Wat presies beteken dit dat die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort is? Die Gees is tog ‘n Persoon (‘n “Hy”) en Hy is God almagtig. Hoe kan Hy dan uitgestort word? Goed, ons weet die vuurtonge was slegs ‘n uiterlike teken – dit was nie die Gees sélf nie. Maar, wat beteken die “uitstort” dan. Was die Gees dan nooit voorheen daar nie? Het Hy eers op Pinksterdag Sy verskyning gemaak? Waar was Hy dan voorheen?
Dit is baie belangrik om te weet dat die Heilige Gees beslis nie op Pinksterdag vir die eerste keer na die wêreld & mense gekom het nie. Hy was immers werksaam reeds by die skepping (Gen 1:2). Dit was die Gees wat by die volk Israel teenwoordig was toe hulle onder leiding van Moses na Kanaän getrek het (Jes 63:11). Hy het gespreek deur die profete. Hulle het deur die Gees gespreek en getuig. Hulle is deur Sy krag vervul en het onbevrees die Woord verkondig. Hy het ook die konings toegerus. Hy het dwarsdeur die OT-tydvak die verlossing van die komende Messias aan die gelowiges vasgeknoop. Iemand soos byvoorbeeld Dawid het beslis geweet dat die Heilige Gees in sy lewe gewoon het en gewerk het (Ps 51:11). Job het geweet dat God die Vader en die Gees één wese is en dat die Gees hom geskape het (Job 33:4). Dit was ook die Gees wat Jesus as die Seun van God aangewys is ná Sy opstanding (Rom 1:4). Ensovoorts.
Wát het dan op Pinksterdag gebeur en hoe raak dit óns lewens? Die antwoord is: daar het beslis iets totaal nuut gebeur – (in groot volheid/wêreldwyd – daarom “uitstort”). Iets wat nog nooit voorheen bestaan het nie. Maar die nuutheid lê nie in die Heilige Gees sélf wat op ‘n sekere manier/manifestasies vir die eerste keer verskyn het nie. Die nuutheid is ook nie geleë in allerhande geestesaandoeninge en transformasies wat die mense ondergaan het nie. Die nuutheid is geleë in twee belangrike dinge wat die Gees kom doen het. Baie dinge wat Hy ná Pinkster kom doen het, het Hy ook vóór Pinkster gedoen. Daar is nie só ‘n diepe kloof tussen die OT-bedeling en die NT-bedeling soos sommige mense te kenne wil gee nie. Die OT-bedeling loop in talle opsigte óór in die NT-bedeling.
Maar: daar is twee dinge wat ná Pinkster gebeur het, wat uniek & nuut was en wat ons vandag nog direk raak. Dit het alles daarmee te make dat God se oerbelofte van volkome herstel aan Adam (Gen 3:15) en Abraham (Gen 12) TOE (vanaf Pinksterdag) vir die eerste keer in die geskiedenis (tot vandag) ten volle vervul is. Let op: Dit is NIE vervul toe Jesus gebore/gely/gesterf/opgestaan/opgevaar het nie. Dit is vervul toe die GEES begin het om ménse-van-alle-nasies aan Jesus se geboorte/lyding/dood/opstanding vas te knoop/ hulle daarby in te lyf EN hulle daarvan getuies gemaak het tot aan die uithoeke van die wêreld. Met alle respek gesê: Jesus se dood & opstanding kon nie “in die lug bly hang nie.” Dit moes “grondvat” in MENSE se lewens. En nie net Israeliete nie, maar nou mense uit alle nasies regoor die hele wêreld. DIT is presies wat die Heilige Gees kom doen. Dit is wat Hy doen, wat Hy nooit vóór Pinksterdag gedoen het nie. Nooit voorheen is mense ingesluit by Jesus se lyding en opstanding nie. Nooit voorheen is mense daartoe gebring om DIT te glo nie. Maar NOU gebeur dit. Nooit voorheen is sondaars daartoe gebring om met sekerheid te glo dat hulle gered is omdat hulle ingesluit is in Jesus se dood & opstanding nie. Maar NOU gebeur dit. Nooit voorheen het die koninkryk uitgebreek na álle nasies nie – alhoewel dit aan Abraham belowe was (nageslag soos die seesand). NOU gebeur dit. En dit is die Heilige Gees wat dit onverpoosd doen – sonder om vooraf mense se goedkeuring of samewerking te vra.
Wat ons duidelik moet raaksien is die UNIEKE ding wat ná Jesus se opstanding begin gebeur het. Sondaarmense kom tot die geloofsekerheid dat hulle volkome vir God aanvaarbaar is/versoen is omdat hulle ingesluit is by dít wat met Jesus gebeur het. Dit is ‘n ontsettende ding. Dít was juis die ding wat die dissipels/die mense tydens Jesus se aardse lewe, NIE kon/wou glo nie. Jesus se woorde in Mark. 10:39 was vir hulle duister: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink. Met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word.” Die “beker en doop” verwys na Sy lyding en sterwe. En Jesus sê hulle sal daarby INGESLUIT word. Maar, hulle dink dit is waansinnig. Hulle verstaan glad nie. Totdat Jesus hulle ná die opstanding met die Gees doop. Toe val die skille van hulle oë af. Toe laat die Gees hulle oë oopgaan om die blye boodskap te glo – dat hulle deel hét in wat met Jesus gebeur het en só verlos is. Eintlik was daar ‘n hele aantal insidente vóór Pinkster van sulke “klein pinkstertjies” toe Jesus ná Sy opstanding, Sy dissipels met die Gees gedoop het deurdat Hy die betekenis van Sy dood vir hulle oopgemaak het. U kan dit self in Matteus, Markus, Lukas en Johannes nagaan. Maar, op Pinksterdag sélf, het die Gees dit soos ‘n ontploffing – op massiewe skaal – laat gebeur, tot by óns vandag!
Kyk maar na die Petrus vóór Pinkster en ná Pinkster: VOOR PINKSTER: (Mat 16:22) – Petrus neem vir Jesus opsy en berispe Hom en sê: ‘Mag God verhoed dat U sterf. Dit sal beslis nie met U gebeur nie.’ NA PINKSTER: (Hand 2:33). Petrus preek: “God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan. Daarvan is ons almal getuies. Hy is verhoog aan die regterhand van God. Julle moet dit vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak.”
Merk u die geweldige verskil en ommeswaai by Petrus? Die Gees het die krag en betekenis van Jesus se dood & opstanding meteens bekend gemaak en mense daaraan gaan vasknoop. En hulle daarvan getuies gemaak. Maar onthou: ONS lewe steeds in die Pinksterbedeling. Óns lewe onder presies dieselfde bediening van die Gees. Watter praktiese effek het dit dus op óns? Hy laat die skille van ons oë afval om tot die besef te kom dat die lewende God ons déél gemaak het van Jesus se geboorte/lyding/sterwe/opstanding/hemelvaart EN dat Hy ons sodoende met Homself versoen het. En die Gees laat ons dit in die geloof aanvaar. Nooit vóór Pinkster was so iets moontlik nie. Maar, nou gebeur dit. ‘n Persoonlike reguit vraag: Waar staan ú persoonlik wat hierdie dinge betref? Ken u hierdie werk van die Pinkstergees wat u insluit by Christus of weerstaan u dit dalk nog? U mag nie rus kry alvorens u nie volle sekerheid het nie.
Maar, die Gees doen iets meer. Hy maak ons ook getuies van die redding – onder alle nasies en op alle plekke. In Jerusalem, sowel as Judea, sowel as Samaria – tot by die eindes van die aarde (Hnd 1:8). Dit is die tweede unieke ding wat Pinkster gebring het. Ewe skielik is die Woord nie meer net vir die volk Israel nie, maar deur die Gees SAL die Here se gemeente Sy boodskap na buite neem: In konsentriese sirkels: Tuis (Jerusalem), die nabye omgewing (Judea), nog wyer (Samaria) en tot aan die eindes van die aarde. En let mooi op die woordkeuse: SOWEL AS. Daar mag nie in Jerusalem alleen gebly word totdat die werk daar klaar is EN DAN na Judea gegaan word nie. Die twee moet TEGELYK gedoen word. Nie die een of die ander nie, maar almal gelyktydig. Ons mag nie sê: Die werk hier (in die gemeente/Jerusalem) is só belangrik dat ons nie verder kan beweeg nie. Nee, ons moet hier én dáár gelyktydiglik werk.
Die hele boek Handelinge skanier aan 1:8. Dit is ‘n getuienis van hoe die Gees die koninkryk laat kom het – vanuit Jerusalem al hoe verder. Hy het selfs vervolging gebruik om die gemeente wakker te skud toe hulle in Jerusalem bly sit het. Die vervolging het die gelowiges uit Jerusalem gedryf na buite en oral waar hulle gegaan het, het hulle die evangelie verkondig.
In óns konteks sou ons kon sê: Jerusalem = Vredehoek/Zonnebloem/Duiwelspiek. Judea = ons omliggende area. Samaria = Suid-Afrika. En dan: die nasies. Die wonderlike is dat die Here die nasies hierheen bring = die hawe. Ons mag deur Ds Peet se werk op die skepe, betrokke wees by die nasies. Maar wat van ons Jerusalem en Judea? Wat van al die mense in Vredehoek & Zonnebloem wat herderloos ronddwaal ? Wat van ons Judea? Bv die Bo-Kaapse Moslems? Die duisende wat in die middestad ronddwaal en wat bereik kan word met oplugdienste, soos oom Thys doen. Mág ons ons skouers optrek? Moet ons nie liewer die wónder raaksien, dat óns deel mag wees van die Pinksterwonder nie? Die Gees van Pinkster help ons om nie net in te asem nie, maar ook uit te asem. Nie net inneem nie (alles wat in gemeente gebeur), maar ook uit te gee – die evangelie na buite te neem. Wie net inasem, sal binne minute dood neerval.
Het u geweet dat u nie teologies geskool hoef te wees om ingeskakel te wees by die Gees se Jerusalem/Judea/Samaria/Wêreld-program nie?! Ons kan net na mense se huise gaan en vir hulle gaan omgee en bid en nooi na erediens. Voorbeeld: Bo-Kaapse Moslems: Geen gesprek oor Bybel/Koran. Slegs belangstel en gebed. Wanneer die krisis só ‘n huis tref, wie sal hulle kontak? Die CHRISTEN wat omgegee het! Net uit ons gemeente kan ons die hele Bo-Kaap in een jaar besoek deur op ‘n Saterdagmiddag uit te reik met klein spannetjies. Ons kan CD’s met kort Skrifboodskappies by elke huis in Vredehoek en Zonnebloem versprei. Indien ons ‘n span van 50 gelowiges kan kry, kan ons hierdie werk met gemak doen.
Verstaan u hoe prakties is die Pinksterboodskap? Dit is nie ‘n stuk dooie teorie nie, maar die Gees is besig om in Tafelberg gemeente (Jerusalem) te werk en ons te gebruik om die Blye Boodskap na Judea/Samaria/wêreld te neem. Laat ons Hom nie weerstaan nie, maar Hom gehoorsaam volg.