EFESIËRS 3:14-21

  Hierdie gebed van die apostel Paulus is só ryk dat mens voetjie vir voetjie daardeur moet beweeg. Nou kyk ons na v.16b: dat die Vader deur Sy Heilige Gees die Efesiërs met krag sal versterk in die innerlike mens.

  Hierdie frase het 3 komponente wat ons onder die loep moet neem. Paulus bid eerstens dat die Vader deur Sy Heilige Gees in die Efesiërs sal werk. Tweedens vra hy dat hulle met krag versterk sal word. En derdens versoek hy dat hierdie werk van die Gees in hulle innerlike menssal plaasvind.

‘N WERK VAN DIE HEILIGE GEES.

  Een manier waarop die drie-enigheid van God tot uitdrukking kom, is in die wyse waarop die Vader, die Seun en die Heilige Gees altyd saamwerk – in hierdie geval in die verhoring van gebed. Paulus bid tot die Vader; die gevolg is Christus se inwoning (v.17); en hier sien ons dat dit deur die Heilige Gees bewerkstellig word. Ook die eerste gebed in Efesiërs is onmiskenbaar trinitaries (1:17).

   Die Here Jesus moedig Sy dissipels baie sterk aan om te bid vir die werk van die Heilige Gees (Luk 11:5-13). Laat ons nooit vergeet nie: niks van ons erfenis in Christus realiseer in ons lewens nie, anders as deur die werk van die Gees. Maar dit gebeur nie sommer outomaties nie; ons moet daarvoor bid. Presies dit is wat Paulus hier doen.

OM MET KRAG VERSTERK TE WORD.

  Daar is ‘n beheptheid met krag in die hedendaagse kerk. Wonders en tekens is waarom dit gewoonlik gaan. In die proses word die sonde van Simon die towenaar dikwels gepleeg – ‘n blote beheptheid met die sensasionele (Han 8:9-25).

   Sonder om hier ‘n waarde-uitspraak oor die kwessie van wonders en tekens te maak, kan sonder vrees vir teenspraak gesê word dat dít nie is waar die aksent van die Nuwe Testament lê nie.

   In Fil 3:10 beskryf Paulus sy lewensambisie: “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word …” (OAV).

   Dit verskil enigsins van die towenaar se ambisie!

IN DIE INNERLIKE MENS

Terwyl ons sekerlik in diepte oor Bybelse uitsprake moet dink, kan mens ook – en dit gebeur dikwels – Bybelse mededelings oor-analiseer. As dit gaan oor wat die mens presies is, gebeur dit dikwels. Lang en ingewikkelde boeke is al geskryf oor die mens wat kwansuis ‘n drie-deling is: liggaam, siel en gees. Tot in die fynste besonderhede word dan vir jou vertel waar die nate tussen hierdie drie dele loop, presies waar sonde gesetel is, presies watter deel wedergebore word, en watter deel gaan opstaan.

   Terwyl daar wel ‘n uitspraak of twee is oor die mens as liggaam, siel en gees (1Tes 5:23), meen ek dat dit bloot ‘n manier is om van die héle mens te praat. Veeleerder werk die Bybel met die mens as ‘n twee-deling: die uiterlike mens en die innerlike mens (2Kor 4:16; Rom 7:22). Dis ook ‘n onderskeid wat ons onmiddellik proefondervindelik kan verstaan, want ons beleef dit so.

Sonder om onnodig tegnies te raak, kan ons sê dat die “innerlike mens” daardie nie-fisieke deel van ons is waar ons selfbewussyn beleef, waar ons dink en wil en voel. Ons kan voorts in die lig van 2Kor 4:16 sê – waar die innerlike mens met die verganklike uiterlike mens gekontrasteer word – dat dit daardie deel van ons is wat bly voortleef wanneer ons sterf. Dis daardie deel van ons wat vanuit ons huidige liggame sal oorgaan na ons opstandingsliggame. Die innerlike mens is daardie deel van my waar ek regtig ék is.

Dis in hierdie “innerlike mens” wat ons versterk moet word, volgens Paulus se gebed.

   Nooit mag ons die belangrikheid van ons uiterlike mens onderskat nie. Behalwe dat ons hier en nou rentmeesters van ons liggame is, sal ons ná die opstanding vir ewig in ‘n liggaamlike staat leef! Maar dis die gesteldheid van ons innerlike mens wat volgens die Bybel werklik deurslaggewend is. In vergelyking daarmee is die welsyn van ons liggame “tot weinig nut” (1Tes 4:8, OAV).

Waarom is dit dan so belangrik om sterk te wees in jou innerlike mens? Ons sou sekerlik meer redes kon noem, maar drie dinge is onontbeerlik vir rasegte, rooibloed Christenskap. Eerstens is innerlike krag noodsaaklik as ek wil staande bly teen die aanslae van die sonde – en volgens Heb 12:14 sal niemand die Here sien as hy of sy nie ‘n heilige lewe najaag nie. Tweedens moet ons tot die einde toe volhard in geloof en gehoorsaamheid as ons gered wil word. Derdens is innerlike krag noodsaaklik vir vrugdratot eer van die Here Jesus.

DIE STRYD TEEN DIE SONDE

Om in hierdie stryd te seëvier – die Bybel praat ook van ‘n oorlog – móét ek sterk wees in die innerlike mens. Sonder die nodige kennis, oortuigings en vasbeslotenheid in my binneste, sal ek baie gou swig voor die slinkse verleidinge van die duiwel, die onophoudelike suigkragte van die Godvyandiggesinde wêreldstelsel, en die meedoëlose aanslae van my sondige natuur.

Van hierdie geestelike oorlog sê J.C. Ryle: “This warfare … is a thing of which many know nothing … And yet it is as real and true as any war the world has ever seen. It has its hand-to-hand conflicts and its wounds. It has its watchings and fatigues. It has its sieges and assaults. It has its victories and its defeats. Above all, it has consequences which are awful, tremendous, and most peculiar. In earthly warfare the consequences to nations are often temporary and remediable. In the spiritual warfare … the consequences, when the fight is over, are unchangeable and eternal” (“Holiness”, p.51).

Wat die stryd so moeilik en meedoënloos maak, is die feit dat dit nie slegs te doen het met die duiwel en die wêreld se aanslae van buite af nie, maar op sy felste woed binne-in die Christen self. Is my binneste nie dikwels ‘n slagveld nie? Dít is waarom my innerlike mens met krag versterk moet word.

Dis soos ‘n beleg van ‘n stad. Die vyand bombardeer van buite af, maar sy doel is tot ‘n groot mate om sy bondgenoot daarbinne te ondersteun. Die stryd bínne die mure is die beslissende. Solank die Christen hier die opperhand het, bly die vyand se aanslae tevergeefs. Maar as die gelowige híér swig – en eers dán – is alles verby.

Die innerlike vyand word deur die Bybel “die vlees” of “eie begeertes” of “inwonende sonde” genoem. Dit verwys na die sondegeneigdheid wat selfs in iemand wat wedergebore is, oorgebly het. Dit is ‘n skrikwekkende vyand wat nooit opgee nie en nooit onderskat mag word nie.

   Die innerlike stryd om heilig voor die aangesig van God te leef, word op talle maniere in die Nuwe Testament beskryf, dikwels verbeeldingryk en grafies: Rom 6:12-14; 8:12-13; 13:14; 1Kor 9:26-27 (‘n boksgeveg); Gal 5:16-24; Kol 3:5vv; Jak 1:13-15 (‘n prostituut se verlokking); 1 Pet 2:11; 4:1-2.

   Presies hier lê die rede waarom dit lewensnoodsaaklik is dat ek voortdurend in my innerlike mens versterk sal word.

DIE NOODSAAK VAN VOLHARDING

Oor en oor beklemtoon die Bybel die noodsaak van volharding tot die einde toe vir redding. En dit gebruik die woord “volharding” nie vir spek en boontjies nie. Dis ‘n woord wat duidelik die versoeking impliseer om tou op te gooi – omdat die pad soms uitmergelend veeleisend kan wees.

Laat ons die waarskuwing van ons Here Jesus dat mens jou kragtig moet inspan om die koninkryk in besit te kry, nie vergeet nie (Mat 11:12; Luk 16:16). Dis ‘n wedloop – vir meeste van ons ‘n maratonwedloop, en ‘n hinderniswedloop.

Hoe kry mens dit tog in die harspanne van kerkmense in dat jy nie bloot die ewige saligheid op ‘n kiaathout-kerkbank binnedryf nie? As jy nie roei nie, maar bloot dryf, is die waterval jou voorland!

Klink dit nou na redding deur werke? Nee, nee, ‘n duisendmaal nee! Maar dis wel die manier hoe diegene wat uit genade gered word, die koninkryk binnegaan. Die saligheid lê stroomop, nie stroomaf nie.

  Saam met reddende genade, as ‘n integrale deel daarvan, gee die Here ook die innerlike krag en geneigdheid om stroomop te swem. Dit is deel van wat die Bybel die ontvangs van ‘n nuwe hart tydens wedergeboorte noem.

   Dit laat mens dink aan die migrasieverskynsel in die vis-voël-en dierewêreld. Om te trek, kom vanself. En tog is daar ook ‘n groot verskil. Óns neiging om stroomop te beweeg, hang ten nouste saam met die beoefening van ons eie verantwoordelikheid. Ons is mense, nie diere nie!

Ons moet die genademiddele gebruik! Één uiters belangrike aspek daarvan is gebed. Ons moet vir onsself en vir mekaar bid vir die nodige krag – die wil, wysheid en vermoë om stroomop te swem. Presies dit is wat Paulus hier doen.

NOODSAAKLIK VIR VRUGDRA

Tot eer van die Here Jesus moet en wil ons hier en nou leef. Hoe doen ek dit? Natuurlik behels dit méér, maar aan die hart daarvan lê vrugdra. My lewe moet ‘n verskil maak; dit moet ‘n bydrae lewer tot die redding van mense, die opbou van medegelowiges, die koms van die koninkryk.

Vrugdra verg feitlik altyd volharding. Jy plant nie vandag ‘n boom en môre oes jy nie. Die mens is egter oorhaastig – en lui. Ons wil die ding al vingerklappend doen. Maar sonder geduld en harde werk sal bloedweinig gebeur. En daarvoor is ‘n bepaalde hartsgesteldheid nodig – diep oortuigings, innige hartstogte, heilige prioriteite, vasberade voornemens. Die innerlike mens moet bekragtig word en bekragtig bly!

   Waarlik, sonder gebed sal ons lewens min van ewigheidswaarde oplewer. Paulus het dit verstaan!

LAAT VERWONDERING ONS HARTE VUL

Hoe lank is jy al ‘n Christen? Is dit nie merkwaardig hoe die innerlike vuur jaar in en jaar uit bly brand nie – selfs hoër en hoër!

   Die alleroorsaak daarvan is egter nie ons gebede nie; dis ons Hoorder van gebed. Nee, nog meer, dis die voorspraak van ons hemelse Hoëpriester. En dis die gewilligheid van ons hemelse Vader om ag te slaan op Sy pleitdooie vir ons. En dis die Heilige Gees se hartstog om die genadestrome vanuit die Christustroon in ons lewens te kom verwerklik.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00