TAFELBERG GEMEENTEDie Wittroonoordeel
Openbaring 20: 11-15
“Die mens is bestem om eenmaal te sterwe en daarná die oordeel” (Hebr 9:27). Hierdie aardse lewe is dus nie afgesluit ná die fisiese dood nie. Wat ‘n aangrypende gedagte dat ons almal voor die Regterstoel van Xp moet verskyn! ( 2 Kor.5:10). Daar kom ‘n oomblik wanneer die volle geregtigheid van God voor alle mense se oë afgeteken gaan word. Huidiglik voel dit asof daar geen REG is nie: sonde word beloon en onskuld gestraf. Dis asof die leuen oor die waarheid seëvier. ‘n Mens kan moeilik met die oog sien dát daar ‘n regverdige God is. Maar moenie glo nie. Waarvan die wêreld salig onbewus is, is dat daar ‘n finale moment gaan kom wanneer die Here se REG die finale woord gaan spreek. Dan sal alle gelowiges finaal vrygespreek word en alle ongelowiges veroordeel word. Ons Skrifgedeelte val in 4 hoofdele uiteen.
1. Die Regter > In Openb 20:11-15 word die afloop van die wêreldgeskiedenis beskryf (vir die soveelste maal in Openb). Die satan is in die vuurpoel gewerp. Die Raad van God is vervul. Wat bly oor? Wat gaan dan plaasvind? Dan gaan reg en geregtigheid geskied!! Johannes sien ‘n groot wit troon met Iemand daarop. Die woorde “groot” en “wit” wys vir ons hoe ontsaglik dit gaan wees. Hoe die vlekkelose heiligheid van God gaan skitter. Daar sal nie die geringste krieseltjie onreg kan bestaan nie. Niks.
Johannes gee geen beskrywing van Wie op die troon sit nie. Hy waag dit ook nie om Sy Naam te noem nie. Hy sê bloot: “Iemand”. Wat ‘n ontsagwekkende majesteit! Soveel so dat die aarde en hemel wegvlug. Die aarde en uitspansel gaan verby, om plek te maak vir ‘n nuwe bedeling. Dit beteken nie dat die aarde en hemel vernietig word – om nooit weer te bestaan – nie. Sien Mat. 19:28. “Wedergeboorte”. Vernuwing, verandering. Die nuwe aarde en hemel sal waarskynlik soortgelyk wees as wat ons tans sien, maar dit sal HERSKEP wees deur reinigingsvuur heen. Sien: 2 Petrus 3: 7, 12-13. Onmoontlik om so-iets voor te stel.
Dan sal die Regter van hemel en aarde op Sy troon gaan sit. Wat ‘n oomblik in wêreldgeskiedenis!! Die gelowiges mag egter weet dat hierdie Regter ook hulle Verlosser is! Dit is die Bruidegom wat plek gereed gemaak het vir Sy duurgekoopte bruid! Ja, vir almal wat in ongeloof búíte gemeenskap met hierdie Verlosser geleef het, sal Hy die REGTER wees – daaroor mag daar geen onduidelikheid wees nie. Maar dit geld nie vir Sy BRUID nie! Die bruid verwag haar Bruidegom en die aanbreek van die Bruilofsfees van die Lam!
2. Wie sal verskyn? > Die dode, klein en groot, staan voor die troon. Die mensheid in sy geheel. Gelowiges en ongelowiges. Alle verskille tussen mense verdwyn dan. Die koning staan langs sy onderdaan. Swart staan langs blank. ALLE dode word opgewek. Dit maak nie saak hoe ‘n persoon gesterf het of hoe lank gelede dit was nie. Letterlik niemand sal verbygegaan word nie. Die majesteit van die Here sorg daarvoor. Die see “gee terug” wie daarin was en die doderyk gee syne terug ensovoorts. Dit dui op die algemene opstanding van alle gestorwenes. Johannes sien hulle “staan” voor die troon. Hulle lewe dus werklik.
Die opstanding beteken nie dat dit die presiese gestorwe liggaam – wat bv. reeds stof is – is wat lewendgemaak word nie – so asof die stofdeeltjies skielik weer bymekaar gevoeg word en weer ’n mens word nie. Dit beteken dat God aan almal ’n nuwe, verheerlikte, onsterflike, menslike liggaam gee. Paulus beskryf dit in 1 Kor 15 en vergelyk dit met ’n koringplant. Die saadkorrel wat gesaai is, het totaal vergaan, maar bó die grond verrys ’n totaal nuwe gedaante: koringplant. Dit is nie die korrel wat gesaai is nie. Dit is ’n nuwe skepping. En tog ís dit wel die korrel wat gesaai is! Só sal dit wees by die opstanding: die aardse liggaam het totaal vergaan, maar God skep ’n nuwe liggaam.
Net ‘n opmerking oor die woord “doderyk” (letterlik “Hades”). Dit is NIE die hel (poel van vuur) nie. Dit is die plek waar alle ongelowige mense “bewaar” word tot by die wederkoms. Sien Lukas 16: 19-31. Ook 2 Petrus 2: 4 & 9 – slégs die gestorwe óngelowiges word in die Hades BEWAAR vir die oordeelsdag. Dit is die “dodeverblyf” vir alle mense wat as ongelowiges gesterf het. Hierdie “doderyk” sal al sy inwoners “gee” wanneer die Wittroonoordeel aanbreek. Hy MOET hulle gee wanneer God praat. ‘n Mens kan geen prentjie vorm van hoe dit sal lyk wanneer letterlik ALLE mense wat ooit geleef het, GELYKTYDIG voor die lewende Here staan nie. Slegs Sy almag kan so iets bewerk. Maar waarom sal Hý, wat alles met ’n woord geskep het, dít nie kan doen nie?
3. Die geregtelike ondersoek > Die Regter van hemel en aarde sal NIE in die algemeen ‘n uitspraak gee nie. Met groot noukeurigheid sal elke individu wat ooit geleef het, ‘n persoonlike uitspraak ontvang. Sodoende sal niemand tot in ewigheid ooit die Here kan verwyt van enige onreg nie. Almal sal die knie buig (Fil 2:11) voor Sy absolute regverdigheid.
Twee stelle boeke sal oopgemaak word. In die boek van die lewe staan die uitverkorenes se name, die kinders van God. Hulle wat gewas is in die bloed van die Lam. In die ander boek die ongelowiges se ongeloofswerke. Dit is opvallend: In die geval van die óngelowiges: hulle werke. In die geval van die gelowiges: Net hul name – wat reeds daar staan van voor die skepping (Openb 13:8).
Dit is onnodig om te bespiegel of dit letterlike BOEKE sal wees. Die Nederlandse Geloofsbelydenis (Artikel 37) stel hierdie “boeke” gelyk met elkeen se GEWETE. Hoe ookal: die boodskap is duidelik: DIE HERE KEN WERKLIK ELKE INDIVIDU. Hy weet presies wie aan Hom behoort. 2 Tim. 2:19. Geen gelowige hoef te vrees dat daar moontlik ‘n fout sal kom nie. Joh. 6:39 – “Van almal wat Hy My gegee het sal Ek nie een verlore laat gaan nie, maar almal laat opstaan op die laaste dag.” Aan die ander kant: Geen ongeredde sal met die beste argumente kan bewys dat hy/sy tog eintlik ook ‘n kind vd Here was nie (Lukas 13: 24-28). Die ongelowiges se werke veroordeel hulle sonder meer.
Wat dan van die idee wat ons soms het dat daar ’n rolprent van elke mens se lewe vertoon sal word? Die vrees: my hele lewe sal daar afspeel en almal sal al my sondes sien – en ek sal beoordeel word op grond dáárvan. Dit is ’n onbybelse wanopvatting. Die rede waarom die gelowiges voor die Wittroon sal staan en die Boek van die Lewe oopgemaak word, is slégs sodat die Here voor alle mense wat ooit gelewe het, finaal kan verklaar wie Sy kinders was. (Sien Rom 8:23 – God sal dan bekend maak dat Hy ons tot Sy kinders aangeneem het). Dit is geen laaste beoordeling – waar sommige gelowiges dalk weer kan uitval nie. Dit is ’n finale VRYSPRAAK. Toe Jesus voor Pontius Pilatus veroordeel is, is Hy immers IN DIE PLEK VAN die gelowiges veroordeel en só het Hy hulle van alle veroordeling bevry. Of het Hy halwe werk gedoen? En dieselfde Jesus – wat deur Pilatus veroordeel is, sal die Regspraak voer op die laaste dag EN Hy is die Bruidegom van die bruid – Sy kinders.
4. Die vonnis > Die Skrif is daaroor glashelderduidelik dat élke mens – wat op aarde as ongelowige geleef het – na die vuurpoel (plek van totale Godverlatenheid) sal gaan. Wanneer is ’n mens ’n ongelowige? Wat beteken dit? Dit beteken om jou hele lewe deur te blý in die toestand waarin jy gebore is. Om die Here se toesegging – dat Hý jou met Jesus se kruis gered het – van die hand te wys. Sy genade te minag. En gevolglik nooit begin lééf het uit die kruisredding nie – en uiteindelik só sterf. Daar bestaan geen tweede kans ná die aardse dood nie. Daar is ook geen “vagevuur” soos die RKK leer nie. Of geen kans om nog gedoop te word en nagmaal te gebruik soos die Ou- en Nuwe Apostelkerke leer nie. Ook geen “dood-soos-‘n-hond” soos die Jehowas leer nie. Wie nie aan Christus verbonde was nie, sal vir ewig verlore gaan. Christus het die volle impak van hierdie ewige straf aan die kruis plaasvervangend gedra, maar wie dit nie gelowig aanvaar het – en daaruit geleef het nie, moet dit self dra. DIT is die geweldige gevolge van sonde.
Dit is interessant dat die uitspraak voor die Wittroon geen verrassing sal wees nie. Wat DAAR gesê sal word, sê die Skrif nou reeds!! Lees Romeine 8:1. Die kind vd Here WEET nou reeds met sekerheid wát vanaf die Wittroon gesê sal word. Dieselfde geld vir almal wat buite Christus leef. Hoewel die gelowige óók daar sal verskyn, bestaan daar geen twyfel oor wát die uitspraak sal wees nie. Die Regter van hemel en aarde sal dán geen ander uitspraak gee as wat Sy Woord nóú reeds gee nie! Sien Joh. 12:48. Hy sal nie dán ‘n onverwagse kaart uit die mou pluk en skielik ’n ánder uitspraak gee as wat Sy Woord nóú reeds gee nie.
Daarom is die KANSEL reeds ’n akkurate voorspel tot die Wittroonoordeel. Daar waar die SKRIF elke Sondag getrou & suiwer verkondig word, word die finale regspraak reeds gelewer! Deur die Skrifte word bevestig dat “wie in Hom glo nie veroordeel word nie en wie nie glo nie, reeds veroordeel is.” (Joh 3:18). Week na week vind die Wittroonoordeel plaas – in die midde van die gemeente! Sien Psalm 122:5: “HIER (Jerusalem = gemeente) word reg gespreek en lewer die koning sy uitsprake.” Die oordeel & vryspraak word nou reeds voltrek. By die uiteindelike Wittroon sal dit net finaal bevestig word voor die ore en oë van almal wat ooit geleef het.
Dr. Chris Saayman
NG Kerk Tafelberg, Buitenkantstraat 39, Kaapstad
Tel: 021 – 5516704
saay@isales.co.za