Efesiërs 3:14-21
Laas keer, toe ons gekyk het na v.19b oor ons vervulling tot al die volheid van God, het ek nie aandag gegee nie aan die feit dat ons volle erfenis in Christus eers werklik tot vervolmaking sal kom met ons opstanding uit die dood. Dan eers sal die volle heerlikheid wat God vir Sy kinders van ewigheid af berei het ‘n belewingswerklikheid word. Selfs al vorder ons hóé goed in ons heiligmaking in hierdie lewe, bly dit maar bloot ‘n klein en eerste deeltjie van ons erfenis in Christus.
Net die gedagte hieraan laat Paulus nou in v.2021 in ‘n verhewe stuk lofprysing uitbreek: “En aan Hom .. die heerlikheid .. tot in ewigheid!” (OAV).
DIE WAARBORG VAN GOD SE ALMAG (3:20)
‘n Groot deel van hierdie lofuiting is ‘n jubeling oor God se verbysterende almag (20). Paulus ken immers die twyfelgedagtes wat mens soms wil oorweldig: Sal God regtig in staat wees om ons te vul met al die volheid wat Hy aan ons in Christus beloof? Sal ons régtig opstaan uit die dood? Wag daar régtig so ‘n heerlikheid op God se kinders soos die Bybel sê? Het God régtig die vermoë om ‘n liggaam na ‘n duisend jaar uit die graf op te wek?
Hier in v.20 het ons Paulus se baie treffende antwoord op hierdie kwelvrae. Hy kan dit beswaarlik sterker en met meer oortuiging uitspel.
Die apostel stapel sy beskrywing van God se almag in 7 lae op mekaar.
Dit wat God beloof om vir ons te doen:
dit kan Hy (Hy het die mag);
daarom kan Hy doen wat ons bid;
dit geld selfs vir die dinge wat ons nie moed het om te vra nie, maar net oordink;
Hy kan dit alles doen (Gr. panta);
en Hy kan meer as dit doen (Gr. huper);
selfs meer oorvloedig (Gr. ekperissos);
ver meer oorvloedig (Gr. huperekperissou). 1
Hier is die antwoord op ons kwelvrae. Hier is ons wonderlike troos: die Here my God se almag sal my eendag na Hom toe te neem wanneer die oomblik vir my heengaan aanbreek. En wanneer dit tyd word vir die opstanding, sal Hy ook my liggaam in heerlikheid opwek, ongeag hoe verniel en vernietig dit tydens en sedert my dood ook al is.
Dan gaan die apostel voort. Dit wat hy hier sê is nie net teoretiese wensdenkery nie; nee, dit is “volgens die krag wat in ons werk” (20b, OAV). Ons sou meer verstaanbaar kon vertaal: dit is in lyn met die krag wat in ons werk. Paulus sê met ander woorde vir die Efesiërs: julle ken mos hierdie krag proefondervindelik, nie waar nie!
Paulus brei nie verder uit oor hierdie stelling nie.
Hy het dit reeds vroeër in die brief gedoen.
Vergelyk mens hierdie gebed met die een in hoofstuk 1, val dit op hoe hulle ooreenstem. Dáár bid die apostel dat sy lesers sal “weet” watter rykdom die heerlike erfenis inhou wat vir hulle bestem is (1:18). Ook dan gaan hy onmiddellik voort om oor God se krag te praat – die krag wat Hy in ons belang aanwend (19a).
Hierdie krag het al in Christus se lewe tot uitdrukking gekom -toe die Vader Hom lewend gemaak het, Hom opgewek het, en Hom uiteindelik in die hemel laat sit het in ‘n posisie van uitvoerende gesag oor die magte van die bose (1:20-23).
Maar dis nie die einde van Paulus se argument nie. Efe 2:1-10 is organies deel daarvan.
In 2:5-6 sê hy dat dit wat met Christus gebeur het, ook met óns gebeur het (verlede tyd!) weliswaar in ‘n ander sin. Ook ons is lewend gemaak, opgewek, en in die hemele laat sit – saam met Christus. En so ken Christene dus uit ervaring die krag van God. Hulle het dit immers reeds ervaar.
Goed en wel. Maar waarvan praat Paulus? Die sleutel lê in 2:1-3. As sondaars was ons dood in ons sonde (2:1) – maar ons is lewend gemaak toe ons wedergebore en gered is (2:5). Tweedens was ons onder die toorn van God (2:3b) – maar ons isopgewek, soos Christus, toe die Vader verklaar het dat Hy as onskuldige gesterf het en dus nie onder Sy toorn in die dood kon bly nie (2:6). En derdens was ons slawevan die wêreld (2a), die duiwel (2b) en die vlees (3a) – maar ons is saam met Christus in ‘n posisie van gesag in die hemele laat sit (2:6).
Vir ons doel kom Paulus se argument in h.1 en 2 dus hierop neer: julle kan verseker wees dat God die nodige krag het om die rykdomme van julle erfenis in Christus enduit en voluit ‘n werklikheid te maak. Julle ken hierdie krag i mmers reeds, aangesien dit julle lewensveranderend wederbaar het, vir julle die geloofsekerheid van regverdiging gegee het, en oorwinning oor sonde die tipiese van julle lewens gemaak het.
Paulus aanvaar dat hierdie stuk lering in h.1 en 2 steeds vars in sy lesers se gemoedere is. Daarom brei hy nie weer daarop uit nie. Maar dit is waarop hy sinspeel in 3:20b.
LAAT DIE VADER TOT IN ALLE EWIGHEID VERHEERLIK WORD (3:21)
Dis ‘n noodwendigheid: waarhede soos díé waaroor Paulus pas geskryf het, móét oorgaan tot die mees verhewe lofprysing. Dit kan nie anders nie! Kom ons kyk nader na Efe 3:21.
“Aan Hom” – aan die Vader – is in ‘n beklemtoonde posisie in die sin. Soli Deo gloria!
Die “heerlikheid” (OAV) wat die Vader toekom, is betekenisvol (Gr. doksa).
In die Grieks is die woord verwant aan die werkwoord om ‘n waardasie te maak. Om heerlikheid te hê, is dus om só te wees dat andere ‘n hoë dunk van jou het; dat hulle jou loof en eer; dat hulle hulde aan jou bring.
Miskien bring die Ou Testamentiese ekwiwalent die verhewenheid van die begrip “heerlikheid” beter uit (Heb. kabod). Hierdie woord se primêre betekenis is gewig. Om heerlikheid te hê, is dus om iemand van gewig te wees – van substansie, waardigheid, grootsheid, status en majesteit.
Paulus se versugting is dat alle skepsele diep onder die indruk sal wees van die Vader se onbeskryflike heerlikheid en Hom daarvoor sal eer.
Die byvoeging “in die kerk” moet ons nie miskyk nie. Die uitdrukking kan op twee maniere verstaan word, en bes moontlik word beide bedoel.
Mag dit waar wees in die gemeente self se belewinge. Mag dus elke lidmaat diep onder die indruk wees van die Vader se heerlikheid – van Sy krag, Sy wysheid (3:10), Sy barmhartigheid (2:4), Sy liefde (2:4), Sy genade (2:5-8).
Mag die buitewêreld dit toenemend in die gemeente weerspieël sien. Mag die ongelowiges dus, as hulle die gelowiges dophou, diep onder die indruk kom van God se heerlikheid. Mag selfs die engelewêreld oorstelp wees van verwondering oor die ryke verskeidenheid van God se wysheid, as hulle na die gemeente kyk (3:10;1Pet 1:12).
Die kwalifikasie “in Christus Jesus” is ewe belangrik. Wat dit wil onderstreep, is dat al die heerlikheid en lof wat die Vader kry, onlosmaaklik verband hou met Jesus Christus. Sonder Hom en Sy werk was daar geen verheerliking van God nie. Hy was en is die kanaal waardeur al die Vader se heerlike werk vloei. Dit geld selfs die skepping.
Nooit het die apostels moeg geword daarvoor om hierdie waarheid te beklemtoon nie. Dit beteken dat die kerk en prediker wie se boodskap nie hierdie waarheid as oorheersende aksent het nie, nie die Nuwe Testamentiese boodskap verkondig nie.
Paulus gaan dan op ‘n duiselingwekkende wyse voort. Sy hartstog is dat die Vader verheerlik sal word “in al die geslagte van die eeu van die eeue” (lett.). Die idee is dat bedelinge, wat elkeen uit bedelinge bestaan, mekaar sonder ophou vir ewig en ewig sal opvolg. Die apostel skraap al die woorde en maniere bymekaar om die oneindigheid van God en Sy heerskappy te beklemtoon.
Vir altyd en altyd sal ons, die gemeente van Christus, ons hemelse Vader se lof besing. Soos ons hoër en hoër gevoer word – van één piek van ontdekking tot ‘n ander – sal ons lof van crescendo tot crescendo opstyg. Ons sal ‘n onuitspreeklike behae en vreugde in Hom hê. En ons dankbaarheid sal immerteenwoordig en allesoorheersend wees.
“When we’ve been there ten thousand years, bright shining as the sun, we’ve no less days to sing God’s praise, than when we’ve first begun.” [John Newton (1725-1807):Amazing Grace].
Hoe kan Paulus anders afsluit as met die woord “Amen”? Dis ‘n uitroep: waarlik! gewis!
ENKELE TOEPASSINGSGEDAGTES
Onmiskenbaar vloei daar ‘n paar voor die hand liggende toepassings vanuit hierdie verse.
Die Christelike geloof is nie bloot ‘n stuk metafisiese filosofie nie – a pie in the sky.
Ons, wat waarlik gered is, ken aan eie lyf die herskeppingsrealiteite waarvan ons teks praat. Dit geld in die besonder die lewensveranderende wedergeboorte, die vrymoedigheid en sekuriteit van regverdiging, asook oorwinning oor sonde as ‘n lewensreël – oor die duiwel, die wêreld en die vlees. Ons basuin dit nie in hoogmoed uit nie, maar dank die Vader in opregte nederigheid daarvoor.
As jy dan God se krag proefondervindelik ken, het jy alle grond om met sekerheid ook jóú komende opstanding in heerlikheid te begroet.
Ja, ons doen dit in die geloof. Maar die dood gaan nie ‘n sprong oor ‘n stikdonker afgrond wees nie. Ons ken mos die aanvange van God se redding en ons weet die hiernamaals is ‘n aaneenlopende voortsetting daarvan.
God se verheerliking sal en moet in en deur die gemeente geskied.
Wat ‘n verantwoordelikheid rus nie op die kerk nie!
En laat ons nie die noodsaak van deelhê aan ‘n gemeente onderskat nie. Alleenloper-Christenskap is nie volgens God se ordes nie. Natuurlik praat ons van ‘n ware gemeente – ‘n liefdevolle gemeenskap van dissipels wat by mekaar inhaak en die Here Jesus nougeset volgens Sy opdragte en waarheid dien. En as daar nie so ‘n gemeente in jou dorp is nie? Dan moet jy ‘n sendeling wees – wat evangeliseer en gemeentes stig. Wees egter maar meedoënloos eerlik as jy jou situasie beoordeel.
Verlustig jou weer en weer in jou roeping om jou hemelse Vader vir ewig te verheerlik.
God moet en sal deur Sy gemeente verheerlik word. Onthou dis nie net woorde nie. Dis waaroor jou lewe gaan. Mis dit, en jy mis alles – ook die ewige lewe!
VOETNOTAS
1. John Stott noem hierdie woord ‘n “super-superlative”. Vir diegene wat nie Grieks lees nie: die New American Standard Bible wend ‘n moedige poging aan om hierdie sin te vertaal.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier