Fillipense 1:21

Mr. Martyn Lloyd-Jones sê in ‘n preek oor v.21: “We stand here face to face with one of the sublimest and greatest statements ever made, even by this mighty Apostle of our Lord and Saviour Jesus Christ.” Dis slegs 9 woorde in die Grieks, maar hoe kom mens by die bodem daarvan uit? Kom ons kyk nou na die eerste helfte van v.21.

INLEIDING

In hierdie brief stel Paulus die Filippense in hulle bekommernis oor hom gerus.

   Ja, sê hy, hy is wel in die tronk en het inderdaad deur baie beproewinge gegaan, maar die Here het in Sy soewereiniteit alles gebruik om Homself te verheerlik. Anders as wat mens sou verwag, het dit selfs gelei tot ‘n wyere uitdra van die evangelie (v.18). Wat sy toekoms betref, is hy heeltemal onseker: hy mag vrygelaat word, maar hy mag ook tereggestel word. Uiteindelik maak dit nie veel saak nie. Al wat saak maak is dat Christus verheerlik sal word. Solank dít gebeur, is dit vir hom om ‘t ewe of hy leef en of hy sterf (v.23) – want die lewe is vir hom Christus en die sterwe is wins. Daarom moet die Filippense hulle nie te veel oor hom bekommer nie.

   In v.22-26 openbaar die apostel iets van sy hartsgesteldheid. As dit van hom afgehang het, sou hy verkies het om heen te gaan en by Christus te wees. Maar hy weet dat sy broers en susters hom nog nodig het – en daarom glo hy tog dat die Here hom sal spaar.

‘n Nadere kyk na v.21a is betekenisvol:

Paulus se uitspraak begin met “want”, en is daarom ‘n voortsetting en verduideliking van die voorafgaande. Hy sê dus: Christus sal “groot gemaak … word in my liggaam” (v.20, OAV) … want om te lewe, is vir my Christus, en …”

In die Grieks lê die klem op die woorde “vir my”. Christus word dus nie in elke mens se lewe sondermeer verheerlik nie; dit gebeur net as die lewe vir jou Christus is.

Die uitdrukking, “om te lewe”, dui op voortgaande handeling. Paulus praat dus nie net van ‘n opinie of filosofie oor die lewe nie, hy praat van ‘n manier van lewe.

Wat presies bedoel die apostel met hierdie kernagtige stelling wat so ontsaglik baie omvat? Miskien sal dit help as ons die vraag in twee meer spesifieke vrae opbreek: Eerstens, wat bedoel hy as hy oor sy manier van lewe praat? Tweedens, wat bedoel hy as hy sê dat dit Christus is?

DIE LEWE IS VIR MY CHRISTUS

Wat is die lewe? Waarom leef ek? Hieroor net eers drie algemene opmerkings:

Eerstens, baie, baie mense dink natuurlik nooit oor die betekenis van die lewe nie. Hulle het hierdie verbysterende gawe van bestaan ontvang, van persoonlikheid, van individualiteit, van syn (soos die filosowe sê) – en hulle verwonder hulle nooit daaroor nie! Hulle gaan maar net van dag tot dag aan – soos diere. Hulle dryf bloot voort soos kurkproppe op die see.

Tweedens beskryf 1Jh 2:16 wat die lewe vir die meeste mense is: “… die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe …” (OAV). Hierdie 3 dinge laat die aarde vir Jan en alleman draai:

Vir sommige gaan die lewe oor die laere drifte van die vlees. Wine, women and song!, is hulle motto. Hulle is die Epikureërs, met as lewensfilosofie: Laat ons eet en drink, want môre sterf ons. Hulle is hedoniste wat deur elke week se werk wroeg om só genoeg geld vir naweke te verdien. Hulle is adrenalienslawe, en die summum bonum kan enigiets wees van ‘n kan wyn tot ‘n 4×4.

Vir andere gaan die lewe oor die sogenaamde mooi en verhewe dinge: menswaardigheid (en diere-waardigheid!), welwillendheid, offervaardigheid; die kuns, die akademie, die wetenskap, dieomgewing, ens., ens. En natuurlik is al hierdie dinge prysenswaardig. Maar as daar meer van die geskapene gemaak word as van die Skepper, word dit afgodery.

En vir nog ander gaan die lewe oor status en mag. Ambisie, bevordering, meer besittings, nog toekennings! Dis wat vir hulle alles die moeite werd maak. En om dit te bereik, sal hulle niks of niemand ontsien nie. Besigheid is besigheid!, is hulle leuse; All is fair in love and war!, hul motto.

Derdens, vir dermiljoene is godsdiens hulle lewe. Hierdie tyd op die ondermaanse is gegee, sê hulle, om na God toe op te klim – teen die leer van moralisme en seremonies en sakramente. Mens moet jouself aanvaarbaar maak vir jou Skepper; jy moet ‘n beter hiernamaals beding.

Vra mens egter vir Paulus, Wat is die lewe? Waaroor gaan dit vir jou?, antwoord hy kort en kragtig, beslis en sonder huiwering: Christus!

   Om die volle implikasie van die apostel se antwoord te verstaan, moet ons vra: waarin kom die lewe tot uitdrukking, hoe word dit beleef?

   Die antwoord het ten minste drie kante:

‘n Mens se lewe kom tot uitdrukking in wat jy dink en glo, in jou gedagtes en oortuigings. Die middelpunt van Paulus se oortuigings was Christus en Christus se werk – Sý koninkryk, Sý evangelie, Sý gemeente, Sý eer. Dit neem maar weer en weer die apostel se gedagtes in beslag. As hy loop en peins, is dit Christus; as hy met vriende gesels, is dit Christus; as hy skryf, is dit Christus.

‘n Mens se lewe kom tot uitdrukking in wat jy voel, in jou emosies. Oor niks of niemand het Paulus intenser belewinge gehad as oor Christus, Sy faam en Sy saak nie. Om die Here te behaag en te verheerlik, was die hartstog van sy lewe. Om Hom steeds inniger te ken, was sy verlange dag na dag.

‘n Mens se lewe kom tot uitdrukking in wat jy doen, in jou elke dag se aktiwiteite, in die prioriteite wat jy najaag. Ook hierin was Christus vir Paulus in die middelpunt. Dis vir Hóm wat hy hom ingespan het, vir Wie hy elke greintjie energie aangewend het. Dis vir die verbreiding van Sý evangelie wat hy alles gegee het en geen swaarkry ontsien het nie.

Dink vir ‘n oomblik na oor Paulus se lewe. Dan besef jy dat sy belydenis in v.21 waarlik die werklikheid van sy hele bestaan was.

DIE LEWE IS VIR MY CHRISTUS

Wat is van ‘n mens waar as Christus vir jou die lewe is. Hoe het Paulus dit beleef? Hoe ervaar alle ware Christene dit deur die eeue?

Christus is die onwankelbare sekuriteit van jou lewe. Die belangrikste van alle vrae – hoe sal ek eendag regverdig voor my Maker staan? – is net nie meer die allesoorheersende verskrikking van jou lewe nie. Nou is daar ‘n ewige rots onder jou voete.

Christus is die vreugde en sin van jou lewe. Christus is vir jou die wysheid wat van God kom, die geregtigheid, die heiligmaking en die verlossing (1Kor 1:30-31). Kortom, Hy is jou alles.

   Mens kan jou van alles stroop – van jou besittings, jou waardigheid, jou dierbares en jou vryheid – dan bly die Here Jesus Christus steeds jou vreugde, sin en sekuriteit. Trouens, des te meer.

Christus is die bron van jou lewe. Hy is die wingerdstok en jy die loot (Jh 15). Jy leef nie meer nie, maar Christus leef in jou (Gl 2:20). Dis waarom die apostel in Fl 3:10 kan sê dat dit sy ambisie is om te leef vanuit die krag van Christus se opstanding. 

   Miljoene ken dit as ‘n ervaringswerklikheid. Lees maar die biografieë van God se begenadigdes. 

   Christus is die gerigtheid van jou lewe. Om Hóm te ken, die verbreiding van Sý evangelie, die welsyn van Sý gemeente, die bevordering van Sý eer – dit is die dryfveer, motief en ambisie van jou hele bestaan. Dis wat Paulus in Rm 14:8 bedoel: “As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here . Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.”

  Andersom gestel, neem Christus weg, en die lewe word vir jou die dood. Want Hy het inderdaad vir jou die weg, die waarheid, en die lewe geword.

Dis wat dit beteken om die Here Jesus Christus lief te hê met jou hele hart, siel, verstand en al jou krag. Dis wat ‘n persoonlike verhouding met die Here beteken. Dit is ware Christenskap!

   Christenskap is nie primêr ‘n stel oortuigings of morele waardes nie – dis ‘n hartstogtelike verhouding met ‘n Persoon, die Here Jesus Christus!

WAT SÊ DIT VIR ONS?

Hierdie vers gee vir ons miskien die mees fundamentele lakmoestoets vir outentieke Christenskap in die ganse Bybel.

  Al kan hulle dit nie onder woorde bring nie, weet alle ware Christene dat hulle proefondervindelik iets hiervan ken. Daarenteen verstaan ‘n nie-Christen niks hiervan nie – maar hy weet wél dat dit nie van hom waar is nie.

   Die getuienis van die sending- en kerkgeskiedenis is onweerlegbaar: dis die mense wie se lewens beheers is deur die dinge waarvan ons praat, wat werklik die verskil gemaak het. Dis húlle wat blywende vrug gedra het. Dis deur húlle wat die Here sy grootse werke gedoen het.

   Haal 90% kerkmense se lewens uit die afgelope 2000 jaar se kerkgeskiedenis, en die koms van die koninkryk van God sou net so ver gestaan het soos vandag. Trouens, sonder hulle was dinge sekerlik veel verder gevorder. In die Here se saak vaar ‘n Gideonsbende altyd beter!

Kardinaal belangrik is dit om te onthou dat die apostel nie hier vir ons ‘n bevel gee nie, maar ‘n feitestelling maak.

  Dit waarvan Paulus hier praat, kan ons nie self opklits nie. Nee, dis die gevolg van God se genadewerk in ‘n mens. Húlle ervaar dit wat deur die Here in Sy genade aangeraak is.

   Hierdie liefde vir die Here is ‘n wederliefde. Dis die liefde van dankbaarheid en verwondering. Dis die liefde van lewenslange gefassineerdheid en verknogtheid en toewyding.

   Kan ek dan niks doen om dit te ervaar nie? Tog wel, ja. Doen wat God se Woord sê: gee jouself opreg en ongekwalifiseerd vir tyd en ewigheid vir die Here Jesus Christus as groot Profeet, Priester en Koning. En jy sal ervaar wat tallose mense deur die eeue beleef het. Die Here sal gewis deur Sy Gees Sy liefde in jou hart uitstort. En nooit sal jou lewe weer dieselfde wees nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00