DIt IS DIE DAG!

’n Predikant het eenmaal ’n reeks boodskappe op ’n ander dorp gaan bring. Soos dit maar altyd die geval was op die dorp waar hy gaan preek het, het hy by ’n weduwee tuis gegaan. Sy het weer die gewoonte gehad om haar  slaapkamer aan die gas te gee. Die Saterdagaand het hy gearriveer en die volgende more het hy die gordyne oopgetrek en toe sien hy die wonderlike landskappe, heuwels in die agtergrond met die pragtige groen valleie. Daar was wel iets wat sy aandag getrek het en dit was in die hoek van die ruit was daar ’n sin uitgekrap. Die prediker het net die woorde “DIT IS DIE DAG” uitgemaak. By die etenstafel het hy die weduwee gevra na die woorde op die ruit en of is dit haar kleinkinders wat dit daar uitgekrap het. “Nee” was haar antwoord, die woorde op die ruit het sy met haar verloofring uitgekrap. Sien die saak staan so, baie jare gelede het sy haar man aan die dood afgestaan en wanneer sy die gordyne oopmaak dan was dit baie kere koud en dit het gereën. Sy was dan so mismoedig en depressief dat sy net niks wou doen nie. Sy het gevoel dat die doel van die lewe was ook vir haar verby.

Dit was dan een more dat die Here met haar gepraat het en sy gelees het:-

Psalm 118:24 “Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”

Die Heilige Gees het haar herinner dat God het ‘n plan met haar. Dit is van daardie dag dat sy, wanneer sy die gordyne oopmaak en die nuwe dag aanskou – sonskyn of reën –  sy die dag aanpak omdat dit aan die Here behoort.

Ons moet ook elke dag positief aanpak vir die Here. Hy het dit gemaak en ons moet na die beste van ons vermoë lewe om die Here te eer. Dit kan die dag wees wat Hy op die wolke gaan kom of jou deur die dood gaan kom haal. Wees dan gereed om Hom te ontmoet.

GEBED

Vader baie dankie vir die nuwe dag wat U by my lewe gevoeg het. Dit maak nie saak of daar vreugde of hartseer is nie , ek wil dit tot U eer lewe.  AMEN

0:00
0:00