Efésiërs 3:14-21
Ons kyk nou na die laaste gedeelte van Paulus se eerste bede in hierdie diepsinnige gebed (die gebed bestaan mos uit drie bedes): dat die Vader sal gee dat Christus deur die geloof in die gemeente van Efese se harte sal woon (Efe 3:17a).
Jy mag dalk dink dis ‘n baie eienaardige gebed. Het die apostel nie so pas gebid vir die werk van die Heilige Gees in die Efesiërs se innerlike mens nie? En woon Christus nie in elk geval in alle gelowiges se harte nie? Meer nog, woon Hy in ons harte, of woon Hy in die hemel (1:20)? En wat beteken dit régtig as die Skrif sê Christus woon in ons harte?
‘N NADERE KYK NA ONS TEKS
Eerstens moet ons in gedagte hou dat Paulus vir mense skryf wat reeds Christene is.
Eén rede waarom dit nodig is om dit te beklemtoon, is dat daar algemeen in die wêreld van evangelisasie ‘n frase gebruik word wat ons al almal gehoor het: “jy moet die Here Jesus in jou hart innooi.” Die Here sou kwansuis ‘n gentleman wees en nie sommer instap waar Hy nie genooi is nie!
Dis gebaseer op Opg 3:20, word gesê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop …”. Maar hierdie brief aan die Laodisense word aan ‘n gemeente geskryf – gelowiges in die meervoud. Met evangelisasie en aanvanklike bekering het dit weinig te doen.
Tweedens is daar kennelik ‘n nou verband tussen die innerlike werk van die Gees en die inwoning van Christus – tussen v.16b en v.17a.
Nóóit moet ons die aktiwiteite van die drie Persone van die goddelike Drie-eenheid teenoor mekaar stel nie. Nee, hulle werk altyd saam.
Die Heilige Gees woon in God se kinders (1Kor 3:16; 6:19). En Christus woon in ons deur die werk van die Heilige Gees (vgl. Rom 8:9-11; 2Kor 13:5; Heb 3:6). En net so woon ook God die Vader in Sy kinders (2Kor 6:16; Efe 2:22; 1 Jak 4:12-15).
Wat hierdie saak betref – soos ons sal sien – moet ons relasioneel dink en nie ruimtelik nie.
Derdens vervaag van ons probleme as ons kennis neem van die Griekse woord wat Paulus hier vir “woon” gebruik.
Grieks skep twee verdere woorde vir inwoning deur ‘n voorvoegsel aan die basiese woord (Gr. oikeo) te heg: die eerste woord (Gr. paroikeo) beteken dan om te woon soos ‘n reisiger – om oor te bly. Die tweede woord (Gr. katoikeo) beteken om soos ‘n permanente inwoner iewers te bly. En dis laasgenoemde woord wat Paulus hier gebruik.
Daar is dus graadverskille wat die inwoning van Christus betref. Die apostel bid hier dat Hy in die Efesiërs sal vestig; oftewel, dat hulle Sy inwoning intens, bestendig en voortgaande sal beleef.
Miskien maak ‘n illustrasie dit duidelik: Jy koop ‘n ou huis en begin dit restoureer. Dit word toenemend jóú plek – totdat jy werklik tuis is.
Die apostel bid dus hier dat Christus die huis van die Efesiërs ten volle sal betrek – dat Hy lewensveranderend in hulle sal vestig. ‘n Mens se hart is immers die sentrum van jou persoonlikheid.
Vierdens moet ons die inwoning van Christus in Christene se harte reg verstaan.
Meeste van ons het as kinders ruimtelik hieroor gedink. Toe ons groter geword het, het ons besef dat dit sekerlik nie kan nie. Toe het ons opgehou om daaroor te dink. Maar nou het dit tyd geword om weer daaroor te dink – ons teks dwing ons.
Kom ek begin met ‘n illustrasie. Was jy al verlief, regtig verlief? Dan dink mens mos gedurig op een of ander manier aan jou geliefde. Selfs as jy baie besig is, is die gedagte aan hom of haar nooit ver van jou af nie (dis waarom daar gewoonlik ‘n omgekeerde verband bestaan tussen verliefdheid en eksamenuitslae!) Jy droom selfs gereeld van jou beminde. Die appel van jou oog lééf in jou hart!
Gestel nou die twee verliefdes trou. Baie jare later gaan kuier die vrou vir ‘n maand by die kinders oorsee. As sy dan weer op Johannesburg Internasionaal land, en haar man vir haar sê, “Jy was elke dag en elke uur in my hart!” – kan hy vir haar iets mooier sê? Dís waarvan Paulus hier praat.
Nou wil ek nie die inwoning van Christus verwater tot ‘n blote emosie nie. Dit behels veel meer. Maar daar is vir seker ook ‘n emosionele belewingskomponent. Dít is egter die punt: as die Skrif praat van Christus se inwoning in my hart, lê die essensie daarvan in die liefde wat ek vir Hom het. Lééf iemand in jou hart, is hy of sy die voorwerp van jou voortgaande aangetrokkenheid, toegeneentheid, lojaliteit, bewondering en liefde.
Wat beleef iemand in wie se hart Christus leef – soos Paulus dit hier bedoel?
Jy sal dikwels oor Christus peins en nadink. Die wondere van Sy persoon sal weer en weer jou gedagtes vul. Jy sal jou verwonder oor die onfeilbare antwoord wat Hy is as Profeet, Priester en Koning op jou elke nood is – en ook op díé van elkeen wat aan Hom behoort. Jy sal jou verlustig in Sy beloftes en alwyse voorskrifte. Bowenal sal Sy volkome en ewige middelaarswerk ‘n sekuriteit in jou vestig wat geen geld ter wêreld kan koop nie.
Hy sal die middelpunt van jou ganse lewe wees; ‘n bestaan sonder Hom vir jou ondenkbaar. Om Hom steeds beter te ken sal jou grootste versugting wees; om Hom al hoe meer te gehoorsaam en te verheerlik, die sentrale hartstog van jou lewe. En natuurlik, dat ander Hom ook só lief sal hê, sal vir jou ‘n lewensbeheersende passie wees.
Gereeld sal jy ervaar waarvan die Emmausgangers gepraat het: was ons harte nie brandende in ons nie? (Luk 24:32). Want jy het jou hart, by wyse van spreke, vir tyd en ewigheid op Christus verloor.
Nou kan mens verstaan waarom die apostel sê híérdie inwoning van Christus kom “deur die geloof”. Dit is mos onmoontlik dat jy só oor Hom voel, en Hom só beleef, as jy nie in Hom glo nie. Tot die mate wat jou geloof in Hom is wat dit moet wees, tot daardie mate sal Hy in jou hart woon – sal jy Hom meer en meer liefkry.
Maar daar is nóg ‘n sleutel: kennis en insig. Sonder kennis kan daar nie geloof wees nie. Saam met oortuiging en vertroue is dit ‘n wesenselement van geloof. Dis onder meer hoekom Rom 10 sê: hoe sal hulle glo, as hulle nie hoor nie; en hoe sal hulle hoor, as iemand nie preek nie (14-15).
Nou kan ons die verband tussen v.16b en v.17a glashelder duidelik sien. Vir ons geloof, maar ook vir ons insig in die wondere van ons erfenis in Christus, is die werk van die Gees ‘n onvervangbare voorvereiste. As Hy nie in ons lewens werk nie, kan ons op ons koppe staan, maar ons sal vreemdelinge bly vir dit waarvoor Paulus hier bid.
‘N GESAMENTLIKE BELEWENIS
In ons besinning oor wat die apostel hier in gedagte het as hy oor die inwoning van Christus praat, het ons tot nou toe op die individuele gelowige se belewing gefokus. En vir seker het Paulus elke lidmaat persoonlik in gedagte. Maar ons moet onthou dat die apostel vir die Efesiërs gesamentlik skryf, en gewis ook die gemeente korporatief in gedagte het.
Dit laat die vraag ontstaan hoe Christus in die hart van ‘n gemeente woon. As ons in gedagte hou hoe ‘n individu dit beleef, is die antwoord maklik: ‘n Gemeente beleef Christus se inwoning as Hý in die middelpunt is van hulle hele bestaan as kerk.
Wanneer die gemeente gesels, en bid, en verkondig, en sing – is die fokus altyd maar weer op Jesus Christus.
Uiters belangrik is die prediking. Is dit Christosentries? Hoor jy Sondag na Sondag van Sy heerlikheid en groot dade as Profeet, Priester en Koning? Is dít die prediking waarin die lidmate hulle verlustig en waarop hulle aandring? Beleef hulle mensgesentreerde en bloot moralistiese prediking as flou en leeg? Gaan hulle onvergenoegd huis toe as Christus nie gepreek is nie?
Waarlik, in die hele wêreld is daar niks liefliker as ‘n gemeente waarin – nee, in wie – Christus woon nie. Dis waarvan die apostel in Efe 2:22 praat: ‘n gemeente wat “saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees” (OAV).
Kosbaarder as goud is ‘n gemeente wat die aangename geur van Christus versprei. Tot die mate wat God sulke gemeentes aan ‘n land gee, tot daardie mate geniet die volk die Here se seën. Want tot daardie mate sal bekerings – ware bekerings – plaasvind. En vir ‘n samelewing is daar niks beter nie as groot getalle ware, toegewyde, radikale, dienende, wetsgehoorsame, barmhartige en liefdevolle Christene in hulle midde – by name dus, mense in wie se harte Christus leef.
ENKELE PUNTE VAN TOEPASSING
Hierdie summum bonum vir ‘n gemeente en sy lidmate kom nie sommer vanself nie.
Paulus is hier besig om te bid. Hy pleit by God om die Efesiërs dieper en dieper in te lei in die belewing van Christus se inwoning. Laat ons vir geen oomblik dink dat óns dit sal ervaar – en sal aanhou ervaar – sonder ernstige en volhardende gebed nie.
Waarlik, Olevianus en Ursinus was reg toe hulle geskryf het dat God Sy genade en die Heilige Gees alleen aan diegene wil gee wat Hom met hartlike sugte, sonder ophou, daarom bid en daarvoor dank (Heidelbergse Kategismus, V&A 116).
Kom ons bid hierdie gebed in Efe 3 baie gereeld – in die besonder ook híérdie bede in v.17a. Want tot die mate wat ons die verhoring daarvan ervaar, tot daardie mate sal ons die gemeente wees wat ons moet en wil wees. Tot daardie mate sal ons ‘n verskil maak in ons stad en in ons land, sal ons ons Here die eer laat kry wat Hom toekom, en sal ons ewigheidsvrug dra. En tot daardie mate sal ons Christenskap die vreugde van ons lewens wees.
Weet jy waarom mense verveeld raak in die kerk? Dis omdat hulle dit waarvan die apostel hier praat nie proefondervindelik ken nie. Hulle verstaan nie wat dit beteken om, by wyse van spreke, jou hart vir tyd en ewigheid op Christus te verloor nie. Want as dit met jou gebeur, dop dit jou lewe geheelen-al om – van Sondag af tot weer Sondag.
Gebed hef nie ons verantwoordelikheid op om die kennis van en liefde vir Christus op elke moontlike manier na te jaag nie.
Voortgaande studie, nadenke, gesprek en leeswerk! En niks maak hierdie brandende liefde vir Christus meer vas in ons gemoedere as om ons gebede daarmee te deurweek nie. Sê op ‘n duisend verskillende maniere vir Hom hoe lief jy Hom het!
En ewe belangrik, deel dit met almal om jou!
Laat ons nie dink dat Christus in ons harte sal woon as ons Hom nie gehoorsaam nie.
Só voor die hand liggend is dit dat ons dit sekerlik nie hoef te motiveer nie. Laat ons dus volstaan met woorde van die Here Jesus self: “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Jhn 14:23).
Is daar in hierdie lewe iets hoër, iets heerliker?
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier