DIE SKOENMAKER!

Dit is net nadat my pa dood is, dat ek die verantwoordelikheid asook die voorreg in my ervaar het om my ma, wat finansieël gesukkel het te help. Ek het vakansies, Saterdae en ander tye wanneer ek nie in die skool moes wees nie, gewerk. Dit was vir ’n hele lang ruk dat ek vir ’n skoenmaker  gewerk het. Hierdie skoenmaker was ’n toegewyde Christen en sy klein winkeltjie was ’n getuienis vir almal wat daar ingekom het asook vir die hele buurt. Die mure was bedek met teksverse en prente van ou Christelike kalenders en waar jy ookal gekyk het, het die Woord met jou “gepraat”.

Die Bybel het altyd oop op die toonbank gelê en langsaan,  ’n hele klomp traktaatjies. Geen pakkie het die winkel verlaat sonder dat daar ’n traktaatjie ingesluit was nie. Wanneer die geleentheid dit voordoen, is daar met die klante gepraat oor die belangrikheid van weergeboorte en dat ’n mens deur die geloof na Christus kom. Dit het baie kere gebeur dat mense terugkom vir nog traktaatjies of hulle het spontaan begin gesels en uitvra oor hoe hulle vrede met God kan bekom. Dit het talle kere gelei dat baie van die mense sommer net daar in die klein winkeltjie hulle hart vir die Here gee en die vrede van God ervaar.

Dit was my taak om die leer te slaan vir die sole. ’n Gedeelte van die beesvel is gesny om te pas, dan in water gesit om sag te word. Ek het ’n plat ysterplaat op my skoot gehad, dan is die vel daarop gesit, dan het ek dit met ’n platkop hammer geslaan totdat die vel droog en hard was. Dit maak jou lekker moeg en baie kere het ek gevoel om op te gee.

Wat my taak so moeilik gemaak het, was dat daar ’n skoenwinkel so ’n blok van ons sin was. Daar het ’n goddelose skoenmaker die werk gedoen en sy winkel het baie beter besigheid gedoen as die een waar ek werk.  Ek het deur die venster gekyk en gesien dat hy nooit die sole droog en hard slaan nie. Hy het die vel so uit die water gehaal en dan dit so sopnat vasgeslaan.

Ek het dit gewaag om eendag in te gaan – natuurlik vooraf gewaarsku om dit nie te doen nie – en navraag gedoen of die sole net so goed is as die wat droog geslaan word. Die skoenmaker het my nors aangekyk en my goed laat verstaan dat die skoene meer gereeld terugkom vir herstel op hierdie wyse.

Verseker dat ek iets geleer het, het ek dit vir my baas vertel en vir hom genoem  dat ek my tyd mors. Dadelik het hy die Bybel oopgemaak en gelees:-

1 KOR. 10:31 “ doen alles tot verheerliking van God.”

“Seun”, het hy gesê , “ek slaan nie skoene vir die geld nie, ek doen dit tot verheerliking van God.” Indien ek eendag voor die Here staan en die skoene wat ek herstel en gemaak het langs Sy troon lê, wil ek nie skaam kry vir my werk nie, maar ek wil hoor : – “Mooi so goeie en getroue dienskneg!”.  Soos sommige geroep is om te preek, so is ek daar om skoene reg te maak en my getuienis tel net soveel.

Dit was ‘n boodskap wat ek nooit vergeet het nie. Daar was kere dat ek gevoel het om die werk half te doen of sommer halfpad te los, dan het ek daaraan gedink dat ek doen dit vir Hom wat my verlos het van my sonde.

1 KOR. 10:31 “doen alles tot verheerliking van God.”

GEBED

Here, dankie vir dit wat U vir my gedoen het. Dra en versterk my om my beste te gee totdat ek daar voor U troon sal staan?  AMEN

0:00
0:00