Die Rus van die Self Verwerk uit Die Rusgewer – Dr Francois Carr
Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.
Die Rusgewer verlang dat ons in ’n dieper en meer intieme verhouding met Hom sal staan en dat ons in ware oorwinning oor sonde sal leef. Hy wil nie net ons Verlosser wees nie, maar ook ons Heer en Meester.
Hudson Taylor
Hudson Taylor was een-en-twintig jaar oud toe hy as sendeling vanaf Engeland na China gevaar het en later die China Inland Mission gestig het. Toe hy op drie-en-sewentigjarige ouderdom gesterf het, is nagenoeg 18 000 Chinese Christene gedoop en meer as 825 sendelinge onderhou. Die kerk het gegroei en het in 1950 700 000 lidmate onder leiding van die sendingorganisasie gehad .
Hudson het egter as sendeling, ’n diepe verlange na rus gehad. Hy skryf onder meer die volgende:
“ Die posisie wat ek beklee, word voortdurend al hoe meer verantwoordelik, en my behoefte aan spesiale genade om dit te vul, al hoe groter; maar ek is gedurig ongelukkig omdat ek Jesus so van ver af volg en so stadig leer om soos my dierbare Meester te wees. Ek het nooit geweet hoe ’n verdorwe hart ek het nie. Tog weet ek dat ek God en Sy werk liefhet en dat ek begeer om slegs Hom in alles te dien. Bid tog dat die Here my sal bewaar van sonde, my volkome heilig sal maak, my meer beduidend in Sy diens sal gebruik.”
Die hart van die mens het geen behoefte wat nie deur God gevul kan word nie. Hudson het ware rus ontvang toe hy die brief van ’n mede-sendeling gelees het. John McCarthy het aan Hudson die volgende geskryf:
“Wanneer ek my liefdevolle Verlosser toelaat om Sy wil in my te werk, lewe ek vir my heiligmaking deur Sy genade. Berusting, nie ’n strewe en gespartel nie, opkyk na Hom, Hom vertrou vir Sy krag nóu, Hom vertrou om alle innerlike korrupsie te onderdruk; om te rus in die liefde van ’n almagtige Redder, in die bewustelike vreugde van volkome verlossing, ’n verlossing van alle sonde, gewillig dat Sy wil waarlik alles oorheersend sal wees—dit is nie nuut nie, en tog is dit nuut vir my. Dit lyk asof ek slegs by die randjie staan van ’n grenslose see, dat ek slegs ’n teugie geneem het van daardie krag—die enigste krag wat toerus vir diens, die enigste bron van onveranderlike vreugde. Mag Hy ons tot die besef van sy onpeilbare volheid lei.”
Hudson Taylor het hierdie brief op die sendingstasie, Chin-kiang, op Saterdag, 4 September 1869 ontvang. Hy vertel in sy eie woorde:
“Soos wat ek gelees het, het die totale waarheid ontvou. Ek het na Jesus gekyk; my oë is geopen, en o, hoe het vreugde my nie deurspoel nie!”
Hy vertel verder in ’n latere brief aan sy suster in Engeland:
“Hoe word geloof versterk? Nie deur na geloof te strewe nie, maar deur in die Getroue Een te rus. Ek sal my nie meer inspan nie. Met watter lig het die geseënde Gees nie my siel gevul toe ek aan die Wynstok en die takke gedink het nie! Nou het ek besef dat Jesus my nooit sou verlaat nie, maar nou is ook ek ’n deel van Sy liggaam, van Sy vlees en Sy gebeente. Ek sien nou dat die wynstok nie net die wortel is nie, maar alles—wortel, stam, takke, lote, blare, blomme, vrugte: en Jesus is ook meer as dit: Hy is grond en sonskyn, lug en reën, en tienduisend keer meer as wat ons ooit kan droom, voor wens, of nodig het. Die beste daarvan (as mens een deel beter mag noem as ’n ander) is die rus wat volkome identifikasie met Jesus bring. Ek is nie meer bekommerd oor enigiets wanneer ek hierdie waarheid besef nie; want Hy, dit weet ek nou, is by magte om Sy wil uit te voer, en Sy wil is my wil.”
Wildernis versus Kanaan
Wat is die verskil tussen die lewe in die wildernis en die lewe in Kanaan? Die wildernis verwys na ’n lewe van geestelike op en af; oorwinnings en dan weer neerlae; ‘n lewe van mislukking en weer probeer; gebrek en tekortkominge; murmurering en ongelukkigheid. Daar is nie oorwinning in die wildernis nie. Die lewe in Kanaan daarenteen is ’n lewe van rus, omdat ons geleer het om te glo en te vertrou in en op die Rusgewer. In die land Kanaan is daar verskeie oorwinnings.
’n Lewe van oorwinning en rus deur die Rusgewer is moontlik.
Hoe kan jy hierdie rus ontvang?
Eerstens: jy moet glo dat so ’n lewe nie net ’n moontlikheid is nie, maar ook moontlik
is vir jou.
Tweedens: jy moet erken en bely dat jy nog nie hierdie lewe van diepe rus deelagtig is nie. Jy sal dit nie soek as jy nie kan erken dat daar iets is wat jy nog nie het nie.
Derdens: glo dat hierdie aanbod van die Rusgewer ook vir jou geld. Kyk weg van jouself en kyk op na Jesus. Die Rusgewer het die volle mag en gesag van Sy Vader ontvang om jou volkome oorwinning en rus te gee.
Vierdens, wees gewillig om alles prys te gee. Is jy gewillig om die wêreld en al sy plesiere, sy erkenning en opinies prys te gee? Jy moet gewillig wees om jouself volkome onder Sy beheer te plaas.
Vyfdens, indien jy gewillig is om te sterf aan jouself, gee dan jouself, jou liggaam, jou siel, jou gees, jou idees, jou gedagtes, jou planne, jou ideale, jou toekomsplanne en jou hele wese volkome oor aan Hom.
Die Rusgewer wil graag aan elkeen van Sy kinders volkome rus, vrede en oorwinning gee. Kind van God, tot hiertoe het jy nog jou lewe in jou eie krag en planne geleef. Dit was ’n lewe van val en opstaan. Wil jy nie vandag ’n lewe van oorwinning in die Here Jesus kies nie? Glo en vertrou Hom vandag. Hy wag vir ons om onsself aan Hom oor te gee.
Jy kan die volgende bid:
“Here Jesus, baie dankie dat ek U kind kan wees en dat U in my hart woon. Baie dankie dat U ook vir my en al my sondes aan die Kruis op Golgota gesterf het. Baie dankie dat U voorsiening gemaak het dat ek in volkome rus en oorwinning kan leef”.
“Ek erken dat my lewe nie reg is met U nie. Ek besef dat my val-en-opstaan lewe U bedroef, seermaak en teleurstel. Ek kan egter nie meer so aangaan nie. Ek glo dat hierdie lewe van vrede en oorwinning ook vir my is. Ek weet dat die hindernis wat in die weg daarvan staan ekself is. Daarom wil ek vandag na U toe kom en myself volkome aan u kom oorgee en toewy”.
“Jesus, ek gee nou myself vir altyd aan U; sodat my siel deur U bloed gewas kan word en dit uiteindelik verlos in die hemel sal wees; sodat my hele liggaam tot U eer gebruik kan word; my mond ten alle tye van U sal getuig; dat ek sal ween oor verlore sondaars en my oë in alles tot U eer sal gebruik; dat my voete my sal neem na waar U wil hê ek moet gaan; dat my hart belas sal wees met die redding van siele, of met wat U ookal daarop mag lê; dat my intellek altyd in U diens en heerlikheid gebruik sal word. Ek gee aan U my vrou, my kinders, my eiendom, alles wat ek het, en alles wat ooit myne sal wees. Ek gee aan U my begeertes, emosies, wil en intellek. Ek gee aan U my drome en toekomsplanne. Ek sal U in elke plig gehoorsaam.”
“Here Jesus, ek sterf aan myself. Kom vul my nou met U volheid en vrede”.
“Dankie dat U nou in my hart regeer. Dankie dat ek kan weet dat U nie net my Verlosser is nie, maar my Heer en Meester. Dankie vir U vrede en rus. Amen”.