Efésiërs 3:14-21
Ons kom nou by die apostel se gebed self. Dis ‘n baie ryk gedeelte – diepsinnig, en met heelwat eksegetiese uitdagings. Dr. Martyn Lloyd-Jones noem dit “undoubtedly one of the great mountain peaks in the Scripture.” En, inderdaad, as ons tog maar net méér van dit waarvoor die apostel hier bid, in hierdie lewe kan ervaar!
Kyk mens behoorlik na die Grieks, val die gebed uiteen in 3 gedeeltes – 3 bedes (sien raamwerk). En elke bede het op sy beurt weer onderafdelings.
RAAMWERK VAN PAULUS SE GEBED IN EF 3:14-21
EK BID … (v.14-15)
Eerste Bede (v.16-17a)
dat (Gr. hina) Hy
aan julle mag gee (aoristus aktief konjunktief)
– na die rykdom van Sy heerlikheid –
# om versterk te word met krag (aoristus passief infinitief)
deur Sy Gees
in die innerlike mens
# om te woon (aoristus aktief infinitief
Christus, deur die geloof, in julle harte
Tweede Bede (v.17b-19a)
dat (Gr. hina) julle
– in liefde synde gewortel en gegrond –
in staat mag wees (aoristus aktief konjunktief)
# om te begryp (aoristus medium infinitief)
saam met al die heiliges
die breedte, lengte, diepte, hoogte
# en om te ken (aoristus aktief infinitief)
die kennis-oortreffende
liefde van Christus
Derde Bede (v.19b)
dat (Gr. hina) julle
vervul mag word (aoristus passief konjunktief)
tot al die volheid van God.
AAN GOD AL DIE EER TOT IN EWIGHEID (v.20-21)
Kom ons begin dus met die eerste bede – net die eerste gedeelte daarvan (v.16a): dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van Sy heerlikheid.
NA DIE RYKDOM VAN SY HEERLIKHEID
Wat sit nie alles in hierdie uitdrukking opgesluit nie! Min, baie min, is die Christene wat hiermee die erns maak wat dit verdien. In hierdie frase sit die geheim van ‘n opwindende en Godverheerlikende lewe wat in die volste sin van die woord ewigheidsbetekenis het. Hier het ons die kuur vir doodsheid, verveling en vrugteloosheid in die kerk – ‘n siekte wat sy tienduisende, nee, sy miljoene deur die eeue neergevel het. Waarlik, Paulus het presies geweet waarvoor om vir die Efesiërs te bid!
In hierdie gebed vra Paulus nie net nie; hy onthou van Wie hy vra. Die woordjie wat vertaal word met “na” of “uit” (OAV; NAV; Gr. kata) beteken volgens die standaard van. Die apostel vra dus dat die Here vir die Efesiërs in ooreenstemming met die rykdom van Sy heerlikheid sal gee.
Om te illustreer: as die arm weduwee ‘n minderwaardige geldstukkie in die geldkas gooi, is Jesus beïndruk daarmee. Sy gee na haar vermoë; trouens, méér. Sou ‘n ryk man soveel ingooi, is dit egter ‘n skande. Hy gee ver benede sy vermoë.
Wat is God se heerlikheid? Dis die somtotaal van Sy attribute – die totaliteit van Sy wese. Paulus bid dus hier dat God vir die Efesiërs iets sal gee wat Hóm waardig sal wees. Verbysterend! Só groots moet Sy gawe wees dat nie net die ontvangers nie, maar ook die waarnemers, onontkombaar daaruit sal kan aflei hóé groot en heerlik God is. Paulus bid dat Hy na die “rykdom” van Sy heerlikheid sal gee.
Is die apostel nie voorbarig nie? Besef hy wat hy bid? Behoort mens nie baie meer terughoudend en beskeie voor God se genadetroon te wees nie? Ons is immers net nietige sondaars wat deur God se onverdiende genade gered word. Moet ons nie veel eerder soos die tollenaar in Luk 18 bid nie?
Laat ons egter ‘n paar dinge onthou.
Eerstens is daar sekerlik ‘n tyd om soos die tollenaar te bid. ‘n Mens bid nie net nederig om vergiffenis wanneer jy vir die eerste keer na Christus toe kom nie, maar ook wanneer jy as kind van die Here skeefgetrap en gesondig het.
Maar daar is ander tye – gewoonlik! – wanneer ons soos nóg ‘n karakter in Luk 18 met die allergrootste vrymoedigheid moet bid. Die knaende weduwee het geweier om “nee” vir ‘n antwoord te vat. En kennelik is Jesus ingenome daarmee.
Tweedens is daar niks vir God belangriker as om Homself te verheerlik nie. En Paulus weet dat die dinge wat hy hier vra by uitnemendheid Godverheerlikend is. Hy vra nie bloot dit wat ‘n mens se “selfsugtige begeertes bevredig” nie (Jak 4).
Derdens gee niks die algoeie God méér vreugde as om Sy beste gawes oor Sy geliefde kinders uit te giet nie. En dit waarvoor die apostel hier bid, is inderdaad God se beste gawes vir Sy kinders – solank hulle nog in hierdie lewe is.
Vierdens, laat ons onthou dat ons hier ‘n gebed van ‘n geïnspireerde apostel het, opgeteken in God se algeheel betroubare Woord. Ons moet hierdie woorde daarom baie ernstig opneem.
En moenie dink dat Paulus onnadenkend bid nie. In Fil 4:19 bid hy soortgelyk: “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens (Gr. kata) sy oorvloedige rykdom in Christus Jesus.”
As algemene reël kan ons dus sê: as dit gaan om God se eer, en as dit gaan om daardie dinge waarin Hy sonder twyfel ‘n behae het, hoef ons niks terug te hou in wat ons vra nie; trouens, dan kan ons ons gebedsvisier beswaarlik té hoog stel. Want dit eer Hom as God wanneer ons dinge vra wat geen mens kan regkry nie. Onthou, daar is tye wanneer gebedsbeskeidenheid nie vroom is nie, maar eerder ongelowig – en ongeërg oor God se eer.
WAT SÊ DIT VIR JOU EN VIR MY?
Dit is so dat almal wat met Christus verenig is, in beginsel rééds hulle volle erfenis in Hom ontvang het – alles wat hulle tot in ewigheid sal ontvang. Ons het dus rééds na die rykdom van Sy heerlikheid ontvang toe Hy Sy Seun vir ons gegee het. Dis egter soos ‘n kind wat groot erf, maar eers alles kry as hy mondig is. Wetlik staan dit vas, maar die verwerkliking kom mettertyd. Nou is daar reeds in hierdie lewe ‘n stuk erfenis wat tot uitdrukking moet kom – en dis waaroor Paulus dit hier het.
Ons sal nog goed na Paulus se gebed kyk, maar ek wil net eers in die algemeen praat oor hoe ons oor hierdie realisering moet bid.
Daar is twee gebede wat ons baie gereeld moet bid. Kom ons kyk eers na die een, dan na die ander:
“Vader, moenie vir ons mínder gee as wat kinders van U – uitverkies, bloedgewas en Geesvervuld – in hierdie lewe as medeerfgename van U Seun toekom nie. Gee vir ons in ooreenstemming met U rykdomme.”
Onthou julle hoe Elisa vanaf sy sterfbed vir koning Joas beveel het om met die pyle op die grond te slaan? (2 Kro 13:14-21). Die aantal kere wat die koning sou slaan, sou bepaal hoeveel kere, en hoe vernietigend, Israel die Arameërs sou verslaan. Onthou julle hoe verontwaardig – eintlik woedend – was Elisa omdat Joas net drie keer geslaan het, in plaas van vyf of ses keer?
Waarom was Elisa so kwaad? Omdat Joas nie entoesiasties alles gevat het wat die Here hom gebied het nie. Te wyte aan sy kleingeloof, halfhartigheid en geringe verwagtinge, sou hy die Arameërs weliswaar drie keer verslaan, maar nie eens en vir altyd met hulle afreken nie.
Die voorspoedteologie het in ons tyd ‘n groot aanhang. Almal wat die Bybel eerlik lees, weet dat dit ‘n ernstige dwaling is. Ons moet egter oppas dat ons nie in só ‘n oorreaksie verval dat ons ‘n armmansmentaliteit ontwikkel nie. Te veel dink dis vroom en nederig om jouself voor te hou as ‘n ellendige sondaar wat heeltemal vergenoegd is om net in die Here se voorhowe te vertoef. As ek maar net gered kan word, sê mense, is ek doodtevrede. Nee, ‘n duisend maal, nee! Natuurlik is ons in God se genade Christus se slawe – maar ons is nie ‘n slawegespuis nie. Ons is die hemelse Vader se geliefde kinders en mede-erfgename van Sy Seun!
Nee, God se Woord is duidelik: dit behaag ons Vader, en dit verheerlik Hom, as ons soveel moontlik van ons erfenis in Christus omhels. Toe die verbondsvolk Kanaän destyds in besit moes neem, het die Here vir hulle gesê: elke plek waar julle voetsole op trap, sal Ek vir julle gee (Jos 1:3). Hulle moes die heidene van hoek tot kant uitroei, want die hele land is vir hulle gegee. Dit doen hulle egter nie. En in die tweede helfte van die boek hoor ons die onheilspellende refrein oor en oor: die stamme het die gebiede wat aan hulle toegeken is, nie heeltemal skoongemaak van die Kanaäniete nie (15:63; 16:10; 17:12-13 ens.). En die gevolg? Hierdie heidene sou die volk in die volgende eeue male sonder tal tot afgodery verlei.
Nee, laat Jes 62:6-7 op die tafels van ons harte geskryf wees: “Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner, julle moenie stilbly nie … totdat Hy Jerusalem herstel het, totdat Hy die hele wêreld die roem van Jerusalem laat sing het.”
Laat ons sonder ophou bid: “Gee vir my – nee, gee vir óns, want Paulus bid vir die hele gemeente in Efese – alles wat U in hierdie lewe vir U kinders op grond van U Seun se verdienste kán gee.”
Mag daar nie ‘n dag in hierdie gemeente se bestaan verbygaan nie, sonder dat ten minste sommige van ons vir onsself en ons broers en susters by die Here pleit: “Verruim ons kapasiteit om U te ken, so goed soos mense voor hulle heerlikmaking U kán ken. Maak ons so heilig soos wat mense maar kan wees. Gee ons meer en meer krag om U werk te doen – so goed soos in die mees uitstaande herlewingstye van die verlede. Gee vir ons só ‘n ondernemingsgeloof dat William Carey se gevleuelde woorde waarlik ‘n werklikheid vir ons word: ‘Expect great things from God; attempt great things for God!’ Seën ons materiëel só dat ons fortuine beskikbaar het om die armes om ons te versorg en die evangelie tot aan die uiteindes van die aarde uit te dra. Ag, Vader, seën ons tog, sodat U gemeente U Seun grootliks kan verheerlik!”
“Vader, moenie vir ons méér gee as wat U wysheid en liefde weet ons behoort te hê nie. Gee vir ons in ooreenstemming met U wysheid.”
Dit mag skokkend klink, maar die Here se seën kan mettertyd ook vernietig. Dit wys die geskiedenis van herlewings weer en weer.
Dis net soos met individue. As dit té lank goed gaan met ‘n gemeente, het die snykant van mense se dankbaarheid, nederigheid en waaksaamheid die neiging om stomp te raak. Voor ons ons oë uitvee, beskou ons die Vader se goedheid as vanselfsprekend. Vrymoedigheid voor die Here is één saak; voorbarigheid iets anders. Hoe maklik sit nederige en afhanklike verwondering oor die Here se goedheid nie om in trots en selfvoldaanheid nie! En kort op die hakke van ‘n sondige hartsgesteldheid, volg dwaalleer soos klokslag.
Onthou dus, as ons bid dat die Vader vir ons in ooreenstemming met die rykdom van Sy heerlikheid sal gee, sluit dit ook die gebed in dat Hy nie vir ons méér sal gee as wat Sy karakter toelaat nie.
Laat ons dus ook altyd bid: Vader, gee vir ons nie ‘n greintjie meer van U seën as wat U wysheid weet ons kan hanteer nie. Ja, ons wil U ken, maar moenie vir ons méér van Uself wys as wat ons kan verduur nie. Hou ons by wyse van spreke onder U hand, soos vir Moses, wanneer U verbykom.
Spr 30:8-9 gaan oor materiële seën, maar die beginsel geld vir al God se gawes: “moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: ‘Wie is die Here?’ nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.”
SLOT
Jesus Christus het vir ons ‘n onbeskryflik heerlike erfenis verdien. Niks, maar niks, is gevolglik vir Sy gemeente in hierdie lewe belangriker as om só te leef dat Hy verheerlik word nie. En Hy sal tot dié mate grootgemaak word wat hierdie gebed in ons lewens vergestalting aanneem – in ooreenstemming met die rykdom van die Vader se heerlikheid.
Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier