Efésiërs 3:14-21

Ons kyk vandag vir die laaste keer na die tweede deel van hierdie gebed – die deel waarin dit gaan oor ons begrip en belewing van die Here Jesus Christus se liefde vir ons.

   Ons het gesien dat Paulus in hierdie bede twee begrippe gebruik wat op die oog af na sinonieme lyk, maar tog nie is nie. Die eerste is om te begryp (18); die tweede om te ken (19). Eersgenoemde het meer te doen met verstandskennis (van Christus se liefde), terwyl laasgenoemde meer te doen het met ‘n belewing daarvan.

   Laas keer het ons in v.18 gekyk na die dimensies van Christus se liefde wat ons as mense geredelik verstandelik kan begryp – na die breedte, lengte, diepte en hoogte daarvan. Vandag moet ons dan kyk na v.19a, waarin Paulus bid vir die Efesiërs se belewing van Christus se liefde.

DIE KENNIS-OORTREFFENDE LIEFDE (19A)

Mag ek net wéér daarop wys dat Paulus nie hier bid dat die Efesiërs meer liefde vir die Here sal hê nie. Natuurlik wil hy dit hê, maar dis nie wat hy bid nie. Hy bid dat hulle Christus se liefde vir hulle meer en meer sal begryp en beleef. Is hy dus mensgesentreerd? Allermins! As dít sy benadering was, was dit strydig met alles in sy briewe. Nee, hy weet dat ‘n mens se liefde vir Christus toeneem tot die mate wat jy jou verlustig in Sy liefde vir jou!

Paulus maak ‘n paradoksale stelling. Hy wil hê die Efesiërs – en daarom ook ons – moet iets ken wat die kennis oortref. Hy gebruik ‘n interessante woord (Gr. huperballo). Baie letterlik beteken dit om bo-oor te gooi. Dis soos Jonatan wat sy pyl bo-oor Dawid se kop geskiet het toe hy hom wou waarsku.

   Wat die apostel dus wil tuisbring, is dat ons Christus se liefde nooit ten volle in hierdie lewe sal deurgrond en beleef nie. Daar sal altyd méér wees. Maar dit moet ons nie daarvan weerhou om ‘n steeds dieper ervaring daarvan na te jaag nie.

Dit gaan dus oor vordering in ‘n proses wat nooit klaar kry nie – die belewing van Christus se liefde.

CHRISTENE MAG MAAR VOEL

Baie toegewyde kerkmense skrik as jy van Christelike belewing en ervaring praat. Waarom tog is mense so katvoet vir emosies in ons verhouding met die Here? Daar is veral twee redes.

   Party mense het ‘n teensin in andere se innige geloofsbelewinge, omdat dit hulle eie gebrek aan ‘n lewende liefdesverhouding met Christus ontbloot. Dit wys húlle soort Christenskap uit vir wat dit is: minder as wat dit moet wees. Baie dikwels is dit ‘n stuk steriele hiperortodoksie wat bloot opgaan in ‘n steeds skerper formulering van die suiwer leer.

   Ander mense weer deins weg van Christelike belewing omdat hulle ‘n oordrewe reaksie het teen emosionalistiese uitwasse in sommige kringe – iets wat helaas weer en weer kop uitgesteek het in die kerkgeskiedenis.

Die apostels, egter, leer ons om ook wat hierdie saak betref die sensitiewe balanse van egtheid te handhaaf. Die Nuwe Testament is nie net vol aandrange op die suiwer leer nie; dit is ook boordevol emosie. Voorbeelde sou vermenigvuldig kon word, maar vat net die volgende uitsprake. Sonder twyfel dui hulle op innige geloofsbelewing en sekerlik intense emosie – in elk geval soms:

Jhn 15:9-11: “Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly … Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.”

Rom 14:17: “Die koninkryk van God is nie ’n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde …”

Hier in Efesiërs roep Paulus ons op om in plaas van uitspattige dronkmansjollifikasie, in die volheid van die Gees te leef. Dit sal sy eie vreugdes bring: lof en liedere en onderlinge liefde (Efe 5:17-6:9).

Ook Petrus het verstaan: “Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid … En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap” (1Pet 1:8-9).

  En, natuurlik, die vroeë gelowiges het bloot ervaar wat hulle Ou Testamentiese voorvaders in die geloof maar té goed geken het. Neem net een voorbeeld: “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie. Al beswyk my vlees en my hart – God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid” (Psm 73:25-26).

  Dwarsdeur die kerkgeskiedenis is die lewens van God se kinders gekenmerk deur diep belewinge. Weer en weer lees ons daarvan in die biografieë. En amper altyd het dit op een of ander manier te doen gehad met ‘n bewussyn van die Here Jesus se liefde vir hulle. Waarlik, niks roer ons meer as ons Vader se onverdiende en vrye genadeguns in Christus nie!

   Dink maar aan ons eie ervaring. Wat het ons geloofslewens meer ingrypend beïnvloed as ons ontdekking van die leerstukke van soewereine genade? En dit was méér as bloot serebrale insig, nie waar nie. Dit was toe ons gekreun het onder ons onvermoë om God se standaarde te handhaaf, dat die Here se middelaarswerk vir ons ‘n verligting, vrede en blydskap gebring het wat mens nie onder woorde kan bring nie. En dít, meer as enigiets anders, het ‘n wederliefde vir Hom in ons laat vestig. Paulus verstaan dit. Daarom bid hy soos hy bid.

HOE KAN EK GROEI IN MY WAARDERING EN BELEWING VAN CHRISTUS SE LIEFDE VIR MY?

Eerstens moet ek verstaan dat ‘n verwagting dat die Hére iets moet doen, enersyds, en die opneem van mý verantwoordelikheid, andersyds, nie teenstrydige idees is nie.

   Dit is een van die mees fundamentele beginsels van die Christelike lewe. Die Here werk middellik. En die heel eerste instrument wat Hy wil gebruik om mygebede te beantwoord, is ekself. Ék moet my eie heil uitwerk in vrees en bewing, omdat dit God is wat in my werk om te wil en te werk na Sy welbehae (Fil 2:12-13, OAV).

Tweedens moet ek meer en meer insig kry in die volmaakte standaarde wat God aan die mens stel -ek moet die diepte-implikasies van Sy wet verstaan.

   Jy sê, hoe kan dit wees? Ek wil groei in ‘n waardering vir Sy liefdesgenade; ek wil nie van vrees sidder voor Sy onbereikbare standaarde van geregtigheid nie. Maak so ‘n riglyn mens nie juis moedeloos en uiteindelik vol teensin nie?

   God se weë met ons is wonderlik! Want dikwels is dit paradoksaal. Dit werk só. Tot die mate wat ek God se standaarde verstaan, tot daardie mate besef ek my algehele afhanklikheid van Sy reddende genade, en tot daardie mate gryp Sy onuitspreeklike liefde in Christus my in die hart.

   Die prediking van God se heilige geregtigheid mag ‘n ongelowige dalk moedeloos maak (en hoe erger dit is, hoe nader kom hy aan die Koninkryk), maar ware gelowiges groei in hulle begrip en belewing van Christus se liefde en dus in hulle liefde vir Hom.

Derdens moet ek onthou dat God Homself deur die genademiddele aan ons openbaar.

Die genademiddele is die kanale wat God daargestel het om Sy genade in ons lewens te laat invloei. Daar is talle, maar vir ons doel is die belangrikste seker gebed, Bybelstudie en prediking.

   Sonder gereelde en volhardende gebed vorder mens nie ‘n tree op die pad van die kennis van die Here nie. En aan die hart van die kennis van die Here lê insig in en belewing van Sy liefde in Christus. Vra, en hou aan vra, al is dit ‘n duisend keer ‘n jaar, dat die drie-enige God Homself al hoe meer aan jou sal bekendmaak. ‘n Honger en ‘n dors om Hom te ken, behaag Hom intens. Om Hom te ken, is immers ons hoogste roeping.

   Intiem samehangend hiermee is ons bestudering van die Woord. Dis tog waar ons God se selfopenbaring vind. Probeer ons Hom buite die Woord om ken, raak dit nog kant nog wal. Dit laat my ankerloos op ‘n see van subjektivisme en mistisisme beland. Niks is dan meer vas of seker nie; trouens, spoedige misleiding is onafwendbaar. Laat ons dus seker maak dat ons belewing van Christus se liefde inderdaad Skriftuurlik is.

   Min dinge word hedendaags so gering geskat in die kerk as prediking. Kyk egter na die Nuwe Testament, en kyk na die kerkgeskiedenis – in God se ordes het Woordverkondiging nog altyd ‘n baie groot rol gespeel in die opbou van God se kinders. Kyk maar wat skryf die apostel net ‘n paar verse verderaan in Efesiërs: die bediening van die mense in 4:11 genoem (en hulle was tot ‘n groot mate predikers), lei onder meer tot “kennis van die Seun van God” (4:13) en ‘n “groei na Christus toe” (4:15). Moet dus nie rus voordat jy nie Sondag na Sondag onder prediking sit wat jou waarlik opbou nie – en dan ook dieper inlei in ‘n waardering vir Christus se liefde vir sondaars. Onthou net, prediking is nie ‘n paar sentimentele en moralistiese storietjies nie; nee, dis Godgesentreerde en Christusgefokusde Skrifuitleg, assok toepassing wat direk daaruit vloei.

Vierdens, maak seker jy leef in die volheid van die Heilige Gees.

Sonder Hom bly gebed en die Bybel en prediking morsdood. Onthou net, die najaging van Geesvervuldheid het twee komponente, die een positief, en die ander negatief.

Positief moet ons dit afbid, weer en weer. Wonderlik hieroor is die gebedsaanmoediging in die gelykenis van die onbeskaamde vriend in Luk 11:5vv.

  Negatief moet dit ons allererns wees om nie die Gees aanstoot te gee nie. Volgens die Skrif kan mens op verskillende maniere teen Hom oortree. Sonde bedroef Hom (Efe 4:30). En geringskatting van Sy werk blus Hom uit (1Tes 5:19).

Vyfdens, soek die Here self, nie net waarheid oor Hom nie.

Omhels dit met beide arms: God wíl Homself aan jou openbaar en met jou wandel. Kyk net hoe sentraal is dit in Sy Ou Testamentiese beloftes oor die Nuwe Verbond (Hos 2:18-19;Jer 31:31-34). En wees verseker dat Hy niks eerder vir jou wil wys as Sy liefdesgenade in Christus nie.

Laat jou gerigtheid dus God persóónlik wees die Gewer, en nie bloot Sy gawes nie! Wat kan ‘n groter belediging wees as om net in iemand belang te stel ter wille van wat jy uit hom kan kry?

Sesdens, volhard lewenslank op die pad van die soeke na die kennis van die Here.

Soos gesien, het hierdie pad nie ‘n terminus nie. Daar is altyd méér. Trouens, die soeke na en verkryging van Godskennis – en dan ook na ‘n dieper belewing van Christus se liefde – is een van die belangrikste bestanddele van ‘n Christelike lewe wat nooit verveeld raak nie.

SLOT

Kom ons sluit af met ‘n enkele oproep van die profeet Hosea: “Laat ons ken, laat ons dit najaag om die Here te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei” (6:3).

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00