Skriflesing: Lukas 2: 8-20
Titel: Vrede deur Gods welbehae&nbsp

Dit wat, vir ‘n paar minute lank, met die skaapwagters gebeur het – is ‘n prentjie van dit wat met die Here se gemeente/ alle gelowiges daarna sou gebeur – tot in 2005. Die Here kom oorval letterlik die herders met verrassende ondenkbare genade. Sonder dat hulle dit vooraf gevra het. Hulle het geen saak met die Here en met die evangelie gehad nie. Hulle was besig om skape te versorg. Waarskynlik het hulle nie eens geweet van die geboorte van die Verlosser nie. Maar, die Here kom oorval hulle met ‘n ongevraagde geskenk. ”Meteens staan die engel by hulle EN die heerlikheid vd Here skyn rondom hulle” Die Here laat hulle nie eers toets-skryf en op grond van die uitslag skenk Hy Sy verlossing nie. Nee, Hy kom gee eenvoudig Homself aan hulle met ‘n hoorbare beloftewoord deur middel van ‘n engel. Uit pure vrye guns.

Kyk mooi na die woordkeuse vd engel: “Ek BRING aan julle goeie tyding wat vir die hele volk bestem IS. Vandag IS daar vir julle gebore. Dit IS die teken : julle SAL ‘n Kindjie vind.” Sien u? Geen vooraf voorwaardes waaraan voldoen moet word nie. Maar ‘n vrye geskenk. ‘n Toesegging. ‘n Deposito op hulle geestelike bankrekening.

Nog meer: die HEERLIKHEID vd Here skyn plotseling rondom hulle. Hulle het nie kans gehad om eers hulle sondes te bely en jammer te sê en om te draai en die Here te kies nie. Nog voordat hulle daaraan kon dink, SKYN die heerlikheid van die Here rondom hulle! IS dit nie sielsaangrypend nie??? Hierdie heerlikheid was in die OT die bewys vd Here se teenwoordigheid. Die heerlikheid was egter altyd, a.g.v. die volk se sonde, AFGESKERM vd volk deur die voorhangsel in die tempel. Dit was net by Sinai – voor die goue kalf-episode – wat die heerlikheid vd Here die volk regstreeks omstraal het, sonder dat hulle gesterf het. Nou omstraal hierdie heerlikheid weer die skaapwagters REGSTREEKS sonder dat hulle dood neerslaan. Vir ‘n paar oomblikke was die heerlikheid van God nie dodelik vir sondaars nie. Dit wys daarop dat die Nuwe Verbond nou gekom het, waar God VERSOEND met Sy gemeente sal saamwoon. Dat gelowiges nou in die Here se teenwoordigheid sal kan lewe, sonder om te sterwe. Omdat versoening bewerk is. Want, die Kindjie is gebore. Dit is as gevolg van SY KOMS, wat die heerlikheid van God kon terugkeer na Sy volk. Daarom die klem op die blydskap. Want watter groter ding kan met ‘n mens gebeur – ‘n mens wat weet dat hy geskei is van die heerlikheid van God a.g.v. die sonde – om te hoor: Jy is versoen met God. Die muur van skeiding is afgebreek. Jy kan nou weer in Sy heerlikheid lewe!

Kyk, die Here moes goed geweet het dat hierdie skaapwagters totaal uit die veld geslaan sou wees. Die belofte is so fantasties, so ongelooflik goed, dat hulle moeite sou hê om dit te glo. Moeilik om dit te aanvaar. Daarom kom Hy hulle nog meer tegemoet om hulle te help om dit te glo. Hy gee vir hulle ‘n sigbare teken. Die Kindjie wat in doeke toegedraai is. Hulle kon gaan kyk. Hulle kon Hom sien. Hulle kon aan Hom raak. ‘n Fisiese teken. As hulle die teken sien, dan MOET hulle glo. En as daardie teken nie genoeg is nie, gee Hy nog ‘n teken. ‘n Hele leermag van engele wat verskyn en die Here prys.

Dit alles gebeur in die fraksie van minute. Kan u sien: In daardie paar minute sien ‘n mens ‘n prentjie van die manier hoe die Here deur die eeue met die mens werk. Ook met ons. Nie een van ons sou ooit (uit onsself en eie keuse) ‘n saak met die Here gehad nie. Ons is van nature totaal verlore & verdorwe sondaars. Net een ding belangrik: Ons eie self. Maar, die Here het ongevraagd Sy heerlikheid aan ons kom gee. Toe die Verlosser vir ons gebore is, gesterf het, opgestaan het, HET Hy ons met Homself versoen. Ons sondes afgeskryf – sodat ons in Sy heerlikheid kan lewe. Deur die Bybelwoorde (wat ons van kleins af hoor) kom skenk Hy hierdie versoening aan ons – sonder voorwaardes. Hy skenk dit pratende/ met woorde. Hy gee tekens daarmee saam. Waterdruppels, brood en wyn. Sigbare tekens om ons te verseker dat dit die waarheid is wat GEGLO mag/moet word.

Geen wonder dat die engele uitroep: “EER AAN GOD!” Dit kan nie anders nie. Uit Hom is dit alles. Hy stel baie intens in MENSE belang. Omdat Jesus gebore is, het die Vader ‘n WELBEHAE in MENSE, sing die engele. “Welbehae” beteken dat Hy Hom ontferm. Oor wie? Oor MENSE. DAAROM is daar nou vrede. Daar is vrede omdat die heilige God Hom nou oor mense ontferm het. So sing die engele dit uit!

As ‘n mens so na die engele luister en rondom jou kyk, is ‘n mens egter lus om te vra: “Watse vrede?” “Vrede wat toe waar ingetree het?” ‘n Mens verwag darem nie dat die Here se engele kluitjies sal bak nie! Dat hulle stories sal uitdink nie. Want, skaars was die engele stil of 2000 000 mense sterf in Jerusalem tydens die Romeinse beleg in 40n.C. Daarna het volkere en nasies mekaar aan die keel gegryp in die een bloedige oorlog na die ander. Die geskiedenis van die pas afgelope 20ste eeu trek ook (skynbaar) ‘n dik streep deur die engele se vredesboodskap. Die 20ste eeu is ingelei met die Britse Koloniale oorloë en net in 2 van hulle sterf 50 000 mense in Soedan en Suid-Afrika. Met WO1 sterf 9 miljoen. Met die Russiese rewolusie sterf 1000e. Chinese vryheidsoorlog sterf 26 miljoen. Spaanse burgeroorlog 1 miljoen. WO2 sterf 30 miljoen. Koreaanse oorlog 3 miljoen. 11000 Suid-Afrikaners het in die grensoorlog in SWA gesterf, maar baie meer boere is alreeds op plase vermoor sedert 1994. In SA heers daar nie vrede nie, maar kruip ons mense weg agter hoë mure uit vrees vir misdaad.

Hoe voel u oor die engele se vredesboodskap wanneer u die realiteite van ons dag in die oë kyk? Het die engele dalk ‘n fout gemaak? Het hulle kluitjies gebak? Hoe voel u oor die engele se vredesboodskap wanneer u na u eie lewensomstandighede kyk? Dinge wat gebeur wat u nie kan verstaan nie. Dinge wat nie wil regkom nie. Sake waaroor u bid en niks gebeur nie. Siektetoestande, finansies, kinders wat teleurstel ens.

Hoe moet die engele se woorde verstaan word? Hoor weer: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het..”

Dit is ‘n vrede wat werklik bestaan te midde van/ ten tye van al die onvrede/omstandighede in die wêreld. En, hierdie vrede bestaan nie oral nie. Dit is eksklusief. Dit is iets wat slegs die gemeente van Christus ken. Lees weer: “Vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het.” Mense in wie God ‘n welbehae het. Wie op aarde is dit? Dit kan seker nie EK wees nie! Watse soort mens is SO goed dat die heilige God Hom oor hom/haar ontferm? Is daar enige iemand wat dit kan bereik?

Maar juis hier sien ons die hartklop van die evangelieboodskap. Die WONDER van die evangelieboodskap. Dat die mens, wat weet dat hy/sy nooit só goed sal wees nie, nogtans met sekerheid kan weet dat God in hom/haar ‘n welbehae het. Dat God met jou 100% tevrede is. Dat God jou aanvaar

Dit is op net een enkele manier moontlik: Deur die Kindjie se geboorte. In Christus Jesus alleen. Wanneer jy totaal afsien van jou eie verdienste & goeie werke, om daarmee vrede by God te vind, en jy glo dat Jesus jou met God versoen het. Jou vertroue is m.a.w. nie meer op jouself nie, maar op Christus. DAN het jy vrede, te midde van ‘n deurmekaar lewe. Dit is wat ware vrede is: Om te WEET jy staan nie meer voor God as veroordeelde nie, danksy Christus (Rom 8:1). Of, soos Romeine 5:1 dit opsom: “God het ons vrygespreek deur die geloof. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur Jesus Christus..” ‘n Mens kry nie die vrede deur te PROBEER om soos ‘n Christen te lewe, te PROBEER om God te behaag, te PROBEER om 10 gebooie te hou. ‘n Mens kry eers vrede wanneer jy ophou self probeer, en begin om te GLO dat God jou (jy wat gedoop is) begenadig het in die Seun wat in Betlehem gebore is >> Dat Hy ‘n welbehae in jou het. Dat Hy Hom oor jou ontferm het, in/deur die Betlehemskind

Klink dit te goed om waar te wees? Voel u soos die skaapwagters? WOW, kan dit vir MY wees? Kyk dan : daar is ‘n teken gegee: ‘n Kindjie in doeke toegedraai. Voel dit te ver weg in die geskiedenis? Kyk dan : daar is nog ‘n teken gegee: u is gedoop in die Naam vd Vader, Seun, HG. Is dit nie genoeg nie?? Kan u nog nie oortuig word nie? Kyk, daar is nog ‘n teken gegee: Die brood en beker. Al hierdie tekens is gegee om u & my met sekerheid te oortuig: Die Kindjie IS vir ons gewaarborgde redding gebore. Glo dit en lewe.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00