Efésiërs 3:14-21
Ons kom nou uiteindelik by die derde en laaste bede van hierdie gebed. Soos teen ‘n berg op, het Paulus al hoe hoër geklim. Nou wil die dun lug mens laat duisel. Ons is uit ons diepte uit, nie waar nie. Waarvan praat die apostel tog hier as hy bid: “sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God” (19b, OAV)?
Eerstens moet ons goed na die teks kyk. As ons sommer net ‘n koers inslaan, gaan ons na alle waarskynlikheid verdwaal. Wat wys die Grieks dus?
WAT OP AARDE BEDOEL DIE APOSTEL?
Die NAV vertaal nie akkuraat nie: “met die volheid van God.” Die OAV is korrek: “tot die volheid van God.” Daar sit dus beweging in die uitdrukking – beweging onderweg na ‘n sekere standaard toe. Ons is dus nog op pad soontoe.
Wat is hierdie standaard, hierdie mikpunt? “Al die volheid van God”!
Hierdie uitdrukking in die oorspronklike taal kan op twee maniere verstaan word. Óf die apostel praat van al die volheid wat van God af kom, dit wat uit Hom vloei, alles wat Hy vir ons wil gee – ons volle erfenis in Christus. Óf hy praat van die volheid wat God as God self vul.
Sekerlik kan Paulus nie laasgenoemde in gedagte hê nie. Selfs in die ewige heerlikheid sal ons, hoewel sondeloos en onbeskryflik heerliker as nou, steeds skepsele bly. Ons moet daarom in terme van eersgenoemde dink.
Vra mens wat hierdie volheid dan is wat van God af in ons lewens invloei, kom jy gou agter dat bogemelde alternatiewe eintlik baie na aan mekaar lê. Want lê die hart van ons erfenis in Christus nie juis daarin dat ons toenemend soos God word nie? Het Christelike groei nie alles te doen met die vorming van Christus se beeld in ons nie?
Volgens Rom 8:29 is ons spesifiek uitverkies om gelykvormig te word aan die beeld van die Seun. En 2Kor 3:18 verseker ons dat ons al meer verander word om aan die beeld van Christus gelyk te word.
Dink aan die tipiese Bybelse formule: “Wees heilig,wantEkisheilig”(Lev 11:44-45;1Pet1:15-16).
Jesus beveel: “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is” (Mat 5:48).
En ‘n paar verse ná ons teks, word gesê die einddoel van die mense in Efe 4:11 se bediening is spesifiek dat die kerk sal opgroei om so volmaak en volwasse soos Christus te word (4:13).
Opsommend: In hierdie gebed gaan dit uiteindelik daaroor dat die Efesiërs hulle volle erfenis in Christus in besit sal kry. En die hoogtepunt daarvan is gelykvormigheid aan Hom.
Hierdie gebed onthul aan ons een van die mees fundamentele sleutels tot egte heiligmaking. Tot die mate wat die Heilige Gees in ons woon en werk, tot daardie mate sal Christus in ons harte vestig. En tot die mate wat ons Christusgesentreerd raak, tot daardie mate sal ons dan Sy liefde vir ons beter begryp en beleef. En tot dáárdie mate sal ons volle erfenis in Christus in ons lewens gestalte aanneem – naamlik gelykvormigheid aan die Seun.
WAT SÊ DIT VIR ONS?
Laat ons nie vassteek by die eerste dinge van Christenskap nie.
Te veel kerkmense is doodtevrede om bloot gered te wees. Niks is meer strydig met die gees van die Skrif as so ‘n selfgesentreerde mentaliteit nie!
In een van die ernstigste waarskuwings in die Bybel waarsku die Hebreërskrywer juis teen ‘n stilstaan by die eerste dinge aangaande Christus, en ‘n belangeloosheid om vooruit te beur in kennis, heiligmaking en volharding (Heb 5:11-6:12).
Nee, die apostel stel vir ons ‘n wonderlike voorbeeld in Fil 3:7-11. Hy gee alles prys en span homself kragtig in om Christus as enigste bate te verkry – om Hom te ken, en die krag van Sy opstanding; om deel te hê aan Sy lyding en aan Hom gelyk te word in Sy dood; en om uiteindelik deel te hê aan die salige opstanding.
Onthou dit; vergeet dit nooit nie: wie nie volhard in die wedloop nie, sal nooit die prys kry nie!
Hierdie gebed moet ons nie mislei om arrogant en opgeblase te raak in eiewaan nie.
Luister mens na sekere televisie-evangeliste en sommige ander mense, kry jy die indruk dat hulle hulself as klein godjies beskou.
Onthou die moedersonde! Die sondeval het plaasgevind toe Eva die slang glo dat sy soos God sal word as sy die verbode vrug eet (Gen 3:5).
Tussen God as God en mens as mens bestaan ‘n wesensverskil. Dis die verskil tussen Skepper en skepsel, tussen die absolute Soewereine en die volkome afhanklike. Gelykvormigheid aan die beeld van God is dus nooit absoluut nie; dis altyd gekwalifiseerd. Trouens, in ‘n sin is die ambisie om soos God te wees die dieptepunt van sonde.
Daar is dus twee lewensbelangrike waarhede wat ons moet vashou. Enersyds is die mens se hoogste roeping om soos God te wees (in een sin). Andersyds is die mens se gruwelikste sonde om soos God te probeer wees (in ‘n ander sin).
Dit is gevolglik duidelik: as God nie self aan die mens openbaar waarin ons aan Hom gelyk moet word nie, en as Hy dit nie afperk en definieer nie, is ons gedoem om allerlei Godslasterlike grense oor te steek. Dit het Hy inderdaad gedoen. Vir Sy Ou Testamentiese volk gee Hy Sy wet – wat ‘n uitdrukking is van God se volmaakte karakter. En vir Sy Nuwe Testamentiese gemeente vul Hy dit aan en verfyn dit tot ‘n volkome afronding in die persoon, lering en voorbeeld van Sy mensgeworde Seun (Jhn 1:18; 14:9;Heb 1:3). In ‘n lewe hier op aarde, in ‘n liggaam soos ons s’n, is die heiligheid van God volmaak gedemonstreer. Duideliker kon God Sy wil vir ons nie maak nie.
Só lei die Here ons onderweg na gelykheid aan die beeld van Christus. Maar terselfdertyd bewaar dit ons van die moeder van sondes, nl. om op die verkeerde manier soos God te probeer wees.
Die feit dat die apostel hier bid dat God ‘n werk in die Efesiërs moet doen, moet ons nie verlei om in passiwiteit te verval nie.
Ons móét bid – soos hier. Dis primêr wat ons uit hierdie Skrifgedeelte moet haal. Maar ons weet óók dat gebed en die Here se werk in ons, enersyds, en die opneem van ons eie verantwoordelikheid, andersyds, nie teenoor mekaar staan nie.
Hoe moet mens dan leef om te vorder onderweg na gelykvormigheid aan die beeld van Christus om vervul te word tot die volheid van God? Só prominent is die oproep tot heiligmaking in die Nuwe Testament, dat mens ‘n honderd verskillende (nie teenstrydige nie!) antwoorde op die vraag kan gee. Maar sekerlik is Paulus se lering oor die vrug van die Gees in Gal 5 fundamenteel en prakties.
Tot die mate wat die 9 Geesgewerkte deugde van Gal 5:22 in ons lewens tot uitdrukking kom, tot daardie mate is ons soos Jesus. Maar dit kom nie sommer vanself nie. Ook wedergebore gelowiges het te kampe met immerteenwoordige sondige begeertes. Op eie stoom kan mens nie die vrug van die Gees dra nie – allermins voortdurend.
Dit beteken egter nie dat die stryd om heilig te lewe tevergeefs is nie. Allermins! Met die wedergeboorte gee die Here nie net vir my ‘n nuwe hart waarop Sy gebooie gegrafeer is nie; die Heilige Gees bly ook op ‘n voortgaande basis my Helper. Die Here maak my dus nie net gewillig om Sy wil te doen nie (deur vir my ‘n nuwe hart te gee); Hy maak my inderdaadbekwaam om dit te doen (deur die bekragtiging van Sy Gees) (Fil 2:13). Dis waarom hier gepraat word van die vrug van die Gees.
Maar as ek hierdie vrug wil dra, vereis dit die regte instelling teenoor sowel die vlees as die Gees.
Die regte instelling teenoor die vlees word in v.24 beskryf: Dié wat aan Christus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte gekruisig. Om iets te kruisig, is om dit tereg te stel. Dis die sterkste denkbare manier om jou daarvan te distansieer, dit finaal die rug te keer. Die beeld spreek boekdele.
Die regte gesindheid teenoor die vlees is genadeloos. Slegs diegene wat skuldig was aan die heel ergste oortredings is gekruisig – dié wat geen genade verdien het nie.
Hierdie kruisiging is finaal. Niemand het ooit van die kruis afgekom nie. ‘n Ware Christen het sy hand aan die ploeg geslaan en weier om terug te kyk. Die saak word nie heroorweeg nie. Dis afgehandel.
Hierdie kruisiging is pynlik. Nooit was daar ‘n erger manier van teregstelling nie. Die stryd tussen vlees en Gees is eg. Dis nooit ‘n grap nie.
Dis ‘n lewenslange proses. ‘n Gekruisigde het stadig gesterf – dit kon dae duur. Enduit moet mens jou kruis elke dag opneem.
Een van die grootste redes waarom ons met sekere sondes bly sukkel, is omdat ons dit nie gekruisig het nie. Ons is dubbelhartig. Ons bly daarmee flankeer. Het jy so ‘n weerbarstige boesemsonde? Waarskynlik is ons hier by die rede.
Die regte instelling teenoor die Gees word op twee maniere beskryf -twee onmisbare kante van dieselfde saak.
Eerstens moet mens jou deur die Gees laat lei (18). Die werkwoord is passief. Die klem is op dit wat die Gees doen en ek moet toelaat. Elders word die werkwoord “lei” gebruik vir ‘n herder wat voor sy skape uitstap, of vir die wind wat ‘n skip voortstu. Ek moet my dus oorgee aan die Gees se inisiatiewe en leiding. Ek moet erns maak met Sy aandrange in my hart. Ek moet Hom gehoorsaam.
Tweedens moet mens deur die Gees wandel of lewe (16, 25, OAV). Dit sou ‘n flater wees om te dink my enigste verantwoordelikheid is om my passief aan die Gees se beheer te onderwerp. Nee, ek moet ook aktief wandel, oftewel lewe.
Terwyl v.16 die gewone woord vir loop gebruik, gebruik v.25 ‘n gelaaide begrip. Al die ander plekke waar dit in die Skrif voorkom (Han 21:24; Rom 4:12; Gal 6:16; Fil 3:16), beklemtoon dat dit van ‘n lewenswyse volgens ‘n voorbeeld, beginsel of norm praat. Hier in Gal 5 is die Heilige Gees self die norm. Ek moet op die pad loop wat Hý vasgelê het.
Maar wat beteken dit in praktiese terme?
Die noue verband wat Paulus elders tussen die Gees en die Woord lê (vgl. Efe 5:18 en konteks met Kol 3:16 en konteks), maak dit onmiskenbaar duidelik dat die Gees se pad die pad van die Bybel is. ‘n Lewe in pas met die Gees is gewoon ‘n lewe in pas met die Gees- geïnspireerde Woord – en dus in pas met God se ordes, beginsels en voorskrifte.
Ons moet dus nie dink in terme van ‘n lewe volgens subjektiewe influisteringe van die Gees nie, maar in terme van ‘n lewe van beginselvaste gehoorsaamheid aan God se Woord. Nog altyd het die ware kerk dit só gesien. Die geskiedenis bevestig dan ook:prinsipiële gehoorsaamheid het nog altyd veredel; mistisisme het nog altyd mislei.
SLOT
Laat ons dan “na die volmaaktheid voortgaan” (Heb 6:1, OAV). Elkeen in Christus word immers opgeroep om die volheid van God in besit te neem.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier