“Dit is die jaar 1904. Die hele Wallis is in rep en roer. Die volk het ver van God afgedwaal en ’n geweldige geestelike verval het ingetree. Kerkdienste word swak bygewoon en sondige praktyke en sedelike en morele verval is aan die orde van die dag. En toe, skielik, soos ’n magtige tornado, beweeg die Gees van God deur die hele land. Meteens is die kerke gepak. Sovele mense stroom na die dienste dat baie weggewys moet word. Dienste duur van tien soggens tot twaalfuur in die nag!

 

 

 

 

Elke dag word drie aparte dienste gehou. Evan Roberts is die instrument deur wie hierdie wonderwerk plaasvind, maar in werklikheid vind daar min prediking plaas. Sang, getuienisse en gebed is die vernaamste eienskappe van die dienste. Daar is geen sangbundels beskikbaar nie. Die mense onthou liedere en gesange uit vroeëre jare. Geen kore tree op nie, want almal sing. Geen kollektes word opgeneem nie en daar word nie geadverteer nie! Nog nooit tevore het Wallis so iets beleef nie! 

 

Godloënaars kom kragdadig tot bekering. Dronkaards, diewe en dobbelaars word gered en derduisende kom tot sonde-oortuiging en belydenis. Die verskriklikste sondes word bely; ou skulde word vereffen. Die teaters kry geen aftrek nie en moet sluit. Binne ’n tydperk van vyf weke sluit 20 000 mense by die kerk aan.”

 

 

 

 

 

 

 

Die Wallis Herlewing van 1904-05 het Wallis en die wêreld soos ’n magtige tornado getref, ’n duidelike effek gelaat en net so skielik weer gestop. 

 

Dit was ’n periode in die kerkgeskiedenis van Wallis wat gekenmerk is deur ongekende aanvalle van die media, sowel as bonatuurlike handelinge van God. Vir ’n tydperk van 18 maande, is alle politieke- en sport aktiwiteite (destyds en vandag nog, twee van die land se mees verterende passies), vervang met die Herlewingsbeweging en ongekende aktiwiteite van die Heilige Gees.  Die Herlewing, alhoewel dit baie kort van duur was, is deur skrywers uitgelig as die wêreld se beste Herlewing ooit. In die boekie, “The World Aflame”, word die verhaal uitgelig van Generaal Booth, die stigter van die Salvation Army (Heilsleër).  Generaal Booth het die Herlewing besoek en waargeneem dat dit totaal en al die teenoorgestelde funksioneer as wat hy die Heilsleër bestuur, maar erken dat dit ’n beweging van God is en dat niemand dit in Wallis moet probeer verander nie.  Hy het teruggegaan na London en die Heilsleër bestuur soos wat hy goeddunk, maar erken dat die Here verskillende metodes vir verskillende plekke en tye gebruik. 

Daar is geen ander voorbeeld in die kerkgeskiedenis waar ’n area so vinnig en radikaal met geregtigheid getransformeer is nie.  Die vuur en intensiteit van die Herlewing was so groot en het versprei na ander lande en areas, deur die blote lees van verslae in plaaslike, sowel as ander koerante en tydskrifte. Selfs vandag, bring die lees van die 1904 Herlewing hoop in die harte van voorbidders mee, asook ’n diepe oortuiging van sonde rakende ons biddeloosheid.

 

Oorsprong van die Herlewing

 

Elke Herlewing manifesteer in verskeie vorme, maar het ’n duidelike oorsprong.  Daar is ’n proses wat agter die skerms vir maande en soms etlike jare afspeel om die weg voor te berei vir die Herlewing.  Dit was ook so die geval met die 1904  Herlewing.  Ek glo dat daar seker heelwat meer agter die skerms plaasgevind het, maar daar is ’n paar aspekte wat vir my uitstaan.  

 

Gebedsbeweging:  Ons weet dat Evan Roberts vir bykans 12 jaar gebid het vir die Herlewing, maar daar het ook in 1896 groepe begin bid vir Herlewing, wat later in intensiteit toegeneem het en in besonder na 1903.

 

Heiligheidskonferensies:  Verskeie leraars het die behoefte gehad aan meer geestelike krag in hulle bediening, asook die effek daarvan op hul onderskeie gemeentes. Dit het gelei na die Llandrindod Wells Konferensie, wat jaarliks plaasgevind het en in besonder in 1903/1904 seën ervaar het.  Dr. F. B. Meyer, leraar en heiligheidsprediker, was een van die konferensie sprekers tydens die 1903/04 Llandrindod Wells Konferensie.  Sy boodskappe rakende heiligheid en die geesvervulde lewe was instrumenteel in die lewens van verskeie geestelike leiers, wat die weg en atmosfeer vir die 1904 Herlewing voorberei het.

 

 Herlewingsuitreike:  Weens die jare van Gebedsvoorbereiding, Heiligheids- konferensies en hernude klem op ’n heilige en geesvervulde lewe, was daar duidelike tekens van die begin van Herlewing.  Dit het spontaan daartoe gelei dat “Herlewingsuitreike” of reekse dienste in gemeentes, met die fokus op heiligheid en ’n algehele oorgawe aan God, beklemtoon is.  Die gevolg hiervan was ongekende seën en daar was by tye ’n tasbare, oorweldigende Teenwoordigheid van die Here.

 

Aard van die Herlewing

 

Die aantal literatuur wat beskikbaar is rakende die Walliese Herlewing, is enorm.  ’n Poging om dit te verklaar, is bykans onmoontlik. Ons kan egter na hierdie Geestelike Ontwaking verwys, as ’n Herlewing vir jongmense, asook ’n Herlewing van sang, gebed, sielewenning en evangelisasie, asook van persoonlike ontmoetings en ervarings.

Dit was ook verder gekenmerk deur volgehoue: 

 

Gebed

 

Evan Roberts het vir bykans 12 jaar, elke Vrydagaand afgesonder om daarvoor te bid. Dit is dus gebore in gebed en is voortgeset deur gebed.  James Stewart het opgemerk:  “It was praying that rent the heavens; praying that received direct answers there and then. The Spirit of Prayer and Intercession was poured out that the whole congregation would take part simultaneously for hours! Strangers were startled to hear the young and unlettered pray with such unction and intelligence as they were swept to the Throne of Grace by the Spirit of God. Worship and adoration was unbounded. Praise began to mingle with the petitions as answered prayer was demonstrated before their very eyes. Often when unsaved loved ones were the focus of the intercession, they would be compelled to come to the very meeting and be saved!”

 

Gehoorsaamheid aan die Heilige Gees

 

Evan Roberts het baie sterk daaroor gevoel dat bogenoemde, ’n baie belangrike voorwaarde is, alvorens Herlewing sal uitbreek.  Hy het verder ook die volgende voorwaardes beklemtoon alvorens God se seën ontvang sou word:   

 

Die belydenis van alle vorige sondes;

Die ondersoek en verwydering van alle twyfelagtige dinge en geheime sondes  in jou lewe; asook

Onmiddellike en volkome gehoorsaamheid aan die Heilige Gees; en die

Openbare verklaring van die Here Jesus ten alle tye in die publiek.

 

Nederigheid

 

Alhoewel Evan Roberts die menslike gesig en hoofinstrument in die suidelike deel van Wallis was, was hy nie die “hero” nie.  Hy het somtyds vir ure stilgesit en onopgemerk onder die skares verdwyn en niks gesê nie. Hy het nooit enige besonderhede van volgende dienste en byeenkomstes gepubliseer nie. Hy het gevoel dat alle glorie aan God moet toekom en nie aan ’n spreker nie.

 

Evangelisasie

 

Die hooffokus van alle gebede was vir die bekering van manne en vroue. Die Herlewing van Wallis in 1904 was uitermate suksesvol, met nagenoeg 100 000 mense wat toegevoeg is tot die kerk.

 

Heiligheid

 

Die tweeledige fokus op heiligheid en gehoorsaamheid was ’n herkenbare eienskap van die byeenkomste. Die uitvloeisel daarvan was die grootste effek op die gemeenskap.

 

Onmiddellike Praktiese Effek 

 

Diegene wat die voorreg gehad het om sodanige “Herlewingsbyeenkomstes by te woon, sal saamstem dat hulle in een van die mees uitsonderlike dienste en periodes van die kragtige werking van die Heilige Gees was. Andere weer wil graag weet of die ongekende “geestelike ywer” net tot die dienste beperk was.  Die Bybel leer vir ons dat ons alles sal herken deur “die vrugte wat hul sal dra”.  Die Walliese Herlewing van 1904/05, het ook duidelike vrugte gedra en onmiddellike praktiese effek gehad. 

 

Ons lees byvoorbeeld van die volgende:

 

 Mynstaking – Penrhynmyn het gestop;

Onenighede is uit die weggeruim;

Denominasionele grense tussen kerke is afgebreek;

Skulde is vereffen;

Restitusie is gedoen;

Drankindustrie het groot skades gelei;

Slegte gewoontes is herstel;  asook van

Ander praktiese implikasies op die gesinne, mynbedryf, sportaktiwiteite en politiek.   

 

 

 

 

“Bend the Church and Save the World”

 

Dit was die uitroep van die Herlewing en het ’n duidelike impak gelaat op die wereld.  In sy boek “On the Wings of a Dove”, deur Dr Noel Gibbard, bespreek hy die effek van die Wallis Herlewing van 1904 op bykans 30 ander lande, wat seëninge ervaar het as gevolg van die Herlewing.  Die uitroep van Evan Roberts “Bend the Church and Save the World”, is vandag nog net so van toepassing en is inderwaarheid die geheim van alle Herlewings.  Die Herlewing het die glorie van God in verskeie maniere gedemonstreer, soveel so dat diegene wat dit ervaar het, tot in hul fondamente en diepste wese geraak is.  Die Herlewing was die hoogtepunt in en van baie se lewe. 

 

Dit toon aan ons die soewereiniteit van God. Hy kan werk waar, wanneer  en deur wie Hy wil.  Dit bly  ook ’n misterie, want indien God nie Sy Gees op ons uitgiet nie, sal dit nie gebeur nie.  Dit is egter ook ’n aanmoediging, aangesien dit aan ons toon wat kan gebeur, indien God ons sou besoek. Daarom het Evan Roberts daarvoor gebid en gevra.  Die Herlewing in Wallis dien as ’n daaglikse uitdaging om die saad te saai vir Herlewing, terwyl ons wag dat God dit laat groei en laat vrug dra.  Dieselfde God wat Herlewing in Wallis gegee het, kan dit weer doen.  My gebed is dus: Here, doen dit weer!

 

’n Verkorte artikel saamgestel deur Dr. Francois Carr uit verskeie bronne van die 1904 Walliese Herlewing.  U kan die volgende bronne bestudeer vir verdere inligting en bemoediging: Rent Heavens – deur R.B. Jones;  Invasion of Wales by the Spirit – deur James Stewart;  The Classics on Revival – deur Robert Backhouse;  On the Wings of a Dove  – deur Dr Noel Gibbard;  The 1904 Revival – deur Eifion Evans;  An Instrument of Revival – deur P. Jones;  en verskeie ander.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00