Efésiërs 3:14-21

Ons is besig met die tweede bede. Laas het ons gekyk na die twee begrippe om te begryp en om te ken in v.18-19. Ons het gesien dat eersgenoemde werkwoord veral te doen het met verstandelike insig in ‘n waarheid, en laasgenoemde meer met die belewing daarvan.

   Nou moet ons in v.18 kyk na wat Paulus wil hê die Efesiërs -en dus ook ons -toenemend moet begryp. Hy bid dat hulle toenemend diep sal insien in die wondere van Christus se liefde vir hulle.

DIE DIMENSIES VAN CHRISTUS SE LIEFDE

  Die apostel bid dat die Efesiërs die breedte, lengte, diepte en hoogte van Christus se liefde vir hulle sal begryp. Hulle moet toenemend greep kry op die multi-dimensionele karakter daarvan. Hy weet dat geen mens dit volkome kan verstaan nie (die volgende vers sê immers dat dit ons verstand te bowe gaan). Maar dit moet ons nie weerhou om meer en meer insig by die Here af te pleit nie.

   Die breedte van Christus se liefde

Hier gaan dit oor die omvang van Christus se liefde.

   Die Nuwe Testament maak baie hiervan. Kennelik is dit ‘n ononderhandelbare beginsel. Dink aan die Here Jesus se groot opdrag dat dissipels van “al die nasies” gemaak moet word. Dink aan Kol 3:11: “Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.” Les bes jubel die Openbaringboek oor en oor dat die Godsvolk in die hiernamaals sal bestaan uit mense van alle volke, stamme, tale en nasies (5:9; 7:9; 10:11; 14:6; 21:24-26).

   Vanweë Joodse eksklusiwisme was dit natuurlik nodig dat hierdie waarheid destyds beklemtoon moes word. Maar helaas het hierdie na binne gekeerdheid weer en weer kop uitgesteek in die kerkgeskiedenis – tot vandag toe.

   Nee, ‘n duisend maal nee! Christus is ‘n universele Verlosser en Koning. Hy het geliefdes regoor die aarde! Daarom kan een en almal met Hom identifiseer: melaatse ellendiges in Indië; Amerikaanse biljoenêrs in Los Angeles; ongeletterde Pigmeë in die oerwoude van midde-Afrika; Nobelpryswenners in Harvard en Princeton; popspelende dogtertjies in Chili; rolstoelryende omies in Japan; mofskaapboere van Carnarvon; slanke dansers in Londen se Royal Ballet.

Dis omdat die Here se liefde so breed is dat die evangelie verkondig móét word aan alle nasies voordat die einde sal kom. Dis waarom ons die huidige tegnologiese ontploffing ten beste móét gebruik om die evangelie te verkondig en die kerk op te bou. Laat ons soewereine God nie dalk vandag se kommunikasierevolusie toe, omdat Hy ongeduldig geraak het met die kerk se gepoer-poer om die nasies van Christus se liefde te vertel nie? As Hy 2500 jaar gelede vir Nebukadneser kon gebruik het in die voortgang van Sy raadsplan, waarom nie vandag vir Bill Gates nie?

Die breedte van Christus se liefde stel besondere eise aan Sy gemeente. Vanweë die geweldige verskeidenheid binne die wêreldwye kerk, is dit noodsaaklik om die absolutes van ons geloof duidelik te onderskei, te verstaan en vas te hou. Meer as ooit geld dit in vandag se global village. Anders verval ons gou-gou in een van twee gevare.Óf ons skep ons eie onheilige eksklusiwisme wat sekondêre tyds-en kultuur-bepaalde dinge verhef tot lakmoestoetse vir geloofsegtheid en -gemeenskap. Óf ons verdwaal in ‘n kerklike wêreld van verbysterende verskeidenheid, en loop spoedig in ons stiksienigheid hand om die lyf met allerlei dwalinge van die valse kerk.

Die lengte van Christus se liefde

   Waarskynlik bedoel Paulus hier die ewige en tydlose liefde van Christus.

   Besef ons genoegsaam dat Christus se kruisliefde die verlossingsbasis was van een en elkeen wat sedert die sondeval gered is? Ou Testamentiese gelowiges is geregverdig deur ‘n geloof wat vooruit getuur het na die groot Lam van God wat belowe is; óns word gered deur ‘n geloof wat na Hom toe terugkyk. Besef ons dat Sy liefde nie opgedroog het ná Golgota nie, maar dat ons steeds deur die voorspraak van Sy Hoëpriesterlike liefdestoewyding gedra word? En besef ons genoegsaam dat daar nooit ‘n tyd tot in ewigheid sal wees wat ons daarsonder sal kan regkom nie?

   Is Rom 8:31-39 op die tafels van jou hart geskryf? “Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid … gevaar of swaard? … Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet… Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe … of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

  Al gaan dit nou met jou goed, sal die dag spoedig aanbreek dat jy met alles in jou aan hierdie woorde oor Christus se liefde moet hang -ten minste op jou sterfbed, nie waar nie. Paulus weet dit ook. Daarom bid hy soos hy bid.

Weet jy wanneer die Here Jesus Christus jou al liefgehad het -as jy dan inderdaad onder die mense tel wat deur die Vader aan die Seun toevertrou is (Jhn 6:37, 39; 10:29; 17:2, 6,9, 24)? Voor die grondlegging van die aarde! Toe die verlossingsverbond tussen die drie Persone van die goddelike Drie-eenheid gesluit is om Hulleself te verheerlik in die redding van sondaars, is ons name al in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskryf (Opg 13:8; 17:8). Vir Jeremia word gesê: “Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde” (31:3, OAV).

   Verstaan dus goed, die Here het jou nie eers liefgekry toe jý die dag vir Hom “Ja!” gesê het nie. Nee, jy het jou knieë en nek voor Hom gebuig, omdat Hy jou eerste liefgehad het (1 Jhn 4:19).

   Talle van ons sal kan getuig dat dit ingrypende effekte ten goede in ‘n mens se lewe het as hierdie waarheid in jou diepste wese kom vestig. Paulus weet dit ook. Daarom bid hy soos hy bid.

Die diepte van Christus se liefde

   Party reken dat Paulus hier in gedagte het dat geen sondaar té diep gesink het vir Christus se liefde om hom of haar te red nie. Waar soos die feit is, dink ek egter dat hy eerder aan die duur prys dink wat Christus betaal het om ons los te koop.

   Volgens Filippense 2:5-11 het die diepgang van Christus se liefde vir ons op twee maniere tot uitdrukking gekom. Eerstens het Hy nie aan Sy bestaan op Godgelyke wyse vasgehou nie, maar Homself ter wille van ons verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem (6-7). Tweedens het Hy Homself oorgegee om ter wille van ons verlossing hoon en foltering te verduur (8).

Hoe sal ons ooit kan begin verstaan wat die Seun ingeboet het toe Hy mens geword het? Die Een wat van ewig af bo-tyds was, het die tyd binnegekom en Hom onderwerp aan die beperkinge daarvan; die Onveranderlike het veranderlik geword; die Skepper en Onderhouer van alles het afhanklik geword; die Almagtige het swak geword; die onsterflike het sterflik geword; die Erfgenaam en Vors van die heelal het ‘n slaaf geword!

   Dis in ‘n sin jammer dat die NAV in Jn 1:14 die OAV se “vlees” met “mens” vervang. Johannes sê nie bloot dat die Woord mens geword het nie; ook nie dat Hy bloot ‘n liggaam aangeneem het nie. Nee, hy gebruik ‘n Griekse woord wat amper skokkend is, amper té kru om van toepassing te maak op die ewige Seun van God. Letterlik staan daar dat Hy vleis geword het. Die woord dui op menslikheid in sy swakheid, afhanklikheid en sterflikheid. Die Skepper van hemel en aarde het die fisiese en mundane wêreld van gewone sterflinge binnegekom; trouens, Hy het een van ons geword!

   In Rom 8:3 maak Paulus ‘n skokkende stelling wat hom tot op die rand van godslastering vat. Christus, sê hy, het “in die gelykheid van die sondige vlees” gekom (OAV). Sekerlik kan die apostel dit sagter stel, maar hy wil ‘n punt tuisbring. Hy wil beklemtoon dat Jesus Christus volkome mens geword het. Sy identifisering en solidariteit met ons was absoluut. Hy het so na aan die sondige mensheid gekom soos wat moontlik was -sonder om self ‘n sondaar te wees. Dis soos die Hebreërskrywer sê: “Want ons het nie ’n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde” (Heb 4:15).

   As Paulus hier bid, wil hy hê dat ons dit so goed moet verstaan dat dit ons diepste wese verander.

Wat sal ons sê oor Christus se lyding? Die vernedering van mensword en menswees! Getsemane! En dan die kruis! As strafdraende Plaasvervanger neem Hy die sondeskuld van dermiljoene op Homself. Hy word sonde vir hulle (2Kor 5:21). Hy dra die volle toorn van God oor elke sonde van elkeen van Sy geliefdes vir wie Hy al voor die skepping verantwoordelikheid geneem het.

Wat verstaan ons tog van Sy uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Mrk 15:34)?

   Kom ons volstaan hiermee. Maar laat ons dikwels en biddend hieroor nadink. Die Heilige Gees sal ons wel dieper inlei. Dit is waarvoor Paulus bid.

   Die hoogte van Christus se liefde

   Hier dink Paulus waarskynlik aan die wondere van ons erfenis in Christus -die verlossingshoogtes waarheen Hy ons voer. Ons sien dit in sowel ons huidige voorregte, as in ons ewige heerlikheid.

1 Sam 2:8 sê: “Hy laat die geringes uit die stof opstaan, Hy hef die armes op van die ashoop af om hulle by vername mense te laat sit; Hy skenk hulle ’n ereplek.” Is dit nie die ervaring van miljoene nie? Niks verhef soos evangeliewaarheid, Bybelse ordes en die regering van Christus nie. Die eenvoudigste Christen wat gevestig is in die liefde van die Here Jesus, kan met gemak met die adel omgaan. Dis omdat ons ervaar waarvan Rom 8:1617 praat. Letterlik staan daar dat die Gees in ons getuig dat ons saam-erfgename met Christus is, aangesien ons saam-ly met Hom, met die gevolg dat ons saam-verheerlik sal word met Hom.

   Oor ons huidige erfenis in Christus sou ons baie meer kon sê, maar die tyd laat ons nie toe nie.

Met betrekking tot ons ewige heil volstaan ons met ‘n enkele Skrifaanhaling: “Hulle sal Hom sien, en sy Naam sal op hulle voorkoppe wees. Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van ’n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer” (Opg 22:4-5).

TEN SLOTTE

  As ons bid, is meeste van ons veeleerder geneig om te pleit dat óns meer liefde vir Christus sal hê. En natuurlik is dit nie verkeerd nie; inteendeel. Maar Paulus het ‘n insig wat baie van ons nog kortkom. Hy weet wat ek en jy vandag moet leer -iets van intens praktiese waarde: my liefde vir Christus groei tot die mate wat ek my verlustig in Sý liefde vir my!

   As jy ‘n man of vrou of kind sien wat homself verloën en die Here Jesus met kompromielose liefde en toewyding volg, sien jy iemand wat Christus se liefde vir sondaars in diepte verstaan.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00