Hoséa 1-3
Die Here werk soms maar rof met Sy profete. Jesaja moes vir 3 jaar sonder behoorlike klere en kaalvoet deur die strate van Jerusalem loop (Jes 20:2-3). Esegiël moes vir 430 dae ure lank elke dag op sy sy lê – ook waarskynlik in die publiek (Ese 4:4-6). En Hosea moes met ‘n prostituut trou (Hos 1:2).
Waarom? Ou Testamentiese profete het nie net as predikers en skrywers geprofeteer nie, maar meermale moes hulle ook, vir almal om te sien, simboliese handelingsprofesieë uitvoer.
IETS MEER OOR HOSEA EN SY PROFESIE
Ons het ‘n goeie idee waar en wanneer Hosea opgetree het. Sy profesieë was gerig op die noordelike tienstammeryk, reg teen die einde van hierdie koninkryk se bestaan (1:1). Dis selfs moontlik dat hy nog aktief was toe die Assiriese ballingskap in 722 v.C. plaasgevind het. Wat egter uiteindelik van hom geword het, weet ons nie.
Dit beteken dat Hosea ‘n tydgenoot was van Amos, wat ook in Israel gepreek het, asook van Jesaja, wat in die suidelike ryk gewerk het.
Dis ‘n tyd van welvaart, maar ook van verskriklike godsdienstige en morele verval. Die laaste klompie konings van die noorde (ook Israel of Efraim genoem) is amper almal deur hulle opvolgers vermoor. Trouens, direk voor die ballingskap was daar 6 konings in 30 jaar.
In hierdie tyd moet Hosea dan met ‘n prostituut trou. So word Gomer sy vrou. Hulle het 3 kinders vir wie Hosea name moet gee wat verband hou met sy profetiese boodskap teen die sonde van Israel.
Die eerste een was ‘n seun en hy moes Jisreël genoem word (1:4). Die woord beteken “verstrooi”, want Israel gaan onder die nasies verstrooi word.
Die tweede een was ‘n dogter en sy moes Lo-Rugáma genoem word, wat “sonder ontferming” beteken (1:6).
Die derde een was weer ‘n seun. Sy naam moes Lo-Ammi wees – “nie my volk nie” (1:9).
Dan loop Gomer weg en verval weer in ‘n onsedelike lewe. In hoofstuk 3 moet Hosea haar dan in opdrag van die Here gaan soek om haar weer in te neem in sy huis. Haar lewe is in so ‘n gemors dat hy haar op die slawemark moet koop vir omtrent 170 gram silwer en ‘n klompie kos.
Volgens alle aanduidings het Gomer van toe af by Hosea gebly (3:3, NIV).
Soos reeds gesê, word hierdie eerste drie hoofstukke van die boek gewy aan ‘n handelingsprofesie. Soos Gomer se verhouding met Hosea, só lyk die volk se verhouding met die Here. Hulle was sondaars toe Hy hulle aanvanklik aangeneem het. En die pad wat hulle daarna met Hom geloop het, was ‘n pad van toenemende sonde, ontrou, afval – en uiteindelike slawerny. Daarom sal hulle “verstrooi” word. Hulle sal “sonder ontferming” wees. En die Here sal hulle verwerp asof hulle “nie Sy volk” is nie.
En tog, en tog, die ballingskap sou nie vir altyd duur nie. Daar sou ‘n herstel van God se verhouding met Sy volk plaasvind. Soos in Gomer se geval, sou die Here hulle as ‘t ware weer op die slawemark gaan haal. En nou sou die kinders se name anders wees (1:11-12). Hulle sou die negatief, lo, verloor.
Die meisiekind word Rugáma – “ontferming”.
Die jongste seun word Ammi – “My volk”.
Die oudste bly egter Jisreël, want sy naam beteken nie net “verstrooi” nie, maar ook “geplant”. 1
‘N HEERLIKE BELOFTE
Nou is dit uiters betekenisvol dat elkeen van Hosea se eerste drie oordeelshoofstukke met ‘n heerlike belofte afsluit (1:10-12; 2:13-22; 3:5). Die Here gaan ‘n wonderlike werk in Sy volk doen. Hierdie verdorwe, onsedelike en ontroue klomp mense gaan Sy liefdesvolk word – met harte wat getrou is aan die verbond.
Van al die grootse dinge wat aan die einde van hierdie drie hoofstukke belowe word, is 2:15-19 sekerlik die klimaks, en daarvan seker v.18-19. Kom ons konsentreer dus nou net op hierdie twee verse.
Vier aspekte van wat die Here gaan doen, word genoem: die aard, duur, karakter en die praktiese effekte van Sy genadewerk word aangespreek.
Eerstens, wat die aard betref van wat die Here gaan doen, sal dit in terme van ‘nverbond gebeur (17). En die verbond gaan spesifiek ‘n huweliksverbond wees. In v.18-19 word die woord “verloof” 3 keer gebruik (OAV). En verlowing was in Bybelse tye so bindend soos die huwelik self.
Tweedens, die duur van die verbond sal ewig wees (18). Dit impliseer dat beide partye onkreukbaar getrou aan mekaar sal bly. Presies hóé die Here dit gaan bewerkstellig, is op hierdie stadium nog grootliks ‘n geheim, maar dit sou die Here deur twee latere profete, Jeremia en Esegiël, openbaar: Hy gaan elke lid van Sy volk innerlik herskep deur hulle harte te verander (Jer 31:33; Ese 36:26).
Derdens sal die karakter van die verbond drie komponente hê (18-19).
Die verbond sal op ‘n suiwer regsbasis rus. Dit sal ‘n verbond van “geregtigheid” en “reg” wees. Daar sal niks onregverdig of immoreel of onderduims in die uitwerk daarvan wees nie.
Dit sal deur en deur ‘n liefdesverhouding wees. Dit sal deurtrek wees van “goedertierenheid” en “ontferming” (OAV). Die woord, goedertierenheid (Heb. chesed), is onuitspreeklik kosbaar. Dit dui op God se onwankelbare en vasbeslote toewyding aan die mense met wie Hy in ‘n verbondsverhouding staan. Dit dui op Sy ontfermingsgenade.
Dit sal ‘n onverganklike en permanente verbond wees. Die onderlinge verbondenheid tussen die Here en Sy volk sal een van onverbreekbare “trou” wees. God sal Sy volk nooit laat los nie; niks sal hulle van Sy liefde kan skei nie.
Vierdens sal hierdie huweliksverbond wonderlike praktiese effekte hê. ‘n Enkele woord som dit op: die volk sal God “ken” (19, OAV). Dit beteken dat die volk begripvol, liefdevol en getrou met die Here sal wandel. Daar sal ‘n persoonlike, intieme en lojale liefdesverhouding tussen hulle en Hom wees. En daar sal wedersydse behae en genot tussen hulle wees.
DIE VERVULLING
Deels het hierdie belofte al vergestalting aangeneem in diegene wat na die twee ballingskappe teruggekeer het. Weliswaar was daar nie ‘n formele terugkeer van die noordelike stamme vanuit die Assiriese ballingskap nie, maar ons kan aanvaar dat daar tog klein groepies teruggekeer het.
Maar hierdie beloftes is éíntlik eers vervul na die koms van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees -in die nuwe verbond, met ander woorde. Vir hierdie stelling het ons duidelike Nuwe Testamentiese mandaat. Paulus sê dit in Rom 9:25-26. En ook Petrus sien die vervulling daarvan in die nuwe verbond (1Pet 2:10).
Dit beteken dat hierdie onuitspreeklik kosbare belofte in Hos 2 op die ware Nuwe Testamentiese gemeente van toepassing is. Dit geld vir die ware kerk deur die eeue, en daarom ook vir elke ware gemeente vandag oor die hele wêreld. En daarom mag ook óns, in alle nederigheid en oorstelpte verwondering sê: óns -híérdie gemeente -staan in ‘n huweliksverbond met die Here. Dit geld vir ons gesamentlik as gemeente, en vir elkeen van ons individueel -elkeen wat waarlik deur die Heilige Gees in Christus se gemeente ingeplant is.
Is ons nie in die verlowingstyd (2Kor 11:2vv) van ons verhouding met Christus nie? Die kulminering van die verhouding is immers nog toekomstig. Die bruilofsmaal van die Lam kom nog.
Maar dit beteken nie ons huidige verhouding met die Here is minderwaardig nie. Nee, dis al onwankelbaar vas. Een en elkeen van die beginsels waarna ons gekyk het, geld reeds volkome. Al wat eintlik nog gebrekkig is, is ons belewing daarvan.
Voorts, verseker die Nuwe Testament óns wat deur ‘n ware geloof met Christus verenig is nie oor en oor dat Hy vir ewig op ons beslag gelê het nie? Dink maar aan Rom 8: niks, maar niks kan ons van Sy liefde skei nie!
Kom die Nuwe Testament nie keer op keer terug na die karaktertrekke van die verbond soos Hos 2 dit hier belowe nie? In Christus se volkome versoeningswerk en ons regverdiging deur die geloof alleen is die regsbasis vir hierdie verbond onwankelbaar in plek geplaas. Niks is méér in die hart van ons verbond met God as Sy vasbeslote liefdesontferming in Christus nie. En geniet ons nie onwankelbare sekuriteit in Sy trou nie?
En, uiteindelik, het ons deelkry aan hierdie verbond nie lewensveranderende effektein ons lewens gehad nie? Wat is vir jou en my kosbaarder en meer bepalend as die feit dat ons die Here ken en met Hom wandel?
Nou sal van julle vra: hoe kan ons weet ons is ‘n ware gemeente? Jy beklemtoon hierdie kwalifikasie so oor en oor -en mens kan sien waarom.
Die antwoord is eenvoudig, maar dit sny tot op die been. Ervaar ons dit wat hier belowe word? Ons is immers nie besig met ‘n speletjie nie, maar met klipharde realiteite? Kom ons sê dit hard en duidelik vir mekaar: as jy ‘n vreemdeling is vir die dinge waarvan ons hier praat, het jy nog geen deel aan dit wat die Heilige Gees hier deur Hosea belowe nie!
‘N ENKELE TOEPASSING
Die beeld waarmee Hosea hier werk – trouens, die beeld wat sy hele lewe en profetiese bediening beheers het – is die van die huwelik. En as ons dan vra na wat dit vir ons sê oor hoe ons moet lewe, dan is dit so duidelik soos daglig in God se Woord dat één rede vir die instelling van die huwelik juis is dat dit ‘n afskynsel moet wees van die verbond waarna ons hier in Hos 2 gekyk het. Daar kan dus geen twyfel oor wees nie: ons huwelike – des te meer díé van ons wat deel het aan die genadeverbond moet die karaktertrekke en eienskappe vertoon waarna ons nou so uitvoerig gekyk het!
Tot die mate wat ons in hierdie hoë en verhewe roeping slaag -en mag die Here ons genade op genade gee! – sal ons nie net die vreugdes en voorregte van hierdie aller-uitnemende gawe van God aan die mens smaak nie, maar sal ons ook aan ons skeppings-en herskeppingsdoel beantwoord naamlik om die Here ons God te verheerlik.
VOETNOTAS
1. Die woord beteken steeds “verstrooi”, maar word as sodanig ook gebruik vir die saai van saad. En so beteken dit ook soms “geplant”.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier