INLEIDING
Die dorp Filippi is vernoem na Filippus – heerser van Griekeland en die pa van Alexander die Grote. Hy het dit beset om daar goud te ontgin vir die instandhouding van sy weermag. Die gebied was ryk aan minerale en die grond baie vrugbaar. Filippi was geleë op die hoof handelsroete tussen Europa en Asië. Keiser Augustus het dit later as kolonie by die Romeinse Ryk ingelyf en tydens die besoek van Paulus en Silas was dit steeds onder die beheer van Rome. Die amptelike taal was Latyn; die spreektaal Grieks. Daar was nie baie Jode in Filippi nie, daarom was dáár ook geen Sinagoge nie. Toe Paulus en Silas daar besoek afgelê het, was dit die eerste keer dat die Evangelie in Europa weerklink het! Hulle bid- en vergaderplek was by ‘n rivier, buite die stad. Dáár het Paulus die Evangelie aan ‘n groepie vroue, o.a. ook aan Lidia, die purperverkoopster, verkondig (Handelinge 16).
Ná ‘n duidelike gesig in die nag, waarin ‘n Masedoniese man hom gesmeek het om oor te kom en hulle te help (Hand 16:9), het Paulus, in die jaar 51 A.D. saam met Silas na Masedonië vertrek en eerste in Filippi die Evangelie verkondig. Die verhaal van die bekering van sekere persone en die buitengewone tronkervaring wat hulle daar te beurt geval het vind ons in Handelinge 16. Daar is toe ‘n diep geestelike, lewenskragtige gemeente gestig, met opsieners en diakens om toesig te hou en die gemeente te dien (1:1). Paulus het Filippi daarná waarskynlik nog twee keer besoek (Handelinge 20:1,3,6).
TYD VAN SKRYWE:
Hierdie brief is ná die briewe aan Kolosse en Filémon wat in 62 A.D. deur Tichíkus en Onésimus afgelewer is geskrywe (Kol 4:7,9). Lukas was blykbaar nie meer by Paulus toe hy die brief aan die Filippense – waarskynlik teen 62/63 A.D. geskrywe het nie (2:20). Paulus het ook nie meer, soos ons in Handelinge 28:30,31 lees, in sy eie gehuurde huis in Rome gewoon nie, maar waarskynlik nou in die barakke van die keiserlike lyfwag (1:13) net langsaam die keiserlike paleis, waar sy lot spoedig beslis sou word. Ons kan uit die brief aflei dat Paulus moes geweet het dat daar spoedig finaal oor hom besluit sou word, om hom óf vry te laat, óf tereg te stel (1:19,20; 2:17).
DOEL VAN SKRYWE:
Epáfroditus het die lang afstand van nagenoeg 1000 km van Filippi na Rome onderneem om namens die gemeente vir Paulus te soek, na sy welstand te vra en die gawe van die gemeente aan hom te oorhandig. Paulus het van die geleentheid gebruik gemaak om die brief saam met hom terug te stuur, om hulle te bedank vir die gawe, sy liefde aan hulle te betoon, die voorbeeld en gesindheid van Christus aan hulle voor te hou, hulle te waarsku teen ‘n moontlike aanslag van Judaïsme en teen tekens van onenigheid in eie geledere (2:2; 4:2). In die hele brief is daar GEEN sensuur teen enige persoon of regstellings van dwaalleringe soos in sy ander briewe nie. Sonde word nie één keer genoem nie – net die moontlikheid van selfsug en ydele eer in 2:3! Die hele trant van die brief is positief en aanmoedigend. Hierdie vreugdevolle besieling uit die tronk, onder uiters haglike en gevaarlike omstandighede, is absoluut verstommend en moes baie aansteeklik op die lesers by Filippi ingewerk het!
Omdat dit eintlik ‘n baie intieme vriendskapsbrief van ‘n ware vriend aan sy vriende en getroue metgeselle was, is die inhoud nie leerstellig swaar nie. Tóg is alles wat hy skryf op algemeen beproefde Skriftuurlike leerstellings, beginsels en feite gegrond, waarop ons gerus noukeurig kan let! Die kosbare gawe wat Epáfroditus met groot lewensgevaar en opoffering na Paulus geneem het, verskaf die geleentheid vir die Heilige Gees, om deur Paulus aan ons hierdie kosbare JUWEEL van ‘n brief – BESIELING UIT DIE TRONK – na te laat! Dit skitter des te helderder en mooier in die VIERVOUDIGE PORTRET van Jesus Christus, eenkeer in elke hoofstuk, as ons dit ontdek en dan ten volle begryp en waardeer! Die RAAMWERK is dus baie eenvoudig:-
– 2 –
RAAMWERK:
CHRISTUS MY LEWE – ‘n HEELHARTIGE en POSITIEWE gesindheid (1:21).
CHRISTUS MY GESINDHEID – ‘n NEDERIGE gesindheid (2:5).
CHRISTUS MY WINS – ‘n VASBERADE, DOELGERIGTE gesindheid (3:8)
CHRISTUS MY KRAG – ‘n STANDVASTIGE, OORWINNENDE gesindheid (4:6,7,13)
PAULUS SE GEBED VIR DIE FILIPPENSE (1:3-11)
Paulus stel homself voor as ‘n “dienskneg” van Jesus Christus, NIE as ‘n “Apostel” nie, want in dié gemeente het hulle nie aan sy Apostelskap en gesag getwyfel nie! Net voordat ons na die viervoudige portret van Christus begin kyk, is dit nodig om eers te let op die Heilige Gees geïnspireerde gebed van Paulus, waarin hy God eers vir hulle DANK en dan VYF dinge vir hulle VRA:
1. DIE DANKGEBED (v.3,4):
Hy dank God elke maal as hy aan hulle dink en bid in al sy gebede vir hulle almal met blydskap! Hy was dankbaar omdat húlle so ‘n lewende en praktiese aandeel in die belange en bevordering van die Evangelie gehad het. Húlle was inderdaad die enigste gemeente wat dikwels iets vir Paulus se behoeftes gestuur en hom ondersteun het ten spyte van hulle eie armoede (4:15,16; 2 Kor. 8:2; 11:9). In konteks verwys die “goeie werk” in v.5, wat God “in hulle begin het en sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus”, ook na hierdie praktiese hulp en ondersteuning aan Paulus. Sy intieme verbintenis met hierdie gemeente word in v3-8 en 4:1 weerspieël deur uitdrukkings wat nêrens anders in die N.T. voorkom nie – soos – “omdat ek julle in my hart dra (omdat julle my ná aan die hart lê) … want God is getuie hoe ek na julle almal verlang met die innige tederheid van Jesus Christus (Hy weet hoe ek na julle almal verlang met die liefde van Christus Jesus in my hart)… my geliefde broeders, na wie ek ook verlang, my blydskap en kroon … ” Dis dus geen wonder dat daar so ‘n intieme en wedersydse tere verbintenis van liefde en agting geheers het nie want Paulus, hulle geestelike “vader”, het baie gely toe hy hulle die eerste keer met die Evangelie bedien het! Daarom het hulle hom ook met opoffering ondersteun. Soos Hy, was ook hulle, gewillig om vervolg te word (1:28-30).
2. VOORBIDDING (1:9-11).
Soos in al die Heilige Gees geïnspireerde gebede van die Apostel Paulus, word ook hier deur hom gebid vir God se hoogste en beste! Net in ‘n paar woorde en sinne word sóveel van God se volmaakte voorsiening vir hulle grootste behoeftes toegebid dat dit ‘n mens sprakeloos van verwondering en aanbidding laat! God se WIL en ORDE vir al Sy kinders blyk duidelik uit die VYF DINGE waarvoor hy spesiaal vir hulle bid:
2.1 LIEFDE (v.9): Liefde wat groei en toeneem in kwantiteit – “meer
oorvloedig” – maar ook in kwaliteit – “in kennis (om te weet wát dit is) en alle ervaring (om te weet hoe dit werk).” Goddelike liefde is iets wat prakties en spontaan, horisontaal (menswaarts) en vertikaal (Godwaarts) moet uitwerk. Die PRYS om waarlik “die liefde (agápe) van God” wat Hy in ons harte uitstort deur die Heilige Gees (Rom 5:5) te laat werk en sy offers te bring, is vir baie Christene te pynlik want agápe liefde is nie emosioneel nie, maar liefde wat GEE en DIEN en dit KOS hulle te veel! Die waarheid is dat ons vir God NIKS liewer het, as wat ons die “broeders” het nie (1 Joh.5:2).
2.2 ONDERSKEIDING (v.10): Die vermoë om vas te stel wat die belangrikste is,
die swaarste weeg en die langste sal voortbestaan. Dit beteken nie net die vermoë om goed van kwaad te onderskei (Heb.5:14), of om “geestelike dinge” met sondige of “vleeslike dinge” te kan vergelyk nie, maar om “geestelike dinge met geestelike” te vergelyk, m.a.w. om selfs die hoogste en beste nogeens te weeg en te toets en dan dáárvan God se ALLERBESTE te onderskei en dít uit te kies! In ‘n tyd soos vandag – wanneer Christene die vermoë van “onderskeiding van die geeste, of hulle uit Gód is” of nie, moet hê (1 Joh 4:1; 1 Kor 12:10)
– 3 –
– kan die kennis van dieper geestelike waarhede die BESTE op die volgende twee maniere geleer word. Eerstens – SIT aan Jesus se voete soos Maria waar sy die doel van Sy koms en offer van Homself beter as AL die dissipels leer ken en verstaan het (Mat.26:12). Tweedens – gehoorsaam God want die prys van goddelike openbaring is deur gehoorsaamheid, NIE geleerdheid nie! (Joh.7:17).
2.3 REINHEID (v.10): “Sodat julle rein (Nuwe Vert.”onberispelik” Eng. Vert.
“sincere”) mag wees … ” Die Grieks, “heilikrines” is saamgestel uit twee woorde. “Heile” beteken die glans van die helder sonlig. “Krino” beteken “oordeel/beoordeel” of “die wet oordeel/gee uitspraak”. Die woord “rein” (N.V. “onberispelik”) beteken dus dat iets teen die sterkste, helderste lig van die direkte sonstrale opgehou kan word, sonder dat dit één enkele barsie of krakie uitwys! Waarskynlik sinspeel dit op die besonder fyn en delikate porseleinware wat die Romeine vervaardig het, wat gewoonlik maklik in die bakproses kon gebars of gekraak het. Sommige bedrieërs het al die fyn barsies met ‘n sekere soort was toegesmeer wat heeltemal onsigbaar vir die blote oog was en slegs ontdek kon word as dit direk in die helder strale van die sonlig opgehou was!
Dr Adam Clarke sê: “Sincerity, taken in its full meaning, is a word of the most extensive import; and when applied in reference to the state of the soul, is as strong as the word perfection itself!” Hierdie unieke woord word NET hier in die N.T. gebruik en in 2 Pet.3:1, waar dit met “suiwer” vertaal word. In sy gebed vir die Filippense gebruik Paulus dus hierdie woord wat ‘n toestand beskrywe wat die strengste toets van die helderste sonlig kan deurstaan! Wanneer ‘n produk soos heuning gemerk was met die Latynse woorde, “Sini Cera” waarvan “sincere” afgelei is, het almal geweet dit is suiwer, onverdunde, onvervalste heuning. Hierdie is God se standaard vir gereedheid by die wederkoms van Christus, vir elkeen van Sy kinders!
2.4 VIR NIEMAND ‘N AANSTOOT NIE (N.Vert. “sonder blaam”): Vers 10b verklaar
dat die Christen GEEN MENS wat die Here nodig het en na Hom soek, deur sy voorbeeld of optrede mag laat struikel nie! Dit is ‘n baie ernstige saak wat God swaar sal straf! Selfs deur net maklik aanstoot te neem kan jy ook aan ongeredde mense – wat dit nie van ‘n Christen verwag nie – aanstoot gee!
2.5 IN DIE REGTE VERHOUDING MET GOD v.11: “Vervul met die vrug van
geregtigheid wat daar is deur Christus Jesus.” Ons word nie gered en tot die regte verhouding met God herstel deur enige geregtigheid van ons eie, van werke wat ons kan doen nie, maar slegs deur geloof in Christus (Rom.3:21,22). Die “vrug van geregtigheid” is egter ons werke van gehoorsaamheid aan Sy wil – om dit te ken en te doen wanneer ons reeds deur God vrygespreek is (2:12,13). Toegerekende geregtigheid is vryspraak op grond van Christus se verdienste vir ons en ons geloof daarin, en in Hom. Toegepaste (praktiese) geregtigheid is wanneer God vir ons in Christus en vir Christus in ons sien, en Sy geregtigheid prakties deur ons laat uitwerk tot Sy verheerliking (1 Joh.3:7).
1. EERSTE PORTRET – CHRISTUS MY LEWE (1:21)
“Want om te lewe is vir my Christus (dit is wonderlik!) en om te sterwe (“heen te gaan” Eng. “depart” v.23. Vgl. 2 Tim.4:6) is vir my wins (nog wonderliker!)” Grieks vir “heengaan” is “analuo” – ’n militêre term wat dui op oppak en terugkeer (return) ná die geveg. Ook skeepsterm – ankers in hawe lig en vertrek (depart) na ‘n ander hawe.
Die hooftema van die eerste hoofstuk is “DIE EVANGELIE” wat bewys dat Christus in Paulus lewe en dat daardie oorvloedige lewe oorloop in die blye boodskap wat in sy hart brand – in so ‘n mate dat hy hierdie goeie nuus, tot in die tronk, nie vir homself kon hou nie en hom daarin verbly het dat dit verkondig was, somtyds selfs met verkeerde motiewe en onder valse voorwendsels (v.18). Soos Ittai van ouds wil elkeen wat hierdie goeie nuus ken, net HARDLOOP en dit uitbasuin sonder enige begeerte van beloning as net die glimlag van Jesus!
– 4 –
1.1 DEEL DIE EVANGELIE!(v.5): “Van die eerste dag af tot nou toe … ” Vanaf
die oomblik toe die wonderwerkende, herskeppende krag van die Evangelie die Filippense só radikaal omskep en verander het, het hulle nie maar net belangstellend toegekyk nie, maar daadwerklik betrokke geraak! Hulle het hul lot daarby ingewerp, want ook húlle kon nie die goeie nuus vir hulleself hou nie! (Martin Luther het van die brief aan die Galasiërs, wat die lig en lewe van God na sy siel gebring het, gesê – “dit is my vrou . . . my Katharina!”)
“WIE het dié goeie nuus vir amper 2,000 jr vir ons weggesteek?” was die verwyt van ‘n rou heiden aan die sendeling van wie hy dit die eerste keer gehoor het!
1.2 VERDEDIG DIE EVANGELIE! (v.7): Die Satan HAAT die Evangelie en veg met
alle mag om die suiwerheid, waarheid en krag daarvan van mense wat in geestelike duisternis verkeer, te weerhou! As dit flou en “afgewater” en slegs in menslike krag verkondig word, en veral as verkondigers daarvan nog self in sonde leef, pas dit perfek in sy kraam, want dan doen dit meer skade as goed!
Die Filippense het nie neutraal gebly nie, maar tot die stryd toegetree! Iemand het gesê die Evangelie is soos ‘n leeu – laat hom net los en hy sal homself verdedig!
1.3 BEVESTIG DIE EVANGELIE! (v.7): Beproef die oorwinnende waarheid en KRAG
daarvan. Bevestig dit deur dit in mense se harte VAS te maak waar dit moet wortel skiet ondertoe en vrug dra boontoe! Dit het nie soos ‘n skietende stêr verskyn om weer dadelik te verdwyn nie – dit het die eeue bewys! Ander vertakkinge van gelowe, filosofieë en idiologieë kan nie eens daarmee vergelyk word nie! Een van die kragtigste en doeltreffendste maniere om dit te bevestig is om dit ook te vertoon deur ‘n onbesproke, heilige lewenswandel voor God en mense (1 Thes.2:10). Dít was hoe Paulus dit aan hulle voorgestel het.
1.4 BEVORDER DIE EVANGELIE! (v.12): Boeie en gevangenskap vir Paulus het die
Evangelie geensins gebind, beperk of tot stilstand gedwing nie – inteendeel – vervolging laat dit dikwels met die krag en spoed van wilde vuur versprei! Dít gebeur omdat die Christen deur vervolging gelouter en aan die brand gesteek word om in Sy krag, volkome soos Christus op te tree en te reageer. Onder vervolging en teenspoed word die Christen se reaksies baie noukeurig dopgehou! Vir Paulus het ‘n wonderlike deur BINNE in die tronk oop gegaan – “die hele Keiserlike lyfwag … en AL die ander … !” (v.13). Dink ook daaraan dat deur Paulus se brief “uit die tronk” God se besieling eeue lank biljoene mense bereik het! Die Bybel is nog altyd die Boek met die grootste omset in die wêreld!
1.5 VERKONDIG DIE EVANGELIE! (v.18): “Christus” word verkondig en “Christus”
is die “goeie tyding van groot blydskap, wat vir die hele volk sal wees!” (Luk.2:10,11). Die lewe, teenwoordigheid en gesindheid van Christus was vir Paulus só ‘n werklikheid dat hy in v.20,21 verklaar: “Dit is my vurige verlange … dat ek NIKS sal doen waaroor ek my hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid Christus verheerlik in lewe en in sterwe … dan kan ek voortgaan met vrugbare arbeid!” So baie het vir hom as leier dopgehou en gesien dat hy die wat hom verdruk en vervolg, vergewe; die wat hom met verkeerde motiewe probeer ondermyn, verdra; en die wat hom getrou bystaan, waardeer! Sy voorbeeldige, oorwinnende gesindheid en sy vreeslose oorgawe aan die wil van dié God wat oor sy lot sou beslis, het hard en duidelik met almal gespreek!
1.6 GLO DIE EVANGELIE! (v.27): Geloof word keer op keer met stryd verbind (Vgl Judas v.3; 1 Tim.1:18; 6:12) “Saam stry vir die geloof van die Evangelie”. Die anker van ons geloof is die karakter van God en die ankertoue van Sy beloftes en genadeverbond verbind ons onwrikbaar aan die “Ewige Rots” wat nooit wankel as storms woed nie! Satan probeer – soos in Petrus se geval – die ankertoue “afsny”, maar Jesus het vir hom gebid dat sy geloof nie sal ophou nie! Of so nie probeer Satan om die vals ankertoue van GEVOEL wat gedurig verander of TEKENS wat hy ook kan namaak, vir ons uit te gooi! Die Evangelie is ‘n “KRAG van God vir elkeen wat GLO!” (Rom.1:16).
– 5 –
1.7 LEEF WAARDIG DIE EVANGELIE! (v.27): “Julle lewenswandel in ooreenstemming
met die Evangelie … ” Die Evangelie is die padkaart met die goeie nuus HOE om die pad te vind. Dit is ook die bloudruk van God HOE om op die pad te bly! As ons die woorde omdraai en sê: “Die Evangelie moet in ooreenstemming wees met julle lewenswandel …” het ons gróót moeilikheid, maar dit is presies wat báie mense doen as hulle nie God se lig en standaard wil aanvaar nie, maar die Evangelie wil afbring en afwater om by húlle standaard in te pas! Waardig beteken dieselfde gewig en kwaliteit. Hulle gedrag moet pas by die kragtige, blye, Evangelieboodskap, dan sal hulle waardige draers en dienaars daarvan wees! Paulus kon triomfantlik uitroep: “Vir my is die LEWE Christus en die sterwe WINS!”
2. TWEEDE PORTRET – CHRISTUS MY GESINDHEID
(2:5) In hierdie hoofstuk gebruik die skrywer DRIE persone – Jesus Christus, Timotheus en Epafroditus om God se standaard aan hulle voor te hou en hulle daardeur aan te spoor tot dieselfde standaard en gesindheid van nederigheid. Dit blyk juis uit 2:1-4 dat sommige van hulle, weens selfsug en ydele eer, ‘n probleem gehad het om ander hoër as hulleself te ag! In v2 is ook ‘n ernstige vermaning tot eensgesindheid. Dieselfde gesindheid as die van Jesus was vir hulle die antwoord op hierdie gevare. Let op die SEWE TRAPPE AFWAARTS waardeur Jesus Sy ware gesindheid/nederigheid geopenbaar het:
2.1.1 VRYWILLIGER GEWORD (v.6): “Hy wat in die gestalte van God was, het Sy
bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy moes vasklem nie”. (N.V.). Hy het alle reg op Sy aanspraak en bestaan as God in die hemel, in Wie alle mag en majesteit, eer en heerlikheid gesentreer is, doelbewus laat vaar – en terwyl Hy geweet het wat dit Hom sou kos – vrywillig daarvan afstand gedoen! Hy is nie daartoe gedwing nie, maar het dit self, uit eie keuse gedoen. Hierdie eerste stap in die rigting van die verlore mensdom, was WEG van Homself! Toe Hy ALLES daarbo “gelos” het, het hy Hy, soos Jesaja gesê: “Hier is EK, stuur My!”
2.1.2 LEEG GEWORD (v.7): “Het Homself ontledig … ” Die werkwoord “ontledig”
is in Grieks ‘n baie sterk woord en beteken leeg gemaak tot die laaste druppel toe! Hierdie tweede stap is nog steeds WEG van Homself! “Hy, alhoewel Hy RYK was, het ter wille van júlle ARM geword, sodat júlle deur Sy armoede ryk kan word!” (2 Kor.8:9). Hy, aan Wie alle MAG behoort het, het SWAK (‘n Baba in ‘n moeder se arms) geword, sodat Hy baie ander STERK kan maak (4:13). Hy, Wie só heilig en vol heerlikheid was dat geen mens Hom kon aanskou en bly lewe nie, het Sy heiligheid en heerlikheid só in ‘n menslike liggaam versluier dat eenvoudige, doodgewone, aardse mense Hom kon sien en aanraak! Op die aarde was Hy, soos alle ander mense, in ALLES diep van die Vader afhanklik, sonder Wie se hulp en krag Hy selfs nie één wonderwerk gedoen het nie!
2.1.3 DIENSKNEG GEWORD (v.7): Hierdie derde stap was doelbewus na die Vader –
om die gestalte (posisie, houding) van ‘n slaaf (Gr “Doulos” – “liefdeslaaf”; Eng. “Bondslave” Vgl Eks.21:6 en Ps.40:7) in te neem. Hy wat in die gestalte van God was, het die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem. In die konteks van “liefdeslaaf” beteken dit dat Hy Homself in liefde vir die Vader, tot knegskap aan die Vader – soos die “liefdeslaaf” by die “deurkosyn” – verbind het toe Hy in die woorde van Ps.40:7 gesê het: “Ore het u vir my gegrawe … ” Jesus het altyd gesê: “JA, Vader … ” (Mat.11:26) en, “My voedsel is om die WIL te doen van Hom wat My gestuur het en om Sy werk te volbring”. (Joh.4:34). Maar Sy gehoorsaamheid het vir Hom iets GEKOS, want ons lees dat “Hy gehoorsaamheid geleer het uit wat Hy gely het … ” (Heb.5:8). Sy gehoorsaamheid was ALTYD volkome, maar in Sy aardse bestaan het dit die toppunt bereik toe Hy in die tuin van Getsémane gesê het:”Laat U wil geskied”, en Hy Sy wil volkome omgebuig en oorgegee het om EEN te word met Sy Vader se wil. God se wil was nooit vir Jesus ‘n probleem nie – selfs nie om sondaars se
– 6 –
voete te was of vir hulle ‘n vloekdood te sterf nie – maar eerder ‘n vreugde soos Ps.40:9 ook van Hom sê: “Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande”. Daarom kon Hy ook met blymoedigheid na die aarde kom om te DIEN en Sy lewe te gee as losprys vir baie (Mark 10:45). In die gesindheid waarin Hy dit gedoen het, het dit die Vader “behaag om Hom te verbrysel!” (Jes 53:10).
2.1.4 MENS GEWORD (v.7): Hierdie vierde stap was doelbewus na die MENS! “Aan
die mens gelyk geword … en in gedaante gevind as ‘n MENS … ” Hy wat aan God gelyk was, het aan mense gelyk geword – in alle opsigte – “net soos ons, maar sonder sonde … ” Sy gestalte as mens was blykbaar nie baie indrukwekkend nie want, “Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms dat ons Hom sou begeer nie!” (Jes.53:2). Tog het Sy innerlike reinheid, opregtheid, teerheid en liefde deur die “sluier” van Sy menslike gedaante, duidelik waarneembaar uitgestraal! Die MENS was deur God bedoel om ‘n gekroonde KONING (Heb.2:6 Gr “stefanos” – oorwinnaar) te wees wat HEERS! As gevolg van die sondeval is hy egter krygsgevangene geneem, ontwapen, vermink, verneder en het hy sy kroon verloor! (Vgl Rigt.1:6,7) Toe JESUS hierdie kroon vir ons uit die stof wou kom optel, en vir ons self van onder die duiwel se “tafel” van die “krummels” (en dikwels varkekos) wou wegneem om ons weer “konings en priesters vir Sy God” (Openb.1:6) te maak, moes Hy self eers ‘n MENS kom word (Vgl Heb.2:6-9).
2.1.5 VERNEDERDE GEWORD (v.8): “Hy het Homself verder verneder … ” Soos
water na die laagste plekke soek om dáár te vloei – só soek die gesindheid van selfvernedering van Jesus spontaan en doelbewus die LAAGSTE plekke uit om dáár te dien en te offer, want dáár – in die stof – is die sondaarmens tot die afgryslike, hoogmoedige, selfsugtige, skynheilige en wreedaardige “monster” wat hy is, deur die sonde verneder! Maar in Hand.8:33 lees die N.V. “In Sy vernedering het daar nie REG aan Hom geskied nie!” Die sondige mens kan die beginsels van selfvernedering, selfgekose weerloosheid en aanvaarding van veronregting nie verstaan of aanvaar nie. Hulle beskou die feit dat Hy Homself nie verdedig het, of Sy mond nie oopgemaak het nie – “soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders” – as tekens van swakheid en lafhartigheid! Hulle het van Sy “lamgesindheid” misbruik gemaak en Hom verag, vertrap, bespot, verneder en selfs gekruisig sodat húlle kan voortgaan om vir hulle eie selfsugtige regte te veg, hulleself by ander mense te kan laat geld om altyd die laaste woord te kan hê! Hulle sal hulleself NOOIT voor God en mens verootmoedig en verneder nie! Slegs “hierdie gesindheid … wat ook in Christus Jesus was” kan harde harte week maak en harde houe slaan vir waarheid en geregtigheid! Dít is die geheim wat Christus ons leer van “wen” deur te “verloor!” Een kwaaddoener aan die Kruis het dít raakgesien en gewéét dat hierdie bloeiende, sterwende “MAN” aan die Kruis sy Verlosser kon wees!
2.1.6 GEHOORSAAM GEWORD (v.8): “Gehoorsaam te word tot die dood toe … !”
Gehoorsaamheid KOS altyd iets. Dit het vir Jesus ALLES gekos! Gehoorsaamheid vra sy offers. Abraham moes, nadat hy gehoorsaam weggetrek het, sy gehoorsaamheid verder bewys deur vir Ismael WEG te stuur, en vir Isak te offer! In albei gevalle het hy VROEG opgestaan om dit te doen! Gehoorsaamheid vereis ook onderdanigheid, soos dié van Jesus, wat selfs aan Sy menslike ouers onderdanig was (Vlg 1 Pet.2:13,18; 3:1; 5:5; Rom.13:1). Elke mens wat God volkome vertrou kan beskostig om Hom onvoorwaardelik te gehoorsaam! So iemand is altyd ‘n WENNER! Veral as ons besef dat Sy bevele ALTYD verbind word aan Sy beloftes en dat Sy liefde ALTYD sorg vir die motivering, is dit soveel heerliker en makliker om Hom te gehoorsaam!
2.1.7 SONDAAR GEWORD (v.8b): “JA! die dood van die KRUIS!!!” Die Kruisdood
is die mees geweldadige, pynlike, skandelike dood, en bo alles ‘n vloekdood (Gal.3:13), omdat daar ‘n VLOEK rus op die gebroke wet (Gal 3:10)! Die enigste dood wat die sondaar van die vloek kon red, was die vloekdood en dit kon net aan ‘n KRUIS voltrek word!
– 7 –
Hierdie “dood van die Kruis” is vandag nog God se antwoord en Sy oplossing vir die mens se grootste probleem – die van SONDE in die hart en lewe van die mens. Mense sien egter liewer kans vir enige ander dood – selfs ook vir selfmoord – as om saam met Hom vir DIE SONDE te sterwe! Deur tot by die Kruis te kom, het Jesus Christus die laaste stap tot by die verlore sondaar geneem! (Vlg 2 Kor.5:21). Omdat Hy vir ons “sonde gemaak” en ‘n vervloekte geword het, kan ons vrygemaak word van die slawerny van sonde en dan soos KONINGS lewe!
2.2 LET NOU OP DIE SEWE TRAPPE OPWAARTS waartoe GOD Hom verhoog het:
2.2.1 UITERMATE VERHOOG (v.9): “Aan Sy regterhand in die hemele, BO alle
owerheid en krag en mag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige.”(Vgl Efes.1:20,21). Jesus het Homself verneder, nie God nie! God het Hóm verhoog, nie Hyself nie! “Daarom … (v.9) … waarom?” Omrede van Sy uiterste vernedering (Ps.22:6), het God Hom ook uitermate verhoog. Hy het Hom laat SIT op die hoogste moontlike plek van eer, majesteit, outoriteit – AAN SY REGTERHAND! Omdat Lucifer herhaaldelik “EK WIL … ” gesê het (Jes.14:13,14) is hy neergewerp! Omdat Jesus gesê het “U WIL … ” is Hy uitermate verhoog! (Jak.4:10; 1 Pet.5:6). Die mens het Hom verneder tussen twee misdadigers. God het Hom verhoog tussen die Vader en die Heilige Gees en Hom met buitengewone, goddelike heerlikheid en eer beklee!
2.2.2 EN HOM DIé NAAM GEGEE (v.9): “HERE” (KURIOS) in v.11! Gelyk aan die
Naam “JAHVEH” in Hebreeus. Hierdie naam was vir die Jood só heilig dat hulle dit skaars genoem het en dit met bewing geskryf het! “Christus Jesus” was die Naam wat Hy in Sy vernedering as Verlosser van mense ontvang het, maar “CHRISTUS DIE HERE” (v.11) is die Naam wat die Vader Hom in Sy verheerliking gegee het. Die Griekse woord vir HERE – KURIOS – verteenwoordig die O.T. name van God van: JEHOVAH (Mat.1:22), ADON (Mat.4:7), ADONAI (Mat.22:44) en ELOHIM (1 Pet.1:25). “God het Hom HERE en CHRISTUS gemaak … ” (Hand.2:36), en “Hy is die HERE van almal … ” (Hand.10:36). Waar die Naam “JESUS” slegs 17 keer voorkom in Paulus se geskrifte, kom die naam “HERE” 144 keer voor! Die naam HERE, wat met KURIOS verbind word, is van toepassing op Christus ná Sy opstanding en Sy volkome oorwinning oor die Satan en SONDE! (Hand.4:12).
2.2.3 BO ELKE ANDER NAAM (v.9): Dié Naam is skoner, heerliker en waardiger as
enige ander naam van engele, mense, owerhede, kragte en heerskappye. Die waarde en krag van hierdie NAAM waarborg vrye toegang tot die Vader – daarom ook krag in gebed en vertroue in die geloofstryd, asook hemelse gesag en outoriteit oor die mag van die vyand! Daarom kon Petrus met vrymoedigheid uitroep: “Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom HERE en Christus gemaak het – hierdie Jesus wat júlle gekruisig het!” (Hand.2:36).
2.2.4 ELKE KNIE IN DIE HEMEL BUIG VOOR HOM (v.10): Dáár buig hulle vrywillig
en spontaan in eerbied, aanbidding en bewondering voor Hóm neer wat vir EWIG leef! Dít is alle hemelwesens en verloste siele se grootste voorreg en vreugde! Dáár wil almal Hom aanbid en dien!
2.2.5 ELKE KNIE OP DIE AARDE BEHOORT TE BUIG (v.10): Dit sluit ALLE mense in
wat Hy vir Homself geskape het, want dit is Sy WIL dat almal Hom kan en behoort te aanbid! Dank God vir die gróót aantal wat dit wel doen!
2.2.6 ELKE KNIE ONDER DIE AARDE MOET BUIG (v.10): “Onder die aarde” dui die
groot put, afgrond of poel van vuur aan waar die Satan en al die gevalle engele, demone en verlore siele van mense tot in ewigheid gepynig sal word! Teen wil en dank moet hulle – die wat dáár beland – vir Christus as GOD erken!
2.2.7 ELKE TONG HOM AS HERE BELY (v.11): “Jesus Christus is HERE!” Daar is
diegene wat Hom in die geloof as HERE en persoonlike Verlosser aangeneem het en dit met blydskap bely. Daar is ander wat op aarde Sy Godheid verloën en Sy heerskappy verwerp, wat TE LAAT en met ontsettende vrees sal ontdek en uitroep – JESUS CHRISTUS IS DIE HERE!