen 3:4).

DIE HERE SE OPROEPE TOT BEKERING

Die Woord van God is vol dringende oproepe tot bekering, solank dit nog genadetyd is. Ook óns wat hier saam is, moet die Here se stem daarin hoor.

2Pet 3:9: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dink nie, maar Hy is geduldig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”

2Kor 5:20: “Ons bid julle om Christus wil: laat julle met God versoen.”

2Kor 6:2: “Kyk, nóú is dit die tyd van welbehae; kyk, nóú is dit die dag van heil.”

Jes 55:6: “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.”

Jes 55:1-3: “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe … kom koop … sonder geld … wyn en melk … Ek wil My troue liefde aan julle betoon.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00