DIT IS MY KERK!

1.     My kerk is saamgestel deur mense net soos ek.

2.     My kerk sal vriendelik wees indien ek vriendelik is.

3.     My kerk sal groot werk verrig as ek die werk doen.

4.     My kerk sal oorvloedig gee waar daar nood is as ek oorvloedig gee.

5.     My kerk sal ander mense na die dienste bring as ek hulle bring.

6.     My kerk se banke is ingeneem as ek my plek inneem.

7.     My kerk is ’n kerk van liefde, lojaliteit, geloof en diens indien ek wat die kerk maak wat dit is, gevul is met hierdie aspekte.

8.     Dus, deur die genade van God , is ek toegewy om al hierdie dinge te wees wat ek van my kerk verlang om te wees.

Die belangrike aspek vir my hier is lojaliteit of getrouheid.

Vanmore was dit regtig baie koud. Ons huishulp kom die paadjie opgestap met dik wolkouse, ’n dik jas en onder die jas kan mens, met die verskillende kleure, aflei dat daar ’n hele paar truie aangetrek is. Gebreide handskoene span styf oor die vingers. ’n Wolmus is styf oor die kop getrek en oor haar gesig getrek , soos die “cowboy’s” van ouds, is ’n sakdoek so gevou dat ook die lang kant van die driehoek onder die ken hang.  Dit is net die oë wat uitsteek en die handsak wat aan die arm hang.  Al wat sy gekort het was ’n perd en rewolwer.  

Terwyl ek nog so staan en seker maak dat die hek korrek toemaak, erken ek my sakdoek wat sy so oor die gesig vasgemaak het. Dadelik begin ek met myself praat en vertel myself dat daar is seker baie ander sakdoeke wat ook so lyk. So probeer ek hierdie gedagte van, “Sy het gesteel!” uit my gedagtes kry en ek gee haar die voordeel van die twyfel. Ek gaan voort met my voorbereiding, toe gery na ’n biduur wat ek moes lei en daarna twee hospitaal besoeke. Terug by die huis kry ek die huishulp voor die wasbak en waarlik daar is weer die sakdoek. Ek gaan na my kas en ek soek my sakdoek wat ook so lyk.  Niks – Dit is weg! Ek konfronteer haar maar sy ontken dit hewig en ek besluit ek gaan my nie ontstel oor ’n sakdoek nie.

Dit kom by my op:- Waar is die lojaliteit van die mens? Lojaliteit teenoor God, Christus Jesus, die Heilige Gees, Die Bybel, ons werkgewer, ons werknemer, man, vrou, kinders, land, wette, reëls,……………..?

Here is EK lojaal soos U dit van my verwag? Vergeet van die ander? Leer ons, ons kinders om lojaal te wees? Is die gebrek aan lojaliteit nie vandag ons grootste probleem nie?

Ek bedink ook die gedagte dat God lojaal / getrou is! Wat ‘n wonderlike berusting bring dit nie voort in ons lewe, al is ons ontrou nie?

2 TIM.2:13  As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.

GEBED

Dankie Here dat U getrou bly! Ek wil, ja sal, ook lojaal / getrou aan U bly! AMEN

0:00
0:00