Efésiërs 3:14-21

Ons het twee keer na v.14 gekyk. In die proses het ons taamlike wye draaie geloop. Vandag kom v.15 aan die beurt.

HOE MOET ONS DIE VERS VERTOLK?

Dis nogal moeilik om te besluit hoe die vers vertaal moet word. Dis nie dat die Grieks so moeilik is nie, maar daar is twee vertolkingsmoontlikhede. Mens hoef maar net na ‘n klompie vertalings te kyk om dit raak te sien. Kom ek verduidelik.

Die eerste opsie kan min of meer só lui: van wie elke geslag (of familie) in die hemel of aarde sy naam kry. Dit is die keuse van die OAV, asook talle Engelse vertalings. W at dit dan sê, is dat alle lewende wesens – ook die engele – die naam van hulle Skepper dra en hulle bestaan aan Hom te danke het. Hierdie vertolking eer God dus as universele Skepper van alles en almal.

Die tweede opsie kan min of meer só lui: van wie die hele familie (of gesin) in die hemel en aarde sy naam kry. So vertaal onder meer die NAV, asook die NIV, die KJV en die NKJV. In hierdie geval word gepraat van al die kinders van die Vader – die Godsvolk – wat al heengegaan en in die hemel is, sowel as diegene wat nog op aarde is. Dit gaan oor die triomferende én die strydende kerk as ‘n geheel, en eer God as die reddende Vader van almal.

Ek is baie oortuig dat laasgenoemde die korrekte vertolking is – en is bly om te sê dat talle kommentatore en predikers wat ek as betroubaar leer ken het, ook so dink (Hodge, Spurgeon, Lenski, Hendriksen, Lloyd-Jones, Stott e.a.).

   Maar waarom is ek so oortuig daarvan? Hoewel die Grieks van die vers self nie uitsluitsel gee nie, dring die konteks oorweldigend daarop aan.

DIE AGTERGROND VAN PAULUS SE GEBED

Dit is nodig dat ons vinnig kyk na wat Paulus voorafgaande aan hierdie gebed van hom skryf, aangesien dit ons nie net sal help om ons teks verantwoordelik te vertolk nie, maar inderdaad om die hele gebed beter in perspektief te plaas.

Soos twee weke gelede beklemtoon, bid Paulus na aanleiding van sy voorafgaande lering (“Om hierdie rede …”, v.14, OAV).

   Maar, onthou julle, hy wou eintlik al aan die begin van h.3 met die gebed begin het (3:1), maar het homself toe in die rede geval. Dis gevolglik duidelik dat dit wat 3:1 voorafgaan in gedagte gehou moet word as mens die gebed reg wil verstaan.

   Dit dwing ons om oorsigtelik na h.2 te kyk.

As die apostel in Efesiërs die gevalle mens beskryf, sê hy onder meer dat sy lewe gekenmerk word deur ‘n dubbele vreemdelingskap. Eerstens is hy “vervreemd” van God, sy Skepper (4:18, OAV). En tweedens is hy “vervreemd” van sy medemens – wat nooit méér radikaal tot uitdrukking gekom het as in die diepgaande geskeidenheid en vyandskap tussen Jood en heiden nie (2:12, OAV).

   In altwee gevalle gebruik Paulus ‘n woord wat dui op die uitsluiting van alle gemeenskap en intimiteit (Gr. apallotrioo, ‘n woord wat net nog een keer in die Nuwe Testament voorkom – in ‘n parallelle uitspraak in Kol 1:21).

Maar beide hierdie geskeidenhede word deur God se genadewerk in Christus opgehef.

In 2:1-10 breek die apostel wonderlike perspektiewe oop op die herstel van die verhouding tussen God en mens. Waar die natuurlike mens dood is in sy sonde, ‘n slaaf is van die wêreld, die duiwel en sy vlees, en onder die toorn van God verkeer, is die mens in Christus saam met Hom lewend gemaak, saam met Hom opgewek, en saam met Hom laat sit in die hemele. 1Anchor

In die res van die hoofstuk het Paulus dit oor die opheffing van die tweede geskeidenheid – dié tussen Jood en heiden.

   In 2:14 praat hy van die “middelmuur van skeiding”. Dis na alle waarskynlikheid ‘n verwysing na ‘n muur op die tempelterrein wat verhoed het dat nie-Jode te ná aan die tempel kom. Die beroemde Joodse historikus, Josefus, skryf meer as een keer oor hierdie muur. Op gereelde intervalle was daar blykbaar teen die muur groot kennisgewings wat heidene gewaarsku het om nie deur die deurgange in die muur te beweeg nie. Minstens twee sulke waarskuwingborde is reeds ontdek – waarop alle nie-Jode gewaarsku word dat hulle net hulleself te blameer sou hê as hulle ná betreding tereggestel sou word. 2Anchor So kan voorbeelde vermenigvuldig word van hoe erg die Jode die heidene gehaat het.

   Maar hierdie skreiende antagonisme en geskeidenheid tussen Jood en heiden word in Christus opgehef (2:13-22). Deur Sy dood aan die kruis het die Here Jesus ‘n einde gemaak aan die vyandskap. Jode en heidene wat in Christus is, is nou nie alleen met God versoen nie, maar ook tot één liggaam verenig (16). Die Efesiërs – uiteraard veral heidene – was nou “nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God” (19, OAV). En só het die wêreldwye kerk van Christus soos “een nuwe mens” tot stand gekom (15, OAV).

   Oor en oor onderstreep Paulus in hierdie brief die wonder en eenheid van Christus se liggaam, weliswaar aan die hand van verskillende beelde.

   In 2:20-22 sê hy ons is soos bakstene wat saam opgebou word tot ‘n enkele tempel waarin God deur Sy Gees lewe – ‘n tempel wat uiteraard bestaan om God te verheerlik. In 3:6 sê hy dat Jode en heidene mede-erfgename is, saam die liggaam van Christus vorm, en ook die beloftes van God deel. En kyk net hoe beklemtoon Paulus dieselfde waarheid in 4:1-6.

As Paulus dus hier in Efe 3 bid, is die wonder van dit waarmee die Here besig is, voorop in sy hart: ‘n nuwe familie wat uit die gevalle wêreld uitgehaal word – ‘n nuwe en verenigde mensheid in Christus!

   Dis ‘n gesin waarvan die grense ál die geslagte van die geskiedenis omvat. En uiteindelik gaan dit bestaan uit verteenwoordigers van elke nasie, stam, volk en taal. Nog meer, dit sluit nie net mense in wat nog op aarde is nie, maar ook ontelbaar baie gelowiges wat reeds heengegaan en in die hemel is.

WAT SÊ DIT VIR ONS?

Laat ‘n sentrale aspek van ons Christenskap se belewing en uitlewing altyd wees dat ons nou deel is van die Vader se huisgesin — wat nie net alle kulturele en nasionale grense oorspan nie, maar ook dié van tyd en ewigheid.

   Sonder twyfel het die kerk nog altyd verskillende nasionale en kulturele gesigte gehad – en dis op sigself nie verkeerd nie. Ononderhandelbaar, sekerlik, geld die basiese beginsels van die Nuwe Testament. Maar onvermydelik het die kerk van plek tot plek en van tyd tot tyd ook ‘n historiese en kultuurbepaalde gestalte wat vrylik tot uiting mag kom, omdat dit op die vlak van die sekondêre lê.

   Die wêreldwye en tydlose eenheid van die kerk moet egter kompromieloos deur ons vasgehou word.

Ek praat nie van ‘n bloot organisatoriese of ekumeniese eenheid nie. Dis die pad van die valse kerk, aangesien institusionele stutte die kerk moet regop hou waar die Gees nie teenwoordig is nie

Voorts, het die kerk onder die Afrikaners nie die pynlike en Godonterende ervaring van hoe ons teks oor geslagte heen geweld aangedoen is nie? Maar dis omdat ons sakralisme – die vermenging van kerk en staat, van geloof en kultuur, van evangelie en politiek – met ons moedersmelk ingekry het. Nee, die kerk in Christus is één – al sou mens vanweë taalverskille, afstand, of ander praktiese faktore apart vergader en groepeer.

   As ons vadere maar verstaan het dat daar so iets soos ‘n ware kerk is, en so iets soos ‘n valse kerk – en dat die ware kerk God se alternatiewe eenheidsgemeenskap in hierdie wêreld is!

Weliswaar is ons nie meer vreemdelinge en bywoners nie (Efe 2:19, OAV), maar juis dáárom is ons nou vreemdelinge en bywoners (1Pet 2:11).

   Die oomblik toe ek uitgehaal is uit die gevalle mensheid in Adam en oorgebring is na die nuwe mensheid in Christus (Rom 5:12-21), het daar ‘n nuwe geskeidenheid in my lewe ontstaan.

   Veral in onervare Christene se lewens kan dit tot geweldige konflik lei. Trouens, as dit nie gebeur nie, was daar moontlik nooit regte bekering nie. Want vir iemand wat wedergebore word, gaan die ou dinge verby en word alles nuut (2Kor 5:17, OAV). Daar is ‘n nuwe hart, ‘n nuwe lewensbeginsel, nuwe gerigthede, nuwe prioriteite, nuwe ambisies, nuwe hartstogte – ‘n totaal nuwe lewe. En dit dwing jou teen die stroom en behepthede van die ongelowiges in – wat jou ‘n vreemdeling in hierdie wêreld maak.

   Tog, aan die ander kant, raak iemand wat die reddende genade van God ontvang het, onmiddellik bewus van ‘n roeping om na die gevalle wêreld uit te reik. Word ons nie geroep om sout van die aarde en lig van die wêreld te wees nie? Het ons nie die opdrag om die evangelie ver en wyd uit te dra nie?

   Om al hierdie kragte in ewewig in jou lewe te kry, kan baie jare se stryd en soeke verg. Maar moenie moedeloos raak nie, want jou konflik is ‘n aanduiding van jou erns – en as sodanig ‘n lofoffer wat jou Vader behaag. Ek weet, in die proses vang mens soms dwaashede aan wat die Here se Naam in oneer bring. Maar dis hoekom die Here Jesus herders in sy gemeente stel. Diegene wat Heb 13:17 ernstig opneem, sal ‘n duisend slaggate vermy.

Laat ons nie moedeloos word as die kerk – ook ons eie gemeente – soveel te wense oorlaat nie. Nee, laat ons soos Paulus vir die kerk bid.

   Paulus was hopeloos verlief op Christus – maar ook op sy liggaam, die kerk. En hy het die grootse voorregte, maar ook roeping van die kerk verstaan.

   Vandaar sy allesoorheersende ambisie vir die kerk. Hy het egter begryp dat die struikelblokke om waarlik kerk te wees, reusagtig is. En dis waarom hy bid. Want as ‘n kind van die Vader onweerstaanbare innerlike aandrange ervaar, maar dit nie self kan bewerkstellig nie, bid hy of sy, nie waar nie – weer en weer. En presies dít is wat hier gebeur.

   Ek pleit dus by jou: moenie rus voordat Paulus se hartstog vir die kerk en haar roeping nie ook in jou brand nie. Wy jouself dan onvermoeid aan voorbidding vir die kerk – volgens die model wat hier in Efe 3 (en elders) vir ons voorgehou word. Want, wat die wêreld in ons sien, móét hulle besef kan net in terme van die algoeie en genadige God se herskeppingswerk in Christus verklaar word.

   Bid ter wille van die Here se eer en die redding van derduisende in ons land wat totaal sinies geraak het oor die kerk – omdat hulle nog nooit kon onderskei tussen die ware en die valse kerk nie.

   Lees Art. 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis deur – en verstaan jou roeping!

ARTIKEL 29 VAN DIE NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS

DIE KENMERKE VAN DIE WARE EN DIE VALSE KERK

  Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk toeeien. Ons praat hier nie van die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie alhoewel hulle uiterlik daarin is; maar ons sê dat `n mens die liggaam en die gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat beweer dat hulle die kerk is. Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf – kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken, en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie.

Vervolgens, aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheld najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het.

Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.

Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.

Matt. 13; 2 Tim. 2:18-20; Rom. 9:6; Ef. 2:20; Joh. 10:4, 14; Matt. 28:20; Gal. 1:8; 1 Kor. 11:20; Kol 1:23; Hand. 17:11; Joh. 18:37; Ef. 1; Joh. 8:47; 17:20;1 Joh. 4:2 (en 3:9); Rom. 6:2; Gal. 5:17, 24; Rom. 7:5; Kol. 1:12; 2:18-19; Ps. 2:3; Op. 2:9; 17:3; Joh. 16:2.

voetnotas

Anchor1. Om die duiselingwekkende betekenis daarvan te verstaan, moet mens dit weer in die lig van h.1 lees – maar dit sou ons te ver wegvoer van ons huidige tema af.

Anchor2. John Stott, Gods new society, 1979, p.92.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00