Luk 7:23
Johannes die Doper is die Messias se wegbereider. Hy is ‘n asketiese nasireër (Num 6:1-21; Mat 11:18-19) wat kameelhaarklere dra en springkane en heuning eet. En om alles te kroon is hy ‘n vurige prediker: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom!” (Mat 3:2).
Dit skep ‘n rooiwarm verwagting by die volk: as die Koning eers hier is, gaan die dinge gebeur!
Maar dan beland Johannes in die tronk -omdat hy Herodes aanspreek oor sy Sonde.
Sekerlik worstel Johannes in die tronk met die vraag hoe God kan toelaat dat so ‘n ramp hom tref en buite aksie stel. Gaan hy al die opwinding en die grootse Messiaanse triomf mis?
Maar ergste van alles vir hierdie kompromielose nasireër is sekerlik die nuus dat Jesus met vrate, wynsuipers, tollenaars en sondaars meng! (34).
Mens kan jou sy twyfelvrae indink as hy soos ‘n dier heen en weer stap in sy sel: “Wat het ék nie opgeoffer nie! En Hý? Hy geniet die lewe! En tog ek het self die Duif op Hom sien neerdaal en die stem gehoor: Dit is My geliefde Seun” (Mat 3:16-17).
Uiteindelik kan Johannes dit nie meer uithou nie. Hy stuur van sy dissipels na Jesus met die vraag: “Is U die Een …?” (20). Die Here Jesus se antwoord is eenvoudig, maar onontkombaar: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig” (22). Wie sou beter as hy weet dat hierdie vervulling is van die Messiaanse profesieë in Jes 35:5-6 en 61:1?
En dan -mens kan jou voorstel -as die mans wegstap, roep Jesus agterna: “… En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie” (23).
TEGNIES
Die Here Jesus se werkwoord, twyfel, is baie betekenisvol in die oorspronklike taal. 1
In klassieke Grieks het dit te doen daarmee om in ‘n wip of slagyster gevang te word. Die selfstandige naamwoord dui op die stokkie wat ‘n dier moet aftrap om ‘n wip te sneller. 2
In die Nuwe Testament beteken die werkwoord om te laat struikel of om aanstoot te gee (in die aktief); en om te struikel of om aanstoot te neem (in die passief). Die selfstandige naamwoord dui op ‘n struikelblok, ‘n struikeling of ‘n aanstoot.
Ek het geen swaard te kruis met moderne vertalings nie. Maar om Jesus se waarskuwing behoorlik te verstaan en toe te pas, wil ek ‘n bietjie verbeelding en eksegetiese vryheid gebruik en 7:23 só parafraseer: Gelukkig is hy wat sorg dat hy nie deur My woorde en optrede onder ‘n wip beland nie!
Jesus laat weet dus vir Johannes: “Jou klip-sel en ystertralies is ‘n verskriklike lot! Maar as jy nie oppas nie, gaan jy in ‘n veel erger tronksel beland, een wat emosioneel en geestelik van aard is. En jy sal magteloos vasgevang wees -soos ‘n dier in ‘n slagyster, of ‘n voëltjie in ‘n wip!”
DIT HET MET ANDER GEBEUR
Dit waarteen die Here Jesus hier waarsku, het inderdaad met ander mense gebeur: hulle het a.g.v. Sy woorde en optrede onder ‘n wip beland.
In Nasaret, die dorp waar die Here groot geword het, was die mense later verstom oor Sy wysheid. Maar te wyte aan Sy nederige afkoms wou hulle nie Sy lering aanvaar nie. “En hulle het aanstoot (Gr. skandalidzo) aan Hom geneem” (Mat 13:57, OAV). Dit ontlok Jesus se bekende gesegde: “‘n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring.” Behalwe vir Sy broers wat na die opstanding geglo het, het Nasaret nooit onder die wip uitgekom nie!
In Mat 15 vermaan Jesus die Jode oor hulle huigelagtigheid. Dit laat hulle aanstoot neem (Gr. skandalidzo; v.12, OAV). Ook die skrifgeleerdes en Fariseërs het nooit onder die wip uitgekom nie!
In Jhn 6 preek die Here oor God se soewereiniteit in redding, oor Sy komende kruisdood, en oor die noodsaak van geloof in Hom as die gekruisigde. Hieroor het baie aanstoot geneem (Gr. skandalidzo; v.61, OAV), en baie het die rug op Hom gedraai. Na alle waarskynlikheid het baie min van hulle ooit onder die wip uitgekom!
UITKOMS IS WEL MOONTLIK
Kan ‘n mens onder die wip uitkom? Net as God jou in Sy genade daar uithaal!
Petrus het dit ondervind en geleer.
In Mat 26:31 gebruik die Here Jesus dieselfde woord as Hy die dissipels waarsku dat hulle almal daardie nag aanstoot aan Hom sal neem. Petrus reageer verontwaardig: “Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie” (33, OAV). Jesus verseker hom egter dat hy nie net sal aanstoot neem nie, maar ook die bitter vrug daarvan sal ervaar. Voordat die haan die volgende oggend kraai, sal hy die Here drie maal verloën!
So gebeur dit dan ook. Petrus voel in die steek gelaat en verneder. Waarom het Jesus nie Sy almag gebruik om Sy opponente te vernietig nie? En waarom moes Hy hom wat Petrus is so verneder toe hy sy swaard uitgepluk het (Jhn 18:10-11)? In sy aanstoot val Petrus se toewyding aan sy Here tot ‘n laagtepunt -en hy verloën Hom. Maar as die haan kraai, begryp hy. En dit knak hom (Mat 26:75).
Ons ken almal die intense emosies van mislukking. Ook Petrus word inmekaargedruk deur skuldgevoelens en selfverwyt. As dissipel het hy klaelik misluk. Al wat oorbly is om weer te gaan visvang. Dít kan hy ten minste doen! (Jhn 21:3). Die ander gaan saam. Hulle vaar uit op die meer in waarskynlik dieselfde skuit wat Petrus destyds gelos het. Maar hulle vang nie ‘n enkele vis nie!
Die volgende môre staan Jesus op die strand. “Julle het niks gevang nie, né!” (in die Grieks van 21:5 se vraag kan mens as ‘t ware ‘n geamuseerdheid aanvoel). “Gooi uit aan die regterkant!”, skree Hy. Hulle doen dit -en vang meer as wat hulle kan hanteer (6).
Al die dissipels -maar veral Petrus -moes leer: as die Here jou roep om jou skuit en nette te los, bedoel Hy dit ernstig. As jy dros, en Hy is jou genadig, sal dinge aanhou skeef loop -totdat jy jou bekeer. Gehoorsaam jy egter jou roeping, sal die Here jou seën en in al jou behoeftes voorsien.
Die volgende verse (Jhn 21:15-17) beskryf Petrus se hartroerende herstel. Sy roeping is om as herder die Here se kudde te versorg, al is hy hóé ‘n groot mislukking. Tewens, sy vernedering is presies die regte medisyne vir dit wat op hom wag. Met arrogantes werk die Here nie. Nee, Sy krag word in swakheid volbring (2Kor 12:9-10). Hy slaan reguit houe met krom stokke!
Wat doen die Here Jesus in Jhn 21? Hy haal Petrus uit ‘n wip uit -die wip van sy aanstoot aan die Here en die gevolge daarvan! En Hy doen dit met wonderlike deernis -soos ‘n seuntjie wat ‘n tortel se warm lyfie in ‘n wip so versigtig hanteer dat hy die hartjie kan voel bons.
As Jesus dan sê, “Volg My!” (19), is dit Petrus se finale bevryding. Die Here het hom nie verwerp nie! En ons ken die vrugbare jare wat sou volg. Petrus se wip-ervaring het hom baie goed gedoen!
WAT VAN JOU ?
Almal van ons kry van tyd tot tyd met hierdie wip te doen. Ons word gekonfronteer met iets wat die Here doen of nie doen nie, sê of nie sê nie. Daar loop derduisende ontnugterde Christene rond. Hulle is gevangenes van hulle eie aanstoot aan die Here. Hy het nie aan hulle verwagtinge voldoen nie!
Hulle wou groot dinge vir Hom doen, toe val alles plat. Van hulle dierbares het ‘n ontydige of grusame dood gesterf. Hulle is gedianoseer met ‘n terminale siekte. Iemand anders is na gebed genees, maar húlle het al hoe sieker geword. Hulle het vriendinne met vier kinders, maar kan self nie swanger raak nie. Hulle het ‘n liggaams-of verstandsgebrek, of hulle het sulke kinders. Hulle het vas geglo die Heilige Gees lei hulle, maar dit het op ‘n katastrofe uitgeloop. Hulle is die prooi van gewetenlose “profete” se persoonlike profesieë. Hulle het voltyds vir die Here begin werk, maar dis een lang worsteling om te oorleef. Die kerk en sy leiers het hulle wreed ontnugter.
Mense onder die wip beskuldig God van dubbele standaarde. Maar hulle vergeet dat Jakobus onthoof is (Han 12:2), terwyl Petrus bevry is (Han 12:7-10). Hulle kyk dit mis dat Stefanus gestenig is (Han 7:59), maar dat Paulus as ‘t ware opgewek is (Han 14:19-20).
Hoeveel teruggeglye Christene se afdraende pad het nie onder die wip begin nie? Ja, baie van hulle hou nog ‘n vroom front voor. Watter ander opsie is daar? Maar hulle harte is nie meer by die Here nie. Hulle vertrou Hom nie meer regtig nie. Geestelik leef hulle nie meer nie. Al wat oorbly, is om die godsdienstige masjiene af te skakel.
Sit jy magteloos in die wip? Luister na hierdie boodskap! Die Here wil mense soos jy bevry soos vir Petrus. Kom dus, buig in diep aanbidding en onderwerping voor die soewereine God. Hy is jou Skepper -en daarom jou Eienaar. Wat Hy ook al doen, dit mag Hy! Hy is alwys, en ons kan Hom vertrou. As jy in Christus is, sal Hy ook jou skandes en skades ten goede laat uitwerk (Rom 8:28vv).
Onderwerp jou dus in nederigheid onder die kragtige hand van God (1Pet 5:6). Gee oor; buig in aanvaarding; vertrou jou toe aan die liefdevolle Een wat beste weet. Hy is die Pottebakker, jy is die klei. Met Sy gunsgenote gaan dit dikwels soos met die Doper en met Petrus. En of jy ‘n Stefanus is, of ‘n Paulus -laat die gesindheid van Daniël se vriende ook joune wees: “Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons … die goue beeld … nie sal aanbid nie.” (Deu 3:17-18).
Christus roep ook vir jou: “Volg My!” Vergeet nou wat agter is; strek jou uit na wat voor lê.
Nog één ding is lewensbelangrik. Rom 9:33 noem Christus die rots van struikeling, oftewel die skandalon-rots. Volgens 1Kor 1:23 was Hy veral vir die Jode tot struikeling en aanstoot. Waarom? Omdat Hy die gekruisigde is (1Kor 1:23; Gal 5:11).
Wat sê dit vir ons? Niemand stamp hulle méér teen die ware Christus as godsdienstiges nie diegene wat van hulle goeie werke ‘n leer hemel toe probeer maak. Vir diesulkes is die kruis ‘n belediging. Want dit sê dat hulle niks het om aan God te bied nie! Die gevolg? Die evangelie van God se vrye genade laat hulle onder ‘n wip beland!
Vergeet dit nooit nie: God red sondaars geestelike bedelaars, verlore seuns, tollenaars. Weet jy in jou hart van harte dat jy op eie meriete doemwaardig voor die lewende God staan? Dis die ononderhandelbare voorvereiste vir die ewige lewe.
Vir selfvoldane eiegeregtiges het die Bybel geen troos nie. Maar vir sondaars het dit ‘n oop uitnodiging: “Kom! … elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Op 22:17).
Voetnotas
1. Die Aoristus Passief Konjunktief van die werkwoord, skandalidzo. (Selfstandige Naamwoord: skandalon).
2. Colin Brown, The New International Dictionary of New Testament Theology, Vol 2, p.707
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier