Efésiërs 3:14-21
Vandag kyk ons na Efe 3:17b: die gedagte om in liefde gewortel en gegrond te wees.
‘N PAAR TEGNIESE OPMERKINGS
Vergelyk mens die verskillende vertalings, kom jy gou agter dat hierdie frase soms as deel van die eerste bede beskou word (OAV; NAV), en soms as deel van die tweede bede (NIV; NASB). Die Grieks laat beide vertolkings toe, maar ek meen tog dat die tweede keuse beter is (vgl. raamwerk).
Die tweede sodat-sin, oftewel die tweede bede, word dus ingelei deur ‘n kwalifiserende bysin. Só sou ons dit baie letterlik kon vertaal: “Ek bid (tweedens) dat julle – synde in liefde gewortel en gegrond – in staat kan wees …”
In die Grieks is die woorde “gewortel” en “gegrond” in dieselfde vorm (Gr. perfektum passief partisipium). Dit help ons om die gebed te verstaan.
Eerstensisdiegegrondheiden gewortelheid die gevolg van die verhoring van die eerste bede. Tot die mate wat die Efesiërs die innerlike versterking deur die Gees en die inwoning van Christus ervaar, tot daardie mate sal hulle gegrond en gewortel wees.
Tweedens is die feit dat dit ‘n gegrondheid en gewortelheid “in die liefde” is, ‘n bevestiging van ons verstaan van ons teks laas keer – naamlik dat die inwoning van Christus in die eerste instansie te doen het met die liefde wat Christene vir die Here Jesus Christus het.
Derdens sal die gegrondheid en gewortelheid in liefde die aanleidende oorsaak wees van dit wat volg – dat die Efesiërs in staat sal wees om te begryp en te ken (hierna moet ons nog kyk).
Vierdens moet ons die progressie in die gebed raaksien – die een ding lei tot die ander. Ons teks is die brug tussen die twee bedes.
DIE LIEFDE LEI TOT VERANKERING
Waarom gebruik die apostel spesifiek hierdie twee woorde: “gewortel” en “gegrond”?
Die woord “gewortel” sinspeel op ‘n boom wat in die aarde veranker is en wat die lewensap uit die dieptes optrek om daarmee vrug voort te bring.
In Gal 5:6 skryf die apostel baie insiggewende woorde: “In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.” Al sou Paulus óók hier liefde vir die naaste bedoel, is daar tog geen twyfel nie dat liefde vir die Here in die eerste instansie die dryfkrag is vir Christene se goeie werke. Liefde vir die Here en liefde vir die naaste loop in elk geval altyd hand aan hand.
In die konteks gaan dit oor die dwaling van die Judaïste wat aangedring het op die besnydenis as voorwaarde vir redding. Nee, sê Paulus, seremonies sal niemand ooit salig maak nie. Die vereiste is gelóóf, maar dan ‘n baie spesiale soort geloof – daardie geloof wat uitmond in goeie werke (vgl. 1Kor 13:1-3; Jak 2:14-26). Onmiddellik ontstaan die vraag dan: wat is goeie werke? Hier in Galasiërs word die antwoord gegee: dis werke wat deur liefde gedryf word, oftewel, wat ontspring uit liefde. Dis dus werke wat uit liefde vir Hom die Here wil gehoorsaam, behaag en verheerlik.
Presies dit is wat Paulus hier in gedagte het in sy gebed. As die Efesiërs se harte tot barstens toe gevul is met liefde vir die Here Jesus, sal die gemeente soos ‘n boom wees wat op ‘n duisend maniere weer en weer Godvererende vrug dra.
Die woord “gegrond” sinspeel op ‘n gebou wat op ‘n vaste fondament staan. Dit dui dus op vastigheid, stabiliteit en permanensie.
Wat die apostel weet, is dat niks, maar niks so lewensveranderend is as ‘n liefdesverhouding met die Here nie. Dit bring innerlike gevestigheid en sekuriteit, lewenstabiliteit en koersvasheid.
Min kerklidmate doen die Here se naam soveel oneer aan, skaad Sy gemeente soveel, en beteken so pateties min in die koninkryk, as onstandvastige en onbetroubare mense. Hulle het elke tweede dag ‘n ander storie oor die Here se leiding; hulle swig onder die geringste geloofsdruk; en jy kan hoegenaamd nie op hulle peil trek nie.
Jakobus beskryf so ‘n persoon: “… hy is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So ‘n mens wat altyd … onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jak 1:6-8). Wat is hierdie man (of vrou) se probleem? Hy is ‘n twyfelaar; oftewel ongelowig, sê Jakobus!
Sonder geloof woon Christus nie in die hart nie (17) – met nóg minder lewensvastigheid tot gevolg. Die gevolg is dat so ‘n persoon in ‘n negatiewe spiraal beland – en hou die neusduik lank genoeg aan, is hy gaandeweg heeltemal uit die geloof uit. Nee, waarvoor Paulus hier bid, is presies die teenoorgestelde proses – ‘n positiewe spiraal, van heerlikheid tot heerlikheid, van krag tot krag.
Die probleem met sulke onstandvastige mense is gewoonlik dat hulle hul geloof op gevoelens wil bou. Maar dit werk presies andersom. Ons moet ons geloof op die fundamentele beloftes en beginsels van die Woord bou. Dan kom daar wel mettertyd gevoelens en emosies – maar nou verpak in sekerheid en standvastigheid.
GEVOLGTREKKING
Tot die mate wat mense die inwoning van Christus beleef – tot die mate dus wat ‘n liefde vir die Here Jesus in ‘n gemeente se harte brand – tot daardie mate sal hulle vrug dra tot eer van die Here, en tot daardie mate sal hulle sekuriteit, verankering, stabiliteit en standvastigheid in Christus ervaar.
Enigeen met ‘n greintjie insig in die Here se weë met Sy geliefde gemeente, sal weet dat ons in hierdie gevolgtrekking by die hart van kerkwees is. In ‘n sin is bykans alle ander dinge nie net sekondêr nie, maar dikwels irrelevant. En tog is sóveel gemeentes vreemdelinge vir hierdie sine qua non van kerkwees. Mag die Here ons daarvan bewaar!
ENKELE PRAKTIESE IMPLIKASIES
Selfs die mees diepsinnige en geestelike stukke openbaring in die Woord, soos díé in hierdie gebed, het intens praktiese en lewensveranderende implikasies.
Die Bybel stel nooit sogenaamde teorie en praktyk teenoor mekaar nie. Die eerste deel van die Nuwe Testamentiese briewe (die sg. indikatiewe gedeeltes), wat altyd handel oor God se groot verlossingsdade in Christus en die diepsinnige geheimenisse van die Nuwe verbond, gaan soos klokslag oor in ‘n meer praktiese tweede helfte (die sg. imperatiewe gedeelte). En altyd is die tweede deel gebaseer op die eerste deel: omdat God só is, en omdat Hy dít in Christus gedoen het – daarom, juis daarom, moet Christene so en so leef.
Die eensydige beklemtoning van die indikatiewe van die Woord, sonder die imperatiewe, lei tot fariseïsme, huigelagtigheid en selfbedrog. En die die imperatiewe, losgemaak van die indikatiewe, lei tot wettisisme en moralisme.
Laat ons dus nooit terugdeins van die diepsinnige heilswaarhede van die Nuwe Testament nie. Die Heilige Gees het dit júís laat opteken om ons kennis van God en ons geloof te bou. Mens het nie in die eerste instansie intellek nodig om dit te verstaan nie; jy het die verligting van die Gees nodig – en dit gee Hy dikwels vir Sy eenvoudigste en jongste heiliges. Onthou vir wie is die Nuwe Testament geskryf! Baie van destydse Christene was ongeleerde slawe en kleinboere.
Vrugdra is nie opsioneel nie. Daarom mag ons nooit tevrede wees met iets minder as ‘n brandende liefde vir Christus in ons harte nie – en daarom is hierdie gebed so belangrik.
In die eerste agt verse van Jhn 15 praat die Here Jesus ook oor vrugdra. Ook daar beklemtoon Hy die nou verband tussen ‘n intieme liefdesgemeenskap met Hom, en die dra van Godverheerlikende vrug.
Maar daar is nog iets wat ons nie moet miskyk nie. Twee keer waarsku Hy in dié paar verse teen die gevaar om verwerp te word. Een keer is die oorsaak die gebrek aan vrug in ‘n persoon se lewe (2); en die ander keer is die oorsaak die afwesigheid van ‘n innige gemeenskap met die Here Jesus (6).
Dis nie toevallig dat spesifiek hierdie twee oorsake van verwerping genoem word nie. Dis omdat hulle so innig verbonde is. Is die een afwesig, kan jy seker wees die ander een is ook nie daar nie.
Christus in die hart lei tot diep wortels – en dit bring vrug voort, altyd weer. Rus dus nie as die liefde vir Christus laag brand in jou hart!
Om vrug te dra, vat soms ‘n baie lang tyd, maar diegene in wie se harte ‘n onblusbare liefde vir die Here brand, kan jaar in en jaar uit vasbyt en wag – eintlik kan hulle nie anders nie.
As Paulus oor die karaktertrekke van die liefde skryf, begin hy heel eerste met die stelling dat dit geduldig is (1Kor 13:4). Mens lees daaróór sonder om twee keer te dink, maar daar sit ‘n wêreld se waarheid in. Die liefde stuit voor geen struikelblok nie; én dit kan jaar in en jaar uit volhard.
Dit laat mens dink aan Jakob wat, nadat hy sewe jaar vir Lea gewerk het, ‘n verdere sewe jaar vir Ragel moes werk – maar “dit was vir hom soos ‘n paar dae, want hy het haar liefgehad” (Gen 29:20).
Moontlik het geen sendeling in die geskiedenis méér uitgerig gekry as William Carey (1761-1834) in Indië nie. Hoewel hy ‘n man met besondere gawes was, het hy die ontsaglike hoeveelheid koninkryksvrug wat hy voortgebring het aan sy volhardingsvermoë toegeskryf. “I can plod!”, het hy altyd gesê.
Min dinge versier die evangelie en verheerlik die Here méér as Christene wat gegrondves is.
Nog nooit is die gevalle wêreld gekenmerk deur bestendigheid en beginselvastheid nie. Maar ons post-moderne wêreld is tans meer relatiwisties, onbetroubaar en wisselvallig as ooit.
Om in so ‘n wêreld te leef, is nie vir ons as Christene maklik nie, maar dit bied wel vir ons die geleentheid om des te meer ons lig te laat skyn met ons gegrondheid – ons innerlike krag, ons oortuigingsvastigheid, en ons lewenstabiliteit. Ons verstaan immers die wêreld om ons. Ons kan een en elkeen vierkantig in die oë kyk. Ons weet wat ons glo – en in Wie ons glo. Ons weet waarom en waarvoor ons lewe. Ons weet waarheen ons op pad is. Ons is veranker!
Christene in wie se harte Christus brandend leef, is eikebome! Hulle is nie liggewigte wat sommer omgestoot word nie. Hulle word nie deur elke golf van lering rondgespoel nie.
Én hulle maak uitstekende martelare – eintlik nét hulle! – as dit sou nodig wees vir God se eer.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier