TAFELBERG GEMEENTETema: Die stryd tussen Babel en Jerusalem
Daniël 1 (No. 1 van reeks oor Daniël 1-3)
Die inhoud van die boek Daniël speel af in die tyd van die Babiloniese Ballingskap – ongeveer 600jr voor Christus. Daniël was een van die Jode wie deur Nebukadnesar uit Jerusalem na Babilon weggevoer was. Hierdie ballingskap was iets verskrikliks vir die Here se volk. Dit was asof die Here deur die bose oorwin was. Babel en Jerusalem het simbolies teenoor mekaar gestaan soos die Antichris teenoor Christus. ‘n Mens sien weer dieselfde simboliek in die boek Openbaring. BABEL: Stad van Nimrod. Simbool van ongeloof. Simbool van menslike selfverlossing. Simbool van goddeloosheid, verwarring en onrus. Simbool van die Antichris. JERUSALEM: Stad van Dawid. Plek van die Here se Tempel. Die ware God. Simbool van die verlossing wat HY gee. Die plek van Christus en vrede. En toe gebeur die verskriklike met die Ballingskap: Jerusalem swig voor Babel. Die Antichris neem die plek van Christus in. Waar is nou die belofte van Psalm 46 dat die Godstad nooit sal wankel nie?
Ons moet egter nie uit gedagte verloor nie: Die Ballingskap was die Here se tugtiging oor Sy volk se sonde – ten einde hulle in Sy genade te behou. En wat was hulle sonde? Hulle het Christus verwerp. So sien Paulus dit in 1 Kor. 10 in retrospek. Hulle het van Jerusalem ‘n tweede Babel gemaak. Geen onderskeid meer tussen Jerusalem en Babel. Daarom kom neem Babel Jerusalem in. Met hulle sonde het Israel hulle stad Jerusalem, hulle tempel, hulle offers vertrap. Nou stuur die Here vir Nebukadnesar om régtig die tempel te kom verwoes en die stad te vertrap.
Maar, Nebukadnesar het een groot fout gemaak : Hy het gedink hy kan sommer met die Gód van Israel ook afreken. Terwyl hy afreken met die VOLK vd Here, wil hy sommer met die HERE ook afreken. Hy maak egter ‘n fout. Die Here het nooit HOMSELF in Nebukadnesar se hand gegee nie. Jerusalem lê op die grond, maar nie die God van Jerusalem nie. ‘n Mens sien dit so duidelik in Daniël 1. In die hele manier hoe Nebukadnesar met Daniël, Hananja, Misael en Azarja werk, sien ons hoe hy ook die HERE se KONINGsamp, sy PRIESTERamp en sy PROFETEamp wil wegneem. Hy loop hom egter liederlik vas in ‘n lewende God.
HOE BESPOT HY DIE HERE SE KONINKLIKE AMP? Hy neem 4 jong seuns wat in Jerusalem by die KONING se paleis gewerk het en hy wil hulle by sý paleis laat werk. Daarom gaan verander hy hulle name : DANIËL (God is regter), HANANJA (Here is genadig), MISAEL (Wie is aan HERE gelyk), AZARJA (Here help). Nou kry hulle afgode se name. Afgod BEL. Sien u hoe verneder Nebukadnesar die lewende God? Wie is HY nou eintlik? BEL is god! Bel het die Here oorwin. Maar weet u wat? DIE GEES vd Here laat Hom nie bespot nie. Die Gees werk kragtig in Daniël se hart en hy besluit om Nebukadnesar se plannetjies te weier. Weier om Babel se gode te dien. Die Here oorwin vir Nebuknesar binne-in sy eie paleis! HOE? Hy laat weer GELOOF in Daniël se hart ontvlam. Binne daardie krisissituasie, word Daniël se gees lewendig gemaak en bekéér Daniël hom weer tot die wil van die Here. Toe die Antichris so lekker lag omdat hy Christus verslaan het, toe kom die Heilige Gees in Daniël en dryf die Antichris binne sy eie land terug. Hoe wonderlik is dit :: Die Here se volk het gesondig, Sy volk word weggevoer, maar HYSELF word nie verslaan nie. Die vyand kan en sal HOM nie onderkry nie. En ook nie vir óns wanneer ons deur die geloof daaruit aanhou lewe dat ons in Hom is nie. Dat ons deur Homself in Homself ingesluit is nie.
Sien tweedens hoe Nebuknesar spot met die Here se PRIESTERdiens. Daniël en sy vriende moet ook nou in die heidense TEMPELlewe gaan lewe. Hulle word aangesê om Nebukadnesar se kos te eet en wyn te drink. Onthou: Alles wat op sy tafel was, was éérs aan die afgode gewy. In die plek van die HERE se tempeldiens, plaas Nebukadnesar sy eie afgodstempel se wyn en kos.
Weer eens sien ons egter hoedat die Gees van die Here in Daniël se lewe kom. Hy neem homself voor om nie die koning se kos te eet nie – en om gehoorsaam te bly aan die lewende God. Daniël sê vir die koning se dienaars: “Gee ons 10 dae om net groente te eet.” Iets snaaks gebeur toe: Die dienaars doen wat Daniël sê TEEN hulle koning se bevel in. Ook in húlle harte werk die Gees vd Here op ‘n wonderbaarlike wyse. Nebukadnesar word deur sy eie mense verlaat. Hoe magtig is die HERE nie!? Hy gaan maak Sy ontroue kinders weer getrou aan Sy diens EN Hy maak die afgodsdienaars binne-in Babel ontrou aan hulle gode. Is Hy nie absoluut 1000% soewerein nie?
Sien derdens hoe Nebukadnesar ook spot met die ware PROFETEamp. Hy wil hê Daniël moet onderrig word in sy Chaldese taal en skrif. Wat beteken dit? Nou moet Daniël deur die literatuur van die heidense towenaars en waarsêers onderrig word. Die afgodsleringe moet in die plek kom van die lewende God se ware Woord. Maar kyk nou na die wonderlike vers 17: Die Hére het aan Daniël Sy eie insigte, verstand, wysheid en drome kom gee. In die plek van die Babiloniese literatuur, gee die Hére Sy eie gedagtes aan Daniël. Weer eens staan die Antichris totaal magteloos. Aan die einde van die 3 jaar tydperk, was daar niemand in die koning se hof soos Daniël en sy drie vriende nie. Dit is soos wat die HERE die oorwinning kom gee het.
Wat is die wonderlike Evangelieboodskap wat deur Daniël 1 aan ons verkondig word? Daniël 1 kom staan binne-in ons lewensituasie aan die begin van 2007. Dit voel mos soms vir ons asof die Evangelie van Jesus Christus ‘n opdraende stryd het teen geweldige magte. Dit voel mos asof dít wat ons glo, nie ‘n duimbreedte vorder nie. Sommige mense wonder: Is die Antichris nie miskien die ware Christus nie? Die onverskillige ongelowiges lyk so seker van hulle saak! Hulle lyk so stralend gelukkig. En, wat help sendingwerk nog? Kyk hoe min mense het reageer op die eerste 300 CD’s wat ons uitgedeel het! Ons sien ook die toestand van die Kerk. Soms lyk dit asof die kerk weer in Ballingskap gegaan het óf dalk nog sál gaan – iewers in die toekoms. En voeg daarby ons eie persoonlike lewe, waar dit soms voel of ons deur die Here getugtig word – dat Sy hand swaar op ons rus. Die gevoel van: Die nuwe jaar het toe ook nie sóveel verandering gebring as waarop ek gehoop het nie. Jongmense op skool wonder: is daar dan niemand ánders wat uitstaande kinders van die lewende God is nie?
In dit alles kom skyn Daniël 1 soos ‘n helder lig. Dit is werklik die openbaring van die Here om aan ons te wys: Die lewende God bly soewerein. Selfs al word Sy eie kinders ( a.g.v. hul eie sondes) getugtig. Selfs al lyk die heidense koninkryk van Babel hoe magtig. DIE HERE SÉLF WORD NIE VERSLAAN NIE. Christus is vandag verheerlik. Opgevaar na troon van Sy Vader. Hy maak weer sy gevalle kinders getrou aan Hom. Hý laat herleef weer hul gees. Kyk net hoe vrymagtig doen Hy dit in Dan. 1! Hy gryp ook afgodedienaars om aan Hom gehoorsaam te word. Hy span die Antichris in om Christus se belange te dien. Dit is met HIERDIE enigste Here wat ons in 2007 mag gaan saamleef. Dit is HY wat ons saamneem in Sy sendingwerk onder die nasies. Wie DIT verstaan kan mos nie anders as om érg opgewonde te raak nie en aktief ingeskakel te raak by die koninkrykswerk wat die Here besig is om te doen. En, weet verseker: Níks gaan Hom stop nie!!!
Dr. Chris Saayman
NG Kerk Tafelberg, Buitenkantstraat 39, Kaapstad
Tel 021-5516704
Sel 083 232 1817
Epos saay@isales.co.za